Tryna du Toit-omnibus 1. Tryna du Toit
verdraai! Die klein koket sal natuurlik ook enige wapen gebruik om die man se belangstelling gaande te maak.
Toe Johan skielik voor ’n hek stilhou, wil sy uitklim om dit oop te maak, dankbaar vir die paar oomblikke van grasie wat haar gegun word, maar Johan sit sy hand op haar arm en sê: “Net ’n oomblikkie, Annie. Ons is amper by die plaas en ons het nog baie om oor te gesels. Wat weet jy van my nooientjie in die Boland?”
Annie trek haar arm weg en kyk na Johan met byna dieselfde uitdrukking op haar gesig as daardie eerste oggend in die personeelkamer toe sy uitgevind het dat hy haar nuwe hoof is en sy, onthuts en verleë, nietemin haar man gestaan het.
“Ek weet niks van haar nie. Kobie was besig om die gek te skeer en ek het vir haar gesê om eers uit te vind of … of …”
“Of?”
Byna onhoorbaar volg dit: “Of jy nie ’n nooientjie in die Boland agtergelaat het nie.”
Daar is stilte.
“Wou jy dan so graag weet, Annie?” verdraai hy ná ’n rukkie moedswillig haar woorde.
“Nee, dankie,” sê sy koel. “Ek stel nie belang nie.”
“Ja. Daarvan het jy nog nooit ’n geheim gemaak nie. Maar kom ons laat staan nou vir Kobie en die nooi in die Boland en ons kom ’n bietjie nader.” Hy bly weer so ’n rukkie stil en vervolg toe: “Waarom hou jy nie van my nie, Annie?”
Dit is ’n bietjie onverwags.
Sy moes ook nooit toegelaat het dat hy die leiding geneem het nie. Nou is alles bederf. Dinge is ook al te ver heen om te hoop dat hulle kan regkom. Onverskillig sê sy: “Meneer De Kock, dink jy nie ons is besig om ons tyd te mors nie? Barry sal al vir ons wag.”
“Barry kan maar ’n bietjie wag. Ons is in elk geval vroeg. Ek dink ook nie dis tydmors nie, ek sou graag wou weet.” Weer is daar stilte tussen hulle terwyl Johan na die regte woorde soek. “Luister, Annie, as jy vir my sê waarom jy nie van my hou nie, sal ek vir jou sê waarom ek nie van jou hou nie.”
Verras kyk Annie skielik na hom, haar oë agterdogtig, maar Johan de Kock is blykbaar doodernstig.
“Sal ek maar begin – ek kan dit in ’n paar woorde doen – of wil jy liewer nie hoor nie?”
Annie se lippe is styf en koud en met moeite uiter sy die paar woorde: “Laat ek hoor.”
Johan draai om om reguit na haar te kyk. Sy oë rus op die mooi, fyn profiel tot sy onwillig haar gesig na hom draai, toe sê hy saggies: “’n Mooi klein meisietjie met ’n silwerstem, maar bederf, kinderagtig, selfsugtig, onmanierlik – ja, Annie, al dié dinge en meer was jy teenoor my. Die middag toe ek gekom het, het jy deur jou onverskilligheid my motor stukkend gery, maar omdat ek, soos jy gemeen het, ’n vreemdeling was, het jy my laat gaan sonder om eens verskoning te vra. Nee, wag, dis nou my beurt. Later het jy jou pa gestuur om wat jy verbrou het, te probeer regmaak, maar jy het nog nooit self die moed gehad om na my toe te kom nie. En die hele tyd dat ons saamgewerk het, was jy koud, onwillig en dislojaal, te bang ek sal iets voorstel wat sal indruis teen jou plesier. En as ek jou die slag eerlik en opreg vra waarom jy nie van my hou nie, dan kom jy met ontwykende woorde soos netnou: dat ons besig is om ons tyd te mors. Nou toe, ek is klaar. Dis nou jou beurt.”
Maar Annie is stil. Bleek en verslae sit sy daar, nie in staat om ’n woord te sê nie. Johan het die vaste grond onder haar voete uitgeslaan en verleë tas sy rond om êrens weer vastrapplek te kry.
Johan is reg. Alles wat hy gesê het, is waar. Sy het haar soos ’n moedswillige kind teenoor hom gedra … en net vanoggend nog het sy so volwasse teenoor Piet gevoel.
“Toe Annie, ons het ’n ooreenkoms aangegaan. Is dit maar eerlik net ’n geval dat jy nie van my hou nie, of het dit jou heeltemal ontsenu dat ek jou daardie eerste middag gesien het soos jy regtig is?”
Of hy dit nou so bedoel het, weet sy nie, maar Johan se woorde laat ’n skielike drif in haar gemoed opbruis. Sy draai haar gesig na hom en die bruin oë flikker kwaai. Vir ’n oomblik vergeet sy dat hy die skoolhoof is.
“En watter reg het jy, Johan de Kock, om my so te oordeel? Ek wás onverskillig daardie middag en ek hét my sleg gedra teenoor jou. Maar ek het vreeslik geskrik, ek was verbouereerd en ontsteld, en jy het alles in jou vermoë gedoen om my meer om te krap.
“Waar was jóú hoflikheid, jóú ridderlikheid, daardie middag toe ek dit so bitter nodig gehad het?”
Daar speel ’n snaakse glimlaggie om sy mond en dit wakker haar drif verder aan. Dit gee haar moed om dinge te sê wat sy nooit anders sou durf waag het nie. “En daardie middag het jy my veroordeel – jy, die volmaakte, Johan de Kock. Daarom hou ek nie van jou nie: Jy is te eiegeregtig, te selfvoldaan. Soos ’n Kersvader het jy hier tussen ons gekom en mildelik van die geskenke in jou groot sak kom uitdeel … tot die oneindige bewondering en aanbidding van die skoolkinders en almal wat jou sien.”
“Net Annie Celliers hou nie van die Kersvader nie … as hy vir ander mense geskenke bring.”
“Nie van so ’n selfvoldane, onaangename een nie.”
Johan draai weg van Annie en sit ’n lang tyd strak voor hom en kyk.
“Ja, Annie,” sê hy eindelik, “dit gee jou seker groot plesier om my die bietjie tevredenheid wat ek uit my werk gekry het ook te ontneem. Sê vir my, jy sê ek is selfvoldaan, eiegeregtig en wat nog alles, maar sou jy nou meer van my gedink het of meer van my gehou het as ek heeldag weifelend en onseker en apologeties voor julle en die skoolkinders gestaan het? Die vader weet, daar is baie dae dat ek weifel en onseker is, graag julle raad wil vra, baie dae dat ek jou wou raadpleeg oor die meisies, maar elke keer as ek na jou toe wil gaan, dan begewe my moed my heeltemal. En dit is nog iets wat ek teen jou het: Jy het nie die reg om die beroep van onderwyseres te kies as jy nie hart en siel in die kinders en hulle werk belang stel nie.”
“Ek ís geïnteresseerd.”
“Jy is nie. Jy gebruik jou werk maar net as ’n tydverdryf tot tyd en wyl ’n geskikte man opdaag.”
“Dit is nie waar nie. Jy is ’n haatlike man …” begin Annie en voel toe dat die trane wat al lankal dreig om te kom nou nie meer gekeer wil word nie. Moet dié skande haar ook nog oorkom! Sy byt op haar lippe, maar dit wil nie help nie, en skielik verberg sy haar gesig in haar hande.
“Nee, Annie,” sê hy sag, “jy moenie huil nie. Hoe sal jou mooi gesiggie lyk as ons daar by die mense aankom?”
“Ek gaan nie verder … saam … met jou nie,” snik Annie. “Neem … n-nou vir my huis toe.”
“Hoe kan ek jou huis toe neem? Dink jy al weer net aan jouself, jou eie gevoelens? Wat van die mense wat vir jou wag, vir jou klaargemaak het? Kom,” sê hy, en hy neem haar hande voor haar gesig weg. “Kom ons vee jou gesiggie af.” En met sy eie sakdoek vee hy die trane van haar gesig af en stoot die hare weer netjies terug.
“Nou ’n bietjie poeier.”
Sy maak haar sakkie oop en neem die poeierkwas uit, maar hy neem dit by haar.
“Ek sal dit self doen,” sê sy.
“Sit stil, ek kan dit beter doen.”
En moeg, uitgeput na die veelvuldige emosies van die laaste halfuur, laat sy hom sy gang gaan. Hy probeer die traanmerke uitwis en toe hy klaar is, kyk hy met ’n vreemde, sagte flikkering in sy grys oë na die fraai gesiggie en sê half spottend, half teer: “Mooi Annie.”
Toe hulle eindelik weer op pad is, sê Johan: “Ek weet jy’s baie kwaad vir my, Annie, maar ons kan nie nou die ander mense se middag gaan bederf met ons rusie nie. Ons twee sal maar vanmiddag moet toneelspeel. Kom ons speel daardie eerste ontmoeting daar by die koppie het nooit plaasgevind nie, dat vanmiddag ook uitgewis is, dat ons nou sommer net twee jong mense is wat lekker gaan tennis speel. Sien jy kans?”
“Ek sal probeer,” sê sy sag.
“Nou toe, en nie