Ena Murray Omnibus 22. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 22 - Ena Murray


Скачать книгу
maak tussen jou en Jan nie, Rosalie.”

      “Moenie verspot wees nie, Salome. Daar sal geen moeilikheid wees nie.”

      Soos Salome voorspel het, is Jan duidelik nie ingenome met Rosalie se voorneme nie, maar dit is ’n vreemde, vasberade Rosalie teen wie hy hom vasloop.

      “Dit spyt my, Jan, maar ek gaan in die poskantoor werk. Soos jy self gesê het, beteken ek nie juis iets hier op die plaas nie. Jy was natuurlik heeltemal reg. Die hanslammers kan ek nog altyd kom versorg wanneer ek middae van die werk af kom. As ek in die poskantoor gaan werk, sal ek darem effens van nut wees, want dan kan Salome die opleiding kry wat sy verdien.”

      Jan se mond gaan oop, maar sy spring hom weer voor. “Ek weet wat jy wil sê, maar daardie probleem is ook reeds opgelos. Ek gaan maak soos Salome die afgelope jaar en ’n half gemaak het. Ek sal soggens saam met jou dorp toe ry wanneer jy die room en eiers wegneem en ná werk stap ek terug plaas toe. Ek sal vir my ’n fles koffie en toebroodjies saamneem om middae sommer daar in die kantoor te eet. My werkery sal jou nie ’n sent kos nie.”

      Jan frons diep. “Dis deesdae net Salome voor en Salome agter. Wat gaan met jou aan, vrou? Dis of jy vyandig is teenoor my. Ek kan nie help …”

      “Jan.” Sy sluit haar oë, dink by haarself: Ek is nie vyandig nie, ek is net diep seergemaak. Dis al. Tyd sal dit weer regmaak.

      Sy sê dit egter nie hardop nie. Toe sy praat, is die effense harde toon uit haar stem, sien Jan weer die vrou voor hom wat hy altyd geken het. “Dis die enigste manier waarop ek Salome kan help. Ek doen dit vir jóú suster, Jan. Gun jy haar nie ’n beter toekoms as wat sy hier kan hê nie?”

      Jan sug. “Natuurlik, maar … Nou goed dan. Maak soos jy wil. Jy sal self later besef dat jy te veel wil opoffer, veral as die wintermaande eers kom en jy hierdie ent pad deur wind en kapok en hael moet afloop.”

      Rosalie antwoord nie daarop nie, maar vra stil: “Sal jy dan met Ma praat?”

      Hy knik net, swyg liewer verder. Rosalie sal nog haar fout agterkom, vertel hy homself. Sy sal nog sien dat dit nie betaal om ’n mens so af te sloof vir ’n ander nie. Te dikwels al het hy in sy lewe gesien ondank is wêreldsloon. Maar Rosalie, sy stil, beskeie vrou, sal nie nou na hom luister nie. Sy, en so Salome, moet maar hul koppe stamp.

      Bessie Truter het nie veel te sê toe sy van haar dogter se toekomsplanne verwittig word nie. As sy dan wil gaan sing, moet sy maar gaan sing. Dis in elk geval die eerste keer in haar lewe dat sy hoor ’n mens gaan leer om te sing en dan kos dit nog so ’n klomp geld. Maar solank dit ander mense se geld is wat hulle so wil uitmors, het sy niks te sê nie. En as haar skoondogter weer wil gaan werk om die geld vir Salome te gee, dan is dit haar saak. Sy is tog nie van veel hulp hier op die plaas nie. Dit sal haar eintlik beter pas as sy dié armsalige mens minder onder haar oë en voete het.

      4

      Te midde van die matriekeindeksamen laat roep juffrou Dunn haar leerling. “Ek het fantastiese nuus vir jou, Salome,” vertel sy met ’n breë glimlag. “Ek het met my ou musiekprofessor gepraat en hy het ’n goeie woordjie vir jou gaan doen by Madame Campagni. Ek het jou reeds van haar vertel.”

      “Madame Campagni? O ja, juffrou. Sy was wêreldberoemd.”

      “Ja. Sy is nou oud en nie so gesond nie, maar gee nog sangonderrig aan leerlinge wat sy dink die moeite werd is. Sy keur haar leerlinge self. Wel, professor Roux het haar van jou vertel. Sy is bereid om jou ’n oudisie te gee. Dit alleen is al ’n besondere eer, dit moet ek jou sê.”

      “U bedoel …?”

      “Ja. Sy wil jou hoor sing en sal dan besluit of sy jou as leerling sal neem. Ek het vandag ’n brief van professor Roux ontvang. Jou afspraak is vandag oor ’n maand om vieruur die middag. Jou eksamen is dan al klaar, nie waar nie?”

      “Ja, juffrou. Ons maak oor veertien dae klaar,” antwoord Salome oorstelp.

      Juffrou Dunn glimlag trots. Dis ’n eer vir haar dat Madame Campagni bereid is om na ’n leerling van haar te luister.

      “Wel, Salome? Jy gaan seker, nie waar nie?”

      “O ja, juffrou! O, ek kan dit nie glo nie!”

      Rosalie se oë skitter soos diamante toe Salome daardie middag vir haar die wonderlike nuus vertel. Dan knik sy. “Dis die begin, Salome. Ek wéét dit. Ek weet net dat Madame Campagni jou as leerling sal neem. Natuurlik moet jy vir die oudisie gaan.”

      Weer is daar die praktiese sy. “Ek moet stad toe. Dis ’n treinkaartjie en alles. Dis weer ekstra geld wat waar vandaan moet kom?”

      “Daar is nog ’n paar rand oor in my spaarrekening. Dit behoort genoeg te wees.”

      Salome kry trane in haar oë. “O, Rosalie, jy laat my so sleg voel. Jy wil nou jou laaste paar sente ook vir my gee!”

      “Ek doen dit met ’n oop hart, kindjie. Ek weet dis geld wat nie vermors sal word nie.”

      Salome se stem is skor toe sy fluister: “Eendag … eendag, Rosalie, sal ek jou elke sent terugbetaal – met rente. Ek belowe dit!”

      “Natuurlik sal jy. Eendag wanneer jy ’n beroemde sangeres is! O, ek wens ek kan met hierdie Madame Campagni kennis maak. Ek het gehoor sy is ’n baie besondere mens.”

      “Maar hoekom gaan jy nie saam nie? Ag, toe, Rosalie! Dit sal wonderlik wees as jy saamkom. Ek is bang om alleen te gaan. Ek is bang ek verdwaal!”

      “Moenie laf wees nie! Nee, jy moet alleen gaan. Jy moet leer om selfstandig te wees. Wanneer jy op die stasie aankom, kry professor Roux jou en hy sal sorg dat jy betyds is vir jou afspraak met Madame. Ná jou onderhoud neem hy jou direk terug na die stasie en jy haal die eerste trein terug.”

      Toe sy enkele weke later op die stasie afskeid neem van Rosalie, is haar oë groot en bang, maar Rosalie glimlag opgewek. “Jy hoef nie bang te wees nie, Salome. Maak net jou oë toe en verbeel jou jy is by die rivier en dan sing jy soos jy altyd sing.”

      Die volgende dag staan en kyk Salome die imposante woning met ontsag aan toe die professor haar aflaai.

      Die antieke weelde vervul die Karoomeisie met verwondering en bewondering. Sy is onbewus daarvan dat sy goed beskou word, totdat ’n potsierlike figuur skielik uit die diepte van ’n groot Victoriaanse stoel opstaan en op haar afstap.

      Die eienares van al hierdie weelde is ’n ewe verstommende verskynsel vir die jong meisie. Madame Campagni is in ’n lang rok geklee wat haar nog korter laat vertoon. Die hare wat rooi gekleur is, groei uit op die kopvel en lyk onversorg. Die gesig is swaar gegrimeer, met byna skokkende rooi lippe. Die vrou is van oorringe en halssnoere en armbande behang en Salome kan haar net verslae aangaap.

      Een swartgekurfde wenkbrou trek omhoog. “Wel, wat het jy verwag?”

      Die vraag kom krakerig uit en Salome se tong slaan teen haar verhemelte vas.

      Die blou ogies onder die kunswimpers glinster. Sy lag skielik hartlik.

      “Ek is seker jy doen dit doelbewus, Maria,” het ’n ou vriend eendag vies gesê en met opsetlike misnoeë na haar uiterlike voorkoms gekyk. “Jy geniet dit om mense te skok …”

      Sy het net goedig gelag. “Mag wees, maar my juwele en my klere gee my groot plesier, dit verseker ek jou.”

      Hy het haar afkeurend aangekyk. “Jy kan nie werklik ernstig wees nie. Jou spieël moet jou vertel hoe belaglik jy lyk.”

      “Ek kyk al meer as tien jaar lank nooit in ’n spieël nie, Eric. Ek kyk nie na verlore glorie nie. Jy weet ek is ’n optimis.”

      Nou sien sy weer die skok in die jong oë wat na haar kyk, en sy besef dat haar vriend Eric tog gelyk gehad het. Sy geniet dit! Die jong oë is ongelowig op haar gerig.

      “Toe maar. Dis net die eerste keer! Die tweede keer weet jy darem al wat om te verwag en van die derde keer af raak jy dit gewoond,” sê sy gemoedelik.

      “Ek


Скачать книгу