Ware verhale van vergifnis. Helana Olivier
jaar van vergifnis
Jeanette (Ginn) Fourie
Letlapa Mphahlele is in 1960 gebore as die gesin se eerste kind. Hy was van kleins af ’n ywerige Christen. Op sewentienjarige ouderdom het hy keelvol daarvan geraak dat God nie sy vurige gebede verhoor het om sy mense in die Limpopo-provinsie in Suid-Afrika te bevry van die onderdrukkende apartheidstelsel en die knaende armoede wat ’n swart mens knel wat in Manaleng gebore is nie. Hy het sy huis verlaat en in die geheim die grens na Botswana oorgesteek. Ná ’n langdurige stryd om te besluit by watter politieke organisasie hy hom moet aansluit, het hy in die pad geval noorde toe, om in Tanzanië en Guinee-Bissau as ’n vryheidsvegter en terroris opgelei te word.
Ons oudste kind, Lyndi, is in 1970 gebore. Letlapa was toe ’n seuntjie van tien wat sy gesin se bokke opgepas het naby Rozenkrants in Limpopo.
Lyndi is in die kraaminrigting in Mowbray gebore. Toe sy ses maande oud was, het ons na die voormalige Rhodesië verhuis en toe sy 20 maande oud was en haar boetie, Ant, vier maande, is ons na Michigan in die VSA. Omdat die Amerikaanse skole volgens ons indruk vrysinnig was met ’n gebrek aan dissipline, en ook omdat dwelms skynbaar vrylik beskikbaar was in die skole, het ons na Suid-Afrika teruggekeer vir ons kinders se skoolopvoeding.
Lyndi se skoolloopbaan het begin op die dorpie, Marquard in die Vrystaat. Sy was nege jaar oud en kon al lees, skryf en tel, al het sy toe nog nie enige formele skoolopleiding gehad nie. Teen die tyd dat sy elf geword het, het sy haar ouderdomsgroep ingehaal en regdeur haar skoolloopbaan het sy geen probleme ondervind nie.
Ons het teruggekeer na die Wes-Kaap en Lyndi het haar matriekeksamen geslaag aan die Hoërskool Helderberg naby Somerset-Wes. Ek het aan die Universiteit van Kaapstad klasgegee en Johann het die Helderbergkollege se plaas bestuur. Lyndi kon haar perd, Rocket, op die plaas aanhou en het talle gelukkige uurtjies daar deurgebring met perdry en Rocket se versorging. Sy het besluit om siviele ingenieurswese te gaan studeer aan die Universiteit van Kaapstad. Dit was veral die vooruitsig om veldwerk te doen wat haar aangetrek het, want sy was baie lief vir die buitelewe. In 1993, minder as ses maande voordat sy haar B.Sc.-graad sou verwerf, word sy doodgeskiet tydens die aanval op die Heidelberg Tavern in Observatory. Dis die voorstad net langs Mowbray, waar sy gebore is.
Letlapa, toe 33, het vinnig opgang gemaak en die Azanian People’s Liberation Army (Apla) se direkteur van operasies geword. Hy het die bevel gegee dat ’n aantal aanvalle, insluitend die een op die Heidelberg Taverne, uitgevoer moet word. Agterna het hy in ’n verklaring aan die pers gesê dit het hom plesier verskaf om “wittes soos vlieë te sien val” ná al die lyding wat sy mense onder hulle moes verduur tydens 350 jaar van wit regering.
Toe ons die tyding van Lyndi se dood ontvang, het ons wêreld in duie gestort. Die pyn was so erg dat dit gevoel het of my hart uit my liggaam geskeur word. Die hartseer en gevoel van verlies het my sonder asem gelaat. Ek het aanvanklik teen God uitgevaar oor die onbillikheid dat ons ons prinses van die heelal verloor het. Sy het op die punt gestaan om ’n betekenisvolle bydrae te maak tot hierdie land wat sy so liefgehad het.
By haar begrafnis het ek gebid:
Genadige Vader, Groot Gees
U het u enigste Seun gegee
om genesing te bring vir elke siel op aarde.
Dankie vir ons enigste dogter
Mag daar genesing kom deur haar dood
vir elkeen wat sy aangeraak het – veral vir dié wat haar vermoor het.
Maria, moeder van God, ons kinders het gesterf aan die hand van bose manne
Lyndi het geen kans, geen tyd gehad nie,
Maar u Seun het dit gesê, ook vir haar:
“Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
(vry vertaal vanuit Lukas 23:34)
Op daardie tydstip het ek gedink ek sou nooit weet wie hierdie verskriklike daad gepleeg het nie. Ek het die Here God gevra om die onvergeeflike te vergewe. Ek was nog te hartseer om selfs daaraan te begin dink om self te vergewe.
Terwyl ons in haar woonstel in Forest Hills, Mowbray, besig was om haar goedjies op te pak, het die appelkiste vol studienotas wat sy onder haar hoë eikehout dubbelbed gestoor het die sinloosheid van haar dood by ons ingehamer. Die trane het ongehinderd uit my oë gestroom en my sodanig verblind dat ek eers nadat ons klaar was, agtergekom het my trouring is weg. Die ring kon afgeglip het terwyl ek rommel in die stortbak weggegooi het. Was dit dalk simbolies van die stremming wat haar dood in ons huwelik veroorsaak het? Nie net vanweë ons verlies nie, maar ook omdat ons so verskillend daarop gereageer het. Ons voorvaders het hulle laat geld: Johann s’n Afrikaans, met Franse en Nederlandse afstamming; en met my Engelse en Duitse bloed het ons twee die Anglo-Boereoorlog laat herleef. Ons kon ons huwelik vernietig het. Amper het ons. Ek het my trouring in my kar se bagasiebak gekry. Gered – en tot vandag toe ’n verligting. Ons het die storms trotseer en met verloop van jare het ons vrede en sin gevind.
Ek het Letlapa ontmoet by die bekendstelling van sy eerste boek, Child of the soil – my life as a freedom fighter, by die Waterfront in Kaapstad. Ná die perskonferensie het ek opgestaan en gesê wie ek is en wat my verwantskap met Lyndi is. Ek het hom gevra of hy nie die Waarheid-en-Versoeningskomissie (WVK) as onbelangrik afgemaak het deur nie die verrigtinge by te woon nie. Hy het egter gevoel die WVK het die feit dat hulle in ’n oorlog betrokke was as onbelangrik afgemaak deur sy kaders as gewone misdadigers te behandel terwyl die lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), wat erger gruweldade gepleeg het, steeds in die (SANW) was. Hy wou ook weet waarom advokate moes gaan. (Die drie jong manne wat die aanval uitgevoer het, is elkeen vir 25 jaar tronk toe gestuur. Hulle het vier jaar van die vonnis uitgedien en toe het die WVK aan hulle amnestie verleen.)
Die “ander” werklikheid het ’n oomblik lank deurgeskemer en ek was geskok. Letlapa het van die podium afgestap en ons gesin kom uitnooi vir ’n gesprek. ’n Paar dae later het ek en hy byeengekom in die Pan Africanist Congress (PAC) se kantoor in die parlement en ons harte uitgepraat. Ek het hom my vergifnis aangebied en hom gevra of hy ’n gelowige is. Hy het gesê hy is in die versoeking om, net om die goeie gesindheid te bewaar, ja te sê. Maar hy het besluit om ter wille van ons verhouding vorentoe, eerlik te wees. Hy is ’n ateïs.
Ek het die genadige Vader begin aanvoel, gevoel hoe Hy my help – ’n mag buite my sfeer – om verantwoordelikheid te aanvaar vir my vergifnis en vir die moontlikheid van versoening.
Letlapa het my genooi om sy tuiskomsseremonie in Manaleng in Limpopo by te woon en hulle toe te spreek. Ek het die uitnodiging aanvaar en sy mense om verskoning gevra vir die skande en vernedering wat my Britse voorvaders hulle deur verslawing, kolonialisme en apartheid aangedoen het. Ek het daarop gewys dat geweld telkens geweld uitlok en dat ons dit moet stopsit.
Ek het vir Letlapa ’n gelamineerde collage van Lyndi se lewe en haar graf gegee. Onderaan die collage was ’n inskripsie:
Aan Letlapa Mphahlele
Ons is kinders van hierdie aarde, ons het mekaar se bloed gestort. Nou sal ons sweet en bloed die messelklei word waarmee ’n nuwe land gebou word.
Van Ginn Fourie (vry vertaal)
Letlapa, en die gemeenskap van Manaleng en die omliggende distrik, het my ten volle aanvaar en my voorvaders vergewe vir wat hulle in hierdie land gedoen het. Letlapa het wel bygevoeg dat daar nog ’n lang pad voorlê na versoening in ’n land waarin daar nog soveel armoede is terwyl soveel weelde heers.
As ’n wederkerige gebaar het Letlapha in Januarie 2003, by ’n vol versoeningsvergadering in Khayelitsha in die Wes-Kaap, vir my ’n gedig geskenk. Dit het die man se diepgewortelde integriteit, sy inspirasie, gevoeligheid en poëtiese siel aan die wêreld gedemonstreer. Dit het my tot trane van vreugde geroer:
Aan Lyndi Fourie
Vergeef ons doofheid
Ons ore is ingestel op stemme van dooies
Wat