Ena Murray Omnibus 22. Ena Murray
“Jy sal jou verbaas, Salome. Ma het ’n fyner aanvoeling as wat enige mens sou droom om by haar te kry. Sy steek dit maar net weg – soos ons almal maar dinge wegsteek.”
Sy oë vang hare vas, maar sy weier om uitgelok te word. “Sal jy my stasie toe neem, Jan?”
“Sal dit enigsins iets aan die saak verander as ek weier?”
“Nee. Ek is bevrees nie.”
Hy staan op, neem haar tas woordeloos by haar en stap na buite. By die bakkie kom staan Bessie Truter voor haar dogter, vou haar groot hande om die skraal gesig en soen haar innig – vir die eerste keer wat Salome kan onthou. Dan kyk hulle diep in mekaar se oë in die flou glans van ’n opkomende maan.
“Tot siens, my kind. Kyk goed na jouself. En … moenie bekommerd wees nie.”
Salome kyk op na haar, sien die groot vrou voor haar. Dis jou ma, Salome. Jou ma wat begryp … jou ma wat beter as Jan verstaan. Dan lê sy teen haar ma se groot boesem, voel hoe die sterk arms haar omsirkel, hoe die groot hande oor haar hare streel en vir die eerste keer in haar lewe snik sy haar uit teenoor dié ma wat sy eers so laat in haar lewe werklik leer ken en waardeer het. Ma verstaan. Sy verstaan heeltemal.
“God seën jou, my dogter. Ek was nog nooit so trots op jou soos vanaand nie.”
Sy strompel-val by die bakkie in, hoor die deur agter haar toeklap. ’n Groot hand vou oor hare.
“Kyk mooi na hom, Ma! Kyk baie mooi na hom!”
“Ons sal, my kind. Ma sal na hom kyk. Ma belowe!”
9
Soos soveel keer tevore sien Madame haar weer in die deur van die musiekkamer verskyn en weer is die ou dame stom. Sy het die vorige keer gedink sy sien die volmaat van smart in daardie groenbruin oë. Maar vandag draai Madame haar kop weg, wend haar oë af.
Salome gaan staan langs die vleuelklavier en die ou dame neem steeds woordeloos op die klavierstoeltjie plaas. Vanself soek haar vingers die note.
“ … Ich liebe dich! Ich liebe dich in Zeit und Ewigkeit!” sing Salome.
Toe sy die lied klaar gesing het, kyk Madame vraend op, maar Salome skud haar kop. Sy gaan nie weer sing tot haar bene onder haar knak nie. Net hierdie een lied … haar afskeidslied aan ’n bitter verlede.
Van daardie dag af kan niks haar meer stuit nie. Niks kan haar ster langer onderdruk nie. Fenomenaal skiet dit op, al hoër … hoër … tot dit die hoogste hoogte bereik. Die naam Salome is op almal se lippe. Haar land is trots op haar. Sy is die beste, die eerste. Salome is beroemd; die een CD ná die ander verskyn en verkoop soos soetkoek. Sy kan nie voorbly met optredes nie … maar haar lewe hou sy privaat. Sy bly steeds by Madame – wat haar soos ’n eie moeder beskerm teen nuuskierige joernaliste. Watter duur prys sy vir haar roem betaal het, weet niemand nie. Al wat die wêreld en haar bewonderaars weet, is dat sy ’n plaasdogter van die Karoo is, dat sy sangopleiding by die wêreldbekende Madame Campagni ontvang het en dat sy nou die toppunt van die leer bereik het. Sy staan baie selde onderhoude toe en bly sing onder haar voornaam alleen.
Maar selfs die enkeles wat die hele verhaal ken, besef nie dat haar roem maar ’n skamele kompensasie is vir die prys wat daarvoor betaal is nie.
Dit is net sy en haar Skepper wat weet wat in haar hart omgaan wanneer sy Brahms se wiegeliedjie so gevoelvol vertolk; uit watter ervare hart die klanke kom wanneer sy so weemoedig sing van die liefde – en die kortstondigheid daarvan. Net sy, alleen tussen al die duisende luisteraars, weet wat sy beleef wanneer sy so ontroerend van die verganklikheid van geluk sing.
Oor een ding het Madame Campagni egter dikwels gewonder: Hoekom moet ’n blom eers gekneus word voordat jy sy volle geur kan inadem? Sy het dikwels na die pragtige vrou voor haar op die verhoog gekyk, besef dat die uiterlike skoonheid ’n stukkende siel verberg … en haar verwonder aan die wonderskone klanke wat uit die seer hart kom. Salome sou nooit só kon sing as die lewe haar nie eers gebreek het nie. Die kruik moes eers stukkend val …
Drie jaar gaan verby voordat sy haar mense weer besoek nadat sy daardie nag so skielik vertrek het. Drie jaar, want sy kon nie vroeër gaan nie. Sy was eerlik genoeg om aan haarself te erken dat sy te bang was om te gaan.
Maar sy verskyn ná drie jaar weer in die kombuisdeur. Hierdie keer kom sy nie weer met ’n huurmotor van die stasie af nie. Sy het met haar eie motor gekom, want geld is nou nie meer ’n probleem nie.
Sy bly nie lank nie, net ’n naweek, maar toe sy vertrek, is haar hart weer rou – asof ’n haakyster die ou rowe brutaal afgeruk het. Maar die balsem op daardie seer is grenslose dankbaarheid, en die wete dat sy drie jaar gelede nie verkeerd gedoen het nie.
Want klein Karel is die middelpunt van die huishouding. Hy het alles onherkenbaar verander. Die somberheid het uit die huis verdwyn en Jan se oë blink. Rosalie het nou altyd die onbeskryflike teer glimlag van ’n moeder om haar lippe. Sy troetel en vertroetel hul kosbaarste kleinood en gee openlik uiting aan haar vol moederhart. En Bessie Truter, die vrou wat so hard en weerbarstig teenoor haar eie kinders was, het sag geword, sag soos klei in die handjies van haar kleinseun. Terwyl Salome hul verskillende gesigsuitdrukkings dophou, vind sy vertroosting in die besef dat sy drie jaar gelede die Plan reg gelees het. Sy glimlag toe sy besef dat haar sukses as sangeres ’n groot bron van vreugde en trots vir haar familie is – maar dat hul vreugde en trots in klein Karel dit oneindig ver oortref. Toe weet sy dat haar skuld aan hulle ongetwyfeld vereffen is. Sy skuld haar mense voorwaar niks meer nie.
So kom en gaan die jare. Die verlede sink al verder in die vergetelheid weg en as daar soms nog gesigte uit die verlede in die hede kom spook, weet niemand daarvan nie. Flip Grimbeeck se naam word nooit weer genoem nie. Wat Salome presies nog vir hom voel en of hy nog ’n plek in haar herinneringe inneem, waag niemand om te vra nie. Selfs Madame het geleer dat daar dinge is waaroor jy met Salome kan praat … en dat daar dinge is wat jy nie durf aanroer nie.
Sy en Salome het vreedsaam in die groot ou huis gebly, want Maria Campagni het nooit uitgevra nie. Salome sou, wanneer sy weer ’n slag vir ’n seldsame naweek plaas toe was, vertel van klein Karel – hoe hy gegroei het, dat Jan vir hom sy eie perd gekoop het, dat hy al kan bokke melk en een van die dae sal moet skool toe gaan. Dan het Madame die weemoed in haar stem gehoor en geweet dat daar wonde is wat nooit werklik genees nie, maar dat ’n mens kan leer om daarmee saam te lewe. Maar oor Flip Grimbeeck wou Salome nooit praat nie en Madame het baiekeer gewonder … Sou dit wees omdat hy niks meer vir haar beteken nie – of was dit omdat dit nog te seer gemaak het om oor hom te praat? Die antwoord kon sy nooit peil nie, want Salome het geswyg.
Totdat Salome op ’n dag doodsbleek, haar oë weer soos dié van ’n gemartelde dier, tuis kom. Madame se hart ruk. Wat sou gebeur het? Sou klein Karel iets oorgekom het?
“Salome! Kind, wat is dit? Is dit klein Karel? Het hy …?”
“Nee. Hy makeer niks nie. Dis … nie hy nie.” Salome probeer baie duidelik om haar reg te ruk, haar oë ontwykend. “Hier is ’n brief van Rosalie. Karel se eerste week op skool het baie goed afgeloop. Hy spog vreeslik met sy nuwe skoolklere en die boektassie wat ek vir hom gestuur het. Hy laat weer dat, sodra hy kan skryf, hy self vir my ’n brief sal skryf en dankie sê.”
Sy sluk hoorbaar en sit die brief voor Madame neer sodat sy, soos dit hul gewoonte is, ook al die nusies oor klein Karel – want daaruit bestaan Rosalie se briewe – self kan lees. Maar Madame se oë bly op Salome gerig. Dis nie die nuus dat haar seun vir die eerste keer skool toe is wat haar so ontstel het nie. Sy weet die moederhart pyn en verlang om hom te kan sien in sy eerste skoolklere. Maar dis ’n pyn waarmee Salome geleer het om saam te leef. Dis nie dit wat haar so ’n gemartelde uitdrukking gee nie.
Sy vra stil, die wyse ou oë sag: “Wat is dit, Salome? Wat het jou so ontstel?”
Salome kyk weg, sug swaar, vee oor haar oë en sê dan gedemp: “Ek kan ook niks vir u wegsteek nie, nè? U ken my te goed.”
“Ja, ek ken jou, Salome. Maar ek wil nie indring