Ena Murray Omnibus 38. Ena Murray
het na jou gesoek. Jy moet haar terugbel.”
“Waaroor?” wil hy fronsend weet.
“Nee, hoe sal ek nou weet, Emile? Ek vra nie jou meisies uit nie.”
Hy dink nie dis snaaks nie. “Ma praat altyd asof ek ’n dosyn of twee gelyk op sleeptou het.”
“Het jy nie?”
“Ma!”
“Liewe land, Emile, ek terg jou net ’n bietjie! Jy het darem skielik baie knorrig geword.”
Hy kyk weg. “Ja, maar ek is besig. Ek het nie nou tyd vir Susan se praatjies nie.”
Sy ma kyk hom verlig agterna, dankbaar om te hoor Susan Kruger kwalifiseer blykbaar nie. Al is sy die bankbestuurder se dogter, sy bly ’n dramastudent met ambisie en drome om haar stempel glansryk in toneelkringe af te druk … die mees onvanpaste potensiële aspirant vir die pos van boervrou op La Rhône. Sy stap sing-sing kombuis toe. Die pad is nog oop vir Miempie, die liewe kind.
Dié “liewe kind” is al weer besig met iets waarteen haar gesonde verstand haar dringend waarsku, maar soos sy nou maar aanmekaargeslaan is, reageer sy liewer op haar instink as op haar beterwete. Daardie middag ná werk klim sy in haar motortjie en in haar gedagtes hoor sy baie duidelik hoe sy weer daarvan beskuldig word dat sy haar bemoeisieke neus in ander mense se sake steek. Maar sy hou nietemin koers, hou later voor een van die identiese huisies in die woonbuurt stil. Vra is vry. Sy doen mos niks verkeerds deur net met die ou mense te gesels nie.
Die twee oues is verbaas én bly om haar weer te sien. Miempie het hulle nog op die plaas besoek voordat hulle dorp toe verhuis het, maar hulle onthou haar vriendelikheid en besorgdheid en sy word gul binnegenooi. Haar vlugtige blik vertel haar dat daar by húlle geen verval was weens moeiliker finansiële omstandighede nie. Alles om haar is kraaknet. Ook op hul persoon kan haar kritiese oog geen fout vind nie. Hoewel baie afgetrap, blink die ou man se skoene en is die broek netjies gepars en die hemp wat by die nek begin skif, is kraakwit. Ook sy vrou kan deur ’n ring getrek word, al is haar voorskoot heeltemal uitgebleik.
Vinnig word ’n hand oor ’n houtstoel gevee. “Wil suster nie sit nie?”
“Dankie, ouma Ragel.” Sy gaan sit, kyk in die waterige ou oë. “Dis goed om julle weer te sien. Hoe gaan dit?”
Daar word land en sand gesels, en Miempie hoor dat Manie elke week rantsoene bring – groente en melk en ’n stukkie vleis en soms selfs eiers ook. Daardie Manie Bredenkamp laat haar hart warm klop. As daar maar meer Manies op die ou aarde was …
Versigtig begin sy die gesprek in die rigting stuur waarin sy dit wil hê. “Julle word baie op Baardskeerderspoort gemis, hoor?”
Die ou vrou sug. “Ja. Maar Piet en Sanna is mos daar om dinge reg te hou. Maar hulle is ook al gedaan, nè?”
“Ja. Oupa Piet se hart maak nou dat hy meestal maar lê en ouma Sanna se bene gee ook maar in.”
“Ag, ja, die ouderdom,” sug oupa Jafta.
“Meneer Manie vertel ons so,” knik ouma Ragel. “Maar hy sê hulle gaan op die plaas bly, kan selfs daar begrawe word. Hy wou hoor of ons nie wil terugtrek plaas toe nie. Maar, ai, ons is nou hier, dis tog ’n te groot werklikheid die trekkery. Ons sien nie weer daarvoor kans nie. Ons sal maar hier bly. Noudat meneer Manie ons so te hulp kom met die ekstratjies, kom ons darem makliker deur. Dis net die medisyne wat so baie geld opvreet elke maand.”
“Maar dis nie nodig dat julle so baie aan medisyne bestee nie, ouma Ragel. Daarvoor het ons die kliniek. En die dokter.”
“Ja, ek weet, suster, maar dis maar moeilik om by dié plekke uit te kom. Ons moet met ’n taxi gaan en dit vreet geld. En dan is die ou liggaamskragte ook nie altyd só dat jy kans sien om tot daar te kom nie. Dié dat ek maar sorg dat daar altyd ’n bietjie winkelmedisyne in my trommeltjie is. Trek maar boegoe en smeer balsemkopiva en gebruik maar witdulsies en borsdruppels en so aan.”
Miempie verstaan. Al die jare dokter hulle maar eers met die Hollandse botteltjies voordat daar dokter toe gegaan word. Sy wonder soms of die geloof in daardie botteltjies nie die eintlike kuur is nie eerder as die inhoud daarvan.
“Wanneer laas het suster vir Martha-hulle gesien?” vra oupa Jafta die vraag waarop Miempie gehoop het.
“Onlangs. Dit gaan goed met hulle. Maar ek sukkel ’n bietjie met Martha.” Sy sien die vinnige opslaan van die oë, die kommer van ’n ouerhart daarin. Haar gemoed vul met deernis. Jou kind bly maar kind vir jou, al is sy al self ’n ma met groot kinders. In die verre verlede het hierdie kind hulle seker ook maar baie kommer gebaar.
“Wat is dit dan met haar, suster?” wil ouma Ragel dadelik weet.
“Die probleem lê blykbaar nie by haar nie, maar by Klaas. Hy wil nie hê sy moet weer die inspuiting neem nie. Hy wil hê sy moet weer verwagtend raak.”
Oupa Jafta skud sy kop. “Ek weet nie wat makeer die man nie. In ons dae was daar nie al hierdie goed wat kon keer dat ons nie so baie kinders het nie. Maar met vandag se duur lewe …”
“Sal oupa nie probeer om met Klaas praat nie?”
“Ek sal hom sê, suster, nes ek hom weer sien. Martha het genoeg kinders in die lewe gebring. Een te veel.”
Sy weet onmiddellik na watter een verwys word, maar Miempie hou haar ongeërg. Hulle is nou by die onderwerp waaroor sy wil praat.
“Ja, ek voel ook sy het haar deel gedoen. Sy was ook maar jonk toe sy vir Maria gekry het, nie waar nie?”
“Maar sewentien, suster. Al ons gepreek het niks gehelp nie. Toe sy in die moeilikheid beland, toe hol sy terug huis toe … soos dit maar altyd gaan,” sug ouma Ragel.
“Hoe bedoel ouma dan nou? Het sy nie op Baardskeerderspoort in die moeilikheid beland nie?”
“Nee. Dit was op Grootfontein.”
“By die Vissers? Wat het sy daar gedoen? Daar gewerk?”
“Ja. In die kantoor.”
Miempie is verward. “Watse kantoor?”
“Meneer Visser se kantoor. Hy het so ’n plek gehad daar langs die skuur waar ’n telefoon en al sy papiere en ander plaasbesigheid was.”
Miempie se wenkbroue lig. “En wat het Martha daar gedoen?”
“Sy was ’n soort sekretaresse vir hom, het ek afgelei.”
“O?”
“Ja, sien, sy was ’n slim kind. Sy het graad nege gemaak. Kon lees en skryf en die foon beantwoord. Martha het gesê meneer Visser het nie tyd om die foon te sit en oppas nie. Martha moes al die navrae hanteer, boodskappe neem en sulke goed. As die mense van die stasie laat weet daar het goed vir die plaas aangekom, moes sy ’n lorrie reël om dit te gaan haal. Martha het graag vertel meneer Visser sê altyd hy kan nie sonder haar boer nie. Sy was goed in die kantoor en hy kon al sy aandag aan die boerdery gee.”
“Ek sien. Het sy lank daar gewerk?”
“Nie só lank nie. So ’n jaar, of dalkies bietjie langer.”
“En toe beland sy in die moeilikheid …”
“Ja. Op ’n dag het sy sak en pak met al haar grênd klere by die huis aangekom en ons moes hoor sy werk nie meer by meneer Visser nie.”
“Het hy haar weggejaag?”
“Martha wou niks sê nie. Ons weet nie of sy weggejaag is en of sy self geloop het nie. Ek was jammer daaroor. Martha het goed geld verdien. Maar toe kom sit sy by ons en verseg om iets te doen terwyl sy vir die kind gewag het. Nie eers met al haar pa se belowe kon ons haar dwing nie. Sy het net gesê sy werk nie weer vir ’n wit man nie. En so het sy bly sit tot sy later met Klaas vort is La Rhône toe.”
Miempie besef dat Martha haar woord gestand gedoen het. Vandag nog werk sy nie vir ’n wit man nie. Sy sal na die ander vrouens se