Kristel Loots-omnibus 1. Kristel Loots
’n Mens se bloeddruk word bepaal deur die hoeveelheid bloed wat die hart met elke sametrekking uitpomp, en hoe maklik dié bloed deur die heel kleinste bloedvate kan vloei. Hoe nouer die bloedvate, hoe hoër die bloeddruk natuurlik.”
Sy weet dit, elke mens met gesonde verstand weet hoe dit werk. En oor hartaanvalle en soortgelyke rampe is sy ook nie heeltemal onkundig nie.
“Wat word as ’n normale bloeddruk beskou?” vra sy nogtans, sodat hy belangrik kan voel en hopelik daarna sal ophou praat.
“Ongeveer 130 oor 85. Enigiets bo 140 oor 90 word as hoë bloeddruk geklassifiseer.”
“Net deur dokters wat paranoïes is daaroor,” probeer sy ’n grappie maak.
“Deur navorsers wat die gevolge van hoë bloeddruk ondersoek het,” reageer hy ernstig.
Hy haak sy stetoskoop om sy ore. “Maak ’n bietjie oop dat ek na jou longe kan luister.”
Sy laat glip die japon oor haar skouers af, maar hy is nie tevrede nie en skuif dit verder af. “Jou longe is skoon,” laat hoor hy na ’n rukkie. “Jy’s gelukkig. Mense wat gerook het ... dalk nog steeds rook ... het gewoonlik probleme daarmee.”
Sy bloos. Hy laat voel haar soos ’n skoolkind wat skelm gerook het. Ek gedra my oor die algemeen soos ’n skoolmeisie, besef sy. Dis tog laf om skaam te wees voor Luca de Wet. Die man is professioneel. Vir hom is dit net nog ’n doodgewone dag in die spreekkamer. ’n Vrou se lyf, énige lyf, is vir hom soos ’n grafiek op papier vir haar is. Dis werk! Blote roetine.
Hy beduie dat sy agteroor moet lê sodat hy na haar hart kan luister. Hy knoop self haar japon los en vou dit oop sodat hy die koue stetoskoop op haar bors kan laat rus.
“Daar’s ’n effense ongereeldheid in jou hartritme,” merk hy mymerend op. “Is jy bewus daarvan?”
“My hart het ’n knou weg,” sê sy sonder om te dink.
Hy kyk haar ondersoekend aan. “Hoe so?”
Sy skrik vir haar los mond. “Ag, sommer iets wat gebeur het.”
“ ’n Liefdesteleurstelling?”
’n Liefdesteleurstelling beskryf kwalik waardeur sy is, dink Jenna. Oor ’n liefdesteleurstelling skryf ’n mens gedigte en gaan vra jy raad by een of ander sielkundige wat jou sal probeer oortuig om die verlede te vergeet en die lewe aan die keel te gryp. Sy’s hopeloos te kwaad om gedigte te skryf, en as iemand haar nou in ’n soet stemmetjie sou aanmoedig om die glas as half vol te sien, nie as half leeg nie, gaan sy nie verantwoordelik wees vir wat sy doen nie. Wat haar betref, is die glas nie alleen leeg nie, die flippen ding lê aan skerwe voor haar voete.
“Vergeet dit,” sê sy. “Ek was sommer laf om daarna te verwys.”
“Daar is baie medici en filosowe, ek inkluis, wat glo aan die noue verband tussen persoonlike belewenisse en die reaksie van die hart daarop.”
Hy glimlag skielik en Jenna se hart slaan bollemakiesie. Liewe hemel, maar die man is aantreklik. Geen hart sal dit naby hom kan hou nie!
“Daar kan natuurlik ook ’n heeltemal logiese verklaring wees vir die effense versteuring van jou hartritme. Dit kan selfs ’n tekort aan kalium wees.”
“Wat moet ek eet om meer kalium in te kry?”
“Blaargroente, volgraanprodukte, piesangs, selfs peulvrugte, en natuurlik avokadopere. ’n Tekort lei tot moegheid, spierswakheid en onreëlmatige hartklop. Dis maklik genoeg om reg te stel, maar ons sal verdere toetse moet doen om seker te maak.”
“Toetse?” vra sy versigtig. “Soos wat?”
“My assistent, die tegnoloog, sal ’n EKG op jou doen, en miskien ook ’n stres-EKG as jy daarvoor kans sien.”
“Op ’n trapmeul?”
Hy knik. “Dan sal ons sien hoe fiks hierdie meisie is.”
“Hierdie meisie is nie vreeslik fiks nie,” waarsku sy.
“Hoe dan so? Kry jy nie oefening nie?”
“Wanneer? Waar? Ek was vir twee jaar in Londen, onthou? Daar waar meer reën val as op enige ander plek op aarde. Of altans, dis hoe dit voel. Selfs in die somer is die son maar traag om kop uit te steek.”
En natuurlik, vandat sy terug in die land is, het sy haar dae min of meer in haar bed deurgebring. Eintlik wou sy ónder die bed inskuif, saam met die stofbolletjies wat daar vergader het in ’n bondel onder die bed lê en haarself bejammer.
“Hoekom dan nie maar gim toe gaan nie? Dis tog onderdak.”
“Omdat ek nie die tyd daarvoor gehad het nie, dokter,” maak sy verskoning. “By Koekemoer Internasionaal werk ons tot sestien uur per dag om die pas vol te hou.”
“Dis hoekom julle hartaanvalle kry.”
Sy kan nie regtig met hom daaroor stry nie.
Sy wikkel haar skouers om die japon teruggeskuif te kry toe dit lyk asof hy klaar is met sy ondersoek, maar hy skuif dit weer van haar skouers af. Sy hande kom lê warm op haar skouers. “Hierdie spiere is so gespanne soos ’n wildsbok wat gevaar geruik het,” merk hy glimlaggend op. “Ontspan, Jenna, ek sal jou nie seermaak nie.”
Sy is dadelik bewus van die lamheid in haar onderlyf en sy wriemel onder sy hande uit. Sy wend ’n wilspoging aan om haar skouers te laat ontspan, maar slaag nie daarin nie.
“Ek beveel altyd aan dat my pasiënte oefening kry, veral dié wat soos jy hul dae voor ’n rekenaar deurbring.” Hy stap na ’n rak en kom met ’n pamflet in sy hande terug. “Hier is ’n besoekerskaartjie wat jou gratis toegang sal gee tot die Health & Fitness-gim hier onder in die straat. Gaan beproef dit gerus, dalk raak jy nog verslaaf aan oefening soos so baie ander mense.”
“Die kans daarvoor is skraal,” verseker sy hom, maar sy vat nogtans die kaartjie by hom. “As ek verslaaf raak, sal dit aan sigarette of kafeïen wees.”
Hy kyk na haar met kwaai oë. “Sigarette en ’n oormaat kafeïen is beslis verbode,” herinner hy. “As jy bloot wil ontspan, wat baie nodig is vir ’n gesonde leefstyl en beslis vir iemand met sulke gespanne spiere soos jy, is dans natuurlik ook aan te beveel. Dis miskien nie die beste oefening wat jy kan kry nie, maar dis beter as om agter ’n lessenaar te sit en stoel.”
“Behalwe as jy ’n muurblom is en in elk geval droëbek langs die kant gaan sit en stoel.”
“ ’n Mooi meisie soos jy sal beslis nie ’n muurblom wees nie,” lag hy. “Behalwe as jy nie kan dans nie, en daarvoor is daar ’n oplossing. Al die ouens met twee linkervoete tou deesdae na die nuwe dansskool in Bloubergstrand. Die ateljee is op die boonste vloer van die Elizabeth Hotel en spog met ’n wonderlike uitsig op Tafelberg. Saterdagaande hou hulle sosiale danse en almal is welkom, of jy nou in styl kan dans of heelaand net sakkie-sakkie.”
Sy kán nogal dans. Miskien nie professioneel nie, maar sy het ’n paar lesse in Londen geneem sodat sy nie sou skandes maak wanneer sy en haar bruidegom die dansvloer open nie.
Verniet! Alles verniet!
“En sal ’n gedans by die see nie my hartritme verder versteur nie?” vra sy.
“Dit hang seker van jou dansmaat af.” Hy glimlag. “As dit ’n vurige vryer is wat jou oor die dansvloer stuur, sal jou hartritme beslis versteur word, maar dit sal nie noodwendig ’n slegte ding wees nie.”
Dokters kom met moord weg, dink Jenna stilweg. Wat in ander professies as seksuele wangedrag beskou sal word, word by die witjasse beskou as ’n vriendelike bedside manner. Eintlik sou sy verkies dat hy nie sulke suggestiewe grappies maak nie. Dit maak haar ongemaklik.
“Ons sal kyk wat ons met medikasie aan jou hartritme kan doen,” stel hy haar gerus. “Maar eers wanneer ons alle moontlike inligting bekom het oor die werking van jou hart.”
Hy klink