Ena Murray Omnibus 22. Ena Murray
armsalige stukkie mens maak?” Bessie Truter stap nader, beskou haar skoondogter asof sy na ’n ooi kyk en al haar goeie en slegte eienskappe in een oogopslag waarneem. “Kyk hoe lyk sy! Net vel en bene! Sy sal jou met niks op die plaas kan help nie en kinders sal sy jou nog minder kan gee.”
Jan bly hulpeloos staan, heeltemal weerloos teen sy ma, net soos sy pa voor hom, en dis Salome wat skielik vorentoe tree en glimlag: “Hallo.” Haar oë flits opstandig na haar ma. “Sy hoef nie te werk nie, Ma! Ek sal haar deel ook doen.” Sy hou haar hand na die vreemdeling uit. “Jy hoef nie bang te wees nie. Ek en Jan sal na jou kyk. Kom.”
Jan se bruid glimlag bewerig en Salome kan die dankbaarheid in haar oë lees. Sy volg Salome gewillig, en moeder en seun bly alleen in die kombuis agter. Daar is geen geamuseerdheid op Bessie Truter se gesig meer te bespeur nie. “Waar kom jy aan haar?” vra sy dreigend.
Jan se oë is bot op die witgeskropte kombuistafel gerig. “Sy het in die poskantoor gewerk.”
“Dié dat jy deesdae so knaend in die week ook moes dorp toe vir goed wat skielik opgeraak het. Wie is sy?”
“Sy is ’n weeskind.” Net ’n oomblik lank flits sy oë in sy ma s’n op. “Sy is ’n goeie mens, Ma.”
’n Onbeskaafde snork volg op dié opmerking. “Goed dood ook, lyk dit vir my. Geen wonder jy het haar tot op die laaste weggesteek nie.” Sy draai terug na die stoof. “Nou ja. Gedane sake het geen keer nie.” Een van die groot hande swaai deur die lug. “Gaan jou gang. Deur skade en skande word ’n mens wys. Jy sal wel jou fout agterkom. Moet net nie by my kom huil nie.”
Daarmee is die saak blykbaar afgehandel, en Jan vlug dankbaar om sy bruid se koffers na die buitekamer te neem.
In die buitekamer beskou Salome Jan se vrou goed. Sy is te maer, te kort, te vaal. ’n Instinktiewe beskermingsdrang neem van haar besit. Eintlik is hierdie vrou nie vir Jan bedoel nie. Jan behoort ’n sterk vrou te hê, ’n vrou wat haar man teen Bessie Truter sal kan staan. Maar hy het hierdie enetjie gekies, die meisie met die stil-blou blik. Nietemin, sy wat Salome is, sal die jong bruid beskerm.
Sy glimlag spontaan. Die werklike besef van wat gebeur het, dring nou eers tot haar deur. Hier is nou nog ’n vrou in die huis. Dis wonderlik! Hier is nou iemand om mee te praat. Dit sal nie meer so alleen wees nie. Jan is gedurig buite doenig met die boerdery. Met haar ma het Salome nog nooit gesels gehad nie; hulle het nog nooit iets vir mekaar te sê gehad nie. Maar die nuwe inwoner …
“My naam is Salome. Kan ek jou maar Rosalie noem?”
“Natuurlik!”
“Dis ’n mooi naam. Ek hou daarvan. Rosalie. Ek is bly jy is hier, en ek hoop jy sal nog baie gelukkig wees hier by ons.” Sy sien die twyfel in die blou oë en dwing met jeugdige moed en hoop haar eie bedenkinge terug. “Jy moet jou nie aan Ma steur nie. Sy is maar so. Jan is ’n goeie ou. Hy sal vir jou goed wees.”
“Ek weet.” Vir die eerste keer lag die nuwe bruid. “Ek hoop ons twee sal groot maats word.”
“O, ons sal. Hier is jou koffers.” Salome kyk berekend na haar broer. “Jan, jy moet Ma se dubbelbed hier inbring en dié twee enkelkatels in Ma se kamer inskuif.”
Jan kyk sy sussie onseker aan. “Ma sal nie daarvan hou nie.”
“Sy het nie ’n dubbelbed nodig nie. Ek sal vir haar gaan sê.”
Rosalie tree vinnig tussenbeide, die angs helder in haar oë. “Asseblief, Salome, hierdie katels is heeltemal goed vir ons, nè, Jan? Ons wil nie jou ma verontrief nie. Ons sal regkom.”
Maar Bessie Truter se bloed vloei ook in haar dogter se are. Salome neem net skielik oor en reël sake só beslis dat haar broer hom skoon verwonder. “Natuurlik moet julle die dubbelbed kry. Alle getroude mense slaap op dubbelbeddens. Dit hoort so,” laat sy wysneusig hoor en die twee pasgetroudes kyk mekaar verleë aan. “Sleep solank hierdie beddens uit, Jan. Ek gaan vir Ma sê.”
In die kombuis kyk Bessie Truter haar vasbeslote dogter met misplaaste geamuseerdheid aan. “Dink jy die dubbelbed sal help?”
Haar dogter verras haar egter ook. Ook Bessie Truter vind vandag uit dat haar dogter ongemerk grootgeword het en dat sy ’n wil van haar eie het. Die groenbruin blik is reguit en sonder enige verleentheid. “Dit sal minder help met twee enkelbeddens.”
Salome kry haar sin. Daardie aand slaap Bessie Truter met haar groot liggaam op die smal ysterkatel, al brommend en ontevrede oor die ontydige trouery van haar seun en die wittebroodspaartjie verdwaal amper in die groot ledekant wat byna die hele buitekamertjie vol staan.
Daar is ’n sagte glimlag om Rosalie se lippe toe sy vinnig tussen die silwerskoon lakens inglip wat Salome self kom oortrek het. Toe Jan oomblikke later binnekom, is dit skielik sy wat aan die groot, verleë man moet leiding gee; wat hom moet laat tuis voel in dié kamertjie waarin hy al jare lank slaap, maar wat vanaand skielik ’n vreemde plek vir hom geword het.
“Ek hou verskriklik baie van Salome, Jan. Sy is ’n oulike kind en baie ryp vir haar ouderdom. Ons sal goed klaarkom.”
Jan se oë bly onseker. “Ja, sy is … gaaf. Ons is baie na aan mekaar. Ek en Karel, my oorlede broer, het haar maar tussen ons grootgemaak. Ma …” Hy aarsel. “Jy moet jou nie veel aan Ma steur nie.”
Rosalie behou steeds die mooi glimlaggie, haar oë vol liefde op die groot man gerig. “Ons sal regkom. Jy sal nog sien. Ons het net te vinnig op haar afgekom.” Sy hou haar hand na hom uit en trek hom nader en hy is weer die onbeholpe seun op wie sy verlief geraak het. “Moenie bekommerd wees nie, my man. Ons gaan almal lekker saambly hier.”
Jan kyk na die vrou voor hom, sien nie die klein, kleurlose gesiggie met die muisvaal haartjies raak nie. Hy kyk in haar oë, sien die mooi siel wat daarin weerkaats lê. Dís wat hom die eerste keer getref het: haar oë en die sagtheid daarvan. Meteens is sy selfbewustheid weg, weet hy dat hy, ondanks sy ma se donker voorspelling, reg gekies het. Die té maer lyfie en die eenvoudige gelaatstrekke maak nie saak nie. Hy het vir hom ’n vrou gekies met ’n mooi siel – en dis van belang. Want Jan, op sy stil manier, weet dat ’n man moet saamlewe met die vrou binne-in die vrou. Jare gelede was Bessie Truter ’n mooi vrou. Dit bewys die foto in die ou familieraam teen die voorhuis se muur. Stil Jan is deur Bessie se mooi gesig en stewige jong liggaam beïndruk en hy is met haar getroud. Jare later het Stil Jan ontdek dat daar niks binne-in sy vrou is waarmee hy kan saamlewe nie. Die sensitiewe man, ingestel op die fyn en mooi dinge van die lewe, moes saamleef met ’n onverfynde vrou wat haar uiterlike skoonheid baie gou verloor het.
Sy seun het hierdie dinge raakgesien en by homself gesweer dat hy eendag nie dieselfde fout as sy pa sal begaan nie. Hy sou eers soek na die vrou ágter die uiterlike, eers kyk of hy met háár die lang pad van die huwelik sal kan saamstap voordat hy na die uiterlike sou kyk. Hy het die vrou na wie hy gesoek het in Rosalie se sagte blou oë gevind. Hy het, voordat hy haar nog goed beskou het, geweet dat hy met die vrou met die sagte, mooi oë ’n lang pad sal kan saamstap. Hy het nog iets geweet. Sy sou nie verander nie. Sy sou nie, soos sy ma, later net mooi op ’n foto wees nie.
Hy kyk nou in haar oë af en sê op sy beheerste manier: “Ek het jou lief, my vrou.”
Haar vingers knel die breë skouers vas en in die blou oë lê daar sterre. “En ek het jou lief, my man. Vir altyd … en altyd.”
In haar kamer lê Salome ook wakker. Sy is te opgewonde om te slaap. Vir haar is Jan se troue en die vrou wat hy so onverwags plaas toe gebring het, ’n groot gebeurtenis in ’n andersins saaie bestaan. Ook sy was oombliklik getref deur Rosalie se oë. Sy het instinktief aangevoel dat sy en hierdie vrou baie na aan mekaar sal kom, nader as wat sy en haar eie ma ooit was. Daar is nou iemand op die plaas met wie sy kan gesels, vir wie sy dinge kan vertel, haar drome en ideale, haar vrese en begeertes. Iemand wat sal verstaan.
Haar ma se optrede het haar beskermingsdrang wakker gemaak, en waar sy met oop oë na die blinkwit sterre van die Karoonag lê en staar, sweer sy dat sy Rosalie sal beskerm, dat Rosalie gelukkig sal wees hier.
Dat