Ettie Bierman Keur 8. Ettie Bierman
het nie gou gekom nie. Sy onderlip bewe en nie eers sy hondjie kan hom troos nie. Hy kom klim op Rothea se skoot en wys haar hoe al die water by sy keel ingegaan het.
Rothea stry teen haar instink om hom vas te hou, want dis deel van die proses om haar geleidelik te onttrek, soos sy ingestem en Dieter belowe het. Die versoeking is groot om Albie te liefkoos, om hom afhankliker van haar as van Hanna te maak en hom aan te moedig om te huil wanneer sy nie naby is nie. Dit sal so maklik wees, en as troos vir haarself dien. Maar wie gaan op die ou end daaronder ly? Albie. En wat sal dit help? Sy sal hom steeds moet afstaan. Hoe gouer sy haar voorberei en minder tyd saam met hom deurbring, hoe beter.
“Jy moet gaan eet. Tanna soek jou dalk al,” sê sy dapper.
Rothea stap met hom aan die hand huis toe, waar hulle Hanna op die systoep aantref, by ’n vrolike, gedekte tafel met ’n visgereg in die vorm van ’n lokomotief. Rosyntjies en olywe vorm die wiele en Hanna het spookasem gemaak om die rook uit die enjin voor te stel.
“Sien, Albie, dis ’n trein. Sê dankie vir Tanna en eet alles op.”
“Tankie, Tanna,” sê Albie gehoorsaam. Maar hy eis dat Rothea langs hom kom sit en die skoorsteen eet.
“Nee, Mamma wil nie eet nie. Ek moet nou eers loop. As jy soet bly en al jou kos opeet, kom ek nou-nou terug.”
“Saamgaan, ’blief?” soebat hy.
“Nee, jy kan nie saamgaan nie. Jy moet by Tanna bly.”
Albie gooi sy lepel neer. “Lelike trein! Wil hom nie hê nie!”
“Nee, skatjie, jý is nou lelik,” betig Rothea hom en tel die lepel op. “Kom, wees nou ’n soet seuntjie ...”
Albie wil nie ’n soet seuntjie wees nie. Hy wil nie die lepel neem nie, wil nie alleen bly nie. “Lelik!” skree hy en probeer sy bord op die vloer omkeer.
Rothea red die duur porseleinbord net betyds. Sy lig ’n dreigende wysvinger. “Jy is stout. Mamma het jou nie so geleer nie.”
Albie begin skril huil. “Nie tout nie!”
“Jy ís stout.” Rothea skep ’n lepel vis en hou dit voor hom. “Proe net hoe lekker proe ’n trein ...”
So maklik is dit egter nie om ’n oormoeg en oorspanne kleuter in ’n toegeeflike luim te kry nie. Albie onthou van die water wat alles in sy maag ingekom het netnou, toe Mamma nie daar was nie en hy alleen moes bly. Sy het gesê as hy soet bly en sy kos opeet, kom sy nou-nou terug. Dit onthou hy baie goed. Die lepel vis is ’n bedreiging, want as hy dit eet, gaan sy weg en kom eers nou-nou terug. Dan is hy weer alleen ...
Hy stamp die lepel voor hom weg. Dis egter nie genoeg nie. Om van die res van die gevaar ontslae te raak, klap Albie met sy plathand in die middel van die vistrein, so hard soos hy kan. Wiele, stukke skoorsteen, rook en buffers spat in ’n vlaag van tuna, rosyntjies en olywe oor Rothea. Oor haar hare, haar gesig en in haar oë, om in ’n pappery op haar skoot af te gly, saam met ’n taai bal spookasem.
“Wil jy steeds in die toekoms jou etes saam met Albie neem?” vra ’n geamuseerde stem van die glasdeur af.
Rothea besef sy moes verwag het Albie se skril stem en die lawaai sal in die huis hoorbaar wees en iemand sal kom kyk wat aangaan. Maar nou, juis op hierdie tydstip ...
“Is jou klere baie bemors? Wil jy jou hemp en baaikostuum uittrek dat ek hulle kan was?”
Rothea kan nie sien nie. Sy vee met haar arm oor haar gesig. Sy maak nie weer die fout om te vra of dit die ander broer is nie. Net Dieter sal haar in so ’n onaardige situasie betrap. Dan nog boonop vir haar lag ...
“Hier ...” ’n Sakdoek word in haar hand gedruk. “Gebruik myne. Daardie flentertjie kant wat julle vroumense ’n sakdoek noem, is niks werd nie.”
Rothea tas blindweg daarna, maar sy kan nie mooi raakvat nie en haar hand raak per ongeluk aan Dieter s’n. Die eerste keer is dit soos sy in boeke gelees het wat gebeur wanneer jy verlief is. ’n Stroom van honderd volt flits deur haar arm tot in haar skouer. Sy ruk haar hand weg, so skielik dat die sakdoek val. Sy is bly haar gesig is vol geroomde tuna, want dit dien as kamoeflering vir die nuwe blos wat haar wange tint.
Dieter is steeds geamuseer. “Ek het nie verder gegaan en soos jy ’n kombers en doekspelde aangebied indien jy skaam is nie. Dit was nie ’n kombers wat ek aangegee het nie, net my sakdoek. Maar lyk my nie dis genoeg nie. Hanna, sal jy asseblief ’n nat handdoek bring?”
“Mamma eina?” Albie weet hy het verkeerd gedoen en probeer regmaak wat hy vertrou het. Hy help afvee en skoonmaak.
Toe Rothea uiteindelik haar taai ooglede los van mekaar het, is die breë grinnik op Dieter se gesig die eerste ding wat sy sien.
“Kleintjies is nogal ’n handvol, stem jy nie saam nie?” vra hy vroom.
Rothea lag verleë. “Goed, hierdie ronde is joune.”
“Is ons nou kiets?”
“Ja.”
“Gelykop?”
“Sê maar so,” erken Rothea.
Dieter hou sy sakdoek in die lug. “Dis ’n wit vlag. Aangesien elkeen een val het en die telling gelykop is, sal ons vrede maak?” Dieter steek sy hand uit. “’n Handdruk om die vredesooreenkoms te seël?”
Sy kan nie ... nie weer aan sy hand raak en dieselfde elektriese sensasie van netnou ondervind nie ...
Sy regterwenkbrou lig sardonies. “Nee? Wat skort? Wil jy nie ’n staakvuur hê nie, Dorothea Beukes?”
Dieter se bruingebrande hand met die lang vingers en netjiese, kortgeknipte naels is steeds na haar uitgesteek. Rothea kan haar nie keer nie. Asof gehipnotiseerd gaan haar hand na syne uit. Dis ’n groot hand, sterk en beskermend, die vel koel en glad.
Maar die handdruk wat Dieter haar gee, is onpersoonlik. Hy weet heel duidelik nie watter gewaarwordinge sy aanraking in haar wakker gemaak het nie.
“Ek wou nie met jou rusie gemaak het nie, Dieter,” sê sy sag. “Dit was... omstandighede.”
“Ekskuus?” vra Dieter verbaas. “Sê weer.”
“Ek wou nie met jou rusie gemaak het nie.”
“Nee, dit wat jy daarna gesê het ...”
Rothea is skielik weer ongemaklik. Die volt het verdubbel en dit voel asof sy haar hand op ’n rooiwarm stoof gedruk het. Sy probeer terugtrek, maar Dieter se vingers hou haar gevange en dieselfde skewe glimlag waarteen sy so weerloos is, speel weer om sy mond.
“Van die ... die omstandighede?” hakkel sy.
“Nee. Tussen die rusie en die omstandighede,” hou hy vol. “Wat het jy tóé gesê?”
“Ek weet nie.”
“Ja, jy weet goed.”
“E ... Dieter?” huiwer sy.
Hy slaag ’n sug van verligting. “Daarso ...! Dit was moeilik en ek het nie gedink jy sal dit weer regkry nie. Was dit nou so onmoontlik, Rothea? So ’n onoorkomelike probleem om my naam te gebruik? Dis die eerste keer dat jy dit gedoen het. Ek weet my naam is Duits, maar is dit vir jou baie moeilik om te sê?”
“Nee. Nee, dit is nie.”
“Hoekom was ek dan so lank meneer Richter? En toe sommer net niks nie?”
“Ek ... ek weet nie.” Rothea wens hy wil ophou glimlag. Ophou spot. Wens hy wil weggaan en haar alleen los. Dieter Richter laat haar soos ’n standerdses-skoolmeisie voel wat pouse die eerste keer met ’n seun gesels.
“Gaaf,” sê hy. “Punt een op die agenda is suksesvol afgehandel. Ek is Dieter en die wit vlag tussen ons is gehys. Nou punt twee: Dieter Albrecht junior. En sy middagete wat hy nie wil eet nie. Albie, ou vriend, kom hier, dat ek en jy ’n slag gesels ...”
Albie