Ena Murray Omnibus 38. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 38 - Ena Murray


Скачать книгу
nie. Tot vandag toe weet ons nie wie Maria se pa is nie. Sy het ’n staatstoelaag gekry totdat Klaas haar gevat het. Toe het dit opgehou.”

      Toe sy afskeid neem van die twee ou mense, gee sy vir ouma Ragel ’n nuwe paar skoene en ’n paar sokkies, en ’n nuwe hemp en broek vir oupa Jafta. Dis items waarvoor daar seker nie meer geld in hierdie huisie is nie. Dit word met groot dankbaarheid ontvang.

      Haar motor verdwyn om die hoek en ouma Ragel sê heel ernstig: “Ou man, sal dit darem nie gaaf wees as ons meneer Manie met hierdie sustertjie trou nie?”

      Oupa Jafta gee ’n amper tandelose glimlag. “Ja, Ragel. Sal dit nie gaaf wees nie!”

      Maar meneer Manie is besig om planne te maak wat niks met ’n trouery te doen het nie. Toe die drie mans hulle ná aandete terugtrek in die sitkamer op La Rhône, lê hy voor­lopige planne en voorstelle op die tafel.

      Oom Giel de Jongh kyk stil na sy seun en sê: “Praat julle twee maar. Ek sal luister.”

      Manie val sommer geesdriftig weg. “Die eerste ding wat ek op my agenda geplaas het, is pensioenskemas vir al my werkers. Daar is ’n dringende behoefte daaraan. Dit het maar onlangs onder my aandag gekom.”

      “Hoe so?” wil Emile weet.

      “Miempie Rust het dit onder my aandag gebring.”

      Al weer Miempie … Is daar êrens ’n plek waar sy nie snuffel nie? Tog is daar opregte belangstelling in sy stem toe Emile vra: “Laat ons hoor.”

      Manie vertel wat met Ragel en Jafta gebeur het en in watter situasie hulle hulle nou bevind. “Ek voel dis nie reg nie. Daardie mense het hul lewe lank hard gewerk. Om aangewese te wees op staatshulp wanneer jy die dag oud is, is nie regverdig nie. Nie teenoor die staat nie en ook nie teenoor húlle nie. Daardie mense het vir óns gewerk, nie vir die staat nie. En skielik breek die dag aan dat hulle nie meer kan werk nie. Oornag het hulle geen salaris meer nie en ook niks om op terug te val nie. Alle ander sektore sorg vir pensioenfondse vir hul werkers. Trouens, dis so te sê verpligtend dat jy aan ’n pensioenskema moet behoort wanneer jy by watter onderneming ook al inval. Hoekom nie ons plaaswerkers ook nie?”

      “Maar gaan hulle te vinde wees dat daar maandeliks of weekliks van hul geld teruggehou word? Hulle ken dit nie.”

      “Hulle sal dit aanvaar as dit aan hulle verduidelik word. En, soos met elke ander pensioenskema, sal die werkgewer ook ’n gedeelte, in ons geval moontlik die grootste gedeelte, moet bydra. Maar ek dink dis ’n moet. Dit sal ook menseverhoudinge bevorder. Wanneer hulle hoor hul werkgewers gee om vir hulle, en as hulle besef wat eendag van hulle gaan word as hulle sonder pensioen sit, dink ek nie ons gaan teenkanting kry nie. Hoe voel oom Giel hieroor?”

      “Dit klink vir my na ’n goeie ding, Manie. Maar dis julle jong manne wat hieroor moet besluit.”

      Manie gaan voort. “Ek het ’n lys name opgestel van boere wat ek so gou moontlik gaan nader in verband met die stigting van ’n gemeenskapsontwikkelingsvereniging.”

      Emile neem die lys en laat sy blik daaroor dwaal, trek sy wenkbroue op. “Wilhelm Visser?”

      “Ek het sy naam maar by die lys ingesluit en sal hom nie oorslaan nie, maar ek weet hy sal nie te vinde wees nie. Daar is nog ’n paar name waaraan ek sterk twyfel, en ’n paar grensgevalle. Maar ek gaan almal nader. Het jy aan iets gedink waarmee ons ’n begin kan maak?”

      “Ja. Ons dink-doen-verhouding moet verander. Op die oomblik gee die een bevele en die ander moet dit uitvoer. Ek wil dit liewer omskep tot ’n span wat saamdink en saamdoen. Die werkers moet meer insae en seggenskap in die boerdery kry. Meer ruimte sodat elke man tot sy volle potensiaal ontwikkel en benut word.

      “Pa, ek wil hê dat ons Vrydagmiddae ’n algemene vergadering hou waar die afgelope week se probleme bespreek kan word en elkeen die reg het om op te staan en voorstelle te doen hoe dit opgelos kan word. Dan moet die volgende week se program bespreek word en weer moet almal die reg hê om daarteen beswaar te maak en sy redes te verskaf, of met produktiewe voorstelle vorendag te kom. Dan kan ons besluite neem. Hierdie Maandagoggende se gesê van jy doen dit, jy doen dat en niemand het ’n tydrooster vir die week sodat hy weet wat om te verwag en waarop hy hom moet voorberei nie, is verkeerd. As hulle Maandagoggend begin werk, moet elke man reeds weet wat van hom verwag word en met sy werk begin.”

      Manie knik goedkeurend. “Dit klink sommer bak, Emile. Dit gaan jou verantwoordelikheid en jou toesighouding ook baie verminder. Jy hoef nie heeldag rond te hardloop om te kyk of dit of dat gedoen is nie.”

      “Presies. Ek gaan dit nóg makliker maak. Ek het gedink om voormanne aan te stel oor elke afdeling van die boerdery. ’n Voorman wat aan my verantwoordelik is en wat moet toesien dat alles vlot verloop in sy afdeling. Ek maak Stoffel byvoorbeeld voorman by die vee. As ’n bees siek is, moet dit eerste vir hom gesê word. Hy moet sy diagnose aan my kom gee en sê of ons die dier hier kan behandel en of die veearts moet kom. Klaas kan ek voorman maak oor die masjinerie en werktuie, want hy is meganies aangelê. As ’n trekker breek, moet hulle dit vir hom gaan sê, hy moet ondersoek instel en wanneer hy by my kom, moet hy my kan sê hoekom die trekker gebreek het, wat stukkend is en of ons dit hier kan herstel of eerder garage toe moet vat. As ons die mense meer verantwoordelikheid gee, meer onafhanklikheid in hul werk, sal hulle ’n werktrots ontwikkel wat net vir almal tot voordeel kan wees. Ook vir die boerdery self. Kom ons gee ons mense meer ruimte.” Hy betrap sy pa se peinsende blik op hom. “Wat dink Pa?”

      Die ouer man antwoord versigtig. “Dit klink baie … interessant. Of dit in die praktyk gaan werk, sal net die tyd leer.”

      “Maar het ek Pa se toestemming om dit uit te toets?”

      Giel de Jongh staan op. “Jy het geen toestemming van my nodig nie, my seun. Dis jou boerdery.”

      “Maar, Pa …”

      “Nee, ek het van vanaand af geen seggenskap meer nie. Ons twee sal later verder oor die saak gesels en tot ’n vergelyk kom. Maar wat die boerdery betref, moet jy maak soos jy goeddink.”

      Emile staan stadig op, kyk sy pa vierkant in die oë. “Bedoel Pa dit?”

      Sy pa glimlag. “Natuurlik bedoel ek dit. Ek sal van die kantlyn af dophou om te sien of alles uitwerk en of jy droogmaak. Jou ma wil al lankal by die see gaan aftree. Ek dink dis nou tyd. Nag, Manie.”

      “Maar Pa kan nie nou al gaan slaap nie! Daar is nog baie ander goed wat bespreek moet word. Ek het byvoorbeeld daaraan gedink dat ons moet wegdoen met die bonus aan die einde van die jaar en hulle liewer ’n persentasie van die wins moet gee. Hoe groter die wins, hoe groter is hul aandeel. Dit sal entoesiasme en verantwoordelikheidsin kweek en ook doelgerigtheid in hul werk bring. Want dan werk hulle nie net vir die baas nie. Hulle werk vir hul eie sak ook.”

      “Maggies, Emile, maar ek hou hiervan. Ek dink dis ’n puik idee! En die een gaan die ander dophou en as een laat slap lê, gaan hy daarvan hoor.”

      “Presies.”

      “Kom ons bespreek hierdie ding in meer detail,” laat Manie opgewonde hoor.

      Oom Giel kyk hulle glimlaggend vanuit die deur aan, stap dan kombuis toe.

      “Waar draai jy so lank?” wil hy gemoedelik by sy vrou weet.

      “Ek sit net die teegoedjies reg vir later vanaand. Waaroor gesels julle so opgewonde daar binne?”

      “Ag, oor dit en dat, die boerdery. Los maar die teegoed. Daardie twee sal nie vanaand aan tee dink nie en ek en jy kan maar gaan slaap.”

      “Dis mos nog vroeg, ou man.”

      Hy glimlag, sit sy arm om haar skouers. “Maar ek weet ek sal dadelik aan die slaap raak en soos ’n klip slaap.”

      Sy vrou kyk hom vraend aan.

      “Vir die eerste keer is ek daarvan oortuig ek kan La Rhône maar met ’n geruste hart aan Emile oordra. ’n Man wat soos daardie seun van ons kan dink, sal ook dink as hy die dag vrou vat.” Hy kyk teen haar stralende gesig vas. “En jy, my


Скачать книгу