Moerbeibos. Dalene Matthee
sal nog anders besluit, Silas. Ek het van die beste eiers uit Italië ingevoer en al twee keer van die kokonne teruggestuur, die eerste keer twaalf, en die verslag wat ek teruggekry het, was uitstekend. Die tweede keer was my oes nie na wense nie en het hulle vir my laat weet dat ek heel moontlik die wurms verkeerd hanteer het. Ek het selfs al van Portland se eiers aan ’n kenner in Italië gestuur, ’n sekere Zappa. Sir James Hudson in Florence, dis ’n plek in Italië, het vir my as tussenganger opgetree en laat weet dat die heer Zappa baie gunstig gereageer het oor die eiers.”
Barrington het baie vername mense geken. “Die moerbeiboompie wat Mister Barrington vir Mirjam gegee het, het gevrek. Sy het mooi met hom gewerk, maar hy wou nie vat nie.”
“Eintlik het ek dit maar vir haar gegee omdat sy so graag een wou hê. Gouna se grond is nie geskik vir moerbei nie. Mrs Barrington het gesê daar is weer ’n paar rokke van Imar en Gabrielle wat jy vir Mirjam kan oorkoop. Die geld kom soos gewoonlik na my toe, moenie vergeet nie.”
“Ek sal eers weer moet heuning verkoop.”
“Ek kan dit van jou loon aftrek.”
“Dan staat ek netnou by Mister Barrington ingeboek vir skuld soos die houtkappers op die dorp by die houtkopers se winkels.”
“Jy’s ’n dom man, Silas.”
“Ja, Mister Barrington.”
Teenspoed vir Barrington se wurms het ook nie agtergebly nie; partykeer was daar meer vrekte as lewe, maar moed het hy nie opgegee nie. Elke jaar het hy gesê: “Silas, volgende jaar sal ek met die skuur begin en drie of vier Italiaanse gesinne laat kom om die boerdery te behartig.”
“Ja, Mister Barrington.”
Menige dag het dit geklink of dit nog net die sywurm-droom en ek, Silas Miggel, is wat die ou man tot troos gebly het. Dit was die dae wat hy gekla het dat hy moeg is en gesê het hy dink nie hy sal meer lank leef nie. “Veertig jaar lank sukkel ek om ’n betalende bestaan uit my grond te maak, maar alles misluk. My seuns stel nie belang nie, ek weet nie wat hulle wil doen nie.”
“Mister Barrington dryf hulle ook maar te hard,” het ek vir hom gesê. Soms het hy hom vir my geërg as ek te na aan die waarheid gepraat het, ander tye het dit gelyk of hy te op is van sukkel om nog vir my ook te staan en kwaad word.
“Ek weet nie of dit die moeite werd is om hier voort te gaan nie, Silas. Miskien moet ek maar alles verkoop en teruggaan Engeland toe en my tyd daar in vrede gaan afwag.”
“Sê nou Mister Barrington verkoop alles en kom daar oorkant aan en kry die vrede ook maar nie daar nie?” Ek het hom mooi gewaarsku. “Vrede is nie ’n ding wat jy soos ’n paar skoene kan gaat soek nie, honourable.”
Die ou man se gemoed was daardie dag baie diep gesink. “Soms wonder ek of julle stomme bosmense nie beter daaraan toe is ten spyte van al julle ellende en armoed en eenvoudigheid van gees nie. Julle leef van dag tot dag, julle enigste strewe is om genoeg te hê om te eet.”
“Mister Barrington praat nie nou reg nie,” het ek vir hom gesê. “’n Mens leef nie om te kan eet nie, of om ryk te word of arm te bly nie, om min of baie te wees nie. ’n Mens leef maar net om goed te word. Dis al.”
Ek moes dit nooit gesê het nie. Ons was die dag besig om klip te lê voor die agterdeur, Barrington het uitgemeet en ek het gepak. Hy’t die duimstok gelos en orent gekom om my met ’n half ontevrede soort verbasing aan te kyk. “Wat het jy daar gesê, Silas?”
“Mens leef om goed te word, jy’t nie ander take nie.”
“Waar kom jy daaraan?”
“Nêrens nie, Mister Barrington, ek het dit maar deur die jare self so uitgekyk.”
“En wat noem jy goed, Silas?” Dit wou al klink of hy spot.
“Goed is goed. Goed is nie sleg nie en sleg is nie goed nie.”
“As ek heeldag in die son sit, beteken dit dan dat ek besig is om goed te word?”
“Nie as Mister Barrington sit omlat Mister Barrington te lui is om te werk nie. Daarvan sal Mister Barrington nie goed word nie, net slegter. Maar ek weet mos Mister Barrington is nie ’n lui man nie.”
“Hoe goed is jý van plan om te word, Silas?”
“Mister Barrington spot nou.”
“Ek spot nie, Silas, ek stel belang om te hoor hoe jou gedagtes loop.”
“Ek word maar so stadigaan goeter en goeter. Ek woon daar oorkant op die platrand, ek en Mirjam, ek hinder geniemand nie. As ’n man by my ’n os kom leen, gee ek hom een. As Mister Barrington my laat roep, kom ek en ek werk vir iedere pennie wat Mister Barrington my aan die einde van die dag betaal. Dis Mister Barrington wat moet besluit of dit goed is om my net drie sjielings op ’n dag te gee. Elkeen moet maar op sy eie werf goed word.”
Hy was die res van die dag nors. Die volgende dag was dit weer die sywurms: “Ek word nie jonger nie, Silas, my tyd gaan verby. Al hoop wat vir my oorbly, is die syboerdery. Ek het vir ’n tweede keer skrywe gerig aan die goewerment om die belangrikheid van my eksperimente met die sy onder hulle aandag te bring en te noem dat dit vorentoe vir die hele land van ontsaglike waarde kan wees. Ek het vir ’n tweede keer voorgestel dat uitgesoekte syboere in Italië gewerf word en dat hulle vry passate moet kry tot hier. Ek is bereid om lotte van tien akker elk aan hulle beskikbaar te stel vir ’n tydperk van drie jaar. As alles goed gaan, kan ek die tydperk verleng.”
“En as dit nie goed gaan nie?” het ek gevra, maar hy het my nie antwoord gegee nie, net voortgegaan met die dromery.
“Mister Laing, die Agent vir Immigrante in die Kaap, is te vinde vir my voorstel en het reeds aan Mister Burnett in Londen, die Agent van Emigrasie vir die Kaapkolonie, geskryf en dit aan hom voorgelê. Jy sal nog sien, Silas, as die Italiane eers hier is, gaan Portland eindelik tot sy reg kom. My broer skryf vir my uit Engeland dat Italiane ook uitstekende bediendes is.”
“Ek dog hulle moet met die wurms kom boer.”
“Syboerdery is juis ’n tipe boerdery wat jou nie die volle jaar besig hou nie. Vandat die eiers uitbroei totdat die kokonne geoes is, duur maar ’n kwessie van ses weke. Dan moet die kokonne natuurlik nog verpak en weggestuur word, maar al wat daarna oorbly om te doen, is om die bome te snoei om hulle kort te hou en nuwe lote in die grond kry. Van die vroue kan Mrs Barrington in die huis help, die kinders – Italiane het altyd baie kinders – kan help vee oppas, en vir die mans sal daar oorgenoeg wees om te doen. Ek sal selfs meer hout kan laat kap in my bos.”
Nou kom White met die spul Italiane op die platrand aan en hy sê Barrington wil hulle nie hê nie? Van watter kant af wou hy dit afstry? Die Italiane was syne en klaar.
Dit was agternamiddag toe ek op Poortland aankom. Die groot, grys dubbelstorie-kliphuis het soos ’n kerk oor alles getroon en ek het agterdeur toe geloop, want Barrington se reël was: minderes klop agter. John, die oudste van sy drie seuns, het kom oopmaak.
“Middag, oom Silas.”
“Middag. Ek wil jou pa sien.”
“Mister Barrington is besig, oom sal maar ’n ander dag moet kom.”
“Loop sê vir jou pa ek is hier.” Barrington sou my nie opstry nie.
John het sy windmaker maniere uitgehaal en sy een been oor die onderdeur geswaai. “Sover as wat ek weet, het ons oom nie vir vandag laat roep nie, Mister Barrington is van plan om Hal môre te stuur om oom te roep. Daar moet in die groentetuin gewerk word.”
“Ek soek nie werk nie, ek soek jou pa.”
“Ek sê dan vir oom Mister Barrington is besig.”
“Dan wag ek tot hy klaar besig was.” Ek het my rug op hom gedraai en om die hoek van die huis gaan staan. John Barrington was ’n wind wat skaars genoeg gewaai het om ’n blaar te roer – ’n man laat waai jou nie deurmekaar van so ’n wind nie. By sy pa en by sy ma het hy nie sy maniere geleer