Ena Murray Omnibus 22. Ena Murray
nie. “Het daar iets gebeur?”
“Gebeur?” Salome lag uitgelate. “Ek het gesing vandag! Voluit gesing in die sangklas en … O, Rosalie, jy sal nooit raai nie!”
Rosalie glimlag moederlik. “Niemand het gelag nie!”
Hulle kyk mekaar ingenome aan. “Hoe het jy geweet? Ja, niemand het gelag nie. Die klomp was te verslae! Maar dis nie al nie! Toevallig kom stap die sanginspekteur toe ook vandag die saal binne en hy … hy was werklik baie opgewonde. Hy het my na die hoof se kantoor geneem en vir meneer Gründling gevra of hy bewus is van die vonds in sy skool. Meneer Gründling was net so verslae! Toe het hy, dis nou die inspekteur, sy hand op my skouer gesit en gesê ek gaan dit nog ver bring met my sang. Juffrou Dunn, die musiekonderwyseres, het my ook nou net voor die klok gelui het, laat roep. Sy het my eers gekapittel omdat ek my stem so lank weggesteek het. Sy sê ek staan nog al die jare met my mond vol tande terwyl ek so ’n talent het!
“En toe, en dis die wonderlikste van alles, toe sê sy ek moet kom dat sy vir my klas gee. Sy sê sy het nie veel kennis van sangonderrig nie, maar sy sal my darem die elementêre beginsels kan leer. O, Rosalie, is dit nie wonderlik nie!”
Rosalie knik en die vreugde in die blou oë vertel Salome dat haar skoonsuster ten volle in haar vreugde deel. “Wat sal die sangklasse kos? Ek het juis vandag gekyk hoeveel ek nog in my spaarrekening het. Ons kan daarvan gebruik vir jou klasse.”
Salome skud haar kop, haar oë meteens gevul met trane. Liewe Rosalie! “Nee, dit sal niks kos nie. Ek het juffrou Dunn gevra, maar sy het gesê sy sal my graag help en dit sal niks kos nie.”
“Dis wonderlik gaaf van haar.”
“Ja, maar almal was so gaaf, ís skielik so gaaf. O, dis ’n wonderlike, gawe wêreld, Rosalie!”
3
Dis Rosalie wat dit daardie aand op haar neem om die res van die familie in te lig oor die jongste gebeure. Salome sit met neergeslane oë terwyl Rosalie haar moeder en broer verwittig van die groot talent wat al die jare onder hul dak verberg is.
Bessie Truter is geensins beïndruk nie. Sing? Almal kan sing. Sy self sing hartlik en bulderend in die kerk Sondagoggende. Wie kan nou nie sing nie?
Jan lyk ietwat verslae, maar hy besef darem dat Rosalie iets groots aan die vertel is, hoewel hy nie die omvang daarvan besef nie. Hy weet daar is sing én sing en sy kleinsus kan blykbaar síng.
Rosalie wag dat wat sy gesê het eers insink, en toe vervolg sy: “Juffrou Dunn, die musiekonderwyseres, wil Salome graag klas gee. Dit sal noodwendig in die namiddag moet geskied.”
Jan se kop lig. “Wat sal dit kos?”
“Niks nie.” Sy vrou kyk pleitend na hom om begrip. “Sy wil niks hê nie, maar … Salome sal middae dorp toe geneem moet word.”
Jan skud dadelik sy kop. “Dis onmoontlik, Rosalie. Die bakkie kan nie twee keer op ’n dag dorp toe loop nie. Ek het dit buitendien op die plaas nodig.”
“Dis net drie keer per week,” pleit sy vrou, maar voordat Jan kan antwoord, kom daar nog besware van ’n ander kant.
“En wat van haar werk middae hier op die plaas?” wil Bessie Truter weet. “Die hanslammers en kleinbokke is haar werk. Wie gaan dit altemit doen as sy op die dorp staan en sing?”
“Ek sal dit doen, Ma.”
Bessie gee net ’n snork as antwoord daarop, en gee daarmee te kenne dat die kleinste hanslam hierdie maer skoondogter van haar uit die grond sal loop. Rosalie wend haar weer tot haar man. “Asseblief, Jan!”
Jan lyk skuldig, maar sê beslis. “Ek is jammer, Rosalie, maar dit kan nie gebeur nie. Dit gaan te veel kos en ek het die bakkie nodig.” Sy oë gaan half skuldig na Salome. “Jy verstaan dit mos, Salome?”
Sy knik net, hou haar brandende oë stip op die wit tafelblad en sluk swaar. Rosalie lig haar kop uitdagend op en vir die eerste keer kom Bessie en Jan agter dat Rosalie koppig kan wees. “Salome gáán daardie klasse bywoon al stap sy dan dorp toe!” Sy kyk na Salome. “Jy kan soggens vir jou toebroodjies saamvat en wanneer die skool uitkom, daar by die skool wag tot dit tyd is vir jou klas. Dan kan jy daarna die vier kilometer uitstap plaas toe. Jy kan mos, Salome? Jy móét!”
Salome kyk vinnig op, nuwe hoop in haar swemmende oë. “Natuurlik kan ek! Wat is vier kilometer nou? Dis ’n wonderlike plan, Rosalie!”
Rosalie glimlag. “Goed. Dan maak ons so. Ek sal die middae wat jy klas het, na die hanslammers en kleinbokke kyk. Maar jy gaan daardie klasse loop, al gebeur wat ook al!”
Jan en sy ma het niks verder te sê nie. Solank die hanslammers en kleinbokke versorg is en daar nie onnodige geld op ’n singery uitgemors word nie, is hulle tevrede. Laat Rosalie en Salome dan maar aangaan met hul lawwigheid. Watse geleerdery is dit om te kan sing? ’n Mens kan sing of jy kan nie.
In die weke wat hierop volg, gaan ’n nuwe wêreld vir Salome oop en kry die lewe vir haar nuwe betekenis.
Gereeld word Rosalie in die fynste detail vertel wat sy die dag geleer het. Saterdagmiddae, onder by die omgevalle wilger, sing Salome vir haar en hoor Rosalie hoe die jong stem al hoe sterker, al hoe vaster en suiwerder word. Saam droom hulle dan drome.
“Ek is nog net volgende jaar op skool. Wat gaan dan gebeur?” wil Salome een Saterdagmiddag weet nadat sy gesing het tot sy die trane in Rosalie se oë sien blink het.
“Met die tyd kom raad. Ons sal wel ’n plan beraam. Dis vanselfsprekend dat jy ná matriek gaan studeer.”
“Maar dit kos baie geld, Rosalie. Juffrou Dunn sê so.”
“Ons sal ’n plan maak,” belowe Rosalie egter op haar rustige, vasberade manier wat die Truters al skeef laat opkyk het. En Salome is tevrede. Sy glo Rosalie. Daar is niemand aan wie sy so glo soos aan hierdie skoonsuster van haar nie. As Rosalie sê sy sal ’n plan beraam, sal sy. As Rosalie sê sy sal verder studeer, sal dit gebeur. Die gedagte dat Rosalie haar belofte nie gestand sal kan doen nie, kom nie by haar op nie.
Dit word bekend dat die Truter-dogter pragtig sing en Salome word dikwels gevra om by funksies en troues op te tree. Dis Rosalie wat haar so te sê dryf om die uitnodiging te aanvaar.
“Ek sal sterf om voor so ’n klomp mense op te tree, Rosalie,” protesteer Salome toe sy die eerste keer gevra word om by ’n groot troue te sing.
“Dit sal jou selfvertroue leer, Salome. Jy moet nóú al leer om voor mense op te tree. Ek hoop nie jy het nee gesê nie.”
“Nee, ek het gesê ek wil eers by jou hoor.”
Want so is dit. Rosalie moet altyd eers sê, want Salome het ’n onwrikbare vertroue in Rosalie se oordeel. Sy doen niks voordat Rosalie nie eers geraadpleeg is nie.
“Wel, sê môre vir hulle jy sal op die troue sing.”
“Goed. Ek sal vir hulle sê.”
Rosalie kyk die onseker gesiggie ondersoekend aan. “Is daar nog iets verkeerd?”
“Nee …” Die groenbruin oë lyk skaam. “Dis net, ek het nie juis iets om na so ’n deftige geleentheid aan te trek nie. Ma sal nooit vir my ’n rok koop net omdat ek moet gaan sing nie.”
Maar Rosalie het weer raad en hulp. “Jy sal ’n mooi rok hê, moenie bekommerd wees nie. ’n Pragtige, deftige rok.”
“Waar sal dit vandaan kom?”
“Jy is te nuuskierig, Salome. Maar ek belowe jou, jy sal uitblink op die troue.”
Salome frons. “Ek gaan nie toelaat dat jy jou bietjie spaargeld op my mors nie. Nee, Rosalie.”
“Dis mý spaargeld, asseblief, en as ek dit wil mors op ’n pragtige rok, dan is dit mý saak, jonge dame.” Toe leun sy vooroor en soen Salome op die wang. “Ek doen dit ook vir myself, besef jy dit dan nie? Ek is so trots op jou. Ek spog so graag met jou. Gun jy my