Annelize Morgan Omnibus 3. Annelize Morgan
oë gaan swaar toe en dan ontspan sy gepynigde gesig.
Angélique kyk op na Pablo. Hy haal die glas uit sy kaptein se hand en glimlag vir haar.
“Alles is reg, señorita. Hy sal lewe.” Sy ou oë bly ondersoekend op haar gesig. “Hy het ’n doel waarvoor hy wil leef. Iets wat hy voorheen nie gehad het nie.”
“Wat het hy bedoel, Pablo? Van watter belofte het hy gepraat?”
Die ou man loop na die tafeltjie in die hoek en spoel die glas uit. “Dit mag u my nie vra nie. Hy sal u self eendag wil vertel. Maar nou moet u gaan. Ek sal Juan vra om saam met u tot by die markplein te loop.”
Sy wil nie so gou al gaan nie. “Wanneer gaan julle met die Sylvanna die Kaap verlaat?”
Hy haal sy skouers op. “Ek weet nie. Miskien oor ’n week, miskien eers oor ’n maand.”
“En Manuel? Hy wil tog kaptein wees?”
Die ou man se oë vertroebel. “Nie terwyl señor Santiago nog leef nie, señorita.”
“En jy, Pablo? Gaan jy jou kaptein volg?”
Sy gesig verkreukel in ’n lag. “Net waar hy gaan, señorita. Maar dalk sal ek tog eendag ’n plasie in Spanje kan koop, naby Toledo. Maar as ek op see of ’n ander plek moet sterf, sal dit aan sy sy wees.”
Haar oë wys haar verbasing. “Jy verafgod hom, Pablo.”
Hy lag geluidloos. “Hy is soos ’n seun vir my, señorita. Ek het hom vyf jaar lank in my huis gehad en toe het hy my na die oop see geneem. Ek ken hom soos wat ek my eie seun sou geken het. In tien jaar leer ’n mens ’n ander ken as jy sy enigste vertroueling is.”
Sy dink aan Arles en vermoed dat die ou man alles daaromtrent weet, maar sy weet ook dat hy geen woord aan haar daaroor sal sê nie. Miskien sal dit beter wees as sy haar pogings om uit te vind, laat vaar.
Dan glimlag sy skielik. “As jy hulp nodig het, Pablo, jy weet waar madame Colbert woon. Ek sal altyd bereid wees om te help waar ek kan.”
“Gracia, señorita.” Dan draai hy om en loop na die deur. Hy roep in die gang af na Juan, wat enkele oomblikke later sy verskyning maak.
Voordat sy gaan, buk Angélique oor don Eduardo. Hy slaap, onbewus daarvan dat die gedagte daaraan dat sy moet teruggaan, reeds die verlange teruggebring het. Sy raak met haar vingers aan sy voorkop en dan, asof sy skrik vir die aanraking, draai sy om en verlaat saam met Juan die vertrek.
Dis al lank na drie-uur toe Angélique op Le Ruisseau aankom. Die madame is hoogs ontsteld en omgekrap omdat die meisie so laat eers terug is.
Sy keer Angélique met die intrapslag by die deur voor. “Vyf ure in die veld! Dis ongehoord! En waarom het jy nie ’n hoed op nie? Kyk hoe lyk jou hare! Angélique, waar wás jy!”
“Ek het van die tyd vergeet, madame.”
Madame Colbert kry ’n streng uitdrukking op haar verrimpelde gesig. “Moenie vir my leuens vertel nie. Jy was nêrens op die landgoed nie. Jean en Emile het die hele omgewing gefynkam sedert eenuur en hulle kon jou nêrens opspoor nie.”
Angélique huiwer ’n oomblik. Dan besluit sy dat madame Colbert tog uiteindelik die waarheid uit haar sal kry. Sy sal aanhou totdat sy presies weet waar sy was.
“Kan ons nie liewer in die sonkamer of die biblioteek gaan gesels nie, madame?” vra sy. “Ek wil nie graag hê almal moet hoor wat ek te sê het nie.”
Die vrou snork verontwaardig. “Ek is verbaas om uit te vind dat jy hoegenaamd nog enige diskresie het. Maar goed, ek sal graag wil hoor wat jy te sê het oor jou onbehoorlike gedrag.” Sy draai om en stap met ’n steeds verontwaardigde houding na die biblioteek, waar sy in een van die leunstoele plaasneem.
Angélique bly by die toe deur staan en kyk besluiteloos na die ou dame.
“Ek wag,” sê die vrou.
“Ek was dorp toe, madame.”
Die ou dame ruk orent. “Mon Dieu! Sonder chaperone en sonder om vir my te sê! Dis ongehoord! Wat op aarde het jy daar gaan maak?”
Angélique beskou die stowwerige punte van haar skoene aandagtig. “Ek het na don Eduardo gaan soek, madame.”
Die vrou staan op en begin rusteloos in die vertrek op en neer stap. Sy is duidelik hewig ontsteld en bekommerd. Angélique laat haar begaan. As die ou dame dit wil hê, sal sy haar die versekering gee dat dit nie weer sal gebeur nie, maar sy is nie spyt dat sy dit gewaag het nie. As don Eduardo haar nie gevra het om nie weer te gaan nie, sou sy dit miskien nog ’n keer gewaag het. Maar na sy vreemde ontboeseming, het sy besluit dat sy sal doen wat hy vra. Sy weet nie wat hy in die mou voer of waarom hy hier in die Kaap is nie, sy weet net dat hy haar geen kwaad sal aandoen nie, dat hy ook haar belange in hierdie geskil tussen hom en Eugéne de Vigny in ag neem.
Die madame gaan skielik staan en kyk na haar. “Ek het geen raad meer met jou nie, Angélique. Jy vergeet dat jy aan monsieur le marquis verloof is, dat jy een van die dae die markiesin van Touraine gaan wees. Dis ’n ou familie en ’n naam wat jy met trots behoort te dra.” Sy skud haar kop stadig. “As jy dit net wil besef, sal jy alles vir jouself soveel makliker maak. Jy weet dat die markies en die Spanjaard mekaar haat. Jou lojaliteit behoort by Eugéne de Vigny te wees en nie by hierdie vreemde, Spaanse duiwel nie.”
Angélique kyk weg. “Ek moes seker maak, madame. Nou is ek tog seker en daar is geen rede meer vir my om hom te gaan soek nie.”
Die ou dame frons. “Dan is hy dood?”
Vergewe my, Eduardo, dink die meisie ongelukkig. Maar jy het my dit tog gevra.
“Ja, madame,” sê sy gesmoord, “hy is dood.”
Madame Colbert se openlike verligting laat Angélique ineenkrimp.
“Goed! Dan is daar niks meer vir my om te vrees nie. Ek hoop dat jy jou nou by die reëlings vir die huwelik sal bepaal. Die afgelope tyd het jy alles in ander se hande gelaat en ek dink dit het tyd geword dat jy jou deel begin bydra.”
“Ja, madame.”
“Adéle Marais kom môre hierheen. Sy sal jou help waar sy kan.”
“Dis goed, madame.”
Die ou dame kyk ondersoekend na haar. Dis al asof sy die vrede nie vertrou nie, maar daar tog niks aan kan doen nie.
“Angélique?” Die meisie kyk op. “Ek wil geen woord meer van don Eduardo hoor nie. Jy sal daardie avontuurtjie maar liewer moet vergeet.”
Die meisie sluk hard. “Ek sal probeer, madame.”
“Nou goed. Gaan dan nou na jou kamer en gaan maak jou reg. Ek het gevra dat daar vir jou ’n bord kos gehou moet word.”
“Merci, madame. Dankie.”
Toe die meisie die vertrek verlaat, is daar ’n bekommerde uitdrukking op die ou dame se gesig. Dan sug sy net diep en besluit dat sy ’n groot glas wyn nodig het. As die huwelik met die markies van Touraine net eers voltrek is, sal sy weer kan asemhaal.
Die volgende oggend teen elfuur sit Angélique in die tuin in die louwarm wintersonnetjie. Dis nog lank na die lente toe en die veld lyk troosteloos in die koue. Vanoggend is daar ’n mis oor die lieflike berge van Drakenstein wat die vertes met die hemel laat saamsmelt. Vannag of môre sal dit weer begin reën. Elke af en toe waai die wind dooie akkerblare oor die vaal grasperke, hulle ritseling ’n dooie gefluister.
Gisternag het sy die oomblikke saam met don Eduardo herleef, het sy elke woord wat hy gesê het, probeer onthou en dit probeer verstaan. Die hele nag het sy rondgerol en kon sy nie slaap nie.
Nou, hier in die helder daglig, lyk alles nog net so duister en onverstaanbaar. Maar sy probeer nie meer verstaan nie. Sy probeer om te berus by dié dinge wat onvermydelik vir haar in die toekoms wag. Dit sal ’n troostelose lewe sonder hoop of geluk wees, maar dit kan nie anders nie. Dit sal vir haar beter