Christine le Roux Omnibus 5. Christine le Roux
knik, nog te uitasem om te praat. Gewoonlik draf sy teen ’n veel stadiger pas, hy het haar gedruk en sy kan dit voel.
“Dit help altyd,” sê hy. “’n Mens kan nie ingee as jy iemand verloor nie. Ek hardloop soms selfs in die nag.”
“Jy is meer gesout,” sê sy.
“Nee, net fikser.”
“Ek praat nie van die hardloop nie,” sê sy en lek oor haar droë lippe. “Ek praat van jou vermoë om . . . die dood van iemand te verwerk.”
“Vanselfsprekend.” Hy haal ’n sakdoek uit sy sak en vee oor sy gesig. “Wat egter nie beteken ek voel dit nie meer nie.”
“Seker, ja,” gee sy toe omdat sy onthou hoe hy die aand gelyk het toe hulle gaan koffie drink het.
“Kom,” sê hy. “Ons gaan koud word.” Hulle stap in stilte terug na sy huis en haar motor. “Wil jy gou kom stort?” vra hy. “Iets drink?”
“Nee dankie,” sê sy formeel. “Ek het nie my klere hier nie en dit dien geen doel om te stort en weer dieselfde beswete klere aan te trek nie.”
“En iets om te drink?” vra hy. “As jy nie vanaand iets aan het nie, kan ek selfs aanbied om vir ons ’n lekker pasta te maak.”
“Dankie, maar ek moet huis toe gaan. Ek gaan vanaand uit.”
“Natuurlik,” sê hy. “Hoe kon ek so dom wees?” Hy sê dit nie met sy gewone sarkasme nie, maar sy kyk hom tog dadelik skerp en agterdogtig aan.
“Dankie in elk geval,” sê sy en haal haar motorsleutels uit. “Dit was lekker. Ek voel nou beter.”
“Enige tyd,” sê hy gemaklik. “As my werk dit toelaat, draf ek elke middag dié tyd.”
“H’m,” sê sy. “Dit is ’n lekker park vir hardloop.”
Terwyl sy terugry, probeer sy haarself ontleed. Waarom is sy meteens so langtand vir die aand wat voorlê? Die toneelstuk waarheen Neil haar gaan neem, is iets wat sy al weke lank wil sien. Hoekom wens sy dan nou sy het ’n vry aand gehad?
Hoofstuk 6
Sondagoggend voel Nicoline se spiere seer. Dit verbaas haar, want sy is fiks. Sy skryf dit toe aan die laat nag, die feit dat sy moeg is, en aan die koue, bewolkte dag buite. Sy drink ’n hand vol vitamiene en woel in die woonstel rond sonder veel entoesiasme. Sy voel skuldig omdat sy nie by die hospitaal is nie, maar die eerste keer in weke is sy nie lus om langs Kurt se bed te sit nie. As die son geskyn het, het sy haarself moontlik gedwing om weer te gaan draf, maar sy het regtig nie krag nie en teen die aand voel sy slegter. Sy kry om die beurt warm en koud en haar keel brand. Omtrent almal by die werk het dié winter al griep gehad, maar omdat sy haarself as ’n uitsonderlik gesonde mens beskou, het sy haar nie veel daaraan gesteur nie. Sy kan nie onthou wanneer sy laas siek was nie, sy het nie eers ’n huisdokter nie.
“Dis seker ’n verkoue wat broei,” sê sy die aand vir Rosa toe sy bel om te gesels. “Almal het al verkoue gehad by die werk, dis seker onrealisties om te verwag ek moet vryspring.”
“En jy’s daagliks by die hospitaal,” voeg Rosa by. “Daar is tog ook allerhande virusse in die omtrek.”
Hulle gesels ’n ruk lank oor Kurt, en Rosa vertel hoe dit met Dennis gaan. Hy is terug by die werk en feitlik heeltemal gesond.
“En hy kyk nou waar hy loop,” lag Rosa. “Hoekom kom jy nie een aand hierdie week oor vir ete nie?”
“Dankie, maar laat ek eers sien hoe die verkoue ontwikkel. Ek wil julle nie aansteek nie.”
“Pas jouself op,” sluit Rosa af.
“Ek dink ek sal vroeg gaan slaap. Dis ongetwyfeld al wat dit is.” Nicoline lui af en gaan maak ’n blikkie sop oop. Sy is nie regtig honger nie, maar sy voel sy behoort te eet. Toe trek sy haar nagklere aan en gaan lê op die bank voor die televisie.
Sy slaap sleg en word ’n hele paar keer wakker. Dit voel asof haar keel toegeswel is, maar sy drink glase vol water en ’n pynpilletjie wat haar so laat slaap dat sy laat is vir werk die volgende oggend.
“Jy lyk kroeserig,” sê meneer York vir haar.
Sy blaas haar neus. “Dis net ’n verkoue. U weet ek glo nie aan siek word nie.”
“Dis winter,” sê hy. “Of ’n mens nou daaraan glo of nie, dis die seisoen van griep en verkoues.”
“Ek weet,” sug sy. “En ek het gedink ek spring dit vry.”
Sy kom moeilik deur die dag se werk. Haar kop voel dik en haar keel selfs seerder. Toe sy vir meneer York totsiens sê, gee hy haar een kyk en beveel haar om in die bed te bly vir die volgende paar dae.
“Ek kan nie,” protesteer sy. “Daar is baie werk en –”
“Iemand anders kan dit doen,” sê hy ferm. “Ek dink nie jy was in agt jaar al ’n week weg as gevolg van siekte nie.”
“Ek was baie weg ná Dennis se ongeluk.”
“Dis ’n ander saak. Toe, gaan klim in die bed. Nee, gaan sien eers jou dokter.”
“Ek het nie een nie,” lag sy. “Buitendien hardloop mens nie dokter toe met ’n verkoue nie.”
By die woonstel gekom, het sy nie eens lus om kos te maak nie. Sy rittel van kouekoors en klim in die bed nadat sy ’n koppie tee gedrink het. Sy voel half gegrief. Om siek te voel, is simpel. Sy skeep vir Kurt af, sy wil niks doen wat sy eintlik behoort te doen nie. Daar is klere wat by die droogskoonmaker afgehaal moet word, haar yskas is leeg, briewe lê onbeantwoord op haar lessenaar. Gelukkig het sy en Neil afgespreek om mekaar eers die volgende naweek weer te sien. Sy raak aan die slaap op die bank en droom vreemde, deurmekaar drome waarin sy en Kurt teen ’n sneeuhelling probeer uitklim terwyl Neil hulle van agter af aanhits.
“Kan jy nie sien ek is moeg nie?” vra sy gebelg en word wakker, haar nagklere deurdrenk van sweet. Sy strompel badkamer toe, drink ’n aspirien en klim terug in die bed. Haar keel voel egter baie dik en seer en sy staan weer op, drink nog vitamiene en slaap weer.
Teen Dinsdagoggend is sy baie bly meneer York het gesê sy moet in die bed bly, want alhoewel sy beter voel, is sy nie in staat om werk toe te gaan nie. Sy gaan bad, was haar hare en voel daarna weer so pap dat sy dadelik terugklim in die bed. By tye probeer sy lees, maar haar oë is seer en branderig. Sy trek later selfs aan en loop koulik na die apteek toe, wat gelukkig nie ver is nie.
“Ek het ’n nare verkoue,” sê sy vir die apteker en hy gee vir haar pille wat hy sê haar slymvliese sal opdroog.
Terug in die woonstel slaap sy soos ’n dooie en word teen die laatmiddag wakker. Sy voel asof sy aan die brand is van die koors en sy kan omtrent nie sluk nie so seer is haar keel. Sy drink lemoensap en water en gaan lê opgekrul onder haar duvet. Om die beurt kry sy so warm dat sy alles afskop, dan voel dit weer asof geen warmwaterbottel of kombers haar ooit weer warm gaan kry nie. Haar tande klap opmekaar en sy besluit om die volgende oggend ’n dokter te gaan soek. Dit moet meer wees as net ’n verkoue, haar keel is te seer en haar koors te hoog. Sy raak weer aan die slaap en is verwikkel in nog ’n vreemde, chaotiese droom toe sy die deurklokkie hoor lui. Eers dink sy dis deel van die droom, maar die hinderlike geluid raak nie stil nie en sy val struikelend uit die omgewoelde bed. Rosa, dink sy onsamehangend, dit moet Rosa wees wat kom kyk hoe dit gaan. Sy is verlig: Rosa sal weet waar om ’n dokter te kry, sy weet altyd alles wat ander mense kan help. Nicoline trek nie eers haar kamerjas aan nie, loop net so op haar kaal voete deur toe, haar hare woes om haar kop.
Maar dis dokter Hofmeyr. “Juffrou Kruger,” sê hy. “Goeienaand.”
Sy staar hom verdwaas aan. “Ek dog jy’s Rosa.”
“Nee,” antwoord hy kalm. “Ek is nie. Wie is Rosa?”
“Dennis se verloofde. My broer.” Sy begin bibber van die koue lug