Ettie Bierman Keur 8. Ettie Bierman
Mamma, kyk!” skree Albie en spring van die wal op die trap, asof dit ’n groot prestasie is.
“Kyk!” Hy klouter uit en herhaal sy vertoning met ’n groot geplas.
Die blondine lig haar donkerbril om afkeurend te kyk waar die lawaai vandaan kom. “Kan jy hom stil hou? Ek het hoofpyn.”
“Albie!” roep Rothea, warm in die gesig. Van ergernis of verleentheid weet sy self nie. “Kom speel by Mamma!”
“Albie spling!” herhaal hy.
“Ja, ek sien. Albie spring ver. Maar jy gaan moeg word. Kom sit hier by Mamma, dan vertel ek jou ’n storie.”
“Sneeuwitjie!”
“Sjuut ... Nie so hard nie. Die tannie wil slaap,” maan Rothea en laat hom naby haar op die handdoek sit. “Daar was eendag ’n dogtertjie, net bietjie groter as jy, wat by haar stiefma gebly het ...”
Lank voor Rothea en ’n ademlose Albie by die huisie in die bos kom, is hul teësinnige luisteraar heel duidelik geïrriteerd.
“Kom ons twee ouens speel liewer met jou mooi rooi bal,” stel Rothea voor. “Maar moenie skree en raas nie, hoor! Die tannie se kop is seer.”
“Salfies smeer?” bied Albie besorg aan en draf op kort, vet beentjies nader.
“Nee!” Rothea is net betyds om hom by die bottel sonbrandolie te keer, voor hy die inhoud op Ilse se kop omkeer. “Kom ons speel vang-vang ... Saggies, hoor!”
Rothea is besig om die bal vir Albie en Piet te gooi, toe dieselfde meisie in die swart rok wat gisteraand aan tafel bedien het, ’n skinkbord op die tafel onder die grassambreel neersit.
“Frühstück – ontbyt, Fräulein,” kondig sy skaam aan en wys na die koffie, broodrolle en verskillende konfytsoorte en vars vrugte op die skinkbord.
Ilse Bauer wag tot Klara heel bo met die kliptrap is op pad terug kombuis toe, toe gebied sy vanuit die hoogte: “Ek sal ook koffie geniet. Bring asseblief vir my ’n koppie en ’n ekstra pot koffie. Warm melk, nie koud nie.”
Rothea knik en staan op. As toekomstige vrou van die huis het Ilse seker die reg om haar rond te stuur ...
“Was ist los, Fräulein? Wat makeer?” vra Klara bekommerd toe Rothea die kombuis instap.
“Bitte. Asseblief,” stel Rothea haar gerus. “Würdest du uns bitte noch eine kaffee bringen? Sal jy asseblief vir ons nog koffie bring?”
Die Duitse meisie straal omdat die kuiergas uit Upington hulle taal kan praat en haas haar om die vars pot koffie gereed te kry.
Rothea moes vir die ketel wag om te kook en vir warm melk. Toe sy uiteindelik met die skinkbord aan die onderpunt van die trappe aankom, is haar eie ontbyt koud en sit Carl uitgestrek op ’n seilstoel, nog half deur die slaap, maar in sy swembroek.
“Ek het vanoggend ’n harem tot my beskikking!” Hy spring galant op om die skinkbord te neem en dit vir Ilse aan te bied. “Ken julle twee mekaar?”
Ilse glimlag in Rothea se rigting. “Ons het nie formeel ontmoet nie, maar ek het aangeneem sy is Barbara se suster. Ek kan nou verstaan dat Ernst met die eerste oogopslag halsoorkop op Rothea se tweelingsuster kon verlief raak. Ernie het altyd ’n swakheid vir rooikoppe gehad, in so ’n mate dat ek soms oorweeg het om my hare te kleur.”
Rothea is verbaas oor die onverwagte ommeswaai. Eers afsydige hoogmoed, nou vriendskaplike aanvaarding.
Rothea word ’n antwoord gespaar toe sy Albie sien. Carl en Ilse sit met hul rûe na die swembad, by die handdoek wat Ilse netnou weggesleep het. Hulle het nie opgelet nie, maar Rothea is op sy veiligheid ingestel. Met een vinnige beweging is sy op haar voete en aan die hardloop.
“Albie!” gil sy. “Stop! Los die bal!”
Rothea besef self sy moes nie geskree en gehardloop het nie, liewer kalm gebly het en rustig met Albie gepraat het. Toe hy haar sien, kyk hy om. Terselfdertyd reik hy weer uit na die groot rooi bal wat aan die diep kant van die swembad dobber en toe sy skree, skrik hy en verloor sy ewewig. Hy tuimel vooroor, vet vingertjies nog steeds uitgestrek na die bal wat hy probeer bykom. Die water sluit oor sy kop en hy sink na die bodem.
Rothea dink nie aan koue water en haarkapsels nie. Sy duik in die swembad en af in die water na waar sy die skynsel van ’n groen baaibroekie sien.
Albie het nie die gevaar besef nie, maar toe hy aanhou val sonder om die vastigheid van die trap onder hom te voel, raak hy paniekbevange. Hy vergeet wat Rothea hom saans met badtyd geleer het, die twee keer toe hulle by die munisipale swembad was en ook vanoggend. Hy hou nie sy asem op en probeer dryf nie. Hy gryp na die wal, maar daar is niks nie. Net water ... Hy wil skree Mamma moet kom. Pleks van ’n hulpkreet, stroom water sy keel binne. Dit is in sy mond, sy keel en maag. Toe hy stik, kom nog water in. Koud en baie ...
Rothea kry ’n stuk baaibroek beet, terwyl Albie voor haar verbytol. Hy gryp haar vas soos ’n drenkeling ’n lewensredder op die oop see, om haar arms en aan haar hare. Voor Rothea se oë dwarrel ’n stroom borrels verby, maar aan die stamp teen haar rug voel sy dat hulle onder op die bodem is. Albie se greep verwurg haar byna en hy hang soos ’n dooie gewig aan haar. Sy kan nie beweeg nie. Angs maak haar kouer as die troebelgrys water. Waar is Carl en Ilse? Hoekom help hulle nie? Sy het volgehou sy kan swem, maar nie goed genoeg om Albie betyds bo te kry nie ...
Dieter! Sy naam is ’n stil klank. As hy net hier was ...
Rothea gebruik geweld om haar een arm los te kry. Sy stut haarself teen die wal, skop met haar voete teen die bodem en maak maalbewegings met haar arm. Niks gebeur nie. Dan stadig, geleidelik, begin hulle styg, agter die borrels aan. Die grys word ligter, ’n witblou, dan deurskynend. Skielik, genadiglik, breek haar kop bo die water se oppervlak. Die son skyn warm in haar gesig en die teue vars lug is die soetste wat sy nog geproe het.
“Was daar ’n krisis?” vra iemand.
“Die kind het byna verdrink!” roep ’n manstem uit.
“Dieter?” prewel Rothea.
“Nee, dis Carl.” Hy lig Albie uit die water, help Rothea op die wal en gee haar ’n handdoek.
Rothea wil praat, maar al wat uitkom, is water wat na chloor ruik en haar laat stik.
“Hoes alles uit,” sê Carl sussend. “Jy sal beter voel.”
“Was daar regtig drama?” vra Ilse ontsteld. “Ek dag sy oordryf. Ek het nie gesien die kind val in nie.”
“Ek ook nie. Meisie ...?” Carl raak aan Rothea se skouer. “Hoe voel jy? Moet ek ’n dokter kry?”
“Ek is reg. Wat van Albie? Waar is hy?” Sy sien Albie, ’n handdoek om hom gedraai en op Ilse Bauer se skoot. “Haal hy asem?” roep sy vreesbevange uit.
“Natuurlik haal hy asem,” antwoord Ilse. “Wat het jy gedink? Dat hy dood is?”
Die woord “dood” is vir Rothea steeds nie maklik om te hoor nie. Trane van verligting stroom oor haar wange.
Carl hou haar vertroostend teen sy bors vas. “Toe maar, alles is nou verby. Albie het niks oorgekom nie.”
“Hy kon ... dood gewees het.”
“Nee wat, moenie so daaraan dink nie,” troos Carl. “Klein Albie is veilig.”
Rothea hoor ’n motor stilhou en ’n deur toeklap.
“Hier is Dieter,” merk Ilse op. “Ek het hom later verwag. Hy is vroeg terug van die dorp af.”
Rothea kom meteens agter Carl se arms is om haar nek en teen haar lyf kan sy die growwe tekstuur van sy borshare voel. Hoe moet dit vir Dieter lyk? Sy ken sy broer skaars ...
“Nee, sit nog ’n rukkie hier by my, tot jy beter voel,” keer Carl toe Rothea hom probeer wegstoot.
“Ek voel klaar beter, dankie.” Rothea vee die