Annelize Morgan Omnibus 3. Annelize Morgan
greep om haar middel verslap meteens en sy staan terug.
“Ja, dit is ek, maar ek het jou gevra of hy nog lewe!” Die ongeduld en kommer lê vlak in haar stem.
“Dit weet ek nie. Gisternag het dit nog beroerd met hom gegaan. Ons het nie veel hoop nie.”
Hierdie keer is dit sy wat hóm aan die skouer pluk. “Waar is hy! As jy weet, neem my soontoe, asseblief!”
Hy haal sy skouers berustend op. “Dan moet ek seker,” sê hy en begin koers kies oor die straat, “maar ek is nog altyd beskikbaar as jy ander planne kry.”
Sy het nie die tyd of die lus om haar te vererg nie. Sy volg hom haastig en probeer by die stywe pas wat hy volhou, bybly.
Hy lei haar deur ’n hele paar nou, vuil straatjies voordat hulle ’n reeks herberge op die baaifront nader. Hier loop hy stadiger, bekyk die omgewing goed voordat hy koers kies na een van die herberge oorkant die straat. Hy stap deur die taverne met Angélique kort op sy hakke. Van die matrose skree aanmerkings, maar nie een van die twee steur hulle daaraan nie.
By die steil trap hou hy sy hand uit en help haar die twee stelle na bo. Teen hierdie tyd het sy nie meer ’n idee waar sy haar bevind nie. Vaagweg wonder sy of sy haar pad ooit weer terug sal kry. Maar sy is nou hier en sy het gekom om vir haarself uit te vind of don Eduardo nog lewe.
Die matroos stap in ’n lang gang af. Aan die onderpunt gaan hy voor ’n deur staan en klop liggies aan. Feitlik onmiddellik word dit oopgemaak en Pablo verskyn in die opening.
Sy oë rek toe hy Angélique sien, maar hy praat met die man voor hom. “Wat is dit, Manuel?”
Manuel beduie na die meisie. “Sy wil die kaptein sien.” Hy grinnik vir Angélique, maar sy kyk nie na hom nie.
“Leef monsieur le Capitaine nog, Pablo?” wil sy weet.
Daar is ’n flikkering in die ou man se oë toe sy hom op sy naam noem. Dan staan hy terug.
“Kom in, señorita,” nooi hy.
“En ek?” wil Manuel weet. “Wanneer kan ek hom sien?”
Pablo haal sy skouers op. “Jy sal jou beurt kry, maar ek weet nie of jy baie gou kaptein van die Sylvanna gaan word nie.” Daar is ’n dreigement in die ou man se stem. “Ek weet van jou sogenaamde ambisie.”
Die glimlag verdwyn van Manuel se gesig. “Ek sal so ’n goeie kaptein as enige ander man maak, Pablo!” sis hy.
“Maar terwyl señor Santiago nog lewe, sal dit nie gebeur nie!” Pablo stoot Angélique die vertrek binne en maak die deur toe.
Sy het die gesprek met belangstelling gevolg en toe sy dus die stil figuur op die bed by die venster sien, is die benoude gevoel nie meer in haar nie. Hy leef nog en dis die belangrikste.
Pablo bly by die deur staan asof hy daar wil waak om te verhoed dat iemand binnekom. Hy por haar nie aan om nader te gaan nie, laat haar haar tyd neem om te besluit. Sy gaan stadig nader, bang dat Pablo vir Manuel ’n leuen vertel het. Toe sy op die stil gesig afkyk, spring die vrees terug in haar keel en sonder om haar aan die ou man te steur, kniel sy langs die bed. Sy is bang om aan die hand te raak wat op die kombers lê, bang dat dit koud sal wees. Maar dan merk sy dat hy stadig en moeisaam asemhaal en sy steek haar hand versigtig uit totdat sy die warmte van sy vingers voel. ’n Snik van dankbaarheid ontsnap deur haar lippe.
“Eduardo,” fluister sy, “jy leef!”
Sy vingers sluit om hare en sy kyk vinnig op.
Sy oë is nog toe, maar om sy mond is daar ’n effense glimlag asof selfs dít vir hom ’n inspuiting is.
“Angélique,” sê hy deur koorsige lippe, “Angélique . . .”
7
’n Lang oomblik bly sy so stil op haar knieë by die bed sit, sy vingers teen haar wang gedruk. Hy sal leef, dink sy dankbaar, as hy nou nog leef, sal hy nie sterf nie.
Eindelik staan sy op en dan onthou sy van Pablo, maar dit maak nie saak nie. Die ou man sal verstaan. Hy glimlag toe sy na hom kyk, draai half verleë weg asof hy weet dat hy ’n baie intieme, kosbare oomblik in haar lewe gesien het. Dan raak hy skielik doenig by die tafeltjie in die hoek van die vertrek. Hy vou die skoon verbande sorgvuldig op, vee die blad skoon en probeer besig bly.
Sy gaan op die regop stoel voor die bed sit. “Eduardo?”
Sy oë gaan oop en hy draai hulle stadig na waar sy is.
“Jy is ontrou aan jou belofte, señorita.” Hy praat sag en moeisaam. Daar is geen verwyt in die teregwysing nie.
“Ek moes weet of jy nog leef, ek kon nie anders nie.”
“Die markies . . . mag nie hiervan . . . weet nie.”
Sy skud haar kop. “Hy sal nie. Hy weet nie dat jy nog lewe nie.”
Sy ooglede gaan toe. Angstig hou sy hom dop, bang dat die lewe uit hom sal wyk. Sy hande roer onrustig.
“Hy sal . . . uitvind.”
Sy staan vinnig op en gaan haal ’n klam doek by Pablo. Dan kom sy weer langs die bed sit en vee sy koorsige, warm voorkop daarmee af.
“Het jy baie pyn?” wil sy sag weet.
Hy glimlag effens. “Nee.”
Maar sy weet dat dit nie die waarheid is nie. Toe sy die doek by Pablo gaan haal het, het sy laudanum en belladonna gesien. Sy het vertroue in die opofferende ou man. Hy sal weet hoe om dié medisyne reg te gebruik.
“Is daar iets wat ek vir jou kan kry?” vra sy terwyl sy die klam doek op sy voorkop hou.
“Nee . . . jy het reeds genoeg gedoen.” Hy frons toe hy weer na haar kyk. “Jy het my lewe twee keer gered, señorita. Hoekom . . . het jy dit gedoen?”
Sy slaan haar blik neer. Wat kan sy antwoord? Miskien vermoed hy die waarheid – dat sy hom liefhet. Waarom anders sou sy dit in dié deel van die Kaap gewaag het? Toe sy weer na hom kyk, weet sy dat haar swye meer as genoeg antwoord vir hom was. Skielik is sy bang dat hy haar gevoel verkwalik, dat hy haar as ontrou aan die markies van Touraine beskou. Maar hy haat Eugéne de Vigny. Sal hy haar dit werklik kwalik neem as sy die man nie kan liefkry nie?
Haar blik dwaal na die verbande om sy linkerskouer. Sy onthou die dag op die markplein toe sy sonder om te dink tussen hom en die markies gekom het en hom voor die wraak van Eugéne de Vigny weggeraap het.
“Jy moes nooit teen die markies geveg het nie, don Eduardo. Hy is die beste swaardvegter in die Kaap.”
Sy oë gaan weer oop. “As ’n mens te veel haat, señorita, kan jy nie jou beste doen nie . . . Jy moet eers jouself oorwin . . . vóórdat jy die swaard opneem.” ’n Skielike pynvlaag laat hom op sy tande kners. Pablo kom nader met ’n mengsel in ’n glas en bly aan die onderpunt van die bed staan. “Ek het tien jaar . . . se wraak opgegaar . . . Dit was ’n fout . . .”
Pablo kyk na die meisie. “Hy het baie pyn, señorita. Ek moet hom iets daarteen gee. Dit sal hom laat slaap.”
Sy knik. “Ek sal moet gaan.”
“Wag . . .” Don Santiago draai moeisaam na haar. “Wag . . . ek wil nog praat . . .” Hy haal diep asem. “Moenie toelaat dat haat . . . jou vernietig nie. Miskien . . sal jy nooit kan haat nie.” Hy sluit sy oë en Pablo gaan by hom staan met die glas. “Vir my het dit byna my lewe gekos . . . Ek is baie aan jou verskuldig . . . nie net my lewe nie. Señorita . . . jy het my laat besef dat daar . . . emosies is wat sterker is as haat . . . as wraaksug.”
Toe die pyn weer sy gesig laat vertrek, neem hy die glas by Pablo en ledig dit. Dan sak hy teen die kussings terug. “Behou dit, Angélique . . . bewaar dit, want dis is kosbaar.”
“Jy moet rus, monsieur. Ek sal weer hiernatoe kom.”
“Nee . . . moenie weer kom nie. Iets mag dalk met jou gebeur.”