Annelize Morgan Omnibus 3. Annelize Morgan
hou die rytuig dop toe dit voor die herehuis tot stilstand kom. Net Adéle klim uit en sy sien hoe die meisie met een van die bediendes praat. Dan draai Adéle om, kyk in haar rigting en kom haastig oor die droë grasperk na Angélique toe gestap. Sy wuif van ver af, lag opgewonde en trippel vinniger.
“Bonjour! Goeiedag!” groet sy uitgelate. “Ek kon nie wág om hierheen te kom nie!” Sy gaan uitasem langs Angélique op die bankie sit.
“Jy is baie vroeg,” sê Angélique.
“My pa wou niks daarvan weet dat ek eerder kom nie,” kla Adéle. “Hy het gesê hier gebeur genoeg dinge om julle baie besig te hou.”
Angélique lag ten spyte van die neerslagtige bui waarin sy was. “Jy kon maar eerder gekom het. Dit sou geen verskil gemaak het nie.”
Adéle se oë blink. “My pa sê dat jy glo don Eduardo van die markies se rapier gered het . . . Is dit waar?”
“Jy kan dit so stel.” Angélique skud haar kop asof sy van ’n lastige gedagte ontslae wil raak. “Dit was aaklig om te sien . . . daardie geveg tussen hulle.”
“Die Kaap gons daaroor. Niemand kan met sekerheid sê waaroor hulle baklei het nie. Dis net baie eienaardig dat die kommandeur niks daaromtrent doen nie. Swaardgevegte is tog onwettig!”
Angélique haal haar skouers op. “Hy en monsieur Santiago is groot vriende. Miskien het die Spanjaard hom gevra om hom doof en blind te hou.”
Adéle knik. “Dis moontlik. En nou? Wat word nou van jou? Gaan jy nog met die markies trou?”
Angélique kyk weg. “Ja, ek gaan nog met hom trou. Die madame het reeds gekla dat ek nie veel aandag aan die reëlings gee nie.” Sy byt haar onderlip vas. “Dis oor twee weke. Daar is nie meer veel tyd oor nie.”
“Wat sê monsieur De Vigny? Het hy iets oor die geveg gesê?”
Adéle se gretigheid om alles te wete te kom, stem Angélique ’n bietjie ongelukkig. Sy weet dat die praatlustige meisie baie gou sal gaan oorvertel wat sy alles gehoor het.
“Hy is seker daarvan dat hy don Eduardo doodgemaak het.”
Adéle se oë rek. “Was daar dan enige twyfel?”
Angélique haal haar skouers op. “Op ’n manier. Niemand was baie seker nie, maar dit lyk vir my of die markies rede het om te glo dat hy don Eduardo gedood het. Hy is weer sy ou self. Jy weet tog wat ek bedoel – hooghartig, selfversekerd, ensovoorts.”
Adéle lag sag. “Maar hy bly een van die aantreklikste mans in die Kaap.” Haar oë blink. “Ek dink tog nie dat jy heeltemal so ongeërg is wat jy wil voorgee nie.”
“Al het hy don Eduardo doodgemaak?”
Adéle lyk ongemaklik. “Dis grillerig, ek erken dit, maar was dit nie ’n regverdige geveg nie?”
“Ja, dit was,” sê Angélique dof. ’n Mens moet eers jouself oorwin voordat jy die swaard opneem – dis wat don Eduardo gesê het. “Maar dit maak dit nie minder ontstellend nie.”
Adéle sug. “Jou neerslagtigheid is aansteeklik. Hier kom ek om jou van mý goeie nuus te vertel en as ons so aanhou, dan huil ons nou-nou op mekaar se skouers.”
“Nuus? Watse goeie nuus?”
“Ek en die comte Jean de Chardin . . . wel, hy het om my hand kom vra en my pa het ingestem!” Die opgewonde vonkel is terug in haar oë.
Angélique omhels haar vriendin. “Ek is so bly, Adéle! Wanneer trou julle?”
“Vroeg in die somer!” Haar uitdrukking raak droomverlore. “Ek gaan ’n wit moeselientabberd met goue borduursels dra. Ek wil ’n lang sluier met wit lemoenbloeisels in my hare hê . . . Dit gaan die grootste dag van my lewe wees!”
Angélique kyk vinnig weg om die pyntrek op haar gesig te verberg. “Ek is seker dit sal, my liewe vriendin.”
Adéle draai skielik na haar en gryp haar hande vas. “Hoekom wag jy en Eugéne nie en dan trou ons op dieselfde dag nie?”
“Dit sou ’n gawe gedagte gewees het, Adéle, maar jy ken monsieur le marquis nog nie. Hy wil in die winter trou en ek moet daarby inval.”
Adéle lyk teleurgesteld. “Dis so ’n verkeerde tyd van die jaar om te trou! Waarom dan nie in die lente nie?”
Die ander lag. “Hoekom vra jy hom nie self nie? Selfs ek weet nie eens wat sy rede vir ’n wintertroue is nie. Hy het net gesê hy het die troudatum vervroeg.” Sy haal haar skouers op. “My raad het hy nog nooit gevra nie . . . ook nie of sy reëlings my pa welgeval nie.”
Adéle frons effens. “Het hy jou darem lief?”
Daar is ’n lang stilte. “Ek weet nie,” sê Angélique dan eindelik. “Ek weet werklik nie.”
Die volgende dag, ’n Saterdagoggend, besluit madame Colbert vroeg reeds dat daar heelwat goed in die Kaap gehaal moet word vir die troue. Sy wil mooi skryfpapier gaan soek vir die bedankings, twee veerpenne omdat hare nie meer duidelik skryf nie, ’n paar groot blomvase en dan nog ’n duisternis klein dingetjies wat sy as noodsaaklik vir ’n bruid beskou.
Hulle laat Emile by die koets en dan drafstap die madame haastig na die paar handelaars waar sy sekere van die goed op haar lysie gesien het. Sy verspil geen tyd nie, vra net af en toe of Angélique met haar keuse saamstem. Dan haas hulle hulle weer na die volgende handelaar.
Angélique sien ’n lengte lieflike hemelsblou satyn raak. Sy streel met haar vingers oor die weelderige gladheid daarvan.
“Kom, chérie!” roep die madame half ongeduldig van die deur af. “Ek is klaar hier. Nou nog net na daardie hoedewinkeltjie en dan kan ons maar huis toe gaan.”
Die meisie kyk verlangend na die blou satyn. “ ’n Tabberd hiervan sal pragtig lyk, madame.”
“Daar is nie geld voor nie,” sê die ou dame eenvoudig, maar staan darem nader om dit te bewonder. “As jy eers met die markies van Touraine getroud is, sal hy vir jou baie sulke pragtige goed kan koop.”
“Ja, madame.”
Angélique kyk vir oulaas terug na die materiaal voordat sy die handelaar saam met die ou dame verlaat.
Hulle stap vinnig met die Heerengracht af. Angélique is diep ingedagte. Sy het al half en half berus by die feit dat sy met die markies gaan trou. Nou probeer sy aan die toekoms dink, probeer haarself voorstel hoe dit in Oos-Indië gaan wees. Selfs al bly Eugéne de Vigny die meeste van die tyd weg van die huis af, sal dit nie veel verskil maak nie, sy sal net eensamer word. Sy sal nooit ’n beminde kan aanhou net om die tyd om te kry nie. Dis net nie in haar aard nie. Buitendien sal sy don Eduardo nooit kan vergeet nie en altyd wonder of hy werklik gesterf het.
“Daar is Emile by die koets,” sê die madame en rek haar treë ’n bietjie.
Angélique kyk op en dan slaan haar hart ’n slag oor.
Regs van die pad, in ’n deuropening, staan Pablo met ’n vrou en praat. Hy het haar nie raakgesien nie en sy wonder of hy haar in madame Colbert se teenwoordigheid sal nader.
Toe hulle die koets bereik, kyk sy weer na Pablo. Hy het opgehou met praat en kyk na haar. Gelukkig is madame Colbert besig om in die koets te klim en kan sy nie sien dat Angélique en die ruwe Spaanse seeman mekaar aanstaar nie.
Angélique bly na Pablo kyk, hoop vuriglik dat hy haar ’n teken sal gee dat alles met don Eduardo nog wel is. Maar die ou man se gesig bly uitdrukkingloos, amper hartseer.
Sy byt haar onderlip vas. Sy durf nie na hom gaan en met hom praat nie. Al wat sy kan aflei, is dat dit slegter met don Eduardo gaan. Waarom anders lyk sy getroue volgeling so droewig?
“Kom nou, Angélique! Waar is jy tog!”
Die meisie kyk vinnig om na die koets. “Ek kom, madame!”
Haar oë pleit nog