Ettie Bierman Keur 8. Ettie Bierman
kyk na die opstandige twee-en-’n-halfjarige wat agter Rothea wegkruip.
“Goed, as jy dan nie wil kom nie ... Piet, waar’s jy? Kom eet van hierdie lekker treinvis.”
Die bulterriër laat hom nie twee keer nooi nie. Hy lek aan die stukkie tuna wat Dieter na hom uithou, besluit hy hou daarvan en begin die gemors op die stoep oplek.
Dieter kyk nie na Albie nie. Al sy aandag is by die hond. “So ’n lokomotief is lekker, nè, my honne?”
Albie is ook honger en die baie koue water het hom nog hongerder gemaak. Vyf tellings lank bly hy sterk, toe is die versoeking te veel.
“Albie ook eet?” vra hy.
“Jong, ek weet nie ... Al wat oor is, is die pienk rook wat op Mamma se skoot geval het,” sê Dieter.
Albie gryp met die lepel na die spookasem en prop alles in sy mond.
“Piet is ’n babatjie,” sê Dieter.
“Klein babatjie,” stem Albie saam.
“Sy mamma is ver.”
“Op annerplaas,” eggo Albie.
“En sien, hy is tevrede. Piet weet sy mamma is weg en hy moenie oor haar huil nie, want hy is ’n soet hond en almal sal vir hom lag as hy huil.”
Albie verstaan wat sy oom sê. Hy vee die laaste trane weg. Toe klim hy vrolik op Dieter se skoot en drink sy glas lemoensap.
“Sien,” sê Dieter oor die bruin krulkop vir Rothea. “Al wat nodig is, is ’n bietjie kindersielkunde en ’n ferm hand, dan gee hy nie probleme nie.”
“Ek is jammer, ek het nie sielkunde op universiteit gehad nie.”
“Het jy ons staakvuur vergeet?” herinner Dieter haar. “En ek het landbou en veeteelt geneem. Maar my logika sê ’n mens moenie te veel aan hom toegee nie, anders raak hy verwen.”
“Ráák? Ek dag hy is dit reeds.”
Dis seker Ilse wat Dieter in ’n goeie bui geplaas het. Hy lag terwyl hy Albie op sy skouers lig. “Vandag is Vrydag, vol somer en die naweek het reeds begin. Pleks van skoor soek, Dorothea, wil jy nie liewer saam met my kom nie, dan gaan kyk ons na Albie se ponie? Ek hoop hy kies ’n meer romantiese naam vir haar as Piet of Koos of Klaas.”
“’n Ponie? Albie s’n?”
“Albie s’n,” beaam hy.
Die ponie is die mooiste dingetjie wat Rothea nog gesien het. Heuningkleurig, met ’n satyngladde vel, wit maanhare en groot, natblink oë.
Dieter haal ’n appel uit sy sak wat hy na Albie uithou. “Dè, gee vir haar die appel om te kou, sodat jy met haar vriende kan maak.”
Albie het in sy lewe nog nooit ’n perd gesien nie, maar hy is nie bang nie. Hy neem die appel by Dieter en druk dit by ’n opening tussen die sysagte roomwit maanhare in.
“Nee, my vriend, haar mond sit nie daar nie. Dis haar oor daardie,” sê Dieter droogweg. “Probeer ’n bietjie laer ...”
Die pikante klein ponie speel saam. Sy wil ook nie ’n appel in haar neusgate hê nie. Sy lig haar kop en neem fyntjies met haar tande die appel uit Albie se hand.
“Sien, sy is baie sagmoedig,” merk Dieter op, ter wille van voorbehoude wat Rothea mag hê. “En aan kinders gewoond. Sy sal Albie nie afgooi, skop of byt nie.”
“Dis goed en wel, ja. Nie nou nie. Maar wat as sy groter word?”
“Sy sal nie, sy is ’n ponie,” verduidelik Dieter.
“Op die oomblik, ja. Maar ponies word mos later perde.”
Dieter verstaan nie dadelik nie. Hy draai sy kop skeef en frons. Toe bars hy uit van die lag.
“My twee dom stadsjapies ... Druk ’n appel in haar oor en reken ponies word mos later perde. Soos leeus olifante word? Jul opvoeding is erg verwaarloos, suster. As jy in jou woordeboek kyk, sal jy lees ’n ponie is ’n perd van ’n klein ras. Soos byvoorbeeld ’n Basoeto-ponie. ’n Ponie is nie ’n vulletjie nie, Rothea. Sy sal nie groter word nie. Nog ’n ronde aan my? Wat is die telling nou? 2-1? Ons vorder ...”
“Ek het geweet, maar vergeet,” probeer Rothea haar waardigheid behou.
“Soos jy netnou die wit vlag vergeet het?” Dieter se stem is skertsend, maar sy oë hou Rothea s’n gevange. “En die skietstaking, Rothea?”
“Ek het nie ... nie bedoel om ... om skoor te soek nie. Die sielkunde was sommer net ’n opmerking.” Rothea wens sy kan drie woorde met Dieter Richter praat sonder om soos ’n tienderjarige te bloos en te stamel en te stotter. Sy begeer om soos Ilse ’n duur baaikostuum van ’n goeie snit aan te hê, met ’n jakkie van egte Indiese sy bo-oor geknoop om in sagte valle tot by haar knieë te reik, pleks van Barbara en Ernst se ou klere. Sy gee die swart eenstuk weer ’n pluk en rem die verbleikte T-hemp laer af. Maar Rothea weet sy probeer haarself bluf en dit dien geen doel om haar as ’n grasieuse en gesofistikeerde model te wil voordoen nie. Haar van is nie Bauer nie en vir Albie se familie sal sy nooit iets meer wees as slegs sy armoedige tante nie. Nie net maer en vaal en moederlik nie – nog met vis en room besmeer daarby.
“Saggies, Albie,” maan Dieter. “Streel haar saggies. Báie saggies. Onthou, sy is ’n klein ponie en sy kry maklik seer. Moenie aan haar hare trek nie.” Hy wys Albie hoe om oor die voorkop en ore te vryf en diep van iewers nog ’n stukkie appel op wat Albie sy nuwe vriendinnetjie kan voer. “Wat gaan haar naam wees?”
“Piet,” verklaar Albie.
“Piet? Nee, daardie naam sal die deug nie, ou maat. Sy is ’n mamma-perd, nie ’n pappa nie.”
Albie ken nie pappas nie en volgens sy ervaringsveld lyk alle perde eenders.
“Piet,” herhaal hy met beslistheid.
“Die hond is Piet. Die perd kan nie ook Piet wees nie. Jy sal deurmekaar raak,” probeer Dieter weer.
Albie hou voet by stuk. “Piet-hond,” sê hy en wys na die eerste Piet. “Piet-perd,” voeg hy by en streel oor die ponie se maanhare soos oom Dieter hom gewys het.
“Wel, een ding kan ons sê,” lag Dieter. “En dit is dat Albie konstant is. Wil jy op Piet-perd se rug ry, Herr Richter?”
Rothea vergeet van die vuurstaking toe Dieter Albie op die ponie se rug tel. Vir haar lyk die perd groter as ’n renoster of ’n seekoei en sy sien al hoe Albie daar eenkant op die grond lê, sy kop teen ’n skerp klip en met bloed wat in die sand wegsyfer.
“Nee, jy kan nie! Albie is nog te klein! Hy kan nie vashou nie en hy sal afval!”
“Wil jy ’n sissie wees, Albie?” vra Dieter.
Dié woord het Albie by die kleuterskool geleer. Hy weet nie dat hy kant kies nie, net dat hy nie een wil wees nie.
“Goed, klim op!” gebied Dieter.
“Nee, hy kan nie, hy gaan val!” keer Rothea.
“Het iemand al ooit vir jou gesê, Dorothea Johanna Beukes, dat jy veels te veel praat?” vra Dieter.
“Dit gaan nie nou oor my nie, maar oor Albie. Hy is nog nie eens drie nie, Dieter. Hy is ’n baba. Hy weet nie van regop sit en vashou nie. Tel hom af!”
“Albie, maat ...” Dieter se stem is gewigtig. “Weet jy wat ’n sameswering is?”
“Ja,” beaam Albie.
“Jy leer gou, vriendjie. Dan sal jy weet as ek sê nou moet ons manne saamstaan, anders gaan die vroumense se gekerm en getorring ons onderkry. Glo jy aan ’n vennootskap?”
“Tenno skaap,” knik Albie plegtig, sy aandag vas op sy oom gevestig.
“Gaaf. Ek sien jy het ook ondervinding van histeriese meisiekinders en weet waarvan ek praat. Kan