Die helder dae. Danie Botha
daar op. Af en toe skiet die swartkorhaan op uit die bossies. Oupa Möller sê hy lees hardop die koerant vir almal wat wil luister. As hy al baie hoog in die lug is, kondig hy ook die oordeelsdag aan.
Ek kan nie juis van begrafnisse uit daardie tyd onthou nie. Tussen die dakbalke op die solder was wel ’n draagbaar vir ’n doodkis ingedruk. ’n Mens het die pale van bloekom of spaansriet nie dadelik in die skemerte raakgesien nie. In ons kleintyd is dit ook nooit gebruik nie.
Ons kennis van die lewe ná die dood het op hoorsê berus.
Daar was ’n stuk pad waarvan ons baie dinge geweet het. Oupa Botha en oom Pietie het ons vertel.
Dis die pad wat om die kop vol aalwyne en spekbosse loop aan die suidekant van die vallei. Snags is daar ’n gloor bo hierdie kop, want daaragter is Worcester se ligte.
Na aan die pad is ’n groot rots met ’n gedeelte wat donkerder van kleur is. Groenblouerig. Lyk of dit as slypsteen gebruik is. Lank, lank gelede het olifante stadig uit die Kliprivier opgekom en hulle hier staan en skuur, het oom Pietie vertel. Hy was lid van die afdelingsraad en het geveg vir die behoud van die rots toe hulle die pad wou verbreed en teer.
Kom jy van die dorp af kry jy eers die olifantklip aan jou regterkant, en dan tien tree verder, aan die linkerkant, twee dennebome, altyd stowwerig en verwaaid. Vlak by hulle ’n turksvybos langs ’n kring plat klippe en ’n paar hope kleigrond.
Dis al wat oorgebly het van ’n strooidakhuis. Een winderige Vrydagmiddag het die huismense ingery dorp toe met die kapkar. Hulle het hulle drie honde vlak voor die agterdeur aan kettings vasgemaak sodat hulle nie verbygangers kon bestorm nie.
Oupa sê die Italiaanse krygsgevangenes uit die Tweede Wêreldoorlog wat daar naby in die Parsons se klipkappery gewerk het, het seker die veld aan die brand laat raak. Die huis het tot op die grond toe afgebrand. Dink aan die honde met die gloeiende kettings om hulle kele.
Oom Japie Swarts se lang gedermte van ’n huis is seker in dié huis se plek aan die oorkant van die pad gebou. Hier by die murasie het sy enigste dogter, Joycie, oom Gawie de Kock se roomwit skoolbus gehaal.
Die stuk pad hiervandaan noordwaarts tot by Rooibult was tog te spesiaal vir ons in ons vroeë tienerjare. As ons op ’n aand by die Swartse kuier, het ons saam met Joycie en haar oppasster, Baby, tot daar geloop en slimstories verkoop. Baby, groot van postuur en al so sestien, het alles geweet van “heavy petting” en “owerspel”.
Die son is al lankal onder. Dit word al donkerder en donkerder. Dan sê Baby: “Jakkals gat julle vang! Ha’loep!” En ons laat waai tot by die langhuis.
Ons het meer dikwels by die Le Roux’s van Hartbeesrivier gaan kuier. Dis die pokkel van ’n James wat my en Koos die stuipe in die ramkamer laat kry. Die kersie brand laag. James maak skadu’s teen die muur om te wys hoe sluip die dooie man nader en nader. Die lyk soek sy goue tand, sy goue arm … sy been … “Waaaar’s my goue been!” Woep! Dood is die kers. James gryp na my: “Hier’s my been!”
Een laatnag ná sulke stories ry ons terug na ons donker huis onder die Brandwachtberg.
Ek, Koos en Dria sit agter in die grys Nash. Die ruite is opgedraai. As jy wil, kan jy diep afsak sodat jy nie die aalwynarms, olifantklip en swart dennebome hoef te sien nie.
Regoor die murasie sien ek kolle lig. Eers spring dit rond. Dan kry dit koers in die donkerte. Dit jaag op die motor af. Nou is dit stukke vuur. Vier aan die linkerkant van die motor; skielik is twee reg langs my venster regs. Die vuur wil deur die ruit kom. Dit word kleiner, word oë. Trek deur die lug net so vinnig as wat die motor loop.
Die geel oë aan my kant word breër. Begin grond toe loop soos ’n stroom water. Af, af. Nou’s dit ’n slurp. Rol op, rol af.
Skielik is alles weg.
Die Nash dreun voort.
LitNet, Februarie 2009.
Probleme met oupas
Oupa Danie en stiefouma Hanna Botha by my en Dria ná ’n kerkbasaar. Ouma was nie “stief” met ons nie.
Daar in die jare vyftig was die radio vir ons boerefamilie regtig ’n aardigheid.
As oom Kosie Malan sy skoonpa-hulle ’n slag wou plesier, het hy op ’n Saterdagaand die dradeloos met die formidabele battery in die bakkie van Boplaas aangery sodat almal by Oupa Botha-hulle “Die Mielieblaarklub” kon luister. Die lugdraad is by die hoë voorhuisvenster uitgehang.
Later het Oupa en Ouma ’n eie radio gekry, een wat met ’n klomp batterytjies gewerk het. As hulle begin pap word, pak Oupa hulle op die vensterbank in die son om te laai.
Ons wat langsaan gewoon het, het eers jare later ’n transistor gekry. Daarom moes ek altyd vroegmiddag omdraf om na “Die indringer” (“Dricky Beukes se verhaal wat elke moederhart sal roer”), “Die volmaakte uur” en “Portia faces life” te gaan luister. En weer laatmiddag vir “Ons roep die jeug”. As hulle ’n keer kom kuier het, het tant Anna van oom Danie, Pa se broer, nogal skerp gefrons en saam met Ouma gewonder of ek nie te veel dradeloos luister nie, wat van my skoolwerk?
Vrydagaande was daar die lang sit, voete op die sport van die stoel met die groen sitplek en lang, regop rug. Koulik en styf het jy hier ná nege omgestap kamer toe, nog diep onder die indruk van die lewensleed wat jy aangehoor het in “Radioteater”. Deur die venster geklim terwyl die ander al slaap.
Elke ander aand van die week is ’n ritueel voltrek. Sewe-uur luister ek en Oupa en Ouma die hoofnuus en die streeknuus. Dan is daar ’n paar minute speling voor die aandvervolgverhaal begin. In daardie tien? vyf? minute vat Oupa-hulle Boeke. Ouma lees uit die Bybel en dan sak ons op ons knieë by die warmgesitte groen stoelholtes neer sodat Oupa kan bid.
Elke aand dieselfde half-Nederlandse gebed. Altyd dieselfde woorde, teen dieselfde tempo, en altyd emosioneel uitgewroeg: “Gaat tog deze donkere nag weder met ons in. Wees tog al onze kinderen een God van nabij, waar zij ook al mag zijn.”
Met die orentkom draai alleenlik Oupa die radio se aansitknoppie, presies betyds vir die kenwysie van Jan Schutte se “Die Du Plooys van Soetmelksvlei”. Ons het nie geweet dis een van Rachmaninoff se variasies op ’n tema van Paganini nie.
Een aand is daar die geur van modder en nat bloekoms deur die voorhuisvenster. ’n Lang droogte (vir die Boland) is gebreek met dae en nagte se vlae reën.
Oupa se beker van dankbaarheid is aan die oorloop. Hy voeg iets by!
“Oooo, onze God en almagtige Vader, ons wil U dank en prys … vir die milde regen wat op die aarde … neer … neergedroppelen het.”
Stadig gaan sit Oupa weer, sy gedagtes nog by die genadegawe. Ek wil hom aanhelp … Ná ’n ewigheid laat hy die knoppie klik.
Teen daardie tyd “Bartel!” tant Hybie al.
Ons vier Bothas saam met Oupa Koos Möller en neef Andri op Orchard.
Huisgodsdiens met Ver-Oupa Möller was ’n ander storie. Hy het ná Ouma se dood dikwels by ons kom kuier, vir Pa help appelkoosbome snoei of wingerdstokkies ent. Of daardie geheimsinnige snywerk aan die varke in hulle hok.
Baie skoolgeleerdheid had hy nie; het maar net standerd drie gemaak. Maar op sy oudag was hy ’n man van aansien op Worcester. Oom Koos Möller het glo eindeloos vir reg en geregtigheid op die kerkraadsvergaderings gestry; die dominees was in hul pasoppens vir hom. En menige oggend het hy met Pennie, sy worshond, oor Stasieheuwel gestap en sy wysheid met sy tydgenote in Tuindorp gaan deel.
Wanneer hy dan op die plaas kom kuier, word ons eetkamertafel skielik ’n huisaltaar. Ander tye het Ma eers vir ons in ons kamer kom lees uit Die Kind se Bybel (van Herman B. Scholtemeijer) en ons gebedjies aangehoor. Daarna kon ons verweg hoor hoe Ma en Pa stiltetyd hou met sy wat voorlees