Tryna du Toit-omnibus 1. Tryna du Toit
“Ek herdoebleer,” sê hy beslis. “Toe Barry, pak oop dat ek kan sien wat jy het.”
Hy maak ses, maar hy moet daarna mooi speel om dit te maak.
“Pragtig gespeel, Johan,” juig Barry. “Jy het Annie heeltemal koudgelei.”
“Ja, dit was oulik. Jy moes die aas van hartens op die klawers weggooi anders kon jy dit nie maak nie,” prys Andries Celliers.
Johan se oë gaan na Annie waar sy besig is om die telling op te skryf. Sy kyk op en glimlag effens.
“Mooi gespeel. Ek moes ook beter geweet het as om ’n wiskundige te doebleer.”
“Ja-nee, ons is ’n bietjie sterk vir julle,” spog Barry. “Negehonderd. Nie so sleg nie, nè, Annie?”
En Johan, sy oë weer op Annie se opgewekte gelaat, wonder hoe hy haar ooit met ’n koue sneeuklokkie kon vergelyk het.
Hoofstuk 7
Toe Johan voor tweeuur Saterdagmiddag voor Andries Celliers se huis stilhou, is Annie al lankal gereed. Van vroeg die oggend af was sy aan die gang en ’n oggend was nog nooit vir haar so lank gewees nie. Dit het gevoel asof die ure moedswillig talm. By tye was daar ’n opgewondenheid in haar wat sy nie kon verklaar nie; soms so ’n angstige onrus dat sy nie kans gesien het om haar belofte aan Barry na te kom nie. Maar die hele tyd het sy tog geweet sy sou gaan, en nie net omdat sy vir Barry belowe het nie. Die uur van vergelding het aangebreek, maar sy verwelkom dit. Ná die skuldbekentenis wat sy vandag wil maak, moet daar uiteindelik verligting volg van die stremming waaronder hulle verkeer, ’n stremming wat vir haar by die dag meer onuithoudbaar word.
Sy het al alles gedoen waaraan sy kon dink om te doen. Vroeg vanoggend al was sy met die snoeiskêr in die tuin; sy het arms vol doubelaaide rose en angeliere en dahlias binnegebring en die huis lyk self soos ’n blomtuin. Sy het haar kamer netjies gemaak van die dak tot die vloer, sy het tydsaam haar hare gewas … en toe was dit nog lank voor elfuur. Sy het toe maar later besluit om winkels toe te stap, want hier in die huis kon sy dit nie meer uithou nie.
“Het Moeder iets nodig, ek gaan gou winkel toe?”
“Nee, dankie, Annie … of wag. Kry tog vir my ’n paar nommer 10-breipenne, een van my penne het al weer gebreek.”
“Goed. Ek is nou-nou weer hier, hoor.”
Die eerste persoon wat sy teëkom, is Piet. Half nukkerig groet hy haar en wil eers aanstap toe hy weer omdraai en na haar toe kom.
Toe Piet haar vroeg die oggend bel om te hoor of sy die aand saam met hom bioskoop toe gaan, ’n blote formaliteit soos hy gemeen het, het Annie hom meegedeel dat sy die aand op Swartkoppies sou deurbring. Piet het teëgepraat en mooigepraat, maar sy het koel geantwoord dat sy nie daarvan droom om nie haar afspraak na te kom nie. Toe Piet later agterkom dat Annie vasbeslote was, het hy die telefoon neergesit sonder om vir haar tot siens te sê.
Annie se groet is gevolglik koel, en bedaard stap sy aan sonder om verder enige ag op hom te slaan. Dit is te veel vir Piet. Sulke behandeling is hy nou darem nie gewoond van ’n meisie nie. Van pure skok en nie-weet-wat-om-te-doen-nie rek hy sy treë om saam met Annie te stap.
Ná so ’n rukkie sê hy: “Kom saam, Annie. Ek wou net ’n koppie tee gaan drink.”
“Nee dankie, Piet, ek gaan net gou winkel toe vir Moeder.”
“Toe, kom. Jy het my ’n lekker streep getrek, Annie. Jy weet mos al dat ek jou Saterdagaande vra om uit te gaan.”
Annie kan lag vir Piet se kinderagtige egoïsme. Wanneer dit hom pas, ja, vra hy haar. Maar sy het haar nog altyd die reg voorbehou om ja of nee te sê vir sy uitnodiging, en af en toe hét sy nee gesê, juis omdat sy nie in die vaste gewoonte wil kom om saam met hom uit te gaan nie.
“Nee, Piet,” sê sy nou. “Ons het nog nooit ’n gereelde afspraak vir enige aand gehad nie.”
“Jy kon darem geweet het,” sê hy nukkerig. “Onthou nou in die toekoms dat ek jou Saterdagaande uitneem as ek hier is.”
Annie kyk die jong man peinsend aan. Soos ’n nukkerige seuntjie wat van ’n plesier ontneem is en almal sy ontevredenheid wil laat voel, loop hy langs haar, en met ’n skielike helder blik sien sy Piet soos hy waarlik is. Nie die sjarmante, wêreldwyse jong man met sy aantreklike agtergrond van rykdom en jare in die buiteland, wie se aandag haar in die begin ongetwyfeld ’n bietjie gevlei het nie, maar ’n seuntjie wat nooit grootgeword het nie en wat, tensy ’n wonderwerk gebeur, ook nooit sal grootword nie. Deur hul onverstandige, selfsugtige liefde het Piet se ouers hom die grootste voorreg van almal ontneem, die voorreg om sterk en selfstandig te ontwikkel, ’n innerlike krag op te bou wat hom die nodige anker in die lewe moes gee. Dit kan nie altyd goed gaan met Piet nie. Die dag moet ook kom wanneer leed en teleurstelling sy deel sal wees. Die dag moet ook kom dat hy voor die wete te staan kom dat sy geld nie alles in die wêreld kan regmaak nie. Voorwaar, dit sal ’n groot en ’n bittere ontnugtering wees! En of Piet dit te bowe sal kom, hang net af van hoeveel staal daar in sy karakter ingewerk is gedurende die dertig jaar van sy bestaan.
Annie se gesig verraai niks van haar innerlike gewaarwordinge nie, en toe Piet ongeduldig na haar kyk om te sien waarom sy hom nie antwoord nie, sê sy kalm: “Dankie, Piet. Ek sal graag weer saam met jou uitgaan, maar moenie dat ons dit so vas bepaal nie.”
Toe Johan die voordeurklokkie lui, wag Annie tot Andries vir hom die deur oopgemaak en hom binnegebring het voor sy te voorskyn kom.
Slank en mooi gebou, onberispelik netjies soos gewoonlik in ’n spierwit rok, ’n fraai blos op haar wange, is sy ’n volmaakte prentjie van skoonheid, maar daar is geen teken by Johan te bespeur dat die prentjie hom geval nie. Hy neem haar raket en haar jas, en Andries haar tassie waarin haar skoon klere is, en saam stap hulle na sy motor.
Toe die motor wegry, dink Annie daaraan dat dit die eerste keer is dat hulle alleen saam is behalwe af en toe op skool wanneer Johan skoolsake met haar bespreek, en byna twee maande het verstryk vandat Piet se motor daardie Sondagmiddag met Johan s’n gebots het.
Sy voel verleë en ongemaklik en sit maar stil langs Johan, haar hande styf inmekaar gesluit – al wat haar spanning verraai.
’n Rukkie lank praat Johan ook nie, toe draai hy skielik na haar en sê glimlaggend: “Nog bang dat ek jou sal byt, Annie?”
Annie bloos effens, maar antwoord nie.
“Ek praat met jou, Juffrou.”
“Ek het gehoor, meneer De Kock.”
“Waarom antwoord jy dan nie?”
“Het jy dan ’n antwoord verwag, meneer De Kock?”
Johan lag en sê: “Toe maar, ek weet jy’s nog bang. Wat ’n skuldige gewete tog nie kan doen nie, nè, Annie.”
Versigtig antwoord Annie: “Ek het nie ’n skuldige gewete nie.”
“Dan behoort jy een te hê. Jou gewete behoort jou so te pla dat jy snags nie jou oë kan toemaak nie,” sê hy half in erns, half in luim.
“Waarom?” vra sy styf, dankbaar dat hy haar help. Maar meteens neem dinge heeltemal ’n ander wending.
“Annie,” sê hy, “dit het my toevallig ter ore gekom dat jy mense laat verstaan dat ek verloof is.”
Onthuts kyk Annie na Johan, maar hy hou die pad aandagtig dop.
“Wat bedoel jy, meneer De Kock?” vra sy verskrik.
“Net wat ek sê.”
“Maar ek het vir niemand gesê dat jy verloof is nie. Hoe kon ek? Ek weet niks van jou sake af nie.”
“Jy het dit nogtans gesê.”
“Waar kom jy daaraan?”
“Kobie het vir my gesê.”
“Kobie?” sê Annie met teësin.
“Ja,