Moerbeibos. Dalene Matthee

Moerbeibos - Dalene Matthee


Скачать книгу
het White my verontwaardig gevra. “Die hele tyd wat hulle langs die meer in die tente was, het die vrou elke dag polisiekantoor toe geloop om te gaan verneem of hulle al iets gehoor het van die kind. Konstabel Hall sê hy het later sommer net sy kop geskud as sy by die deur inkom, sodat sy kon omdraai en loop. Sy was baie lastig. En die eintlike gekerm het begin toe hulle moes oppak om hierheen te trek. Nou kan sy nie meer elke dag na die kind gaan verneem nie; sy is te bang om alleen dorp toe te loop en nie een van die ander wil saam met haar gaan nie, hulle is net so bang. Dit help nie ek en Christie verseker haar dat die polisie met een van die boswagters saam sal laat weet as hulle iets hoor nie, sy bedaar nie.”

      “Hoekom het Mister nie gister gepraat toe ek die pos gaat wegbring het nie? Ek kon mos gaat verneem het by die polisie.”

      “Sy wil self gaan, Miggel.”

      “En wie dink Mister gaat saam met haar loop? Nie Silas Miggel nie, my werk sal nie nog ’n dag bly stillê nie.”

      “Ek het gehoop Mirjam sal saam met haar kan gaan.”

      “Nee, ek stuur nie Mirjam saam nie, ek sukkel klaar om haar weg te hou van hulle af.” In my siel het ek geweet ek het vir Mirjam los, maar myself vas. Vir ander se onnooslikheid en liegte en Mirjam se jammerhartigheid sou ek moes voet oplig om in die mis te trap.

      “Help jý ons dan uit, Miggel. Asseblief.” White was radeloos. “Hoor daar buite, hulle raak al meer opstandig. As ek net self met hulle kon gepraat en sake aan hulle verduidelik het, was dit beter. Ek sê weer, ek dink Christie moedig hulle tot opstand aan. As jy my vandag in die steek laat, staan ek alleen en ek het gisteraand die vrou belowe dat ek vandag vir haar ’n plan sal maak om op die dorp te kom.”

      “Hoe lank skat Mister gaat dit wees voorlat die skip kom?”

      “Sodra my en Christie se briewe by Mister Laing aankom. Veral die klagskrif behoort baie gewig te dra. Dis ’n ding hierdie wat nooit moes gebeur het nie en daar sal onmiddellik iets aan gedoen moet word. Intussen moet ek hulp hê. Ek vra jou om saam met die vrou vir my te loop, sy kerm my uit my geduld uit!”

      “Loop sê vir haar sy moet haar regmaak.” Wat anders kon ek doen? “Sê vir haar ek gaat net eers huis toe om my orders af te gee; as ek terugkom, moet sy klaarstaan. En die goewerment sal vir my ’n paar nuwe skoene gee oor ek die oues vir hulle moet staat oploop dorp toe.”

      “Ek sal dit in my volgende skrywe aanbeveel.”

      Mirjam was vir my besonder verheug toe sy hoor dat ek ingestem het om saam met die vrou dorp toe te loop; dit was of ’n verligting deur haar trek. “Jy bly weg van die tente af, ek sê jou dit.”

      “Ek sal, Pa. Maar dan belowe Pa om nie langs die pad met haar snaaks te wees nie, sy’s nie gewoond aan loop soos ons nie. Pa moet kyk dat sy met die soontoe gaan eers onder by Gouna se drif rus, en met die terugkom ook. Wees haar genadig, Pa.”

      “Daar’s nie tyd vir genade nie, ek moet terugkom by die hout, sy sal moet draf.”

      “Sies, Pa.”

      “En jy moet solank beginne operd aan die aartappels, die stoele is reg.”

      “Ja, Pa. Belowe my Pa sal haar by die drif laat rus.”

      “Ek sal haar laat rus as dit dan vir jou rus vir jou siel sal gee!”

      “Dit sal.”

      Die vrou het reggestaan toe ek by die tente kom. Van die ander het gestaan om haar af te sien asof sy op ’n lang reis gaan. Vreemde wesens. Hulle kyk jou aan met ’n wantroue, en dis of hulle jou uitdaag om dit te bestry. Die vroue se rokke was netjies, party met spierwit krae van kant; die kinders was ook goed aangetrek, skoene aan die voete. Die mans het ’n soort swierigheid aan die lyf gehad.

      Die voorman, Christie, het ewe gewigtig kom orders aframmel oor hoe goed ek tog na haar moes kyk tydens die dangerous conditions wat voorgelê het dorp toe. As ek net meer Engelse woorde gehad het, het ek hom vir goed op sy plek gesit, want van wanneer af leer jy ’n vis van die water of ’n bosmens van die Bos. En as hy gedink het dangerous conditions lê suid van die platrand, kon ’n man net wonder wat hy sou gesê het van wat benoorde lê: van die Rooiels se klowe, van Brown-se-kloof, van Stinkhoutkloof en van Draaikloof. Dan het hy hom seker bevuil.

      Ek was nie ’n halfuur ver met die vrou nie, toe stry ons. Sy op haar taal en ek op myne. Want toe loop sy soos ’n bosbokooi wat vir elke kraak in die ruigtes wil opskrik. Laat loop ek haar vooruit, loop sy soos een wat die hele tyd iets van voor af te wagte is en rem tot ek op haar hakskene trap. Vir elke spinnerak wil sy koes. Laat loop ek haar agter, bly sy aan die omkyk vir ’n ding wat van agter af moet kom. Voor ons die eerste kloof deur is, het ek genoeg gehad.

      “Kyk hierso, Petronella,” sê ek en stop haar net daar.

      “Petroniglia!” Sy help my sowaar ewe skerpbek reg met haar naam.

      “Petronella-Petroniglia, net wat jy wil,” sê ek, “as jy saam met Silas Miggel loop, lóóp jy! As daar uit te kyk is vir gevaar, sal ék dit doen, nie jy nie. Kom!”

      Vir elke een woord wat ek sê, het sy tien van haar eie; dit rol nes klippers by haar mond uit en haar hande en haar oë skel saam. Hoe meer ek vir haar beduie om stil te bly, hoe kwaaier word sy. Het die grootloerie my nie kom red nie, weet ek nie waar dit sou geëindig het nie. Sy was nog goed aan die gang, toe kok-kok-kok die loerie reg bo ons in die boom en sy skrik haar mond botstil toe.

      “Dis ’n voël,” sê ek vir haar. “Voël. Big loerie.” Ek sit sommer die Engels ook by, maar dit help nie. Die eerste keer dat ek ’n vreemdeling sien skrik het vir ’n loerie se roep, was dit nie; as ’n mens nie weet dis ’n voël nie, kan jy seker skrik. Toe die tweede sars kok-kok-kokke val, toe lyk dit vir my sy het lus om om te spring en te hardloop. “Dis ’n voël!” keer ek en steek my arms uit en klap hulle soos vlerke. Simpel staan ek daar en vlieg en vlieg totdat sy bedaar, en genoeg was genoeg, ek was klaar met sukkel. Ek het my mes uitgehaal en vir my ’n lekker tak in die onderbos gesny en vir haar beduie om voor in te val, en daar het ek haar met die tak gehou soos jy met ’n jongos maak wat wil lyf rondgooi.

      By Gouna se drif het ek haar laat water drink en ’n bietjie laat rus. Sy het ’n fyne sakdoek uitgehaal en haar gesig gewas, en toe sy klaar is, sê ek vir haar sy moet kom, dit word laat. Gelukkig was die Gounarivier laag genoeg dat ons op die klippe kon deur sonder om skoene uit te trek.

      En Mirjam was verniet bang dat sy nie sou kon byhou nie, sy’t goed bygehou. Al pratende op party plekke en dan weer vir lang rukke stil en dikbek. Toe ek aan die westekant van die dorp met haar uit die ruigtes kom, en sy gewaar waar ons is, moes ek byhou om saam by die polisiekantoor aan te kom.

      Hoofkonstabel Ralph was agter die toonbank. “En as oom nou vanmôre met ’n tak staan?” vra hy. “Het oom die vrou aangejaag tot hier?”

      “Môre, konstabel. Sy’t net kom hoor of julle nog nie iets van die kind gehoor het nie.”

      “Die tolk is nie dalk by oom-hulle nie?”

      “Sien jy die tolk?”

      “Ek vra maar net, oom.”

      Ons moes bo-oor haar praat om mekaar te hoor. “Sy wil weet van die kind,” sê ek weer.

      “Kan oom haar nie ’n bietjie stilmaak nie?”

      “Ek kan haar nie eers dagsê op haar eie taal nie, wat nog te sê van stilmaak. Het julle iets gehoor?”

      “Ja, oom. Die polisie in die Kaap het Tomaso gekry. Die kind is by hom en sy vrou, maar hy sê hierdie mense het die kind vir hulle gegee.”

      “Wat?”

      “Ja, oom.”

      “En dis nou waarvoor ek my werk moes laat los?” Ek was op die oomblik ergerlik. “Petronella!” sê ek.

      “Petroniglia!”

      Toe ek die tak lig, toe keer die konstabel. “Wag nou, oom!” sê hy en leun oor die toonbank totdat sy gesig so hoog soos hare


Скачать книгу