Wag-'n-bietjiebos van die liefde. Ena Murray

Wag-'n-bietjiebos van die liefde - Ena Murray


Скачать книгу
’n ander werk ... Hy het ’n wit jas gedra.”

      “ ’n Wit jas? Het hy in ’n slaghuis gewerk?” Hulle kyk haar half onnosel aan en sy sien dat hul belangstelling begin verflou. Hul roomyse is op. Sy deel hare vinnig vir die twee, probeer dan weer: “Wie kook vir julle kos by die huis?”

      “Pa, maar meestal sny ons sommer blikkies oop. Pa sê dan is daar tog nie kastrolle om te was nie.”

      Natuurlik, ja! En hy dink twee groeiende seuns kan daarop grootword! “Jul pa ... e ... slaan hy julle baie?”

      “Hy foeter ons goed wanneer hy ...” Die stemmetjie draal weg en die antwoord word deur ’n ander stem voltooi.

      “Ja, juffrou Erwee, hul pa foeter hulle goed, maar net wanneer hulle dit verdien, of hoe, seuns?”

      Twee koppies knik en sak vooroor terwyl Lisbe se kop omhoog ruk. Sy herken hom amper nie. Hy is geskeer en netjies geklee, maar sy oë is nog net so afkeurend soos gister ... en hulle skiet vuur op haar en die twee seuns. Die blos wat op haar wange uitslaan, verraai dat sy weet sy is op heter daad betrap. Maar dan ruk sy haar reg, ontmoet sy sy blik parmantig.

      “Ek wonder of jy altyd in ’n toestand is om te weet of jy regverdig straf uitdeel of nie.”

      “En jy is die engel van regverdigheid wat daaroor sal kan oordeel. Goed, dan kom jy vandag saam huis toe.”

      Sy word summier aan die pols geneem en opgetrek. Net ’n knik van hul pa se kop laat die tweeling soos springhase reageer. Rooi in die gesig betaal sy die nuuskierige man agter die toonbank ... natuurlik bied hý nie aan om te betaal nie ... en dan word sy by die kafee uitgedruk.

      Die tweeling kry hul bevele: “Wanneer ons by die huis stilhou, moet julle reeds daar wees.” Sy word aangedruk na haar motor toe, agter die stuurwiel ingeprop en ongenooid vou hy hom dubbel langs haar op die passasiersitplek. “Toe, juffrou, jy weet waar die huis met die wag-’n-bietjiebos staan.”

      Sy skakel die motortjie aan, kyk stip voor haar. “Meneer Van der Merwe, jy moet verstaan ...”

      “Spaar jou asem tot by die huis ... en moenie so rukkerig wegtrek nie!”

      “Hoekom bestuur jy dan nie?” vra sy opstandig.

      “Ek mag nie bestuur nie.” Hy ontmoet haar blik, en sê reguit: “Heeltemal korrek, juffrou Erwee. Ek het my lisensie verloor weens dronkbestuur.”

      Sy kyk vinnig terug straat toe. Sy weet sy waag baie. “Is dit hoe jou vrou dood is?”

      Dis stil, selfs toe sy al die motor voor die huis tot stilstand gebring het. Eindelik moet sy haar kop draai, teen sy bleek gesig vaskyk. Dan kry sy haar antwoord: “Daar is baie mense wat vandag nog daaroor wonder.”

      “Waaroor wonder hulle?”

      “Of ek iets met my vrou se dood te doen gehad het. Klim uit.”

      2

      “Toe ... toe, klim nou uit – of wag jy vir ’n wonderteken uit die hemel?” Dis ’n bevel en sy moet gehoorsaam.

      Hulle ontmoet die tweeling by die voordeur.

      “Stap in.”

      Sy volg die tweeling die huis binne en voel kompleet of sy ook agt jaar oud is.

      Net binne die deur kom sy tot stilstand en kyk verwonderd om haar rond. Dit is alles behalwe wat sy verwag het. Sy bevind haar in ’n netjiese sit-eet-kamer. Dis amper styf van netheid. Die meubels is van goeie gehalte – kort wel ’n bietjie opvryf. Die mat is afgeleef, en die tafeldoek oor die eetkamertafel is duidelik vanoggend uit ’n kas gehaal. Maar verder ...

      Sy sien die spot in sy oë toe sy van die gedekte tafel af opkyk.

      Dis Hansie wat uit sy beurt praat en aan sy verbasing uiting gee: “Jislaaik, maar dit lyk mooi hier vandag! Hoe’t Pa dit reggekry?”

      Dis nou haar beurt om spottend na hom te kyk, en dit gee haar genoegdoening om te sien dat daar sowaar ’n effense kleurtjie by sy hempskraag verskyn. Hansie, jou dierbare kind!

      “Jy het blykbaar vandag gaste verwag,” murmel sy.

      Sy antwoord is kortaf: “Ek ontvang nie gaste nie, juffrou, soos jy self weet.” Hy kyk kwaai na die tweeling. “Gaan sit op jul plekke. Ek bring die kos.”

      “Kos!” Die tweeling klink asof hul pa hulle ’n arseennagereg aanbied.

      “Ja, kós, dis wat ’n mens hierdie tyd van die dag eet ... nie ’n berg roomys nie.”

      Hul oë draai ontsteld na die tannie, en sy lyk skuldig en verleë. Natuurlik het hy gelyk! Natuurlik gaan ’n kind middae ná skool reguit huis toe om te gaan eet ... en gaan sit nie en ginnegaap met ’n vreemde tannie oor ’n berg roomys in ’n kafee nie! Maar sy het nooit sover gedink toe sy die twee ...

      “Ek is jammer, meneer Van der Merwe. Ek het gefouteer. Dit was onnadenkend van my. Ek is bevrees die tweeling sal nie nou ’n bord kos kan behartig nie, en dis alles my skuld.”

      “Ja, jý is die sondaar en ek sal seker van onregverdigheid beskuldig word as ek sê dat die tweeling ook straf verdien omdat hulle ongehoorsaam was aan my opdrag dat hulle direk ná skool huis toe moet kom.”

      Die stelling “óók straf verdien” stem haar onrustig. Sy sluk. Sy is nou verspot. Die man kan haar tog nie saam met die tweeling pak gee nie! Sy kyk versigtig op. Of kan hy dalk? Hy lyk baie, baie vasberade. Haar blik sak vinnig af na die twee paar pleitende oë regs van haar. Op stuk van sake is dit alles die tannie se skuld! As sy nie met hulle by die skoolhek kom lol het nie, sou hulle nie nou hier gestaan en kriewelrig oor hul sitvlakke gevoel het nie.

      “Hulle wás ongehoorsaam.” Sy kyk vererg op. “Maar hulle is tog net kinders! Is jy nooit as kind verlei deur ’n roomys nie?”

      Hy kyk in haar flitsende oë af. “Dan erken jy dat jy ’n swak invloed op my kinders het? Dat jy my kinders verlei tot ongehoorsaamheid? Ek hoop die verslae wat jy skryf, juffrou Erwee, is pynlik eerlik.”

      Voordat sy aan iets kan dink om te sê terwyl sy hom in ontstelde ongeloof aanstaar, vervolg hy met ’n sarkasme wat ’n drang in haar ontketen om die man warmplek toe te stuur: “My seuns is verlei deur ’n vroumens ...” Hy kyk na die twee. “Dit sal nie die laaste keer wees nie, maar dis my vaderlike plig om hulle sommer vandag te laat verstaan dat ’n mens soms gestraf word vir dade waarvoor jy nie verantwoordelik is nie.”

      Sy kyk hom nou behoorlik stomend aan. Vaderlike plig se voet! En as hy hom besope drink – soos mevrou Reynecke hom hier gekry het – waar is sy vaderlike plig dan?

      “Jy gaan hulle nie slaan nie!” bars sy los en tree verdedigend en uitdagend voor die twee in.

      “Nee, juffrou. Ek gaan beslis nie my kinders slaan terwyl jý die skuldige is nie. Maar hulle gaan gestraf word oor hul ongehoorsaamheid.” Hy kyk oor haar skouer. “Gaan sit by die tafel.”

      Hulle gehoorsaam verlig. Dit was darem so op ’n nippertjie na!

      Hul pa draai om en verdwyn by ’n deur in. Lisbe bly hoog en droog staan, nie seker of sy moet loop en of sy moet sit nie.

      Oomblikke later kom hul pa weer binne, plaas twee borde gekookte kos voor elk van die seuns en stap weer uit. Die tweeling se oë draai hulpsoekend na haar. Sy kyk magteloos na hulle. Dit lyk na ... e ... vleis, as daardie swarterige hompe vleis is ... en pampoen en ... daardie wit goed is seker veronderstel om rys te wees. Al herkenbare gereg op die spyskaart is die ertjies, duidelik uit ’n blik opgewarm, en aartappels nog in die skil.

      Pa kom binne met sy bord kos, sit dit op die tafel neer en gaan sit dan self sonder om te wys dat hy van haar bewus is. Hy klop op die tafel en rammel ’n gebed af.

      Hy tel sy mes en vurk op. “Julle kan maar eet,” en val dan self weg.

      Die tweeling begin met ’n versigtige ontdekkingstog, maar hul pa val met mening weg en Lisbe staar hom aan. Honger is die beste kok, sê hulle


Скачать книгу