Ena Murray Omnibus 22. Ena Murray
vir my nie.”
Maar Madame glimlag kalmerend. “Hulle is lief vir jou, Salome … en trots op jou.”
“Maar hoe gaan ek hulle ooit terugbetaal? Soos dit is, is ek al so diep in die skuld dat ek nie weet hóé ek hulle ooit sal kan vergoed nie.”
“Ek dink nie hulle dink ooit aan vergoeding nie. Maar jy kan vergoed deur ’n gewilde sangeres te word. En jy gáán beroemd word. Daarvan is ek nou meer oortuig as ooit tevore. Jou stem het net daardie spesiale iets bygekry wat van jou ’n uitstekende sangeres gaan maak.”
Maar teen watter prys, dink Salome bekommerd. Net God alleen weet watter prys sy daarvoor betaal. Net Hy alleen weet van die eensaamheid, die verlange, die hunkering. Net Hy weet hoeveel nagte sy haar nog aan die slaap huil, hoeveel ure sy nog op haar knieë deurbring. Net Hy weet hoe die vrou in haar sterf.
Aanvanklik het Madame bly aandring dat sy permanent by haar moet intrek; die huis is so groot en leeg … Maar Salome wou nie. Uit daardie klein woonstelletjie sou niks en niemand haar kry nie, want daar het haar herinneringe geleef. So dikwels het sy hom sien staan voor die esel by die venster, só helder en lewenswaar dat sy haar hand wou uitsteek en hom aanraak. En wanneer die herinnering soms wou vervaag, het sy na die kas gestap en die deur oopgemaak. Dan het sy sy klere aangeraak, sy geur in haar longe ingetrek en dan was hy weer lewend.
Sedert die dag dat hy verdwyn het, het sy nooit weer van hom gehoor nie. Sy het net ’n prokureursbrief ontvang waarin sy meegedeel is dat haar man ’n egskeiding nie sou teenstaan nie, sou sy hom dagvaar vir kwaadwillige verlating. Sy het nie op die brief gereageer nie.
Dat die lewe en sy meule nog lank nie met haar klaar is nie, vind sy uit drie maande nadat Flip haar verlaat het.
Madame sien dadelik dat daar iets skort en sommer groot ook.
“Wat is dit, kind? Flip …?” vra sy gedemp.
Salome trek haar asem diep in en die vreemde uitdrukking in haar oë laat Madame wanhoop. Ag, wat kan hierdie arme kind dan nou nóg tref?
“Ek verwag ’n kind, Madame.”
“Salome!”
“Ek kom nou van die dokter af. Ek het gedink dis maar net senuwees … spanning, maar hy sê daar is geen twyfel nie.”
Die ou vrou tas na die naaste stoel; haar bene kan haar nie langer regop hou nie. Sy kyk Salome verslae aan. “En nou?”
“Nou? Nou niks nie. Nou moet ons maar net wag, Madame.”
Die ou dame sluk. Here, is dit regtig nodig? “My dogter …”
“Gelukkig weet baie min mense van my troue. Die paar wat weet, sal nie praat nie.”
“Wat praat jy, kind? Dis juis belangrik …”
“Nee, Madame. Dis goed dat die wêreld nooit sal weet dat ek ooit getroud was nie.”
“Maar jy verwag, Salome!” roep Madame ontsteld uit en kyk die jonger vrou bekommerd aan. Sou al die skokke hierdie pragtige mens se verstand al begin aantas het? “Wat gaan die mense sê?”
“Niks nie, Madame. Niemand sal weet dat ek ’n kind verwag nie, net so min as wat hulle weet dat ek getroud was. Dit sal net ek en die dokter en u wees wat sal weet. En later …”
“Flip?”
“Nee. Flip sal ook nooit weet nie. Liefde kon hom nie by my hou nie, Madame. Ek gaan hom nie deur plig terugdwing nie. Nee, later sal my mense weet … maar nie nou al nie. Nie voordat alles reeds verby is nie.”
“Jy wil alleen deur hierdie ding gaan?” vra die ou dame verwytend.
Dan glimlag Salome, ’n vreemde, stil glimlaggie. “Nee. Ek sal nie alleen wees nie. Dié God wat hierdie Godsplan opgestel het, sal by my wees. En u. U sal my nie alleen laat nie, sal u, Madame?”
“Nee.” Haar stem is tranerig. “Nee, nooit nie, my dogter.”
“Dan sal ek mos nie alleen wees nie. Gelukkig dat ons besluit het dat ek my voorlopig eers uit die openbaar moet onttrek. Nou sal niemand iets agterkom nie. Toevallig, nè?” Dan vererns haar gesig. “Nee, daar is geen toeval nie. Dit was bestiering. Madame, u weet …” Salome kyk peinsend voor haar uit, “ … u weet, dis of ek die vae buitelyne van God se plan met my lewe kan begin uitmaak. Ja, dis of ek dit wil begin verstaan.”
Kommer lê weer helder in die ou oë. “Kind … wat bedoel jy? Waarvan praat jy, Salome?”
“Die plan met my lewe, Madame. Kan u dit nie ook sien nie? Dis nie werklik ’n deurmekaarspul nie. Daar is tog ’n vreemde orde, ’n definitiewe omlyning … en ek kan dit begin sien. Ek sien wel nie die volledige plan nie, maar dit begin meer sin maak. Die smart, die eensaamheid, Flip … en nou ook die baba. Ja, daar is ’n definitiewe plan.”
Madame swyg liewer, vra nie verder uit nie. Salome is ontsteld. Natuurlik is sy hewig ontsteld. Sy staan op en kyk pleitend op. “Nou móét jy na my luister, Salome. Asseblief! Jy móét nou hier by my kom intrek. Jy kan nie meer alleen in daardie ou woonstelletjie bly nie. Jy kan enigiets oorkom en jy moet nou ook aan die baba dink.”
Salome gee ’n madonna-glimlaggie wat Madame nog nooit tevore gesien het nie. Sy plaas haar arms om die kort gestaltetjie en druk haar teen haar vas. “Liewe Madame! Liewe, dierbare Madame! Ook vir u skuld ek so baie! Ek sal kom. Ek sal hier by u kom bly tot … tot alles verby is.”
Madame sug en sluit haar oë dankbaar. Op hierdie oomblik dink sy liewer nie verder nie. Vir vandag is dit eers genoeg. Môre sal hulle weer verder praat, weer begin dink. Maar die kwelvraag los haar nie: Wat gebeur wanneer alles verby is? Maar sy sê dit nie hardop nie. Liewer nie.
Salome neem die volgende oggend afskeid van haar woonstel. Die paar stukkies meubels verkoop sy aan ’n tweedehandse meubelwinkel.
Sy staan uiteindelik met twee koffers langs haar in die middel van die sitkamer. In ’n groot drasak is Flip se klere ingebondel. Daarmee sal sy later ’n plan maak.
Sy kyk deur die woonstel met stil, droë oë. Tot gistermiddag het sy aan hierdie plekkie vasgeklou. Maar die bande met die verlede moet nou verbreek word.Vreemd, maar tot hiertoe het sy nog altyd gebonde gevoel aan Flip. Vreemd dat die wete dat sy sy kind onder haar hart dra, haar meteens van hom losgemaak het. Sy weet Flip sal ’n intense deel van die vrou in haar bly, maar haar verstand het haar gister vertel dat dit net verstandig sal wees om die bande van herinnering waaraan sy nog altyd so naarstiglik vasgeklou het, te knip. Flip sal nie deel van haar toekoms wees nie. Dis verby. ’n Episode wat afgesluit is, finaal beëindig is. Vreemd dat dit juis sý kind moet wees wat haar dit aan die verstand gebring het dat sy haar toekoms alleen tegemoet moet gaan, en gister se bande en dit wat haar aan Flip Grimbeeck bind, finaal moet afgooi.
In die maande wat volg, wonder Madame dikwels oor hierdie nuwe, vreemde, kalme Salome. Dikwels verwonder sy haar aan die kalmte waarmee sy elke dag aanvaar en deurleef. Daar is ’n onpeilbare berusting in haar; daar is nooit opstand nie. Sy kla ook nooit nie. Soos die maande vorder, neem Madame se onrus toe. Sy kan dikwels nie haar hartseer en medelye wegsteek nie. Dan is dit Salome wat haar vrese wegpraat, wat sonder vrees die groot gebeurtenis afwag.
Vandag kan Madame nie langer stilbly nie. “Ek verstaan jou nie, kind. Jy maak asof dit iemand anders se kind is wat gebore gaan word en nie joune nie. Asof dit met iemand anders gaan gebeur, nie met jou nie.”
Salome glimlag net weer daardie stil glimlaggie van haar, maar haar oë bly onpeilbaar. “Miskien is dit presies wat gaan gebeur, Madame.”
“Wat bedoel jy, kind? Jy praat so in raaisels. Ek verstaan jou nie aldag nie.”
“U sal binnekort verstaan. Dis nie nou meer lank nie.”
Madame skud haar kop mismoedig. Salome laat haar kriewelrig voel. Dis of die kind van dinge praat, van dinge weet, wat Madame geen benul van het nie.
Steeds het Madame nie die moed om die groot vraag te vra nie: Wat gaan ná jou kind se geboorte gebeur?