Annelize Morgan Omnibus 3. Annelize Morgan
dit moet so bly . . . net tot ’n bietjie later.”
Sy dink lank na voordat sy versigtig vra: “Sal ek hom weer sien voordat ek en . . . Eugéne de Vigny gaan trou?”
“Miskien, maar ek kan nie met sekerheid sê nie.”
Sy knik. Hoekom het hy dan vir haar gesê dat don Eduardo leef? Weet hy dan nie wat dit vir haar beteken nie?
“Ek sal stilbly, monsieur.”
“Dit sal ek hoog op prys stel. Ek . . . het vermoed dat u in sy welsyn sou belang stel. U optrede op die markplein met die geveg het dit tog bewys.”
Sy voel die blos in haar hals opstoot. “Ek kon hom nie só sien sterf nie.”
“U optrede het die skindertonge losgemaak, juffrou. Die Kaap is klein en só ’n gebeurtenis sal nie vergeet word nie.”
Sy glimlag verleë. “Ek veronderstel so. Maar ek is nie spyt dat ek dit gedoen het nie.”
Hy glimlag terug. “U heldedaad word deur die jong mans bewonder en die dames . . . nou ja, ’n klein bietjie jaloesie was nog maar altyd deel van die vrou se karakter.” Hy lag. “U het baie bewonderaars onder die jong mans, juffrou De Busset. U sal nie alleen wees as u besluit om nie met die markies te trou nie.” Hy stap na die deur en sy volg hom. “Maak asseblief verskoning by madame Colbert. Ek kan ongelukkig nie langer vertoef nie.”
“Ek sal dit doen, monsieur.”
“Goeiedag, juffrou.”
“Au revoir, monsieur.”
Die dae sleep traag verby. Na die kommandeur se besoek is madame Colbert soos ’n fladderende mossie deur die huis. Die opgewondenheid bly by haar en skielik word die planne vir die eenvoudige onthaal heelwat uitgebrei.
Angélique deel nie in die nuwe opwinding nie. Sy weet dat Van der stel probeer het om haar te troos deur aan haar te sê dat sy ’n keuse sal hê, maar dit het haar net verwar. Don Eduardo leef nog, maar sy sal hom moontlik nie weer sien nie.
Dinsdagoggend loop sy doelloos deur die tuin rond. In die huis is daar vir haar niks om te doen nie. Die reëlings is so te sê reeds finaal. Feitlik al die gaste wat genooi is, het al laat weet dat hulle die onthaal sal bywoon. Vir ’n klein nedersetting soos die Kaap is twee honderd gaste baie. Maar dalk wil niemand dié opspraakwekkende huwelik misloop nie. Geen ander verloofde het nog ’n ander man onder haar huweliksmaat se rapier uit die dood gehaal nie. Selfs mense van wie sy nog nooit gehoor het nie, gaan kom. Dit maak haar bang.
Sy loop tot teen die buitenste heining van die tuin. Afgetrokke dink sy daaraan dat die tuinier lank laas hier met ’n snoeiskêr doenig was. Hierdie uiterste hoekies van ’n tuin word gewoonlik vergeet.
“Señorita!”
Die harde fluistering laat haar orent ruk. Eduardo, dink sy, dis don Eduardo! Maar dan sien sy die gehurkte figuur van Pablo.
“Pablo! Wat maak jy hier?”
Hy kom stram orent van waar hy agter ’n struik gesit het. “Ek het ’n boodskap van señor Santiago.”
Haar hart bons in haar keel. “Hoe gaan dit met hom, Pablo?”
Hy lag breed en sy sien dat heelwat van sy tande makeer. “Goed, señorita. Hy het baie vinnig herstel.”
Sy glimlag en daar is ’n beskuldigende toon in haar stem toe sy vra: “Waarom wou jy my daardie dag in die Kaap dan nie ’n teken gee nie? Jy het tog geweet dat ek wou weet of dit goed met hom gaan?”
Hy lyk verleë. “Ek moes maak of hy dood is, señorita. Gister eers het señor Van der Stel gesê dat u weet dat hy nog leef.” Hy grinnik weer. “Don Eduardo het dadelik geskryf.” Hy hou die verkreukelde briefie na haar uit.
“Merci.” Sy neem dit en vou dit haastig oop.
Señorita
Die markies van Touraine sal u binnekort u vryheid wil teruggee. Hou hom by sy belofte en moenie hom van sy belofte vryskeld nie. Nie nou al nie. Later sal u die geleentheid gegee word om te kies.
Ek weet dat ek op u kan vertrou.
Don Eduardo Santiago.
Sy laat die briefie sak en kyk vraend na Pablo.
“Wat beteken dit? Weet jy iets, Pablo?”
Hy skud sy kop, grinnik en haal sy skouers dan op. “Ek kan nie lees nie, señorita.”
Sy glimlag verskonend. “Jammer, dit was dom van my.” Maar sy kan self nie so ver kom om die inhoud van die nota aan hom te vertel nie. Moontlik verstaan hy glad nie waaroor dit alles gaan nie.
“Is daar ’n antwoord, señorita?”
Sy kyk vinnig op en frons dan liggies. “Ek weet nie . . . ek weet regtig nie wat om jou kaptein te laat weet nie.” Sy byt haar onderlip nadenkend vas.
Sy dink aan daardie dag in die herberg toe sy by hom was, toe hy skaars kon praat en die koors hom half laat yl het. Sy onthou wat hy oor haat en wraak gesê het, dat daar ander emosies is wat dit kan vernietig. Sy onthou hoe sy vingers om haar hand gesluit het en hoe hy haar naam gefluister het.
Sy sluit haar oë. “Sê vir hom . . . sê vir hom ek sal doen soos hy vra,” sê sy eindelik.
Pablo se gesig verkreukel in ’n glimlag.
“Hy sal bly wees, señorita. Is daar nog iets?”
Sy kyk na hom, huiwer oor wat sy moet byvoeg. Dan skud sy haar kop vinnig.
“Nee, dit sal al wees.”
“Si, señorita.” Hy maak ’n onbeholpe buiging. “Dan gaan ek nou maar.” Hy draai haastig om en drafstap van haar af weg.
“Pablo!” roep sy voordat hy buite hoorafstand is.
Hy steek vas en kyk terug. “Señorita?”
“Sê vir hom . . . dat ek dankbaar is dat hy leef. Hy sal verstaan.”
Die Spanjaard grinnik. “Si, señorita!” Dan draai hy om en verdwyn tussen die wilde struike waar die veld ’n vlak klofie maak.
Angélique bly nog lank na die donker bome staar, verbeel haar dat sy die ou man se vordering kan volg met haar oë, maar niks roer nie. Eindelik draai sy om en met die verkreukelde briefie styf in haar hand, loop sy terug na die herehuis.
Die volgende oggend kom ’n boodskapper van die Kasteel op Le Ruisseau aan. Madame Colbert en mademoiselle de Busset word uitgenooi na ’n formele dinee op Saterdagaand om sewe-uur.
Die madame se ingenomenheid ken geen perke nie. Sy draai om Angélique en probeer vir die soveelste keer uitvind waaroor die meisie met die kommandeur gesels het. Angélique swyg egter.
“Jy is ’n mooi een!” roep die ou dame later uit. “Wat voer jy in die mou? Eers ’n besoek van Sy Eksellensie en dan ’n uitnodiging so uit die bloute! Daar skuil iets agter, sê ek jou! Ek weet nie wat agter die hele ding is nie, maar alles is nie pluis nie. Ons het nog nooit só ’n uitnodiging ontvang nie! Danse, ja! Maar ’n formele dinee?” Sy beskou die meisie agterdogtig. “Ek wou wát wou gee om te weet wat jy en Sy Eksellensie gepraat het. Dit moes voorwaar die moeite werd gewees het.”
Angélique maak ’n moedelose gebaar. “Maar, madame, die uitnodiging is vir my net so ’n verrassing. Ek het nie die vaagste benul wat die kommandeur in die mou voer nie en ek wil ook nie weet nie. Ek trou oor minder as twee weke, volgende Vrydag om presies te wees, en ek het nie tyd om ander se motiewe vir hulle optredes te ontleed nie.”
Madame snork verontwaardig. “Dis tyd dat jy wakker skrik, Angélique. Ek sê jou, ek vertrou nie die vrede nie. Hier is iets aan die gang en ek sal nie rus voordat ek presies weet wat dit is nie.”
“Asseblief, madame, ék weet daar niks van af nie.”
“Daarvan is ek nie so seker nie. Eers al hierdie geheimsinnigheid en nou word ons