Ena Murray Omnibus 22. Ena Murray
lewe. Jy was haar kind – die kind wat sy nooit self kon baar nie. Jy was haar alles. Die begin in die môre … en die laaste voordat sy gaan slaap. Sy het vir jou gewerk, elke dag vir jou opgeoffer. Sy het elke dag vir jou vier kilometer gestap van die poskantoor af huis toe. Soms het die son geskyn; soms het dit gebrand, stilgestaan op die aarde. Soms het dit gemisreën; soms gestort. Soms was daar ysterhael; wou die wind en stofstorms haar van haar voete waai. Soms het die aarde wit gelê van die kapok, het die yswind opgekom en alles kliphard versteen. Soms was sy siek … soos laas winter. Sy was baie siek … kwaai griep … maar sy het gestap, jaarin, jaaruit. Vir jou. Die einde van elke maand het sy haar tjek gevat en net so vir jou gepos, nooit ’n sent teruggehou nie … nie ’n sent nie. Sy het met deurgetrapte skoene en gelapte onderklere geloop … maar nie ’n sent van daardie tjek het sy ooit vir haarself gebruik nie. Dit was joune … net joune. Dit was nie vir haar ’n opoffering nie. Dit was veel meer as dit. Dit was ’n offer wat sy gebring het … blymoedig, en met ’n oop, eerlike hart.”
Salome sit versteen terwyl sy luister. Die trane het droog geword op haar wange, want daar is dinge in hierdie lewe, hoër dinge, waar trane tekortskiet. Al wat sy kan doen, is om met droë oë te luister en te weet dat sy klein en onwaardig gestroop staan, sonder enige verweer … dat sy geweeg en te lig bevind is.
Jan kyk stadig op en dit lyk of sy oë versplinter is van smart – smart vir sy vrou. “Ek kan nie vannag gaan slaap nie, Salome. Ek het nie die moed om by daardie kamer in te stap en in haar oë te kyk nie, te sien hoe sy ly nie.”
“Jan! O, my arme boetie!”
Hulle hou mekaar vas, hoewel albei weet dat hulle te swak is om mekaar te red. Dan praat hy weer skor hier teen haar voorkop waar sy op haar knieë voor hom staan en hy haar styf teen sy bors vasdruk. “En Ma … Ma was so trots op haar dogter.”
Sy kyk stadig na hom op, ongeloof in haar oë. “Ma …?”
“Ja. Dis sy wat gesê het die beeste moet geslag word sodat ons vir jou biltong en droëwors kan stuur. Sy het ook háár offers gebring, Salome – hoe eenvoudig dit ook al in ander se oë mag wees.”
Salome staar haar broer aan. ’n Stukkie biltong. ’n Stukkie droëwors. Wat is dit nou? Maar die beeste was Bessie Truter se trots. Elkeen is van kalwerdae af deur daardie twee groot hande versorg. Bessie Truter se koeie was nog nooit te koop nie. Geen geld kon hulle koop nie. Maar sy het van hulle geslag – want Salome moes wors en biltong kry.
“En vandag, Salome, het ek haar vir die eerste keer in my lewe sien huil. Ek het nie geweet Ma kán huil nie.” Hy stoot haar weg, staan op, kyk op haar af. “Sy het nie by Pa se graf gehuil nie. Van ons drie kinders was sy die liefste vir Karel, maar sy het ook nie by sý graf gehuil nie. Maar vandag …”
Hy wil weer by die agterdeur uit verdwyn, toe sy opspring en hom terugroep. “Jan!”
“Ja?”
“Sal jy my asseblief stasie toe neem – nou?”
“Nou?”
“Ja. Daar is om middernag ’n trein terug.”
“Terug?”
“Ja.”
Hy kyk vraend na haar. “Wat bedoel jy?” Sy skud haar kop, en hy kom nader. “Sus …?”
“Asseblief, Jan. Moenie dat ons verder praat nie. Daar is genoeg gesê. Alles is gesê. Neem my net stasie toe, asseblief.”
Hy kyk haar fronsend aan. “Ma en Rosalie lê al …”
“Ek weet. Ek sal hulle nie nou steur nie. Jy moet maar vir hulle baie groete sê.” Haar oë soek na haar koffer waar dit nog onuitgepak in die hoek staan. “Hier is my koffer. Ons kan sommer dadelik ry.”
Hy lyk onwillig. “Ek verstaan nie, Salome …”
Sy glimlag dapper deur haar trane. “Moenie probeer nie … nie nou al nie. Begrip kom met die tyd. Ek het ook eers nie verstaan nie. Nóú verstaan ek.” Sy stap na haar koffer, tel dit op, draai terug. “’n Mens moet ook nie alles verstaan nie … liewer nie … Kom ons ry.”
Flip kyk verbaas op toe sy die woonstel binnestap. Sy sit die koffer neer en kyk op – en sy gesig verstil.
Hulle groet nie. Die oomblik is te groot vir fisieke kontak.
Sy neem plaas op ’n stoel. “Hulle verstaan nie.” Sy sluk. “Jan het my aangekyk asof … asof hy my haat. Hy sê hy haat my nie, maar Jan het nog nooit gehaat nie. Ek dink nie hy besef dat hy my haat nie.”
Toe sy lank stilbly, vra hy gedemp, bleker as gewoonlik: “En … Rosalie?”
“Sy het net daar gesit … asof sy besig was om stadig te sterf. Later het sy my verseker sy verstaan, het selfs gesê dat sy hoop ons sal baie gelukkig wees, maar …” Skielik is daar trane in Salome se oë. “Jy moes haar gesien het, Flip. Sy het net daar gesit – dood, haar oë leeg … asof alle sin en doel in haar lewe gesterf het. Ek het soos ’n moordenaar gevoel.”
Sy staan op, begin rusteloos deur die vertrek dwaal terwyl haar man se blik haar volg. “Jan het my vertel hoe sy elke dag die afgelope jare daardie ent pad van die dorp af plaas toe gestap het, deur wind en reën en koue, kapok en hael en moordende son, met deurgetrapte skoene en gelapte onderklere.” Sy byt haar onderlip hard vas. “En nie ’n enkele sent van haar salaris het sy vir haarself gehou nie. Nog tot verlede maand, nou die dag, het haar tjek getrou hier aangekom … om mý ideale te verwenslik, sodat ék kan sing. Ek het daardie geld die afgelope maande gebruik om … om vir ons kos te koop.”
Daar kom ’n pyntrek oor sy gesig. Sy stem is laag. “Jy … jy het my nie vertel nie.”
“Nee. Ek het nie. Ek het geweet jy sou nie daarvan hou nie, te trots wees.” Sy sien sy oë en kyk hom peinsend aan. “Flip, moenie kwaad wees nie!”
Hy draai sy kop weg, buk effens vooroor en kreun asof hy werklik in fisieke pyn verkeer. “Liewe Vader in die hemel! Jy stroop my van my laaste bietjie trots en jy sê ek moet nie kwaad wees nie!” Sy oë is soos twee blou vlamme. “Toe jy my omgepraat het dat ons moet trou, toe het jy gesê dat jý vir ons sal kan sorg. Dit was al vir my erg genoeg om deur my vrou onderhou te word. Maar nou moet ek hoor die kos wat ek die afgelope tyd geëet het, het my skóónsuster vir my betaal – ’n vrou wat ek nog nooit eens ontmoet het nie, wat nie eens van my bestaan geweet het nie!”
“Maar sy verstaan …”
“Het sy verstaan, Salome? Dat die geld wat sy so swaar verdien het na jou armsalige man se maag toe gegaan het?”
“Flip, asseblief! Sy sal nie omgee nie. Ek ken Rosalie!”
“Jy ken Rosalie! Jy dínk jy ken haar! Want soos jy dink sy is, so móét sy wees – ’n soort heilige, ’n soort aardse engel wat nie van vlees en bloed is nie! As ek daardie vrou is …” Sy stem laat hom in die steek en hy stoot sy maer vingers woedend deur sy blonde hare. “Ek is arm. Ek was my hele lewe lank arm. Maar ek was ook nog nooit by ’n ander mens in die skuld nie. Ek het nog nooit gebedel nie; om aalmoese gevra nie. En vandag moet ek hoor ek is diep in die skuld by ’n vreemde vrou, vir my kos, vir my bestaan!”
“Flip! Jy ruk dit uit verband uit!”
“Nee, Salome. Dis feite – naakte feite!” Sy stemtoon daal weer. “Mag God my help … mag Hy my help om my skuld eendag aan hierdie vreemde vrou vierdubbeld terug te betaal.”
Salome sluit haar oë, haar mond verwronge. “En ek dan? Hoe sal ék haar ooit terugbetaal?”
Weer ontmoet man en vrou se oë, voer hulle ’n woordelose gesprek.
Dan knik Flip. “Daar is net een manier … die enigste manier.”
’n Vae vlam van hoop flikker in die groenbruin oë. “Dan verstaan jy? Jy begryp dat ek hulle, en veral vir haar, nie kan teleurstel nie?”
Hy knik weer, sy gesig soos ’n masker. “Ja. Ek begryp. Ek begryp ook dat ék moet gaan.”