Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan
beoog jy met haar?”
Die graaf haal sy skouers liggies op.
“As ek kan, wil ek haar haar vryheid gee, maar …” Hy swyg ’n oomblik en sê dan: “Jy moet besef dat sy ’n ontsaglike agterstand het. Sy het geen benul van hoe die beskawing inmekaarsteek nie. Op die oomblik is dit nog vir haar iets wat haar bedreig, en sy wil dit met geweld regstel.”
“Ek hoop ek kry haar weer te sien,” sê Etienne en die graaf kyk vinnig na hom.
“Sy is nie te koop nie.”
“Liewe land! Wie het van koop gepraat?”
De la Fontaine se blik rus ondersoekend op sy jong vriend. De Ville is nie van die adel nie. ’n Mens kan hom nie eens onder die rykes tel nie, maar hy hou van Etienne. Teen hierdie tyd is die gravin ook al gewoond aan Jacques se ongewone vriende en sy het Etienne sonder meer aanvaar.
Vir Etienne is dit beslis nie eienaardig om in ’n slavin belang te stel nie. Hy kom uit ’n arm huis en sy voorgeslagte was ook niks beter as knegte nie. Hy het na die Kaap gekom om te kyk of hý nie iets met sy lewe kan aanvang nie. Enigiets is vir Etienne beter as om kneg te wees.
Beatrice kuier weer die volgende dag op La Liberté. Sy wil verhoed dat Jacques te lank oor hul rusie nadink en dalk besluit dat hy haar nie meer wil hê nie.
Etienne se teenwoordigheid krap haar om. Sy hou nie van mense wat nie uit die adel stam nie, en sy kan dit nie verhelp om Jacques dit te verkwalik dat hy met Etienne bevriend is nie. Vies en geïrriteerd laat sy ’n perd vir haar opsaal om ’n ent te gaan ry.
Sy kies die paadjie teen die berg op juis omdat De la Fontaine haar daarteen gewaarsku het. Nie vir een oomblik dink sy daaraan dat dit kinderagtige moedswilligheid is nie. Sy wil net reaksie by die graaf ontlok omdat hy haar so te sê geïgnoreer het toe sy by hom en Etienne de Ville aangesluit het.
Bako kyk bekommerd na die jong meisie wat te perd al met die smal pad na die kranse ry.
“Sy ken nie daardie paadjie nie,” sê hy aan Leia wat die rigting van sy blik volg. “Daar is uiters gevaarlike plekke waar die gewig van die perd haar oor die afgrond kan trek.”
Leia haal haar skouers op. “Waaroor bekommer jy jou? Sy weet mos dat dit gevaarlik is.”
“Vroumense dink nie voordat hulle ’n onbesonne ding aanvang nie,” sê Bako en haak die mandjie van sy skouers af. “Ek gaan soontoe.”
Sy frons. “Los haar tog uit, Bako.”
Hy antwoord nie, maar draf vinnig weg in die rigting van die bergpad.
Leia staar hom ingedagte agterna. Hoekom los Bako haar nie? Dit sal Beatrice se verdiende loon wees as sy teen die kranse afstort.
Bako is al ’n hele ent op met die smal paadjie toe hy na Beatrice roep. Sy kyk om, ruk haar skouers reguit en spoor haar perd aan om vinniger te stap.
Die swart slaaf byt op sy tande. Haar koppigheid gaan haar dood kos. Daar is nie veel wat hy kan doen behalwe om haar te probeer oorreed om terug te draai nie. Hy begin weer klim, maar vorder nie vinnig nie. Hy is nie meer baie jonk nie, en die bergpad is taamlik steil.
Skielik hoor hy Beatrice gil en klippe rol teen die skuinste af. Hy ruk sy kop op. Die meisie se perd runnik beangs en steier agteruit na die rand van die afgrond.
Bako bly asof versteen staan. Hy sien hoe die perd se agterpote vastrapplek soek, hoe die klippe en grond onder sy hoewe losraak. Paniekbevange beur die dier vorentoe na die smal paadjie.
Beatrice gil toe sy besef wat besig is om te gebeur. Sy spoor die perd aan om harder vorentoe te beur. Sy besef maar te goed dat, as sy nou uit die saal gly, sy ook oor die afgrond kan stort.
Ver daarvandaan staan Leia en kyk wat teen die hang van die berg gebeur. Haar koue onverskilligheid maak nou ook plek vir kommer. Vinnig haak sy die mandjie van haar skouers af en hardloop na die bergpad. Nie sy óf Bako kan meer help nie, maar sy dink nie daaraan nie. Sy haat die vrou, maar sy wil haar ook nie in soveel angs sien sterf nie.
Bako wil haar terughou toe sy hom bereik, maar sy ruk los en hardloop met hygende asem teen die pad op. Namate sy begin moeg word, is dit asof die helling steiler begin word, en sy moet haar pas verslap.
Beatrice huil van angs. Die perd staan nou doodstil, te bang om te beweeg. Sy agterpote druk half oor die afgrond in die sagte grond weg wat enige oomblik onder hom kan padgee. Die oomblik toe sy haar been oor die dier se rug lig om af te klim, verloor die perd sy balans en hy beland runnikend op sy maag.
Leia bereik hulle uitasem.
“Klim af,” beveel sy die meisie bars. “Jy maak dit vir hom moeiliker om uit te kom.”
“Ek het nie jou raad gevra nie!” gil Beatrice woedend en beangs.
“Klim af!” gil Leia terug. “Jy het gedink jy is dapper toe jy te perd hierheen gekom het en nou sit jy en tjank soos ’n baba.”
“Ek kan nie afklim nie! Ek sal hier afstort.”
Leia huiwer. Sy weet dat die meisie gelyk het en met stywe lippe steek sy haar hand na Beatrice uit.
“Klim nou af. Ek sal jou help.”
Beatrice aarsel. Sy besef egter dat dit haar enigste kans is en teësinnig steek sy haar hand na die slavin uit. Dan klim sy versigtig van die perd se rug af. ’n Los klip rol onder haar weg en sy gil skerp. Leia laat egter nie haar hand los nie en trek die meisie stadig weg van die afgrond.
Eindelik staan Beatrice weer op vaste aarde. Sy bewe soos ’n riet toe sy eenkant gaan staan.
Leia neem die leisels van die perd in haar hande en beweeg na die vaste paadjie se kant. Sy praat sag met die dier terwyl sy hom aanspoor om weer te probeer uitkom.
Sy oë rol wild in sy kop van vrees, maar hy probeer tog gehoorsaam. Twee keer gly hy terug terwyl klippe en grond na benede stort en dan trap hy skielik vas. Beangs beur hy vorentoe. Nog klippe stort af, maar sy pote het vasskopplek gevind. Voetjie vir voetjie lei en paai Leia hom totdat hy eindelik met al vier bene op vaste grond is.
Beatrice vee haar hare uit haar oë. Sy het reeds van die skok herstel en wil so gou moontlik padgee.
“Gee die perd vir my.”
Leia draai om na haar. “Jy sal hom na die stal toe moet teruglei.”
“Ek het op sy rug hier gekom en gaan op sy rug terug!”
Leia byt op haar tande. “Jy leer moeilik, nè?”
Beatrice kyk woedend na haar. “Jy is nie in ’n posisie om my te beveel nie!” sê sy skerp. “Moenie vergeet dat jy net ’n slavin is nie.”
Leia se oë verdonker. “Ek moes jou liewer gelos het dat jy jou te pletter val,” sê sy stadig. “Dit sou jou verdiende loon gewees het.”
Beatrice gooi die teuels van die perd oor sy kop en steek haar voet in die stiebeuel.
“Ek het nie nodig om jou te bedank vir wat jy gedoen het nie. Dit was bloot jou plig.” Sy klim op die perd en vat die teuels vaster.
Leia staan effens terug sodat sy kan verbykom. “Volgende keer sal ek dit prettig vind om te sien hoe jy jou nek breek.”
Beatrice se mondhoeke krul op. “Daardie genoegdoening sal jy nooit smaak nie. Dis nog altyd ek wat die hef in die hand het!” Sy kap haar hakke geniepsig in die perd se lieste.
“Moenie so seker van jouself wees nie!” roep Leia haar agterna.
Beatrice jaag die steeds bevreesde perd aan om vinnig die skuinste af te galop. Sy kyk nie eens op toe sy Bako voor haar in die smal pad sien nie.
Met ’n verskrikte uitroep spring Bako eenkant toe. Die perd se hoewe mis hom met ’n paar duim en hy bly geskok langs die paadjie lê. Hy kyk ’n lang ruk na Beatrice wat soos ’n besetene met die perd voortjaag voordat hy stram orent kom.