Kristel Loots-omnibus 1. Kristel Loots
met Amore praat. Dis ’n diep stem, ’n basstem, die stem van ’n man wie se woord wet is.
“Het jy vir mevrou Bekker gereël vir ’n angiogram Maandag?” wil hy weet.
“Ja, dokter,” reageer Amore gedwee.
“En bevestiging gekry dat die teater beskikbaar sal wees?”
“Nee, dokter. Nog nie.”
“Nou doen dit dan asseblief so gou moontlik.”
“Goed, dokter.”
Aarde tog, al wat nou nog nodig is, is dat Amore Watsenaam met daardie logge liggaam van haar opstaan en ’n kniebuiging voor die man maak, dink Jenna.
Sy kyk van die vorm af op om te sien hoe lyk die wese wat so ’n uitwerking op sy ontvangsdame het.
Mmm, dan is dít nou die befaamde dokter De Wet. Sjoe, waar bevind ek my? In die land van die reuse? wonder sy toe sy die man se imposante gestalte waarneem. Hierdie man met sy donker hare en koninklike profiel hét heel moontlik Italiaanse bloed van sy voorsate geërf, maar hy leef beslis nie op ’n paar verlepte slaaiblare, afgeroomde melk en ’n huisie knoffel nie. ’n Saul-gestalte wat kop en skouers bo die gemiddelde man sal uitstaan. En so gepraat van skouers ... dié man se skof sal ’n paar sakke koring kan dra. Hy sal ’n vrou ook oor sy skouer kan gooi om haar slaapkamer toe te dra, kom maak ’n onwelkome gedagte nes in haar.
Jenna skud haar kop. Sy verstaan nie die rou emosies en verspotte fantasieë wat deesdae so uit die bloute by haar opkom nie. Sy behoort so hatig teenoor mans te wees dat sy die spesie in sy geheel wil verdelg. En sy ís ook! Maar die geheime begeertes van enige warmbloedige vrou kom foeter tog van tyd tot tyd in haar gedagtes.
Toe die dokter weer in die binnekamers verdwyn om te doen wat hy ook al daar met sy pasiënte doen, gaan gee sy die vorm vir Amore. Hierdie keer kies sy ’n ander stoel om op te sit sodat sy die res van die wagtende mense om haar kan bekyk.
Nes sy gedink het. ’n Paar oues van dae wat seker pille by die hand vol moet sluk om hul harte aan die klop te hou, ’n taamlik verpiepte vroutjie met vrees in haar oë en ’n hygende man met ’n pens wat op sy knieë hang en wat senuagtig voel-voel na die pakkie sigarette in sy bosak.
Ek weet hoe voel hy, ek weet ook hoe voel die vreesbevange vroutjie, dink Jenna. Ek wil ook nie hier wees nie. Ek kan nie dink dat daar regtig fout is met my hart nie, maar die twyfel is altyd daar. Sit soos die duiwel self op jou skouer en fluister allerhande bangmaakgoed in jou oor. Steel die stukkie lewensvreugde waaraan jy nog probeer vasklou om te sorg dat jy nie aldag met ’n dikbek rondloop nie.
Daar is selletjies in die hart wat in voorkoms en werking ooreenstem met breinselle, het sy iewers gelees. Daarom kan die hart nooit net as ’n pomp beskou word nie. Elke emosie, elke gevoel wat by jou opkom, het ’n direkte invloed op die hart. Sy weet nie hoe wetenskaplik hierdie waarnemings is nie, maar sy weet wat sy aan eie lyf voel. Sy weet van die bokspronge wat haar hart kan maak, sy ken die gevoel wanneer haar hart met haar wil weghardloop, en bowenal weet sy hoe voel ’n hart wat deur die wrede voete van ’n man vertrap is.
Die hygende man word volgende ingeroep, en ook vir hom moet daar ’n angiogram gereël word. Maar toe dokter De Wet selfs die verpiepte vroutjie vir ’n angiogram stuur, begin Jenna ongemaklik rondskuif. Wat het ons hier? wonder sy. ’n Worsmasjien? ’n Maklike manier van geldmaak? So ’n angiogram bring seker ’n hele paar duisend rand in vir ’n hospitaal, en die doktertjie se sak bult heel moontlik ook wanneer hy daar wegstap.
Enigiemand met ore aan die kop kan hoor dat daar groot fout is met die sigaretroker. Geen hart kan klopdisselboom werk teen ’n oormag soos daardie nie. Maar die maer vroutjie wat lyk of sy uit ’n konsentrasiekamp ontsnap het? Sy is tog nie jou stereotiepe hartlyer nie, of hoe? Dit wil al vir Jenna begin lyk asof ’n patroon hier gevolg word waarvan sy nie deel wil wees nie.
Sy kyk verlangend na die deur. Wat sal gebeur as sy haar handsak gryp en daar uitstap? Hoe sal sy vir Koos verduidelik waarom sy die hasepad gekies het? Hoe sal sy dit regkry om vir Koekemoer Internasionaal te werk sonder om die stempel van goedkeuring te kry wat haar kwalifiseer om dit te doen?
Tot dusver het die dokter skaars in haar rigting gekyk. Nou stap hy met haar nuut geskepte lêer in sy hand op haar af en steek sy regterhand na haar toe uit.
“Goeiemôre Jenna,” groet hy ewe eie. “Die naam is Luca. Luca de Wet. Aangename kennis.”
“Môre, dokter,” groet sy terug.
Sy weet nie of dit so aangenaam gaan wees om hom te leer ken nie en sy wil nie ’n moordkuil van haar hart maak nie. Sy wil so gou moontlik deur die ritueel gaan en hier wegkom. Vir ’n valse sosiale voetjie-voetjie-spelery sien sy nie kans nie.
“Stap maar deur, Jenna,” nooi hy. “En noem my sommer Luca.”
“Luca.” Sy proe die naam in haar mond, maar sy doen dit sag.
Onhoorbaar sag, hoop sy. Daar is iets so intens strelend aan die klank, so opwindend trillend dat sy dit vir ’n oomblik oorweeg om hom so te noem. Luca, o Luca! praat die stem in haar wat haar deesdae op die onmoontlikste tye en plekke fantasieë laat optower. Hoe moet dit wees om sy naam in ekstase uit te roep? wonder sy.
Dan ruk sy haar reg. Sy’s seksueel gefrustreerd, sy weet. Haar lyf het reggemaak vir passievolle nagte in die arms van ’n man, maar die wortel is voor haar neus weggeraap voordat sy daaraan kon smul. Dis hoekom haar gedagtes haar deesdae in die steek laat, dis dié dat sy drome droom en gesigte sien wat ’n streng ouderdomsbeperking behoort te hê. Sy skaam haar!
’n Mens mag tog nie sulke gedagtes oor jou kardioloog koester nie. Dis siek! Ook nie oor jou apteker of jou predikant nie. Of oor die oulike getroude diaken wat anderdag by haar kom kollekteer het nie. Daar is grense aan die fantasieë wat jy in jou kop mag toelaat.
Hierdie mense is daar om jou siel en jou liggaam gesond te hou, herinner sy haarself. Jou gees ook! Sodat jy sal weet waar om die streep te trek en juis nié sal dink hulle is flippen sexy nie. Nie eens wanneer hulle spog met ’n stewige agterstewe soos die een wat tans voor haar uitloop nie.
“Dankie, dokter,” prewel sy, maar sy kan nie meer mooi onthou waarvoor sy veronderstel is om dankie te sê nie.
Hou jou kop bymekaar, Jenna Joubert, baklei sy met haarself. Hou die vlag hoog en gedra jou.
Dokter De Wet moenie dink sy’s ’n paloeka nie. Hulle het miskien nie uit dieselfde boeke gestudeer nie, maar sy weet sélf iets van sielkunde af, al is dit nou bedryfsielkunde. Die beginsel bly dieselfde: noem ’n persoon op sy naam, so dikwels as wat jy kan. Só vestig jy ’n vertrouensverhouding met hom of haar.
Wel, jammer vir hierdie doktertjie, maar sý gaan nie daarvoor val nie. Sy verkies dat hul onderonsie so formeel as moontlik bly. Sy bloos by voorbaat as sy daaraan dink dat hierdie man haar gaan ondersoek, dele van haar lyf gaan sien wat tot dusver nog net vir ’n handjie vol uitgesoekte mans se oë beskikbaar was.
Hy wys met die hand na die stoel voor sy lessenaar. “Sit gerus,” nooi hy. “En vertel my waarom iemand met ’n gesonde blos op die wange soos jy hier by my kom aanklop.”
O, hy gebruik die heuningkwas in oormaat, maar nie baie kundig nie, dink Jenna beterweterig. Om haar te laat verstaan sy’t ’n gesonde blos op die wange kan hom later suur bekom as hy haar dalk wil oortuig dat sy siek genoeg is vir behandeling. En dan? Wat word dan van sy geldmaakfoefies?
“Ek is hier omdat my werkgewer dit van my verwag.”
“Werkgewers is gewoonlik tevrede met ’n standaard- doktersondersoek. Daar moet ’n rede wees waarom jy na ’n kardioloog verwys is.”
“Daar is. Ek werk vir Koekemoer Internasionaal.”
“Koekemoer Internasionaal? Die sakekonsultante? Werk jy vir ou Koos?”
Jenna knik. Dít ook nog! Hulle ken mekaar – hierdie man en Koos Koekemoer. Sy sal dus nie met halwe waarhede kan wegkom as dit dalk nodig raak nie.
“Ons