Ena Murray Omnibus 22. Ena Murray
uit nie. Daar is ’n verligting in albei toe dit tyd is om die hanslammers te gaan kos gee.
“Ek sal kom help.”
Maar Rosalie skud haar kop. “Nee. Jy gaan jou net besmeer.”
“Goed. Dan stap ek ’n bietjie af rivier toe.” Salome begin ook sommer dadelik aanstap, stuur doelbewus na die omgevalle ou wilger. Haar skoonsuster se oë volg haar totdat sy verdwyn.
Daardie aand, ná aandete, toe die witgeskropte kombuistafel kaal tussen hulle staan, weet Salome die uur het aangebreek. Dis weer stil – asof almal wag op iets.
“Ek … ek het eintlik hierdie naweek met ’n spesifieke doel hierheen gekom.”
Dis steeds stil. Vlugtig vang haar oë dié van haar broer; dan laat sak Jan sy blik, sy gesig onleesbaar. Bessie Truter kyk haar dogter reguit aan, maar op ’n wyse wat sê dat sy luister, maar nie juis belang stel nie. Rosalie sit en kyk haar net met stil-blou oë aan.
“Ek is ’n paar maande gelede getroud.”
Drie paar oë staar haar aan. “Ek wou julle laat weet, maar … maar dit het so vinnig gebeur en toe word Flip baie ernstig siek. Dit was pas ná ons troue en …” Sy kyk pleitend van die een na die ander. “Toe het ek besluit ek sal liewer self hierheen kom en julle kom vertel.” Haar stem sterf weg, want sy sien geen begrip in die drie paar oë wat na haar kyk nie. “Hy … Flip Grimbeeck is sy naam … hy skilder.”
Bessie Truter toon die eerste teken van belangstelling. “Jy bedoel hy teken prentjies?”
“Ja, Ma.” Haar mond trek wrang. “Hy teken prentjies – of probeer, altans.” Moedig kyk sy op, ontmoet Rosalie se blik. “Hy was tot dusver nie baie suksesvol nie. Hy het talent. So sê almal, maar … hy kry nie in die stad geskilder nie. Hy moet wegkom daar. Hy is ook ’n Karookind en hy wil hierheen terugkeer. Hy sê hy sal hier kan skilder. Die stad versmoor hom. Hy móét daar weg.” ’n Stram stilte volg en Salome wend haar desperaat tot haar broer en sy vrou. “Verstaan julle? Flip is my man. Ek het hom lief! Ek moet saam met hom gaan. Ek is sy vrou. My plek is by hom. Julle … julle moet dit tog kan verstaan?”
Jan kom half orent, steun met sy kneukels op die tafel. “Wat presies wil jy vir ons sê, Salome?” Toe sy net na hom kyk, val sy stem hard tussen hulle neer. “Dat jou singery op ’n end is? Dat jy saam met jou skilder in die Karoo gaan kom sit en dat jou sangloopbaan verby is?”
“Jan …” probeer Salome wal gooi.
“Is dit dít wat jy ons kom vertel het, Salome? Is dit?”
“Ja.”
Toe lag Bessie Truter – hard en smalend. Sy lag dat die trane oor haar wange loop – en die ander drie kan net na haar sit en kyk. Dan verander die geluid, word rou, rukkerig. Lamgeslaan sien hulle hoe die gesig vertrek, lelik word. Twee groot, ruwe hande word oor die vertrekte gelaatstrekke gedruk en die trane, opregte trane, tap teen die bewende ken af. Bessie Truter verdwyn by die middeldeur in en dit word weer baie stil in die klein kombuisie.
’n Lang oomblik vang broer en suster mekaar se oë vas. Hy praat nie. Maar sy oë … hierdie stil broer van haar kyk met hatige oë na haar. Dan, sonder ’n woord, asof hy permanent van sy spraak beroof is, staan hy op en stap in die Karoonag uit … en die kombuisdeur klap hard agter hom toe.
Dan is dit net hulle twee – sy en Rosalie.
Verstar sit en kyk Salome hoe ’n mens voor haar oë stadig sterf. Sy sien hoe die lig stadig wegsypel en die blou oë dof word, uitdrukkingloos. Dis of sy kan sien hoe alles binne-in die vrou hier voor haar wankel, dan stadig begin wegkrummel … totdat daar niks meer oor is nie. Dis of Rosalie op hierdie oomblik selfs fisiek kleiner word, inkrimp, wegkwyn – asof alle lewensbloed uit haar wegdreineer.
“Rosalie … Rosalie! Asseblief!” Dit voel vir haar asof sy die woord uitgil, maar dis net haar lippe wat beweeg: klankloos, smekend.
Rosalie staar na daardie mond, na daardie lippe. Sy het vir hulle gelewe, gewerk, opgeoffer. Niks was te veel of te groot vir haar nie … solank daardie lippe net kon sing. Haar offer aan hierdie vrou se sang was vir haar ’n dure, heilige plig … ’n plig wat sy elke dag, mooiweer of reën, storm of sonskyn, getrou nagekom het. En nou is dit verby … Jan het dit voorspel. Jan het haar gewaarsku. En nou het dit gebeur. Daar is niks meer oor nie.
Sy kyk vas in die groenbruin oë wat so smeek, so pleit om begrip, maar sy is stom. Sy het niks te sê nie.
“Rosalie, jy is ook ’n vrou. Jy het ook ’n man lief. Ek het gedink jý sal verstaan, begryp dat ek … nie anders kan nie.” Haar stem is skor van emosie. “Hy is my man. Ek het hom lief! Verstaan jy dan nie? Sonder hom is my lewe, ook my sang, vir my niks werd nie. Verwag jy werklik dat ek die man wat ek so oneindig liefhet, moet prysgee?”
Eindelik beweeg die bleek lippe. “Nee. Ek verwag dit nie. Ek … verstaan.”
Salome reik huiwerend uit oor die blad, soek na daardie hand wat haar deur soveel jare so getrou gelei het. “Rosalie … Werklik? Verstaan jy werklik?”
Rosalie trek haar hand stadig terug, sê stil: “Ek verstaan, Salome.”
“En jy is nie vir my kwaad nie? Is jy, Rosalie? Jy verstaan en is nie kwaad nie?”
“Nee. Ek is nie kwaad nie.” Die stram lippe probeer glimlag. “Ek hoop julle sal … baie gelukkig wees.”
“Dankie.” Dit voel vir haar sy kan op haar knieë voor hierdie vrou neersak, maar al wat sy kan doen, is om deur traannat oë na haar te kyk. “Dankie, Rosalie.”
Dan staan sy op en stap by die agterdeur uit waardeur haar broer enkele minute gelede die nag in verdwyn het. Ook sý moet uit … na daar waar die sterre so helder en so naby is. Sy stap met haar oë op die swart Karoohemel bokant haar gerig, die trane blink op haar wange.
Dis na hierdie sterre en na hierdie hemel waarna haar man verlang; waarsonder hy nie langer kan klaarkom nie. Sy lig haar kop op en soek deur die sterre heen.
God, het U gesien? Ek het haar vermoor! Ek het hulle al drie vermoor! Het U gesien – die haat in my broer se oë? Die ontnugtering en veragting? En Ma het gehuil! Ma, van alle mense, het soos ’n kind gehuil! Oor my! Vir die eerste keer in my lewe het ek Bessie Truter sien huil – en dit oor my! En Rosalie … Sy het ’n sieledood gesterf! Het U gesien hoe sy sterf – stadig, en sonder ophef? En dis ek … ek … ék.
Toe Salome eindelik weer in die kombuis staan, is die huis stil. Net Jan sit nog langs die kombuistafel, die flikkerlig van die paraffienlamp skaduspelend oor sy gesig. Hy lyk skielik so oud. Arme Jan! Een van die getroue slawe van die lewe – en nooit sien hy waarvoor hy werk nie. Hy hou net kop bo water. Arme Jan, wie se rug al wil breek van vooroor werk; wie se skouers hang van afgeremde moedeloosheid.
Sy neem ook weer langs die tafel plaas, vou ook haar hande op die tafelblad soos syne. Sy merk dat sy een duimnael blou is, dat dik knoppe en harde eelte op sy hande gevorm het – twee hande wat stille getuies is van ’n lewe van harde werk, van ’n man wat kan werk, móét werk.
“Jan …” Hy weier om na haar te kyk, bly net op die tafelblad voor hom staar. “Haat jy my nou, ouboet?”
Sy het begin dink hy gaan haar nie antwoord nie, toe die antwoord kom: “Ek haat nie.”
Sy swyg eers. Nee, Jan sal nie haat nie. Dis teen sy geloof. Jy mag nie haat nie. Jan se geloof is so eenvoudig soos die aarde waarin hy werk. Maar wat voel hy? Wát?
“Maar jy is kwaad vir my?” sê sy, haar oë hartseer op die groewe langs sy mond. Hy skud net sy kop heen en weer en sy lê ’n bewende hand oor die gevoudes voor haar. “Sê vir my wat jy voel! Raas met my! Sê my sleg as jy wil, maar sê net iets! Praat met my!”
“Daar is niks te sê nie.”
Sy trek haar hand terug, skud haar kop in radelose hartseer. Hy het ook gesterf. Daar is geen moed in hom oor nie, nie eens meer genoeg lewe om haar sleg te sê nie! Dan raak sy ook stil … stom. Daar