Annelize Morgan Omnibus 3. Annelize Morgan
Gaan sal ons gaan, al kos dit wát! Ek wil weet watse slang ons in die gras het.”
Angélique bly moedeloos stil. As madame Colbert eers haar besluit geneem het, sal niemand haar daarvan laat afsien nie. Sy kry dit dalk nog in haar kop om die kommandeur trompop te gaan vra waaroor dit alles gaan.
“As ek net meer samewerking van jou af gekry het, sou dit gans beter gewees het, maar jy is so koppig soos ’n muil!” kla die ou dame voort toe die meisie niks sê nie. “Watse bekommernisse het jy my nie al gegee nie! Jy wil nie met die markies trou nie, jy raak verlief op ’n Spanjaard, jy skinder met die kommandeur . . .”
“Ek het nie geskinder nie, madame,” val Angélique haar in die rede.
“Nou wat hét julle dan gepraat? Oor koeitjies en kalfies?”
Die meisie sug vermoeid. “Daar is niks om oor te vertel nie, madame. Ek is moeg. Sal u my asseblief verskoon?”
“Jy kry ook elke keer as ek met jou praat rooimiere. Vir wat wil jy nie daar op die stoel sit en die hele ou storie vir my vertel nie?”
“Ek sal die kommandeur vra om u te vertel wat hý weet. Dit behoort veel interessanter te wees, madame.”
“Ag, loop rus dan tog. As jy met hierdie soort bog kom, word ek sommer vies!”
Angélique is bly om die gedurige ondervraery vry te spring. Sy weet as sy in daardie vertrek bly, sal sy geen rus vir haar siel hê nie. Sedert Van der Stel se besoek is dit vir haar net te veel. Madame Colbert laat haar nooit met rus nie, wil gedurig by haar probeer uitvis wat aan die gang is en kan nie verstaan dat sy net so in die duister is nie.
Gedurende ’n kort besoek Saterdagoggend aan die Marais’s, vertel Angélique vir Adéle van die kommandeur se uitnodiging. Dis egter duidelik dat Adéle iets anders op die hart het, iets wat sy brand om aan Angélique te sê, en toe hulle alleen in haar boudoir is, kry sy uiteindelik die geleentheid.
“Ek het vandag gehoor dat don Eduardo dood is,” sê sy op ’n fluistertoon.
Angélique probeer haar bes om geskok te lyk en wonder of Adéle sal agterkom dat sy dit nie is nie.
“Waar het jy dit gehoor?”
“My pa het my kom sê.” Sy kyk vol simpatie na haar vriendin. “Alles was verniet, Angélique. Gaan jy nou nog met die markies trou?”
Die ander meisie haal haar skouers op. “Daar bly nie vir my enige keuse oor nie. As ek nie met hom trou nie, wel, ek is nie juis lus om my lewe in eensaamheid te slyt nie, weet jy?”
Adéle glimlag suur. “Jy verbeel jou dit. Daardie heldedaad van jou het die tonge sommer goed losgeskud. Selfs my verloofde, die comte De Chardin, is beïndruk. Hy meen dis die regte soort vrou vir enige man . . . iemand wat haar lewe sal waag om hom te red.” Sy beskou Angélique nuuskierig. “Hoekom het jy dit gedoen, h’m?”
Angélique lag selfbewus. “ ’n Mens doen soms maar dinge wat later na waansin lyk.”
“Lyk dit dan vir jou so?”
Die ander meisie se oë vertroebel. “Dit het nie gehelp nie, het dit?”
“Nee, dit het nie.”
Teen die middag trek die lug toe en toe Angélique en madame Colbert teen halfses in die koets klim, is dit reeds donker buite. Die winterwind waai geniepsig en laat die fluweelgordyne voor die koetsvensters wild wapper.
Angélique trek haar mantel stywer om haar en druk haar ken in die weelderige materiaal om haar nek. As dit net nie weer begin reën nie. As hulle eers vannag terug is by die huis, dan kan dit maar reën. Maar ’n nagrit in ’n nat, koue koets is nie juis aangenaam nie.
“Aaklige weer,” sê die madame toe hulle die landgoed verlaat.
“Miskien moet ons maar liewer vannag in die Kasteel oornag en môre terugkom.”
“Ek wens dit was nie vir ons nodig om te gaan nie,” mymer die meisie ’n bietjie vies.
“Ons draai nie terug nie,” antwoord die ou dame beslis. “Dis dalk die eerste en die laaste keer dat die kommandeur ons na ’n private formele dinee nooi. Ek wil dit gaan geniet.”
“U kom gerus maar alleen gegaan het, madame,” waag Angélique dit. Sy stryk met haar hand oor die sagte groen tabberd wat sy vir dié spesiale geleentheid dra.
Madame druk die wapperende gordyn by haar vas. “Jy sal jou nie verveel nie. Eugéne sal ook daar wees. Daar het glo twee Franse Hugenote gister in die baai aangekom. Dis mense wat graag die markies van Touraine wil ontmoet.”
Hierdie mededeling laat Angélique belangstellend opkyk. “Ken ons hulle dalk, madame?”
Die ou dame skud haar kop. “Ek kan die name glad nie plaas nie. Dis ’n monsieur Pierre Beaumont en sy suster, Jeanne.”
Angélique probeer die name in herinnering roep, maar sy kan dit nie koppel aan enigiets uit Frankryk nie.
“Nou waarom word ons dan ook genooi?”
Die madame lig haar skouers op. “Die kommandeur het seker sy redes.”
Dit begin sag reën en die wind dryf die ysige druppels deur die venster na binne.
“Wat ’n onplesierigheid!” sug madame Colbert. “Moet jy nou net nie staan en verkoue kry nie, Angélique.”
“Dit sal ’n rede wees om die troue uit te stel.”
Sy kyk verontwaardig na die meisie. “Ek wil geen woord daarvan hoor nie!”
Die koets begin meteens stadiger ry. Die twee vroue kyk vraend na mekaar, maar nie een van hulle weet wat verkeerd is nie. Dan steek madame Colbert haar kop deur die venster.
“Wat is verkeerd, Emile?”
“Je ne sais pas, madame. Ek weet nie. Daar is ’n ruiter voor in die pad wat die koets inwag.”
“Kan jy hier draai?”
“Nee . . . hier is nie plek nie. Moet ek maar die perde laat hardloop, madame?”
Voordat die ou dame kan antwoord, lê Angélique haar hand op madame Colbert se arm.
“Wag, ek dink ek weet wie dit is, madame.”
“Angélique!” roep die vrou geskok uit.
Die meisie leun deur die venstertjie. “Ek dink dis monsieur Santiago, Emile. Gaan tot by hom sodat ons kan praat.”
“Angélique!” Madame Colbert se stem styg ’n noot.
Die koets begin weer beweeg.
“Daar is niks om bekommerd oor te raak nie, madame,” probeer die meisie die ou dame paai. “Monsieur Santiago sal nie die koets voorkeer as hy nie ’n baie goeie rede het nie.”
“Dis ongehoord! Dis waansin! Jy vergeet dat die Spanjaard dood is! Almal weet dat hy dood is!”
Met skrik onthou Angélique haar belofte aan die kommandeur. Sy het belowe om nie eens vir madame Colbert te vertel dat die kaptein van die Sylvanna nog leef nie.
Die vrou sien die skrik op die meisie se gesig.
“Genade! Watter onbesonne ding het jy nou weer aangevang!” Sy leun by die venster uit om Emile die bevel te gee om die perde aan te jaag, maar die ruiter is reeds by hulle.
“Wag! Wag!” roep die ruiter toe dit lyk asof die koets by hom verby gaan ry en hy nie vinnig genoeg uit die saal kan kom nie.
Die koets kom stilstand.
“Dis Pablo, madame.”
Madame Colbert kyk geskok na die meisie. “Wel! Nes ek dink alles is nou reg, dan kom jy met nog ’n Spanjaard! Ek hoop jy besef dat ek hierdie sogenaamde kennisse van jou ten strengste afkeur.”
“Ek weet, madame, maar ek is daar seker van dat Pablo ’n boodskap vir my het.”