Annelize Morgan Omnibus 3. Annelize Morgan
opstand borrel in haar op en sy kan dit nie meer keer nie. “Hoekom het jy hom doodgemaak! Hoekom wil jy niks oor Arles sê nie! Is dit omdat jy tóé al die monster was wat jy nou is? Ek haat jou!” Sy druk haar gesig in haar hande en begin histeries snik.
De Vigny beskou haar ’n lang ruk in stilte. Die koue wyk nie uit sy helder blou oë nie, die harde uitdrukking op sy aantreklike gesig verslap nie. “Jy sal moet leer om met my saam te leef, Angélique. Ek sal jou nie van jou belofte vryskeld nie.”
Sy kyk op, haar wange is nat van die trane, haar hare is effens deurmekaar. “Waarom wil jy my nie sê wat in Arles gebeur het nie! Hoe kan ek met jou saamleef as daardie skaduwee altyd oor ons huwelik sal bly hang?”
“Omdat dit wat gebeur het, verby is!” Hy praat hard, geïrriteerd deur haar emosionele uitbarsting. “Jy sal moet leer om jouself te beheers!” Hy tree skielik vorentoe, trek haar uit die stoel op en skud haar aan haar skouers. “Dit was tien jaar gelede, Angélique! Dis verby! Vir goed verby!”
Sy ruk los en deins weg van hom. “Dit is nie! Dit sal altyd daar bly! Ek sal altyd onthou dat jy een keer bereid was om te moor om die verlede te begrawe!”
Dis of die markies van Touraine besef dat hy op hierdie manier niks gaan uitrig nie en hy beheer homself met groot inspanning.
“Ek sal sake nie onnodig moeilik vir jou maak nie,” sê hy op ’n kalmer toon. “So gou moontlik na ons troue sal ons na Oos-Indië vertrek en daar sal ek jou heeltemal jou eie gang laat gaan wanneer ek nie tuis is nie.” Hy aarsel. “As dit jou tevrede sal stel, sal ek so selde moontlik huis toe kom.” Hy glimlag wrang. “Dis in ieder geval geen aangename gedagte om huis toe te gaan as jou vrou jou haat nie.”
Sy kyk weg. “Laat my net met rus. Ek wil nie met jou trou nie . . . Ek kán nie met jou trou nie.” Haar stem is laag en hees.
Hy bal weer sy vuiste. “Daar is niks verder oor dié aangeleentheid te sê nie, mademoiselle. Jy sal jou belofte hou.” Hy maak ’n ligte buiging. “Au revoir!”
Sy antwoord nie, kyk hom net swyend agterna toe hy die vertrek verlaat en die deur agter hom toemaak. Dan sak sy in ’n stoel neer en oomblikke later vind madame Colbert haar daar. Snikkend probeer sy aan die ou dame vertel wat gebeur het, maar net kort sinnetjies en frases is verstaanbaar. Dan laat sy maar die meisie huil en probeer haar nie meer troos nie.
Vier dae kruip verby waarin Angélique die meeste van die tyd net stil voor haar sit en uitstaar. Madame Colbert weet dat die meisie oor don Eduardo se welsyn bekommerd is, maar soms hoor sy nie eens wat sy of selfs die markies aan haar sê nie. Die markies het hierdie houding van Angélique met ’n skouerophaling aanvaar en die ou dame het al baie gewonder wat daardie oggend tussen die meisie en Eugéne de Vigny plaasgevind het. Sy het nooit weer probeer uitvra nie, en Angélique het ook nie probeer verduidelik nie. Heimlik hoop die vrou dat alles sal regkom sodra die twee getroud is en op pad na Oos-Indië.
Vir Angélique het alles gesterf behalwe die vae hoop dat don Eduardo nog leef. Haar verloofde gaan voort asof die tweegeveg nooit plaasgevind het nie en hy praat ook nooit oor die Spanjaard nie. Dit is dit wat die vrees dat don Eduardo werklik gesterf het, laat groei.
Donderdagnag lê sy slapeloos en rondrol. Die word die oggendure en sy kan die beeld van don Eduardo nie uit haar gedagtes ban nie. Haar afsku aan die markies het gegroei totdat sy later bewend en ontsteld opstaan en na die venster gaan en kyk het hoe die dag breek. Toe die son sy eerste strale tussen die flarde wolke deursteek, besluit sy om na don Eduardo te gaan soek. Sy sal soek totdat sy hom vind, totdat sy weet of hy nog leef.
Noudat sy dié besluit geneem het, kan Angélique haar opgewondenheid beswaarlik bedwing. Teen tienuur vra sy een van die bediendes om ’n perd vir haar te laat opsaal. Aan die madame sê sy dat sy net ’n klein entjie gaan ry.
“Jy moet versigtig wees, Angélique. Ek hou nie daarvan dat jy so alleen gaan rondjakker nie, maar ek kan daar seker niks aan doen as jy ’n bietjie uit die huis wil kom nie.”
“Ek sal nie te lank weg wees nie, madame.”
“Etenstyd moet jy terug wees.” Madame Colbert kyk ’n oomblik bekommerd na die meisie. “Is jy seker dat ek nie iemand saam met jou moet stuur nie?”
Angélique skud haar kop. “Nee, dankie, madame. Ek gaan tog maar net ’n entjie ry en ek wil graag ’n rukkie alleen wees.”
Die ou dame glimlag. “Nou maar goed. Ek verwag jou dan met middagete.”
Toe Angélique eindelik die koetspad na die Kaap bereik, gee sy die perd spore. Dis nie ver nie en met ’n vinnige perd behoort sy gou die nedersetting te bereik. Sy besef dat sy nie betyds terug op Le Ruisseau sal wees vir middagete nie, maar daar was geen ander uitweg nie. As Madame Colbert moet weet dat sy op haar eentjie Kaap toe gaan, sou sy haar nooit laat gaan het nie.
Op die oomblik is daar net een gedagte by haar: Sy moet don Eduardo vind. Sy moet eenvoudig weet of hy nog leef. As die markies van Touraine van hierdie rit van haar te hore kom, moet daar maar gebeur wat moet.
Teen die tyd dat sy die eerste herberg, die Goue Haan, langs die pad bereik, is die perd stokflou gejaag. Hy is natgesweet en die salpeter slaan wit op sy glimmende bruin vel uit. Van die herberg is dit egter nie ver na die hawe-gebied nie.
Angélique het nie die vaagste benul waar om te begin soek nie. Sy hoop dat sy een van die matrose van die Sylvanna sal raakloop en dat dié haar na hulle kaptein sal neem, maar dit lyk asof al wat ’n Spanjaard is ander koers as die Baai gekies het.
Sy gaan ’n oomblik staan om ’n plan van aksie uit te dink. Van die rit het haar koperbruin krulle uit die kapsel geskud en los lokke hang in haar nek. Haar donkergrys rytabberd met sy wit kantagtige en mouboordjies lyk totaal onvanpas in die ruwe omgewing.
Twee matrose kom verby en steek vas toe hulle haar sien.
“Dag, engel,” waag die een dit.
Sy kyk verskrik op en draai dan vinnig om. Met ’n haastige stappie verdwyn sy om die hoek.
Vlak by haar dreun die geroesemoes van stemme uit ’n kantien.
Angélique besef dat sy baie waag om sonder geleide na hierdie deel van die dorp te kom. Sy kan hier wegraak en niemand sal ooit weet wat van haar geword het nie. Miskien is hier selfs slawehandelaars en net die gedagte daaraan om op ’n mark as slavin verkoop te word, laat haar sidder.
Sy begin weer haastig aanstap. “Señorita!” roep ’n manstem vlak by haar en op dieselfde oomblik word sy hard aan die arm gevat.
Sy ruk om met die wilde hoop dat dit dalk Pablo of een van don Eduardo se vriende kan wees, maar sy kyk vas in die ruwe gesig van ’n vreemde, Spaanse matroos.
“Is u van die Sylvanna, monsieur?” wil sy weet toe sy oor haar skrik is.
Hy lag dawerend en ruk haar nader sodat hy sy hand om haar slanke middel kan slaan. “Si, si! Maar wat maak dit nou eintlik saak van watter skip ek is? Julle soek mos maar almal net ’n lekker tydjie hier in die hawe, dan nie?” Hy beskou haar spekulerend. “Waarheen sal ons gaan?”
Sy probeer losruk, maar hy druk haar net stywer vas. “Los my!” sis sy. “Ek soek na kaptein Santiago! Los my nou dadelik!”
Hy grynslag. “ ’n Wildekat! Nou wie het ooit kan droom dat so ’n vietse poppie ’n wildekat kan word?” Hy probeer haar soen, maar sy rem terug.
“Los my!”
Hy laat sy poging om haar te soen, vaar en trek sy mond op ’n plooi. “Jy sal niks by die kaptein kry nie, duifie. Hy is kapot.”
Sy hou op met worstel en kyk na hom. “Wat bedoel jy?”
Met sy arm ferm om haar middel geslaan, begin hy met haar in die straat af stap.
“O, hy het hom met ’n belangrike Fransman misgis en toe steek die man hom met sy rapier deur sy long.”
Angélique rem hom tot stilstand. “Leef hy nog?” wil sy angstig weet.
Die