Kristel Loots-omnibus 1. Kristel Loots
en ons werk gaan met heelwat stres gepaard. Twee van my kollegas het onlangs hartaanvalle gehad.”
“Ek weet daarvan, Koos het my vertel. Tragiese gevalle. Jong manne nog, in die fleur van hul lewe. Gelukkig het hulle dit oorleef, maar daar is helaas skade aan hul harte. Dis altyd beter om so iets te voorkom as om dit agterna te probeer regstel.”
“Dis hoekom ek hier is – meneer Koekemoer se bevel. Ek is pas terug van Londen, waar ek twee jaar lank gewerk het.” En deur ’n man misbruik is, sou sy kon byvoeg. Maar sy ploeg dapper voort: “My kontrak het verstryk, en voordat meneer Koekemoer bereid is om dit te hernu, wil hy weet dat ek gesond is.”
Wel, dink sy, ten minste na liggaam gesond is. Wat in my kop en hart aangaan, kan hom nie regtig skeel nie. Solank ek Koekemoer Internasionaal se stinkryk kliënte tevrede stel en nie langs die pad die emmer skop nie, is hy tevrede. Dis ’n oerwoud daar buite en Koos Koekemoer van Koekemoer Internasionaal is nie meer of minder genadig as die sakemanne wat die miljoene versamel nie – dikwels ten koste van hul werknemers.
“Het jy dan ’n familiegeskiedenis van hartprobleme?” vra hy.
Sy wil nie daardie vraag beantwoord nie. “Meneer Koekemoer vereis van al sy werknemers om ’n kardioloog te besoek wanneer hul nuwe kontrakte ter sprake kom. Dis die beleid by die maatskappy vandat die twee ouens hartaanvalle gehad het.”
Sy wenkbroue boog vraend toe hy na haar kyk. “Dit beantwoord nog nie my vraag nie.”
“Ek wil graag ’n objektiewe opinie hê,” keer sy. “Nie een wat gekleur word deur vooroordeel weens die gene wat ek dra nie.”
Sy voel hoe haar wange warm word, maar sy’s moeg daarvan om op die sondes en die siektes van haar voorgeslagte veroordeel te word. Sy wil nie gedurig aangekyk word asof sy ook in haar spore gaan neersak nie. Dood soos ’n mossie soos haar ouma aan vaderskant toe sy op ’n lieflike lentedag gaan blomme pluk het. Of soos haar oom en sy seun wat al twee ná ’n nag se gerinkink in hul slaap oorlede is. Of soos nog ’n klomp Jouberts wat deur hartprobleme platgetrek is. Of soos haar pa ...
“Dis natuurlik ’n erkende risiko wat ’n mens loop om hartprobleme te hê. Jou gene, jou familiegeskiedenis. En daaraan kan jy nie veel doen nie.”
Vertel my iets wat ek nie weet nie, wil sy vir hom sê. Dis hoekom my pa en ma my so opgepiep het. Maar toe ek uit die huis is en vir Koekemoer Internasionaal begin werk het, was daar geen genade vir my nie. Ek moes inval by die res of ek moes my goed pak en loop. Vir swakkelinge na liggaam of gees is daar nie plek in die korporatiewe wêreld nie. Dis vir aanhou en uithou, dis vir uithaal en wys wat in jou steek.
“Hoe lyk dit, rook jy?”
Sy’t verwag hy sou dié vrae vra, dat hy so sou probeer bepaal wat haar risiko vir ’n hartaanval is, maar sy vererg haar tog daarvoor. Kan die man nie net na haar hart luister en haar dan met ’n geruste gemoed wegstuur nie? Dis tog duidelik dat sy jonk en gesond is, dan nie? Wat ook al in haar gene skuil, dis anderdag se probleme. Anderdag wanneer sy oud en gedaan is. Sy wil nie nou al voel asof sy ’n toets skryf ... en hopeloos daarin vaar nie.
“Nie ... nie meer nie,” erken sy stamelend.
“Maar jy het?” Hy kyk na haar asof sy al sewe doodsondes gepleeg het.
“In my studentedae, ja. Lankal nie meer nie.”
Behalwe ... behalwe in uitsonderlike gevalle, behalwe wanneer die lewe haar só druk dat doodgaan nie na so ’n slegte uitkoms lyk nie. Behalwe wanneer sy soos ’n weggooiding behandel word, wanneer haar hart gebreek of haar lewenslus geblus word. Maar dit hoef hy nie te weet nie.
“Ek is bly om dit te hoor,” sê hy. “Rokers se risiko om hartaanvalle te kry is hoog. Veral as hulle ook hoë bloeddruk en cholesterol het.”
Sy wil nie raai wat haar bloeddruk is nie. Sy kan haar deesdae so vererg dat sy self daarvoor skrik.
Eintlik hou sy deesdae nie baie van mense in die algemeen nie. Die enigste probleem is dat sy nie op ’n eiland woon nie en dus noodgedwonge met hulle moet klaarkom.
2
“Kom saam, Jenna,” nooi dokter De Wet nadat hy haar gesondheidsvraelys voltooi het.
Hy trek die gordyntjie na sy ondersoekkamer oop. “Trek maar uit bolangs dat ons kan luister wat sê jou hart. Daar’s ’n japon agter die deur wat jy kan aantrek. Ek is nou weer by jou.” Hy stap uit.
Ag, berge val op my, wens sy toe sy alleen in die ondersoekkamer agterbly. Sy pluk haar top oor haar kop en gryp na die japon. Sy weet sommer die ding gaan net vir ’n Barbie-pop pas en slegs die helfte van háár bolyf toemaak. Dis wat gewoonlik in dokters se spreekkamers gebeur. Die japonne en jakkies wat hulle beskikbaar het, is gewoonlik net geskik vir rietskraal vroue wat elke dag niks meer as ’n ertjiekorrel en ’n baba-aartappeltjie eet nie.
Maar tot haar verligting vou die japon feitlik dubbel om haar lyf. Natuurlik! onthou sy. Die vroue wat hier by dokter De Wet aanland, is gewoonlik formidabele vroue met waatlemoengrootte-boesems. Haar eie spanspekke verdwyn behoorlik onder die dubbellaag materiaal. Sy trek die gordel styf om haar lyf en bind dit in ’n strik vas.
Daarom is sy genadiglik ten volle geklee toe die dokter weer sy gesig wys, hierdie keer gewapen met ’n stetoskoop om sy nek en ’n bloeddrukapparaat in sy hand. “So ja, Jenna, ontspan jy nou net,” probeer hy haar gerus stel.
Makliker gesê as gedaan met hom hier by haar. Sy verwens haar dat sy na tannie Rademan geluister het. Hoekom het sy nie verder uitgevra oor dié dokter De Wet nie? Hoekom nie seker gemaak dat dit ’n vaal ou fossiel is wat haar op haar gemak sal laat voel nie?
Maar nee! Sy storm op die eerste, die beste kardioloog af wie se naam sy by haar pa se oor-die-muur-buurvrou hoor omdat sy nie oor genoeg kennis in dié verband beskik nie. En omdat niemand haar gewaarsku het nie!
Sy wou natuurlik nie na die kardioloog gaan wat haar pa behandel het nie. Kyk wat het daar gebeur! Hy was gou met die mes, maar dis waar sy belangstelling opgehou het. Hy’t haar pa in ’n woestyn van wanhoop en disinformasie gelos en met sy lewe aangegaan asof haar pa se lewe nie van belang was nie. Van hóm wou sy so ver as moontlik wegbly.
Die ander werknemers van Koekemoer Internasionaal wat al deur Koos gestuur is om na hul harte te laat kyk, was hoeka almal by dieselfde persoon in die middestad. Adam ook. Glo werklik ’n vaal fossiel, as sy hom kan glo. “Sy hande is yskoud en hy bewe asof hy ’n babelas het,” het Adam kom vertel toe sy hart getoets en sterk genoeg vir Koekemoer Internasionaal bevind is.
Sy haat koue hande, en vir ’n gebewe het sy ook nie kans gesien nie. Tannie Rademan se voorstel het na net die regte ding geklink. Een of ander ouerige dokter wat hom soos ’n gentleman gedra, het sy gedink toe tannie Rademan hom beskryf.
Nou troon hier ’n man oor haar teenoor wie geen vrou onaangeraak kan bly nie. Hy neem haar hand in syne om haar pols te voel en hou sy horlosie dop.
“Polsslag is ’n bietjie vinnig,” lewer hy kommentaar.
Wat verwag hy dan ook? dink Jenna. Hier sit sy in ’n pienk satynjapon met hom só na aan haar dat sy bewus is van die geur van sy naskeermiddel. Sy is nou wel toegevou tot by haar kuiltjie, maar nogtans!
Ook toe hy haar bloeddruk neem, frons hy. “Bietjie hoog,” mompel hy.
Hy buk oor haar, kyk in haar oë. “Dit kán natuurlik die witjas-sindroom wees wat dit so opjaag, maar ek is nogtans nie tevrede daarmee nie.”
“Die witjas-sindroom?”
“Ja. Mense is geneig om gespanne te wees wanneer ’n dokter hul bloeddruk neem. Daarom is hul bloeddruk dan heelwat hoër as normaalweg.”
Dis nie noodwendig vrees wat ’n vrou se bloeddruk sal opjaag as dié man dit neem nie, dink sy. Sy probeer so rustig as moontlik asemhaal.
“Hoë bloeddruk is gevaarliker as wat ’n mens dink,” sê hy. “Dis een van die grootste risiko’s vir hartsiektes en miljoene Suid-Afrikaners ly daaraan. Weet jy dat