Annelize Morgan Omnibus 3. Annelize Morgan

Annelize Morgan Omnibus 3 - Annelize Morgan


Скачать книгу
sy haastig om en klim in die koets. Daar is ’n dowwe, dooie gevoel in haar binneste. Dit gaan slegter met hom . . . miskien is hy selfs dood. Wat het alles haar dan gebaat as dit so is! Sy weet nie wat tien jaar gelede gebeur het nie, maar sy het afgelei dat don Eduardo die tyd tussenin gewy het aan ’n wraak wat hy as geregverdig beskou het. Tien nuttelose jare.

      “Jy is skielik baie stil, Angélique?”

      Sy kyk op en glimlag verskonend. “Ek is jammer, madame, ek was net ’n bietjie ingedagte.”

      Die madame onthou die blou materiaal en neem aan dat dit is wat die meisie half droomverlore en met ’n ligte frons voor haar laat uitstaar.

      “Ek sal sien of ons ’n plan kan maak om daardie blou vir jou te koop, chérie. Dit sal jou uitstekend pas.”

      Angélique glimlag verras. “Dankie, madame! Dit sal soos ’n droom lyk!”

      Tevrede dat sy die oorsaak van die meisie se ongelukkigheid ontdek het, sit die ou dame terug teen die kussings en maak haar oë toe. Van nou af gaan alles baie eenvoudiger verloop en sal sy nie meer so baie hê om haar oor te bekommer nie.

      Daar is ’n groot konsternasie op Le Ruisseau toe die deftige koets, deur vier spoggerige, spierwit perde getrek, voor die herehuis stilhou. Bediendes draf rond, totaal uit hulle gewone roetine verwar deur dié onverwagte besoek van kommandeur Simon van der Stel.

      Madame Colbert draf haastig na die naaste vergulde spieël om te kyk of sy darem netjies lyk, en pluk dan senuweeagtig aan die kantkragie van haar tabberd.

      “So heeltemal onverwags, met nie ’n woord van waarskuwing nie!” roep sy angstig uit. “Bring net die beste glase vir wyn as die kommandeur daarom vra! Maak gou seker of daar nie stof op die meubels in die biblioteek is nie!” Sy draai haastig om en drafstap na die voorportaal. Sy kan die kommandeur met die trappe hoor opklim. “Angélique! Waar is jy!” roep die madame sag genoeg dat sy nie deur die kommandeur gehoor kan word nie.

      “Die mademoiselle is in haar boudoir, madame,” antwoord een van die bediendes wat uit die biblioteek met ’n stoflap in haar hand kom.

      “Ag, vadertjie tog! Sal iemand haar net gaan waarsku!”

      Die bediende kniebuig. “Ek gaan dadelik, madame.”

      Die geluid van die deurklopper laat madame Colbert met ’n klein, verskrikte gilletjie na die biblioteek toe koers kies. Die oomblik toe die hoofbediende die voordeur oopmaak, druk die ou dame die biblioteek se deur haastig agter haar toe.

      Sy hoor hoe die kommandeur binnegelaat word en oomblikke later word dié hoë gas se teenwoordigheid in die biblioteek aangekondig.

      Simon van der Stel maak sy buiging en groet.

      Madame Colbert maak die boek wat sy in haar hand gehad het toe en sit dit langs haar op die tafeltjie neer. Sy probeer kalm voorkom, maar haar blink oë verraai die opgewondenheid wat Van der Stel se besoek gebring het.

      “U moet my verskoon, U Eksellensie, maar ons was u nie te wagte nie.”

      Hy skud sy kop en laat sy hoed en handskoene op ’n sytafeltjie.

      “Dis ek wat u om verskoning vir my ontydige besoek moet vra, mevrou Colbert.” Hy onderdruk met moeite die geamuseerde glimlag.

      Madame Colbert het twee bloedrooi kolle op haar wange. In haar haas om die indruk te skep van iemand wat rustig gesit en lees het, het sy ’n ongemaklike, hoë stoel gekies en die boek was onderstebo.

      “Maak u tuis, U Eksellensie,” onthou sy haar maniere.

      Van der Stel glimlag.

      “Dankie, mevrou, maar ek het eintlik gekom om met mejuffroutjie De Busset te praat . . . as sy natuurlik hier is, bygesê.”

      Die madame hou haar hande omhoog. “Mais oui, U Eksellensie! Ek sal haar onmiddellik laat roep!” Sy stap na die kloktou en trek dit twee keer.

      ’n Bediende loer om die hoek van die deur. Dit laat die madame van verleentheid bloos.

      “Gaan roep die mademoiselle, Lisa.” Sy draai na Van der Stel, wat haar ongemak met ’n halwe glimlag betrag. “Sy is nuut hier en sy ken nog nie al die reëls nie, monsieur.” Dan kyk sy in die vertrek rond. “Wil u nie sit nie, monsieur? Wat van ’n glasie wyn?”

      Hy skud sy kop. “Dankie vir u vriendelikheid, maar ek drink nie so vroeg in die oggend wyn nie. My besoek sal my ook nie baie lank hier laat vertoef nie. Daar is net die een en ander wat ek met mejuffrou De Busset wil bespreek.” Hy huiwer voordat hy sê: “Ek sal dit hoog op prys stel as u my en die dame alleen sal laat, asseblief.”

      Die madame begin te protesteer, maar dan besef sy dat die kommandeur van die Kaap nie juis ’n persoon is teen wie se bevele ’n mens beswaar maak nie.

      Sy knik net teleurgesteld. “Mais oui, monsieur. Sekerlik.”

      Toe Angélique dus enkele sekondes later by die biblioteek inkom, vertoef madame Colbert nie langer nie.

      Angélique probeer nie om haar verbasing te verberg omdat sy deur die kommandeur in haar huis besoek word nie. Normaalweg word ’n mens tog na die Kasteel ontbied en ry die kommandeur nie agter diegene wie hy wil spreek, aan nie. Maar hiervan is die kommandeur oënskynlik onbewus, of hy steur hom nie aan etiket nie.

      “Ek was op pad na Groot Constantia,” verduidelik hy asof hy haar gedagtes kon raai. “Buitendien wou ek u al vroeër onder vier oë gespreek het.”

      “Ja, U Eksellensie.” Sy wag dat hy moet praat oor dit wat aanleiding tot hierdie onverwagte besoek gegee het. Instinktief weet sy dat dit in verband met don Eduardo staan. Miskien is hy dood . . . hierdie keer werklik dood.

      Die vraag kom onverwags: “Hoe lank ken u die markies van Touraine?”

      “Ek . . . sedert hy ses maande gelede hier aangekom het, monsieur.”

      Hy frons ingedagte. “Het hy al ooit met u oor sy verlede gepraat?”

      ’n Koue, beklemmende gevoel kruip oor Angélique. “Nee . . . hy het nie.” Sy is duidelik op haar hoede, haar stem effens hees en bewerig.

      Hy glimlag skielik. “U kan gerus ontspan, juffrou. In ’n nie-amptelike hoedanigheid wil ek u graag probeer help . . . as ’n guns vir iemand met wie ek lankal vriende is.”

      “Don Eduardo?”

      Hy knik. “U is vinnig van begrip. Ja, vir don Eduardo.” Hy vat sy hande agter sy rug saam, loop ’n paar treë op en neer en kyk dan na haar. “Weet u hoegenaamd iets van die markies af?”

      Sy huiwer lank voordat sy vra: “Arles?”

      Hy skud sy kop. “Die geskiedenis van Arles ken ek. Ek soek inligting oor die tyd tussen Arles en sy aankoms in die Kaap.”

      “Dan is daar niks wat ek u kan vertel nie, U Eksellensie.” Dan vra sy huiwerig: “Wat het die markies van Touraine gedoen, wat het gebeur dat almal skielik so baie in hom belang stel?”

      Van der Stel kom by haar staan, sy gesig ernstig. “Daar is nog twee weke oor voor u huwelik met Eugéne de Vigny. Moet u nie verder oor die markies se verlede bekommer nie. U sal die geleentheid gegee word om self te kies of u met die huwelik wil voortgaan of nie. Niemand sal u dit verkwalik as u nie wil voortgaan nie. Maar die tyd is nog nie ryp vir u om u keuse te maak nie.” Hy glimlag verskonend. “U sal moet wag totdat u albei kante van die saak gehoor het.”

      Sy glimlag skielik, ’n groot bekommernis van haar skouers af.

      “Dankie, monsieur. Ek sou nie met die markies kon getrou het terwyl ek nie weet . . . enigiets van hom weet nie.”

      Van der Stel draai om en tel sy handskoene en hoed van die tafeltjie af op.

      “Daar is nog iets voordat ek loop. Don Eduardo leef, maar u mag dit teenoor niemand noem nie . . . nie eens madame Colbert nie.”

      8

      Angélique staar hom ’n oomblik


Скачать книгу