Die helder dae. Danie Botha
Hendrina noem vir oom Andries soms nog Myburgh, want so het sy hom genoem toe hulle nog kollegas by die Munisipaliteit was.
Oupa het by hulle kom woon ná Ouma se dood. Tant Hendrina kan baie dae driftig raak oor baie dinge – byvoorbeeld as sy onthou van die jaar toe Oupa met Miss Griffiths oorkant die spruit deurmekaar was en Ouma maar alles net verduur het.
Andri het ’n keer aan tafel vir haar gevra hoekom het arm mense so baie kinders, kyk vir Oupa; toe moes sy dit gou doodpraat.
Oom Andries sorg goed vir hulle; sy het eintlik alles wat haar hart begeer.
Sy lag so vir Pa wat nie mooi weet hoe die dorp se latrine werk nie. Hy spot weer met haar wat die jongste mode op haar ouderdom navolg: die sleeveless met net toutjies oor die kaal skouers. Ma erf soms van haar klere en meubels.
En altyd, altyd, altyd moet tant Hendrina die laaste woord inkry. Sy praat vir Ma dood; Ma sit later met ’n treurigheid in haar oë.
Vanjaar is dit afgespreek. Vir Kersdag gaan Jako-hulle na tant Hendrina toe vir ete. Ma moet net ’n groot bak sneeupoeding maak.
Op Oukersmiddag terwyl die windswaels in en uit vlieg by die Groothuis se veranda en die sonbesies nog lustig skettersing in die flenterige bloekoms, kom hou Pa met ’n swierige draai met die Nash voor die kelder stil. Hy knyp sy pyp half verspot in sy mond vas en kom op ’n drafstap met goed van Miss Green se winkel aan kombuis toe.
Ou ding dat hy so op Oukrismis alleen ingaan dorp toe. Hy het eenkeer so warm gekry dat hy lus had om op Kerkplein onder die bloekoms in die koelte te gaan lê, maar hy het nie. Was bang die mense dink hy’s dronk. ’n Ander keer was Braam saam. By Kassiem wil Pa vir die kind ’n Krismishoedjie koop, maar Braam bly kerm dit sit nie lekker nie. Naderhand verloor hy sy humeur en klap hom teen die kop. Die rekkie breek en hy moet vir die vrou met die kolletjie op die voorkop daarvoor betaal. Braam het nie geweet ’n Krismishoedjie trek jy nie af tot op jou ore nie.
Pa plak die goed op die kombuistafel neer. Byna dadelik praat hy baie hard. “Bettie-hulle hou vir jou Krismis, hoor. Dennis skink net vir hulle en Maria sing die hele tyd ‘Stille nag’.”
Ma kyk nie vir hom nie.
“Bettie het gesê ons moet vanaand bietjie inkom na hulle toe.”
Dadelik sê Ma: “Ek hou my nie op met ’n dronknes op Krismis nie.”
Pa steek weer sy pyp in sy mond, gaan kry die melkemmers voor die agterdeur en skreeu: “Dan gaan ons môre ook nie Hendrina-hulle toe nie!”
Op Kersdag praat Pa en Ma nie met mekaar nie.
Jako probeer lees aan Die ark van Margot Benary, sy Kersgeskenk, maar hy wil huil van ongelukkigheid.
Hulle kry net sneeupoeding te ete. Skuimerig en watergrys, koel en suurderig. Te veel om baas te raak.
Uit: Hennie Aucamp (samesteller): Borde, borde, boordevol, Tafelberg, 1998.
Nou is dit anders
In my kleintyd het ek Kersfees geïdealiseer daar op ons plaas in die skadu van die Brandwachtberg buite Worcester. Daar móét net iets anders aan dié aand en dié nag voor Kersfees wees. Ek was ook die ene verwagtinge vir Kersoggend se geskenke. Die dag self sál voorspoedig verloop. Dis die Here se dag. Heeldag lank wag daardie iets baie, baie besonders net anderkant ons huis se noordgewel om te gebeur.
Tog was daar heelwat Kersfeeste met teleurstellings. Van hulle het ek al verhale gemaak.
Eenkeer het oom Joon van Grabouw en sy gesin weer by ons gekuier oor die Kerstyd. Hy’s met tannie Soetie getroud, Ouma se dogter uit ’n huwelik met ’n Duitse oom. Oom Joon kan soms hartseer raak, dan moet ons saam met sy dogters, Marieta en Maryna, sy Buick was en die Pottebakker-lied vir hom sing: “Doen slegs u wil, Heer, u wil met my, / U, Pottebakker, met my, die klei.”
Ons het so half geweet hy gaan daardie aand maak of hy Vader Krismis is. Ons was in Oupa-hulle se voorhuis om die versierde sipresboomtak vergader.
Uiteindelik die voetstappe in die donker gang. Vader Krismis gaan nou-nou by die deur inkom.
Skielik is hy daar. Ons kyk vas in sy gesig. Ons skrik, ons skree, ons huil, ons wil weghardloop. Dis ’n lelike gesig! Die duiwel s’n!
Weke lank daarna het Ouma oom Joon se rooi kreukelpapiermasker agter die broodblik in die kombuis gehou. Nes ons lelik praat, dan haal sy die vreeslikheid uit en ons laat spaander oor die werf. Later kon sy maar net broodblik toe draai, dan vlug ons al.
’n Ander Oukersaand hang die kussingsloop weer aan die katelknop. Ek staan voor ons kamervenster. Broer Koos slaap al. Voor my, aan die westekant, die bloekombos, donker en vol verstrengelde geheime en gevare. Kyk op, op, verby die hoogste takke, op na die hemel. Elke oomblik kan iets tussen die sterre deur verskyn. Dis of die sterre weet dis ’n spesiale nag. Hulle geflikker sê dit. Gaan daar nie ligte deur die blouswart begin skuif nie? Of mense al nader deur die lug kom nie? Hulle kom van ver, vanuit ’n plek waar almal reeds Kersfees vier en baie gelukkig is in die geelwit lig, waar hulle sing en opgewonde praat. Hulle kom uit die hemel. Dan’s hulle weer weg. Hulle het nooit regtig gekom nie.
Maar wat is dit nou? Daar’s mos stemme anderkant die bos, agter die dam. Dis die herders of wyse manne wat nader kom uit oom Pietie se peerboord.
Môre is dit Kersfees. Maar vannag gebeur dit weer. Net een keer per jaar. Uit ons Kinderbybel lees Mamma altyd daarvan: “En daar, in die stal, het daardie nag die grootste wonder gebeur wat ooit op aarde plaasgevind het. Daar is die Here Jesus gebore! Daar het die enigste Seun van God as ’n hulpelose babatjie in die wêreld gekom.”
Deur die jare het Kersfees dalk iets nugter-saakliks geword vir my as ongetroude. Ná my ouers se afsterwe het my suster en broer en hul gesinne my byna net op Kersdag gesien. Vir hul kinders was ek ’n Kersoom. Toe het hulle nog soms na my woonstel in die stad gekom en het oom Danie tog die woonstel oordadig versier … vir die kinders. Groot was die oomblikke vir my een jaar toe klein Heinrich van Koos en Edna ’n ewigheid lank gesit en kyk het na die staltoneel wat ek uitgepak het. Nes ék soveel blou, blou jare gelede aan die hand van Ouma in die Duitse kerk by die Weihnachtskrippe.
Nou’s die kinders volwassenes. Dié Kersfees gaan ek op sewe-en-vyftig die oudste by die Kersete wees.
Ek gaan weer nie baie Kerskaarte kry nie, want my soort vriende is te sinies, “wêrelds” daarvoor. Of ons bel of stuur e-posse vir mekaar. Ons gee ook nie juis geskenke nie.
Op Oukersaand sal ek seker alleen wees. Hoekom sal ek my woonstel versier? Gaan ek tog maar ’n kers aansteek, lank daarin kyk? Dalk vir Mimi Coertse die óú “Stille nag” laat sing? Nee, eerder stilte.
Ek sal ingekeerd raak en beraad hou met God. Soos so dikwels vanjaar.
Só was dit in Kerstyd 2004. Intussen het daar weer veranderings gekom. Die twee Manne het in oom Danie se lewe gekom: Adriaan en Stephan, kleinkinders van sus Dria en Eric en Elbé van Zyl. Laasgenoemde is my bure in die aftreeoord; hulle Suzanne is met Dria se seun Riaan getroud. Ja, nou is dit weer ’n uitvis oor wat Vader Krismis vir die Manne moet bring vanjaar. My tagtigjarige taxibestuurder, oom Floris, vra ná vier jaar nog steeds uit na die boikie wat die army truck gevra en gekry het. Dit was Adriaan. Nou is oom Danie ook feitlik altyd by as Vader Krismis skielik hulle huis in Durbanville se klokkie lui en dan is dit ’n uithardlopery na die voorhekkie. Maar die ou man is al weer weg. Hy’t die lekkergoed saamgeneem wat uitgepak is vir hom. Hy moet nog ver gaan dié nag. Maar hy het darem báie geskenke gelaat. Die grootmense moet help oopmaak en wys hoe alles werk. Veral Pa Riaan, Ma Suzanne en ook hulle pa se suster, liewe tannie Rachelle.
Wanneer gaan die Manne uitvind Vader Krismis bestaan nie regtig nie? Verlede jaar het Pa Riaan al vir Adriaan (8) voorgestel hy moet vir oom Danie dankie sê dat hy vir Kersvader gevrá het vir die DVD en die storieboek.
Ek herinner my dat ons kleintyd net op ’n goeie dag by Ma gehoor het dat sy en Pa nog al die jare vir ons die geskenke gekoop het, êrens weggesteek het tot hulle dit stilletjies in die Kersnag in ons slope gesit het. Ons het nie