Ena Murray Omnibus 22. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 22 - Ena Murray


Скачать книгу
maer liggaam vertel haar egter dat haar geliefde nie gesond is nie en die onrus in haar neem toe. Flip bly in ’n koue kamertjie en maak kastig vir homself kos, maar sy weet dat daar baie dae omgaan dat daar selfs gebrek is. Maar hy is koppig én trots, hierdie man wat sy so liefhet.

      Hulle redeneer nog baie in die komende maande – totdat Flip uiteindelik teen sy beterwete ingee. Salome, met haar sterk persoonlikheid, haar vasberadenheid en haar oorweldigende liefde, wen die stryd.

      “Julle trou hier uit my huis, uit hierdie vertrek,” besluit Madame opgewonde toe Salome haar kom vertel dat Flip eindelik ja gesê het!

      So gebeur dit dan ook. Salome en Flip trou in Madame se musiekkamer. Gedurende die seremonie sit Madame kliphard en huil van vreugde! Salome kyk na die bleek, gespanne gelaat langs haar en haar hart wil in haar oopbars van liefde. Hy lyk siek, flits dit weer deur haar. Maar van nou af sal sý na hom kyk.

      Langs haar staan Flip Grimbeeck en die liefde in haar oë maak hom bang. Hy sluit syne ’n oomblik en dink byna koorsig: ek weet dis nie reg nie. Ek weet ek behoort nie met haar te trou nie, maar ek het haar lief, so oneindig lief!

      Flip raak die naweek ná hul troue baie siek en die dokter se bevinding is dat hy dubbele longontsteking het. Salome kanselleer al haar afsprake. Daar is nie nou tyd om aan iets anders te dink nie. Flip is siek, baie siek. Dis al waaraan sy kan dink. Noudat hy uiteindelik haar man is, staan hy op die rand van die graf.

      Sy weier dat hy hospitaal toe gaan. Sy versorg hom self dag en nag. Weke van spanning en kommer volg, weke waarin dit wil voorkom asof die ster wat so skielik op die toneel verskyn het, weer net so onverwags verdwyn het. Hul troue is geheim gehou en daar is sorg gedra dat die pers nie daarvan te hore kom nie omdat Salome die nuus eers self aan haar mense wil gaan vertel voordat dit algemeen bekend gemaak word. Die nuwe vonds, Salome, is skielik net nie meer beskikbaar vir optredes nie en die mense bespiegel oor die oorsaak.

      Toe sy die einde van die maand weer Rosalie se tjek ontvang, voel Salome verskriklik skuldig. Sy het gedink dat sy haar skoonsuster hierdie maand sou kon verras deur haar tjek vir haar terug te stuur met die nuus dat sy nou selfonderhoudend is. Maar met Flip se siekte, en die afsprake wat gekanselleer moes word, het sy geld nou dringend nodig.

      Flip word baie stadig beter en Salome vergeet al die hoë ideale wat sy en Rosalie saam gedroom het daar by die ou wilgerboom langs die rivier. In haar lewe is daar nou net plek vir Flip. Sy bemin hom met totale oorgawe en haar liefde vir hom lê soos ’n fisieke pyn in haar. As Madame in hierdie weke bekommerd is, is sy die enigste bekommerde mens. Vir Salome is die hemel oop.

      Toe sy weke later weer in Madame se musiekkamer verskyn, is die ou dame se ontvangs koel.

      “Ek het aanvaar jy sal nie weer kom nie.”

      Salome lyk skuldig. “Dit spyt my, Madame, maar Flip was baie ernstig siek. Hy is darem nou weer beter.”

      Madame se oë is peinsend. “Dis jammer. Dis baie jammer dat dit juis nóú gebeur het. Dis ook jammer dat jy al jou afsprake gekanselleer het.”

      “Ek kon nie ander nie, Madame. Ek kon Flip nie alleen laat nie. Ek sal ook nie gou weer afsprake kan maak nie, want hy is nog glad nie gesond nie. Ek is baie bekommerd oor hom. Daar is iets verkeerd. Hy neem te lank om te herstel.”

      Madame praat nie verder nie, maar stap na haar vleuel-klavier en neem stelling in. “Goed. Ons begin waar ons laas opgehou het.” Maar ná ’n halfuur gee sy die stryd gewonne. “Salome, jou aandag is nie hier nie.”

      Salome is byna in trane. “Madame, ek is jammer, maar …”

      “Maar jou gedagtes is by jou siek man.” Sy sug en staan op. “Ons sal niks uitgevoer kry nie. Gaan terug na jou man en kyk dat hy gesond word en kom dan weer terug.”

      Salome se oë is dankbaar. “Dankie, Madame. U verstaan mos?”

      Die ou dame knik. “Ja, kind. Ek verstaan.” Toe sy uit is, kyk die ou vrou haar deur die venster agterna en daar is onrus en hartseer in haar. Gewoonlik laat liefde die kuns tot volle bloei kom … maar dit kan die kuns ook doodmaak.

      In die weke wat volg, sterk Flip egter so aan dat hy weer op die been is, hoewel hy nie ontslae kan raak van die bekende ou kuggie nie. Salome probeer telkens om die regte woorde op papier te sit om haar mense te laat weet van haar troue. Elke keer beland die brief maar weer in die snippermandjie – briewe wat platgestryk word en peinsend gelees word wanneer sy inkopies gaan doen.

      Salome konsentreer so op haar man se daaglikse behoeftes dat sy nie dadelik agterkom dat Flip al hoe stiller word nie, dat hy baie dikwels verby haar na iets onsigbaars kyk nie.

      5

      Flip is besig om afrondingswerk aan ’n skildery te doen terwyl sy by die eetkamertafel sit en weer eens probeer om die regte woorde te vind om haar gesin van hul troue te verwittig. Sy weet sy durf dit nie langer uitstel nie. Soos dit is, het sy al hopeloos te lank gewag.

      Sy is nie bewus daarvan dat haar man se blou oë fronsend op haar rus en dat die frons tussen sy oë al hoe dieper keep nie. Sy byt die agterkant van die pen vas en besef opnuut dat haar nuus eintlik persoonlik oorgedra moet word. Om in ’n brief te vertel of te verduidelik hoe dit gebeur het dat haar groot ideaal om ’n beroemde sangeres te word skielik verander het in die begeerte om net ’n vrou en moeder te wees, is bitter moeilik. Rosalie se tjek het vandag weer getrou aangekom. Salome voel soos ’n skurk terwyl sy na die koevert kyk. Rosalie stuur die geld sodat sy met haar sanglesse kan voortgaan, min wetende dat haar swaarverdiende geldjies deesdae gebruik word vir medisynerekeninge en kos.

      Maar Rosalie sal verstaan, vertel Salome haarself. Rosalie is so ’n onselfsugtige mens. As sy alles weet, sal sy verstaan en nie omgee nie, probeer sy haar gewete sus.

      Die geluid van ’n kwas wat neergegooi word, laat haar vraend opkyk. Flip staan voor die venster, sy rug na haar gekeer.

      “Iets verkeerd, skat?”

      “Salome, verlang jy nie ook na die Karoo nie?” vra hy uit die bloute.

      Sy frons verdwaas. “Natuurlik ja, maar ons lewe is hier in die stad. Hoekom vra jy?”

      “Nee, ek vra maar. Ons het lank laas van die Karoo gepraat.” Hy is weer ’n rukkie stil en sy sit half skuldig na sy rug en kyk. Sy weet hoekom hulle so lank laas van die Karoo gepraat het. Die Karoo laat haar aan haar mense dink en dit laat haar skuldig voel, want haar mense weet nou nog nie dat sy al drie maande lank getroud is nie.

      Sy stem klink aarselend op: “Dink jy nie dit sal heerlik wees om weer ’n slag ver oor die vlaktes uit te staar en skoon, suiwer lug in jou longe in te trek nie?” Hy swaai hom vinnig na haar toe om en sy oë is meteens pleitend. “Ons lewe hier saamgehok met duisende ander in beton en teer. Die lug wat ons inasem, is besoedel van baie asems en fabriekrook. Dis nooit stil hier nie. Dit raas en jaag en vloek en skel gedurig om jou. ’n Mens kan hier beswaarlik die stem van jou gewete hoor.”

      Sy kyk hom verslae en ontsteld aan. Só heftig het sy hom nog nooit hoor praat nie. Sy het geweet dat hy terugverlang na die Karoo, maar sy het nooit besef dat dit eintlik ’n obsessie geword het nie. Natuurlik kan sy begryp hoe hy voel, maar hulle lewe is hier. Sodra alles weer normaal is, gaan sy met haar sangloopbaan voort. Hy kan tog nie ernstig wees dat hulle hier moet weggaan nie!

      “En jou skilderwerk?”

      “Ek kan daar ook skilder. Ek sal juis dáár kan skilder.”

      “Maar ek kan nie daar sing nie, Flip.” Sy sit die pen neer en kyk verwytend in sy oë op. “Ek kan nie daar lesse ontvang nie. Ek kan nie alles sommer nou net so laat vaar nie. Ek begin volgende week weer met my lesse by Madame en sal dadelik afsprake aanvaar.” Hy staan en kyk haar net aan en haar kalmte begin haar verlaat. “Flip, wees redelik! Wat van my mense wat deur die jare soveel vir my opgeoffer het, selfs gebrek gely het om dit vir my moontlik te maak om eendag ’n sangeres te wees?”

      Hy vee moeg oor sy oë. “Natuurlik, ja. Ek weet. Vergeet dit. Dit was sommer net … ’n gedagte.”

      Hy


Скачать книгу