Ettie Bierman Keur 8. Ettie Bierman
te voer en roep Hans om die ponie af te saal. “Kom jy saam koffie drink?” nooi hy.
Soos met Albie, weet Rothea sy moet Dieter ook vermy, nie aan die skeiding dink nie en haar van hom losmaak.
“Nee dankie. Ek moet kamer toe gaan. Ek het nog nie klaar uitgepak nie.”
“Reg, pak uit of hang uit of wat vroumense ook al gedurig met hul klere wil doen. Sien jou later.” Dieter laai Albie weer op sy skouers en stap huis toe.
Uitpak was ’n flou verskoning. Haar skamele besittings is alles in die kaste. Miskien moes sy tant Betta se raad gevolg en nuwe rokke gekoop het. Of ’n jakkie van Indiese sy ... Onnodige geldmors, dink sy. Albie het klere nodiger as sy. Warm langbroeke en ’n jassie. Sy kom met ’n skok terug aarde toe, na die weelde om haar. Albie het meer nuwe klere as wat hy in ’n leeftyd kan dra. Hy het niks meer nodig nie en hy sal nie hierdie winter in die koue woonstel in Vierde Straat wees nie.
Vrydagaand was Rothea te moeg van al haar ervarings en die vorige dag se lang motorrit. Saterdag tot laat is hulle met Albie se driewiel, bal en die twee Piete bedrywig. Eers Sondag kry Rothea kans om met Dieter en Carl se ma te gesels. Sy trek die geelhout-riempiesbank nader aan Olga se rolstoel.
“Nein. Ich möchte schlafen. Nee. Ek hou daarvan om te slaap.”
Dieter is in sy studeerkamer, maar Carl knipoog vir Rothea, as bemoediging om haar nie deur sy ma se wens om te gaan slaap te laat afskrik nie.
“Onthou u wie ek is, mevrou Richter?” vra Rothea sag.
Olga Richter frons.
“Ek is Barbara se suster en Albrecht se tante.”
“Barbara?”
“Haar suster. Ek het Ernst geken en, soos u, was ek lief vir hom.”
“Ernst?”
Weer net die een naam en as Rothea Olga beter geken het, sou sy geswyg het. Sy gaan moedig voort: “Ek het Ernst drie jaar geken en die ongeluk was vir my net so ’n skok soos vir u. Hy was nog so jonk ...”
Die stilte rek uit. “Mag ek ’n rukkie hier sit en vir u uit ’n tydskrif voorlees?” vra Rothea.
“Nein.”
Rothea sien toe die ouer vrou onderlangs na haar kyk. Hul oë ontmoet en ’n telling lank hou Olga Richter die jong meisie se blik gevange. Toe vra sy kil: “Wat soek jy hier?” Die half deurskynende grys oë flikker vyandig. “Het Dieter jou gevra om te kom?”
Rothea wens sy was op die vraag voorbereid. Dit het ’n dubbele betekenis en suggereer ’n verhouding wat, sover dit Dieter aangaan, nie bestaan nie.
“Dieter het met my gereël om saam te kom, sodat ek Albrecht kan help aanpas.”
“In ruil vir wat?”
Rothea staar na haar. Dink mevrou Richter sy het onder valse voorwendsels Schloss Hoffnung toe gekom? Beskou sy haar as ’n indringer wat die verhouding tussen Ilse en Dieter mag vertroebel, daarom dat sy so aggressief en vol wantroue is?
“Dieter sal nie met jou trou nie,” verklaar Olga uitdagend. “Hy het my belowe dit sal ’n Duitse meisie wees en nie Ernst se oorskiet nie. Ernst was sleg. Ek wil hom vergeet en ek verbied jou om in hierdie huis sy naam te noem. Hoe durf jy van hom praat?”
“Ek het maar net gedink om goed te doen.”
“Barbara was ’n slet wat my seun gesteel het. Nou wil jy dieselfde doen. Jy hoort nie hier nie en jy moet weg.” Olga se hande klem om die rolstoel en sy haal hygend asem. “Sleg!” skree sy skril. “Gee pad onder my oë uit!”
Rothea se bene het nie genoeg krag om op te staan nie. Toe sy nie gou genoeg gehoorsaam nie, swaai Olga Richter haar stoel om. Die bande fluit op die klipvloer toe sy die rolstoel vinnig tussen die meubels deurstuur en by die sitkamerdeur uit verdwyn.
Carl is erger omgekrap as Rothea. “Dit was my fout, ek wat jou van die wal in die sloot gehelp het. My raad was goed bedoel en ek het nie so ’n uitbarsting verwag nie. Ek is bevrees jy het haar omgekrap en sy sal jou nie vergewe nie, nie solank jy op die plaas is nie.” Hy kom langs Rothea op die riempiesbank sit en neem haar hand in syne. “Hoe lank bly jy nog?”
“Ek weet nie. ’n Week. Twee ... Ek wens ek kon môre teruggaan. Ek moes van beter geweet het. Jou ma se bitterheid teenoor Barbara en Ernst is te diep gewortel. Ek moes eers met haar vriende gemaak het, haar voorberei het en nie uit die bloute oor Barbara-hulle begin praat het nie. Ek was dom. Onnosel, Carl.”
Terwyl Rothea by Albie is om te kyk of hy rustig is en of Hanna alleen regkom, lig Carl sy broer oor die fiasko in. Toe Rothea verby die studeerkamer stap, roep Dieter haar in.
“Sit,” beveel hy.
Carl is ook daar en hy wink Rothea nader om langs hom op die bank te kom sit.
“Moenie Rothea kwalik neem nie, Dieter,” keer hy en plaas sy arm beskermend om haar skouers. “Sy is nog jonk en jy weet self Mutti is moeilik.”
Dieter ignoreer hom. “Ek het gehoop jy en Moeder sal mekaar vind, Rothea. Wat het jou besiel om so taktloos te wees? Hoekom het jy nie oor Albie gepraat nie? Oor die weer? Resepte of breiwerk of perde? Hoekom op aarde oor die een onderwerp wat vir Moeder taboe is?”
“Sy het gedink Moeder het Ernst vergewe,” paai Carl.
“Sommer self so gedink? Kon sy nie eers vra, voor sy dit gewaag het nie?”
“Rothea het dit vooraf met my bespreek,” probeer Carl wal gooi.
“Met jou, maar nie met my nie?” Hoewel Dieter met Carl gepraat het, is dit na Rothea wat hy beskuldigend kyk. “Is my mening van my ma se geestestoestand nie belangrik genoeg nie?”
“Jy was besig en ek wou jou nie pla nie,” antwoord Rothea in ’n klein stemmetjie.
“Toe pla jy Carl liewer en tussen die twee van julle vang julle ’n gemors aan? Moeder se bloeddruk is weer op, sy het oorhaastige afleidings oor jou teenwoordigheid op die plaas gemaak en die saak het in ’n onaangename situasie ontaard wat verhoed kon gewees het.”
Dieter swaai terug na Carl en in sy oë is ’n onnatuurlike flikkering. “Nou die dag langs die swembad was al erg genoeg, toe jy Rothea in ’n seekatgreep op die wal beetgehad het. Dit was totaal onnodig. Soos nou ... Sy sal nie omval nie. Los haar en laat haar eenkant op ’n stoel sit. Wil jy hê Moeder moet hier verbykom en Rothea weer ’n slet noem, en sleg en ek weet nie wat alles nie?”
“Moeder is in haar kamer.” Hy kyk uitdagend na Dieter. “Wat is fout, ouboet? Is jy jaloers? Afgunstig omdat Rothea my bo jou verkies? Is dit nie goed vir jou ego nie?”
Dieter verbleek en sy stem is koud. “Ek dink aan Rothea se goeie naam.”
“Jy hoef nie. Jy is nie haar baas nie en Rothea kan doen wat sy wil. Sy het uit vrye keuse langs my kom sit en by die swembad het sy haar ook nie teëgesit nie. Wat is jy so iesegrimmig, ou broer? Is dit liefdesprobleme? As jy en Ilse ’n argument gehad het, is dit onbillik om jou griewe op my en Rothea uit te haal.”
“Ilse?” Dieter is steeds vererg en lus om Carl by te dam en die selftevrede grinnik van sy gesig af te vee. “Al rede waarom ek Ilse gebel het, is om te reël hoe laat sy môre vir die les kom. Hoekom sal ons argumenteer?”
Carl se stem is onskuldig. “Hoe sal ek weet?”
Dieter verontagsaam die vraag. “Sal nege-uur môreoggend jou pas, Rothea? Ek sal met Hans reël om Salamander op te saal, en met Hanna om Albie op te pas.”
8
Rothea is dankbaar dat sy Carl die volgende oggend nie te siene kry nie. Hy het nie reg gemaak nie en sy voel verneder toe sy aan gisteraand se insinuasies dink. Carl speel ’n speletjie wat sy nie verstaan nie. Hy het vir haar gewink om langs hom op die bank te kom sit en hoe kon sy by die swembad teëstribbel? Hy wou haar troos en sy was nie haarself nie. Sy het aan Albie gedink en was nie eers ten volle