Annelize Morgan Omnibus 3. Annelize Morgan
tog stil en veg, De Vigny!” Eduardo laat sy rapier ’n oomblik sak en bekyk die markies ongeduldig. “Ons het nie die hele dag tyd nie! Jy weet swaardgevegte is onwettig!”
Die markies kyk vinnig om hom rond en vee die bloed op sy hand aan sy mou af en wys dat hy gereed is om voort te gaan. Dit is skielik asof die ligte wond die markies woedend maak en ook vasbeslote om die don te vernietig. Hulle rapiere fluit teen mekaar, klief die lug en laat die omstanders telkens na hulle asem snak. Dan skiet die markies se hand uit en die skerp punt van sy wapen boor in Eduardo se skouer in.
Angélique ruk haar asem in. Bloed begin vrylik uit die wond loop. Fyn sweet begin op Eduardo se voorkop pêrel. Die wond is diep en pynlik, miskien selfs noodlottig. Die omstanders begin opgewonde praat toe Eduardo ’n oomblik weifel. Sy linkerarm hang slap, sy regterhand hou die hef van sy rapier krampagtig vas.
Eugéne de Vigny grynslag toe hy besef dat die geveg vir don Eduardo verby is. Die Spanjaard staan en hyg na sy asem, sy hele bors is rooi van die bloed.
“Arles . . .” hyg hy hees. “Jy sal nie wen nie . . . nie dit wat jy in Arles begin het nie . . .”
Die markies van Touraine antwoord hom nie, kyk net triomfantelik na hoe die Spanjaard veg om nie te sterf nie. Die omstanders deins half terug van hom asof hulle sy wraak kan aanvoel. Dan vat hy weer sy rapier vas.
Angélique druk haar handpalms teen haar slape en staar met afgryse na don Eduardo.
’n Dun straaltjie bloed loop by die hoek van sy mond uit.
“Jy kan nie meer vlug nie . . . Hier in die Kaap sal . . . ook jou lewe beëindig word . . . want jy –”
“Eduardo!” gil Angélique skielik en ruk los uit madame Colbert se greep. Sy storm blindelings vorentoe. “Eduardo!”
Die markies ruk blitssnel sy rapier omhoog om die Spanjaard die genadeslag toe te dien, maar dan is Angélique by hulle, struikel sy tussen hulle in en moet hy met ’n vloek die rapier terugruk.
“Wat soek jy hier!” sis hy woedend.
Maar sy hoor hom nie, buk net oor die bewustelose man wat ’n oomblik voor die markies se rapier hom sou deurboor, op die grond neergesyg het.
6
Die madame druk tussen die opgewonde toeskouers deur tot by Angélique, wat intussen orent gekom het.
Eugéne de Vigny staan nog steeds met sy rapier in sy regterhand vasgeklem, bewend van woede oor die meisie se tussenkoms.
“Staan opsy, mademoiselle,” sis hy. “Ek wil die geveg afhandel.”
Angélique se naels keep in haar handpalms. “Dit sal moord wees, monsieur,” sê sy sag omdat sy haar stem nie vertrou nie.
“U het geen reg gehad om in te meng nie.”
Haar oë blits uitdagend. “En u het geen reg om hom dood te maak nie, monsieur!”
Madame Colbert lê haar hand op die meisie se arm. “Kom, die markies weet wat hy doen.”
Angélique draai na haar. “Nee, madame, ek wil nie met ’n moordenaar trou nie.”
Dis of haar woorde die markies tot sy sinne ruk. Sy greep op sy rapier verslap effens, maar die ysige woede in sy blou oë wyk nie.
“U sal weer van my hoor, mademoiselle,” sê hy, draai kort op sy hakke om en stap weg.
Pablo en ’n ander matroos buk haastig by sy meester.
Die meisie staan swyend en kyk hoe hulle aan sy pols voel, na sy hartklop luister en dan kyk die ou man eindelik op na haar. Daar is ’n onuitspreeklike dankbaarheid in die ou oë, sy hele, beplooide gesig bewe van ingehoue emosie.
“Gracia, señorita, mucho gracia . . . gracia . . .” prewel hy aanhoudend. “Hy leef nog . . . ek sal nie vergeet nie . . .”
Sy antwoord nie, maar die dankbaarheid in haar oë laat hom vaag en bewerig glimlag.
“Kom, Angélique, ons moet huis toe gaan.”
Die toeskouers maak eerbiedig ’n pad tussen hulle oop om die twee vroue te laat deurgaan. Nie een begryp mooi wat gebeur het nie, niemand weet waarvan don Eduardo van Arles gepraat het nie en dit gons van die gissings.
Eers toe hulle veilig in die koets op pad na Le Ruisseau is, praat die madame vir die eerste keer.
“Dit was onvergeeflik van jou, Angélique. Ek ys om te dink wat De Vigny gaan sê as hy jou weer sien.”
Angélique bly ingedagte by die venster uitstaar. “Dit kan my nie meer skeel nie, madame.”
“Voor vanaand sal die hele Kaap weet dat jy don Eduardo van die markies se rapier gered het.”
Die meisie draai haar oë moeg in die ouer vrou se rigting.
“Ek moes dit doen, madame, ek sou dit nie kon verduur dat hy . . .” Sy stik in haar woorde, probeer die trane terugsluk wat skielik opwel. “As hy nie sterf nie!” fluister sy.
Die vrou druk Angélique se hand vertroostend.
“Toe maar, m’enfant, alles sal regkom. As don Eduardo sterf, sal jy nog weet dat jy gedoen het wat jy kon om dit te verhoed.”
Angélique probeer haar trane met haar klein sakdoekie wegvee. “Hoe kan ek met Eugéne de Vigny trou as ek weet dat hy . . Eduardo doodgemaak het?”
Die ouer vrou antwoord nie. Daar is niks wat sy kan sê nie. Enige meisie sal wegskrik van so ’n gedagte. Sy sidder toe sy die oomblik onthou toe Eugéne de Vigny sy rapier gelig het om don Eduardo die genadeslag toe te dien. As die Spanjaard nie na die Kaap gekom het nie, sou hulle nooit besef het tot watter uiterstes die markies in staat is nie. Maar nou is Angélique aan hom verloof en tensy hy haar vryheid teruggee, sal sy met hom moet trou.
Die volgende dag daag die markies lank voor middagete op Le Ruisseau op, maar dié onmoontlike tyd wat hy gekies het, word hom onder die omstandighede vergewe. Madame Colbert was hom half en half te wagte en sy het seker gemaak dat Angélique nie te laat slaap nie. Toe die markies dus kort voor tienuur opdaag, is die twee dames in die sonkamer besig om tafellinne te sorteer. Die madame het juis ’n takie gekies wat Angélique die geleentheid sal gee om besig te raak sodra die gesprek haar ontstel.
“Maak u gerus tuis, monsieur,” sê die madame toe hulle gegroet het. “Ons was u nie so vroeg te wagte nie en, wel . . .” Sy beduie verskonend na die oop linnekis en die hopies servette en tafeldoeke wat oor die tapyt gestrooi lê.
Hy maak ’n afwerende gebaar en bly staan. Sy oë bly ondersoekend op Angélique gerig wat met ’n geborduurde tafellap op haar skoot peuter.
“Ek het eintlik gekom om die mademoiselle te spreek, madame,” sê hy eindelik.
Die ou dame knik. Sy het verwag dat haar teenwoordigheid nie deur hom geduld sal word nie en sy ignoreer die meisie se pleitende uitdrukking.
“Ek het ’n paar ander takies wat ek wil verrig, monsieur. As u my sal verskoon?” Sy verlaat die vertrek haastig, voordat sy dalk anders besluit. Dis die heel beste dat die twee die saak uitpraat. Daar is tog niks wat sy meer kan doen nie.
Toe sy die deur agter haar toetrek, draai De Vigny na Angélique. “Ek eis ’n verduideliking.”
Sy ontwyk sy blik. “Ek . . . ek het niks om te sê nie, monsieur.”
Hy swyg lank voordat hy antwoord. “Jou inmengery het nie juis iets aan die uitslag van die geveg gedoen nie.”
Sy kyk verskrik op. “Ek verstaan nie.”
“Don Santiago sal nie van daardie wond kan herstel nie. Ek weet wanneer ek gewen het.”
Die ysigheid in sy stem en koelbloedigheid van sy woorde laat haar ril. Om iemand dood te maak, is nie vir hierdie man ’n afstootlike gedagte nie. Dis asof hy dit as ’n soort taak beskou wat afgehandel moet word. En soos enige ander taak wat hy aanpak, doen hy dit goed.
“Jy