Wag-'n-bietjiebos van die liefde. Ena Murray
Pietie, hou op krap in jou kos. Eet! Pa het dit self gekook. Dis lekker, nè?”
“Ja, Pa.” Maar die ogies dop wit in hul kasse om. Genade, hy begin naar voel ...
Lisbe lees die tekens reg. Kyk, dis nou kindermishandeling hierdie! Hy gaan die kinders sowaar daardie brousel indwing totdat hulle opgooi! Het die man dan nie ’n hart nie?
“Meneer Van der Merwe, dis nie snaaks nie! Die kinders gaan siek word van ... van daardie ... brousel ...”
Hy skuif sy leë bord opsy, kyk ysig op. “Insinueer jy dalk dat ek my kinders wil vergewe?”
“Vergewe?”
“Vergiftig dan.”
“Nee, natuurlik nie! Dis net ...”
Hy stoot sy stoel agteruit, wys met die kop: “Julle twee kan maar kamer toe gaan en met jul skoolwerk begin.”
Die seuns laat hulle nie twee keer nooi nie en verdwyn in die gang af.
“Kom sit, juffrou.”
“Ek dink ek sal liewer gaan ...”
“Kom sit, juffrou.” Dis ’n bevel en sy bevind haar op Pietie se stoel, reg voor Pietie se bord. Die bord word so effens nader gestoot. “Oortuig jouself dat daar niks met die kos skort nie.”
Haar stemtoon ewenaar nou syne. “Jy is kinderagtig. Ek het geensins geïnsinueer dat daar iets met die kos skort nie.”
“Eet dit dan,” beveel hy.
Lisbe kyk misnoeg na die bord kos voor haar. “Ek is nie honger nie ... dankie.”
“Dis jammer. Die tweeling is ook nie honger nie, maar iemand gaan daardie kos eet. Ek het nie verniet die hele oggend voor die stoof gestaan nie. Dan moet die tweeling maar al die oorskiet opeet.” Dit lyk of hy sommer die daad by die woord wil voeg.
Lisbe keer vinnig: “Nee! Nee ... e ... ek sal dit eet.”
Hy knik styf en kyk veelbetekenend na die mes en vurk. Sy tel dit op. Die vleis is erg verbrand en sy swoeg aan die bitter koutjie in haar mond. Eindelik sak dit genadiglik af en sy knip haar oë vinnig. Sjoe! En daar wag nog ’n groot stuk! Die suiker is oordadig oor die pampoen gebruik. Dit help darem vir die bitter wat die vleis nagelaat het. Met elke skep van die vurk, sprei die ryspap uit en maak maar net weer die bord vol. Sy gaan dit nie oorleef nie ...
Sy weet nie hoe sy dit regkry nie – suiwer koppigheid om hom nie weer die beste daarvan te laat afkom nie – maar sy oorwin al die onheile op die bord voor haar. Sy besef dat indien sy die kos nie opeet nie, hy sy sadisme op sy kinders gaan uithaal ... arme bloedjies. En dit ís suiwer sadisme om te verwag dat enige mens hierdie sogenaamde kos moet afsluk.
Ietwat blekerig stoot Lisbe die leë bord tot reg onder sy neus. “Dankie, meneer Van der Merwe. Ek sal beslis onthou om dit in my verslag te skryf.”
“Dis baie gaaf van jou, juffrou.” Hy buk vorentoe en skielik staan Hansie se bord kos voor haar. “Terwyl jy dit so geniet het ... Die mense van Keerboomstraat kan nie bekostig om kos te mors nie, weet jy?”
Sy weet haar oë word glasig. Oor haar dooie liggaam ... “Ja, dit was nog altyd vir my onverstaanbaar. Daar is selde genoeg geld vir kos, maar vir ander gebruike is daar altyd genoeg. Dis ’n eienskap van Keerboomstraat.”
“Ander gebruike? O! Ek begryp. Natuurlik, ja. By so ’n genoeglike ete moet ’n mens ’n drankie geniet. Verskoon my swak maniere!”
“Nee! Natuurlik wil ek nie drank hê nie!” O, as sy haar sonde nie ontsien nie!
“Is jy seker? Daar is, hoor? Jy kan kies en keur, maar as jy net die kos verkies ...” en weer kyk hy af na die mes en vurk.
Sy kners amper hoorbaar op haar tande. Sy is vas van plan om wanneer sy hier wegry, reguit polisie toe te gaan en hierdie ... hierdie sadis te gaan aankla vir geestelike en liggaamlike mishandeling.
Dan gryp sy die bord voor haar en spring op, loop om hom na die ander kant van die tafel, krap die helfte van Hansie se kos in Pietie se leë bord, loop weer om hom terug na haar stoel toe en plak die een bord voor hom neer.
“Ek sou sê dis regverdig, meneer Van der Merwe.” Sy tel die mes en vurk op, druk ’n vurk vol kos in haar mond en begin kou. Sy knyp haar oë onwillekeurig toe. Dan maak sy haar oë oop, beduie met die vurk en sê met ’n mond wat half vol is: “Toe, eet!”
“Ek dink ek sal vir my ’n drankie inskink.”
“O nee! Jy sal nie! Jy gaan dit nie met behulp van drank afsluk nie! Jy gaan dit sluk soos ek dit moet sluk!”
Hy kyk fronsend na sy porsie, steek dan driftig met sy vurk na die amper verkoolde stukkie vleis sodat dié wegskiet oor die tafeldoek en hoorbaar op die vloer beland.
“Wat makeer, meneer Van der Merwe? Skort daar iets met jou kos?”
Sy lippe pers saam. “Die grap het ver genoeg gevorder.”
Die aartappel is halfpad na haar mond. “Grap? Grap! Noem jy dit ’n gráp om hierdie kos te eet? Dan het jy ’n verwronge sin vir humor. Dit, meneer Van der Merwe, is louter lyding!”
Dan, tot haar grootste ongeloof en verbystering begin hy lag. En hy lag nie net nie – hy gooi sy kop agteroor en skaterlag, agter uit sy keel uit.
“Jou gemene ... gemene bees!” Die aartappel wat netnou nog aan haar vurk was, word in sy oop mond geprop en demp die haatlike oorwinningsgeluid. Sy spring op, buite haarself van vernedering en woede. En om die kroon te span, kan sy die trane nie meer keer nie. “Jy is ... jy is ... O!” Sy storm by die voordeur uit.
Die tweeling se verbaasde oë volg haar, rek nog ’n bietjie wyer toe hul pa, met ’n aartappel in sy mond, by hulle verbystorm.
Op die boonste stoeptrappie gaan hy staan. Daar’s baie tyd. Sy ontstelde gas sit in die wag-’n-bietjiebos vas. Tydsaam haal hy die aartappel uit sy mond en begin die skilletjie afskil.
By die voorhekkie ruk en pluk Lisbe ontsteld, maar hoe meer sy sukkel om los te kom, hoe meer dorings haak aan haar romp vas. Later is haar een mou ook vas.
Verblind deur die trane kyk sy oor haar skouer. Meneer Van der Merwe staan rustig op die trappie sy aartappel en eet!
Sy probeer haarself tot kalmte maan, maar sonder sukses. Hoekom laat sy toe dat dié man haar so ontstel? vra sy haarself af terwyl haar vingers dom en oorhaastig met ’n doring sukkel. Hy is dit nie werd nie! Hy is onbeskof, ongemanierd, ongepoleerd, ongeskik.
“Laat ek jou help, anders is jy môreoggend nog hier.”
Sy kom orent, voel eerder lus om hom ’n taai klap te gee as om sy hulp te aanvaar, maar dan laat sy maar gedwee toe dat hy haar begin bevry.
“Ek weet nie hoekom jy nie die bos uithaal nie. Natuurlik te lui om dit te doen!”
“Los jy my wag-’n-bietjiebos uit. Vir my is dit ’n simbool van die lewe.”
Net betyds keer sy die snork. Dis nie te sê as hierdie man nie sy maniere ken nie, dat sy hare moet vergeet nie! “Jy bedoel seker ’n simbool van kwaad wat uitgeroei moet word.”
“O, nee! Dis ’n waarskuwing, en elke keer dat ek daarna kyk, onthou ek die waarskuwing van die digter.”
“Digter?”
Hy staan op. Sy is vry. “Ja, juffrou Erwee, die digter wat gesê het dat bo al die ander, staan die wag-’n-bietjiebos vir hom uit. Jy moet dit tog ken. Die een of ander tyd leer almal daardie gediggie van Totius.”
Sy weet sy moet loop. Hoekom sal sy nog verder met hierdie mansmens oor gedigte staan en ginnegaap? Tog vra sy: “Watter gedig?”
Sy wenkbroue lig. “Die gedig wat vertel van die wag-’n-bietjiebos,” sê hy meerderwaardig en stap weg.
Met ’n verergde ruk van haar skouers, maar met ’n versigtige systap om die bos, gee Lisbe