Ware verhale van vergifnis. Helana Olivier
vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk 23:34.) Vergewe soos jy hoop om vergewe te word.
In Psalm 18:7–16 is dit duidelik dat God baie kwaad word wanneer sy kinders so deur die vyand aangeval word. Die aarde bewe. Rook, vuur, blitse en haelstene kom uit God se mond en neus. Dis ’n kwaai beeld. God skeur die onderaarde oop. Hy is woedend. Ek glo vas daar sal baie siele by Satan afgeneem word in ruil vir wat hy aan my en Louis gedoen het. Seuns en dogters van God wat ver van Hom af weggevoer is, sal ook terugkom. Omdat ek Jesus se Naam bely, is my verkragting, die doodsdreigemente en Louis se ontvoering nie verniet en gratis nie. Die Here eis iets van die Satan daarvoor, bloot omdat ons sy kinders is. Ons sal nooit menslike lyding verstaan, met al die bloederigheid daarvan, as ons weier om na die onsigbare wins daarvan te kyk nie.
Jesus se offer aan die kruis – vir die verkragter se vergifnis en vir my genesing – was op gelyke basis vir ons twee gebroke mense beskikbaar. God het Hom nog nooit laat afsit deur enige mens se vuilheid nie en was ook nog nooit beïndruk met enige mens se poging om vanself te probeer skoon word nie. Die verskil tussen my en die verkragter is dat ek dit wat Jesus na my toe uitgehou het – my verlossing en genesing – met groot dankbaarheid ontvang het, maar dat my verkragter waarskynlik steeds in dieselfde gebroke toestand is as wat hy was toe hy daardie nag halfbesope in my huis ingekom het. Hy is die een wat ons gebede die nodigste het.
Moenie in my en Louis vaskyk nie. Moenie vra wie ons is, wat ons roeping of beroepe is, waar ons woon, in watter kerk ons is, of ons gedoop is, in tale praat, Skrifgedeeltes oor ons gesin uitgeroep het of nie. Dis die verkeerde vrae.
Vra liewer: Wie is hierdie God wat ’n vrou soos ’n bruid laat voel op die nag van ’n verkragting? Wie is dit wat vergifnis in ’n man se hart kan sit teenoor die rower wat sy vrou probeer onteer het? Wat vertel dit van God wanneer Hy mense deur ’n vuuroond van trauma neem, maar nie toelaat dat hulle na rook ruik nie? Ja, vra die vrae wat ons nie mag vra nie. Vra hoe groot ’n God is wat ’n verkragting ten goede kan laat meewerk vir iemand wat Hom liefhet. Vra jou af wat in die Vader se hart is wanneer Hy besluit dat nie net ek en Louis nie, maar ook ons drie kinders nie ’n enkele simptoom van trauma sal toon van daardie dag tot nou nie. Vra saam met een van die spottende briefskrywers waarom die Here my nie lank genoeg voor die tyd gewaarsku het sodat ek kon wegkom nie? Waarom net ’n paar minute voor die tyd? Luister dan na die onwaarskynlike antwoord: Dalk omdat Hy nooit van plan was om my te laat wegkom nie, maar van plan was om by my te wees en iets veel beters van my lewe te maak as gevolg daarvan. Dalk omdat die voorreg om Hom te sien en te hoor groter is as die onreg om verkrag te word. Jubelskree dan saam met Paulus:
Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie! Sy beslissings gaan ons begrip te bowe; sy manier van doen kan ons nie deurvors nie. Wie van ons kan regtig verstaan hoe God dink? Of wie sou as sy raadgewer kon optree? Of wie sou ooit aan Hom ’n guns kon bewys vir wie Hy dit sou moes vergoed? Hy is die bron van alles. Alles bestaan deur sy krag en alles is op Hom gerig. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.
– Romeine 11:33–36 (NLV)
Dit maak dus geen sin om te kyk na my en Louis, of na enige ander Christen met wie iets gebeur, en te dink ons gaan leidrade sien oor waarom dit gebeur en antwoorde kry oor waarom God hier iets keer en daar iets toelaat nie. Ons gaan ook nie oordele kan vel oor mense se getuienisse nie, want God is wie Hy is – onverklaarbaar. Hy sal doen wat Hy wil doen – onvoorspelbaar. Wat ons beleef het, was inderdaad onverklaarbaar en onvoorspelbaar. Niks in ons sou ons kon laat vermoed dat ons die voorreg van ’n wonderwerk sou beleef nie.
Hiermee ontken ek nie dat die lang worsteling op pad na genesing vir baie Christene ’n werklikheid is nie. Dis selfs vir my ’n werklikheid.
Vergifnis is ’n wonderlike ding. Dit maak dat ek nie vandag met ’n rower op my skouers rondloop nie.
Verhaal 4: Om in genade te leef omdat jy vergewe is
4
Om in genade te leef omdat jy vergewe is
Marie Enslin
Aan God, my Vader en Beskermer, al die eer.
Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop.
– Psalm 40:2–3
Vir jou wat my verhaal lees: God hoor jou smeking, Hy antwoord jou na sy goeddunke. Wanneer jy in jou diepste nood na Hom roep, antwoord Hy jou nie net deur jou daar uit te haal nie, Hy plaas jou voete op vaste grond en Hy hou jou vas wanneer jy begin loop. Dit wat nou hier volg, is maar enkele voorbeelde van God se genade wat ek ondervind het in die bykans vyf jaar wat verby is. Daar is so baie om te vertel, maar mag hierdie enkele grepe jou versterk, bemoedig en nader aan Hom bring.
My verhaal begin die oggend van 10 Desember 2006. Ek is gelukkig getroud met Johann Enslin en in daardie stadium werk hy al twee en ’n half jaar lank in Bagdad. Dit is twaalf dae voordat hy huis toe kom vir Kersfees. Ons gesin is opgewonde. Ons koop vleis, want wanneer Pa by die huis is, sal hy wil braai!
Op hierdie Sondagoggend is ek soos baie ander Christene in die kerk. As jy my daardie oggend sou vra waarheen ek sou gaan as ek sterf, sou ek met redelike sekerheid gesê het dat ek hemel toe gaan. Ek is gereeld in die kerk. Ek’s aktief in my gemeente en doen min of meer al die regte goed op al die regte plekke. Min het ek geweet wat ’n ware verhouding met Jesus, die God van hemel en aarde, regtig behels.
Ons dominee preek uit 1 Korintiërs 13. Ek, daarenteen, word vasgegryp deur 1 Korintiërs 10:13: “Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” Die woorde lyk of hulle groot uit my Bybel uitkom, voor my oopmaak en weer net so in die Skrif verdwyn. Ek sit ’n uur lank geheel en al vasgevang oor wat met my gebeur het. Ek verstaan glad nie wat ek beleef het nie. Ek het geen idee gehad van wat besig was om te gebeur nie.
Tweeuur daardie selfde middag kry ek ’n oproep en hoor Johann-hulle is vroeër die oggend (terwyl ons in die kerk was) gevange geneem deur vreemde magte in Irak. Niemand weet eintlik waar hulle is nie. My eerste reaksie op hierdie skokkende nuus is ontkenning. Ek is so geskok dat dit voel of ek ’n baie slegte droom beleef. Ek voel as ek net lank genoeg gaan lê en my uithuil, sal die nagmerrie verbygaan.
Die Here begin in hierdie tyd egter ’n baie dieper proses met my. Ek hoor kliphard die Skrifwoorde in Sagaria 13:8–9: “Daar sal net ’n derde van hulle oorbly in die land, en dié derde sal Ek met vuur louter soos silwer gelouter word. Ek sal hulle suiwer soos goud gesuiwer word. Hulle sal My aanroep, en Ek sal hulle gebede verhoor. Ek sal sê: ‘Hulle is my volk.’ En hulle sal sê: ‘Die Here is ons God.’” Ek weet instinktief dat hierdie woorde in die Bybel staan en begin soek daarna, maar dit neem my ’n hele jaar om die woorde, presies soos wat ek dit gehoor het, in Sagaria 13 op te spoor. En hier begin die Here se proses met my.
Gedurende die eerste drie weke van Johann se verdwyning hoor ek aanmekaar dié Skrifgedeelte. Die Here kon regtig tot my deurdring, want ek was so verslae, so volkome platgeslaan dat ek vandag self nie eens weet hoe ek daardie eerste paar weke oorleef het nie. In hierdie eerste paar maande is ek dag en nag voor die Here. Ek stoei en onderhandel met die Here. Ek bly belowe dat ek ’n beter lewe sal lei as Hy Johann net sal terugbring. Beurtelings skree, huil en veg ek met God die Vader. Ek sou alles gee of doen om Johann net weer terug te hê. Hy was die liefde van my lewe.
In die aand, wanneer ek voor die venster sit aan Johann se kant van die bed, is daar op my lippe net een pleitbede: Here, bring hom terug. Here, spaar hom. Laat u engele hom oppas. Maak ’n sirkel van vuur rondom hom sodat niemand aan hom kan raak nie.
In hierdie tye dat ek so voor ’n oop venster met die Here worstel, kry ek die reuk van afgebrande gras. ’n Vuil, olierige reuk bly in die lug hang. Verskrik vlieg ek dan op en kyk deur my oop venster om te probeer sien watter van my bure brand iets elfuur in die nag. Maar daar is niks nie. En sodra ek dan weer gaan sit en verder bid, bring die Here die