Christine le Roux Omnibus 5. Christine le Roux

Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux


Скачать книгу
moet ek weet? Ek was selde siek as kind. Ons dokter het dit seker nie nodig geag nie.”

      “O, jy hét dus op ’n tydstip wel ’n huisdokter gehad?”

      “Ja,” sê sy. “En hy was ’n baie liewe man wat altyd gewillig was om uit te kom plaas toe. Hy is nog steeds my ouers se dokter.” Sy kyk hom streng in die oë. “’n Liewe man,” herhaal sy. “Die soort dokter by wie ’n mens veilig voel. Vaderlik en simpatiek.”

      Hy glimlag, iets wat haar so van stryk bring dat sy wens hy wil dit nie doen nie. Hy het nog nie sy tee gedrink nie, sit dit net afgetrokke en roer. “Ek aanvaar die berisping,” sê hy. “Maar ek is bereid om te wed jy was ’n veel inskikliker pasiënt in sy teenwoordigheid. Nie so deksels koppig nie.”

      “Hy is die soort dokter wat ’n mens inskiklik laat voel,” kap sy terug. Om haarself te keer voordat sy meer sê, lig sy haar koppie en drink ’n groot sluk, maar die oomblik toe sy dit doen, stik sy, word rooi, druk haar hand voor haar mond en vlieg uit die bed uit teen so ’n spoed dat hy nie tyd het om te reageer nie. Die volgende oomblik hoor hy dat sy naar is en hy sit sy koppie haastig neer en hardloop agter haar aan.

      Sy staan voor die wasbak en spoel haar mond met koue water uit. “Wat is dit?” vra hy, sit sy hand onder haar ken en lig haar kop op. “Jy het gesê jy is nie allergies . . . ”

      “Die tee,” sê sy hygend en tap ’n vars glas water wat sy gulsig drink. Die hele voorkant van haar pajamabaadjie is papnat en klou aan haar lyf vas.

      “Wat bedoel jy: die tee? Wat is verkeerd met die tee?”

      Sy klappertand. “Wat het jy ingegooi?”

      “Suiker en melk.”

      Sy staan bibberend op die koue teëlvloer, haar arms om haar bolyf geklem. “In die blou potjie?”

      Hy knik, ’n diep frons tussen sy oë. “’n Suikerpotjie,” sê hy beslis. “Met ’n suikerlepel in.”

      “Dis sout,” klappertand sy. “Die pienk potjie is suiker.”

      Hy gooi sy hande in die lug. “Waarom hou jy sout in ’n suikerpot? Hoe moes ek weet? Ek dog dis net baie fyn . . . ”

      Sy begin bewerig terugstap. “Ek wil lê.”

      Hy volg haar terug, sien dan die nat nagklere en keer haar voordat sy so in die bed klim. “Waar is droë nagklere?”

      “Middelste laai.” Sy wens hy wil loop, die hele aand is besig om te veel te word, haar kop draai.

      Hy trek die laai oop, haal skoon nagklere uit en kom terug. Sonder om te praat of toestemming te vra, trek hy die nat baadjie uit en die droë een aan. “Klim in,” gebied hy. Behendig lig hy die beddegoed op, skud dit reg, gooi dit oor haar en druk dit netjies onder die matras in. “Ek sal vars tee gaan inskink,” sê hy dan.

      Sy skud haar kop. “Net water. Nie tee nie.”

      Hy loop badkamer toe, kry nog water en bring dit vir haar. “Ek is regtig jammer,” sê hy. “Dit lyk my ek kan vanaand niks reg doen nie.”

      Sy antwoord nie, krul haarself net in ’n bondeltjie op, haar knieë opgetrek tot onder haar bors.

      “Is jy nou baie kwaad vir my?” vra hy.

      “Nee.” Sy hoor hoe hy terugloop kombuis toe, hoe goed rondgeskuif word en toe hy terugkom, het hy vir homself vars tee geskink. Hy kyk op sy horlosie. “Die apteek moet nou opskud.”

      “Ry,” sê sy vaak. “Ek wil jou nie ophou nie.”

      “Dis die minste wat ek kan doen.”

      Op daardie oomblik lui die deurklokkie en hy staan op. Sy hoor hom by die deur praat, maar dis asof die stemme baie ver weg is. Sy gee nie meer om wie inkom of wie praat nie. Sy voel net hoe sy weggly in ’n wonderlike rustigheid, ’n droomwêreld waarin sy nie meer verantwoordelik is vir haarself nie, ’n plek waarin iemand anders oorgeneem het.

      “Hier is dit,” hoor sy sy stem weer. “Die instruksies is duidelik daarop geskryf. Elke ses uur. En drink baie water.”

      “H’m,” sê sy sonder om haar oë oop te maak.

      “En vergewe my, juffrou Kruger. Die tee was –”

      “Jy kan nie,” sê sy deur dom lippe. “Nie ná . . . ”

      Hy buig oor haar. “Ek kan nie wát nie?”

      “Juffrou Kruger sê nie. Nie ná vanaand . . . ” Sy lek oor haar lippe. “Nicoline.”

      “Nicoline,” herhaal hy. “En ek is Peter.”

      Sy knik, want sy is al weer terug op die sneeubedekte hange waar Kurt nou met wyd oop oë na haar kyk. Sy is so bly dat hy so na haar kyk dat sy omdraai om te sien of Neil nog daar is sodat sy dit vir hom ook kan wys. Maar hy is nêrens nie, agter en om haar is net die spierwit ruimtes. “Neil,” fluister sy.

      “Nee, Peter.”

      Sy frons effens. “Hy moet sien dat Kurt . . . ” Sy gee die stryd gewonne, dis nou te moeilik om te verduidelik. Sy slaap liewer.

      Hoofstuk 7

      Neil en sy neef sit in die agterplaas van Freek se huis. Die winterson is verrassend warm, rook trek luiweg uit die braaivleiskole en twee skywe biefstuk lê op ’n bord en wag. Daar is nie eintlik bykosse nie, net ’n bord gesnyde tamaties en ’n paar broodrolletjies.

      “Ek wens jy kan my raad gee omtrent daardie meisiekind van my,” sê Neil. “Sy laat my nie eers toe om haar hand vas te hou nie!”

      Sy neef lag. “En jy wil by my raad hê?”

      “Jy’s darem ’n paar jaar ouer as ek,” sê Neil. “Jy het meer ondervinding.”

      “Nie noodwendig nie. Jy weet hoe voel ek oor hulle. Hoekom dink jy is ek nog nie getroud nie?”

      “Jy is tog nie steeds gegrief oor daardie vroumens wat jou so gekul het nie?”

      “Nee. Ek het lankal van haar vergeet. Ek het net nie tyd vir vrouens in die algemeen nie.”

      “Maar as jy dié een kan sien,” sug Neil. “’n Mens kan jouself nie keer nie, jy is verlief voor jy weet wat gebeur het.”

      “Verliefdheid waai wel oor.”

      “Nee, Freek, man, dit kan jy nie sê nie.”

      “Natuurlik kan ek. Komaan, Cor, gee die vleis aan. Ek dink ons kole is reg.”

      Neil staan op en hulle staan albei en afkyk op die sissende vleis. Alhoewel hulle neefs is, is hulle meer soos broers. Hulle huislike agtergrond verskil, maar vandat hulle kinders was, is hulle beste maats. Albei dra familiename, maar om hulle van hulle pa’s en oupas te onderskei, noem die familie hulle op ander name as dié wat hulle vriende en kollegas ken. Neil, wie se eerste naam Cornelius is, word in familieverband sommer kortweg as “Cor” aangespreek.

      “Ek het haar ’n week laas gesien,” gaan Neil voort. “Ek het gedog sy het my dalk ook gemis, maar aikôna. En dit in hierdie tye waarin ons leef. Om ’n meisie te soen, is outyds.”

      “Is dit?” vra sy neef verbaas.

      “Jy weet wat ek bedoel. En ek kan nie eers my arm om haar skouer sit nie of sy word stokstyf.”

      “Los haar dan. Kry iemand anders.”

      Neil lyk geskok. “Sy’s nie die soort meisiekind wat ’n mens sommer los nie.” Hy tel sy bier op en staan eenkant, die rook irriteer sy oë. “Miskien moet ek haar jaloers maak. ’n Slag met iemand anders uitgaan. Miskien is sy te seker van my.”

      “Probeer dit.”

      “Daar is ’n nuwe tikster,” mymer Neil. “Skaam ou dingetjie. Miskien . . . ”

      “Ek dog jy is juis moeg vir die skames?”


Скачать книгу