Ena Murray Omnibus 38. Ena Murray
Sy kan haar verskriklik gou wip, daardie vroumens.”
Laura se gesig is ernstig, so ook haar vraag: “Waaroor het julle dan gestry?”
“Ma sal my nie glo nie. Oor Maria.”
“Maria?”
“Maria Benjamin.”
Laura kan die plooi van haar mondhoeke nie meer beheer nie. “Werklik, my seun, is daar nie meer romantiese onderwerpe as jy vir ’n meisie gaan kuier nie?”
Hy roer sy tee boosaardig. “Sy het die onderwerp gekies, nie ek nie.”
“Jy begin oud raak, Emile. Jou sjarme begin jou in die steek laat.”
“Moenie Ma ook nog begin nie! Daardie …”
Sy gee hom ’n kloppie op die hand. “Ek terg maar net ’n bietjie. In alle erns nou … Waaroor het die rusie gegaan?”
Hy vertel haar kortliks en sien dat sy hom met ernstige oë aankyk. “Ja, Ma. Maria Benjamin wil ’n dokter word. En Miempie moedig haar blykbaar aan. Sý sê Maria kan ’n dokter word; sy het die intelligensie. Die enigste probleempie is fondse. Maar selfs daarmee het sy ook raad. Sy glo aan wonderwerke: dáárdie soort wat geld uit die hemel op Maria sal laat neerreën. En as dít nie gebeur nie, dan is daar nog ’n deur oop: Maria se wit pa sal dalk die nodige kan voorskiet.”
“Wat?” Daar is nie ’n greintjie geamuseerdheid in Laura de Jongh oor nie.
Hy knik. “Ja. Ek was ook net so geskok toe sy met hierdie wilde bewering vorendag kom. Daardie meisiekind gaan nog oor laster in die hof beland.”
“Waar kom sy aan dié storie?”
“Afleidings. Soos Maria se steil hare en Martha se houding. En dan natuurlik haar onfeilbare instink. Veral instink vertel haar Maria het ’n wit pa gehad. Sy weet nie wie hy is nie, maar sy glo hy is wit.” Toe hy opkyk, kyk hy teen sy ma se neergeslane ooglede vas. “Weet Ma iets van Martha se geskiedenis voordat sy met Klaas getroud is en La Rhône toe gekom het? Waar het sy vandaan gekom?”
“Sover ek kan onthou van Baardskeerderspoort af. Haar mense het daar gebly, by die Bredenkamps.”
“En sy het Maria reeds gehad voordat sy met Klaas getroud is. Hy is dus nie haar pa nie.”
“Ja.” Daar is kommer in haar oë toe sy eindelik opkyk. “Ek het nooit probeer vasstel wie Maria se pa was nie. Ag, jy weet mos. Sy was ’n voorkind, soos hulle dit in daardie dae genoem het, en dit is niks snaaks nie. Niemand lig eintlik ’n wenkbrou daaroor nie. Dit is ’n algemene verskynsel. Wil … wil Miempie nou probeer vasstel wie Maria se pa was?”
“Sy het dit nie so direk gesê nie, maar ek is seker sy gaan probeer. Martha is natuurlik die enigste een wat werklik weet, maar Martha wil nie praat nie, anders sou Miempie al geweet het wat sy naam is en hom al sweerlik bygedam het.”
“Miempie moet hierdie ding liewer met rus laat.”
“Ek het ook vir haar so gesê, maar sy sal nie. Nie sý nie. Ma het Ma darem lelik met haar misgis.”
“Wat bedoel jy?”
“Ek aanvaar sy is ’n goeie mens, maar … wat die res betref, is sy ’n koppige vuurvreter … en Ma wil tog nie só ’n rebelse skoondogter hê nie, wil Ma?”
Sy ma glimlag. “Miskien het jy juis ’n parmantige vrou nodig.”
Hy staan op. “Dan bly ek maar liewer ’n oujongkêrel. Nag, Ma.”
“Nag, my seun.” Maar toe hy uit is, sit Laura nog lank en peins en daar is kommer in haar oë … en dis nie kommer oor die moontlikheid dat haar jongste seun nooit sal trou nie.
Maandagoggend, terwyl sy met die dokter reël vir die tuberkulosetoetse wat op Grootfontein se werkers uitgevoer moet word, neem Miempie haar kans waar om ook oor ander belangrike dinge uit te vra.
“Dokter, kan jy my sê wat dit vandag kos om medies te loop?”
“’n Absolute fortuin. Hoekom wil jy weet?”
“Ek vind sommer vir iemand anders uit. Kan jy my ’n benaderde bedrag gee?” wil sy met ’n sinkende hart weet.
“Ag, as die student by ’n koshuis inwoon, seker maklik meer as honderdduisend rand.”
Haar asem is byna weg. “Per jaar?”
“Ja. Daar is ook beurse en studielenings teen ’n lae rentekoers beskikbaar. Natuurlik eindig die student vol skuld wanneer hy uiteindelik klaar is. Dis ’n lang kursus – ses akademiese jaar, gevolg deur ’n internskap van twee jaar en een jaar gemeenskapsdiens … in hierdie stadium. Want deesdae verander alles maar voortdurend. En dan kerm die mense nog oor die hoë dokterstariewe,” brom hy agterna. “O ja, die student moet eers aansoek doen vir die kursus. Die keuring is baie streng en dis dikwels net die toppresteerders wat die paal haal.”
“Dankie, dokter. Ek sal die universiteit skakel en meer besonderhede oor toelatingsvereistes kry.”
Haar navrae bevestig dokter Geertsema se inligting en al haar vrese. Sy moet tot die gevolgtrekking kom dat Maria se droom net ’n droom sal bly. Maria sal dit moet aanvaar … en sy ook. Sy het hierdie droom reeds te ver laat gaan, ook in haar eie hart. Geen wonder Emile de Jongh dink sy is besete nie. Die verpletterende syfers voor haar skok haar tot die nugtere besef: Emile de Jongh het reg. Daar staan ander deure vir Maria oop. Sy kan ’n verpleegster word …
Tog, toe sy die stuk papier opvou waarop al die vereistes en die skrikwekkende bedrae geld aangeteken is, skiet dit onwillekeurig weer deur haar: As ek net kan vasstel wie Maria se pa is … Miskien kan hy help … Wie weet …
Maandag is ook ’n deurmekaar dag vir Emile, hoewel dit glad nie blou begin nie. Invaltyd is almal daar, gereed vir die dag se werk. Nee, alles verloop glad, en tog loop die jong baas van La Rhône met ’n frons rond, en as iemand hom sou vra of iets skort, sou hy dit heftig ontken. Maar iets krap beslis aan hom.
Hy hou vandag sy werkers met meer aandag dop. Hy betrap homself dat hy na ’n gesig kyk en homself afvra wat agter daardie stoïsynse uitdrukking skuil. Nie dat sy mense nie gemoedelik gesels terwyl hulle werk nie. Maar in die stil oomblikke sien hy dat die gesigte niks verraai van wat binnekant aangaan nie. Soos Klaas Benjamin op die oomblik …
Hy stap nader na waar die man aan ’n draadheining tussen die boorde en die gesaaides werk. Hy soek ’n aanknopingspunt – iets vreemds vir hom. Ander dae sal hy kyk wat al gedoen is, miskien raad gee of vra wanneer die werk klaar sal wees, en dan wegstap. Maar vandag weet hy skielik nie wat om te sê toe hy by Klaas kom nie. Hy kan sien die man weet wat hy doen, dat hy dit goed doen en dat hy werk om klaar te kry. Tog stap hy nie weer weg soos ander dae nie.
Hy hurk langs hom, vra onnodig: “Het jy alles hier wat jy nodig het?”
“Ja, meneer.”
Weer onnodig: “Wanneer sal jy klaar wees?”
“Ek is amper klaar, meneer,” kom dit beleef.
Klaas, die werker, ken hy. Hy is ’n goeie werker. Klaas, die drinker, ken hy ook. As hy dronk is, slaan hy soms vir Martha en dan gee dit maar ’n taamlike herrie af. Maar dis nie al Klaas wat daar is nie. Daar is nie net ’n plaaswerker en soms ’n drinker in hom nie. Daar moet iets meer wees. Waaroor dink hy as hy so staan en werk? Wat gaan deur sy gedagtes wanneer hy ure lank op die trekker sit? Wat dink hy wanneer hy vanaand by die huis kom? Koester hy dalk ook drome? Wens hy dalk ook dat ’n wonderwerk sal gebeur?
Emile kom weer orent. “As jy hier klaar is, wil ek hê jy moet vir my die skaap uit die kampie haal en in die oorkantste land jaag, asseblief.”
“Dis goed, meneer.”
Hy praat byna hardop met homself toe hy wegstap. Deksels, dis waar! Hy ken nie sy mense nie! Klaas moet nou al goed twintig jaar hier werk. Hy het as ’n jong man na La Rhône gekom, later met Martha getrou.