Wag-'n-bietjiebos van die liefde. Ena Murray
Lisbe haar motor vinnig in die straat tot stilstand bring. Dis baie duidelik dat wat sy sien, ’n volskaalse straatbakleiery is. En sy eien twee van die besmeerde gesiggies.
Toe sy hulle eindelik uitmekaar het, kyk sy die groepie seuns streng aan. “Hoekom baklei julle?”
Stilte.
“Pietie, waaroor baklei jy en Hansie met hierdie seuns?”
Daar is ’n onverstaanbare gemompel, en sy vra streng: “Ekskuus?”
’n Opstandige, vuil gesiggie word manhaftig en uitdagend gelig. “Hierdie kind sê ons pa is ’n dronklap en toe slaan ek hom. Ek laat nie sulke goed van my pa sê nie!”
Haar blik gaan veroordelend na die groter seun. “Het jy so gesê?”
“Ek het nie, tannie! Ek het net gesê ek het hom Saterdagnag sien loop en hy het ... het dronk gelyk. Ek het nie gesê hy is ’n dronklap nie.”
“Jy lieg! Jy het hom ’n dronklap genoem!” spring Hansie tussenbeide.
Lisbe tree vinnig op. “Dis genoeg! Dis nie net skandalig om sulke goed van grootmense te sê nie, maar dis skandalig om in die straat te baklei! Hansie! Pietie! Kom klim in die motor!”
Twee ontevrede seuntjies volg haar gedwee, en Lisbe voel hoe haar hart in haar omkeer, enersyds uit simpatie met die tweeling wat so lojaal is, andersyds van woede teenoor ’n pa wat sy kinders in ’n posisie plaas dat hulle hom teen ’n groot boelie op straat moet verdedig.
By die huis is dit grafstil. Sy begin die huis dieper binnestap. Haar gesig is strak; haar lippe pers saam. Soos sy gedink het! Nou die dag was alles net oëverblindery. Die oop kabinet met die leë bottels en ’n omgevalle, stukkende glas vertel hul eie verhaal ...
“Gaan na jul kamer, trek uit jul skoolklere en kom help my om die plek in orde te kry.” Sy stoot die deur van die ander slaapkamer oop, bly staan. Ook daar skitter die baas van die huis in sy afwesigheid. Die bed vertel ook ’n storie. Daar is nie verlede nag daarin geslaap nie. Waar sou hy wees?
Sy weier om aan die onrus in haar toe te gee. Hy is ’n groot man. Hy kan na homself kyk. Haar eerste plig lê by die kinders. Sy wonder wanneer laas hulle geëet het.
Met ’n sug buk sy en tel die glasstukke op, ook die twee leë bottels.
Om jou probleme met drank te probeer oplos ... Wat ’n illusie! Wanneer sal mense besef dat dit net die probleme groter maak?
Die tweeling doen fluks mee en dis eers toe die huis aan die kant is en sy haar skrede kombuiswaarts wend, dat sy versigtig vra: “Waar is jul pa?”
Twee paar oë word afgewend. “Hy’t gaan stap.”
“Stap? Waarheen?”
Twee paar oë kyk eers vlugtig na mekaar. Pa het gesê geen antwoorde op vrae nie, maar die tannie het darem gehelp om die huis reg te kry ...
“Hy gaan stap partykeer ... sommer ... veld toe, dink ek.”
Sy begin die kombuiskaste deursoek. “Wanneer het julle hom laas gesien? Eergisteraand?” Sy kyk oor haar skouer en lees die antwoord. “Is hy nog al die tyd weg?” Weer hoef hulle nie te antwoord nie.
Sy kom orent. “Luister, ek gaan gou na die winkel op die hoek. Ek is nou terug. Julle bly net hier, hoor?”
Sy is binne rekordtyd terug in die kombuis. “En nou gaan ons kos maak. Kom klits jy die eiers vir my, Hansie, asseblief, en jy, Pietie, kan die aartappels skil.”
Vier groot stukke steak word uit die bruin papier te voorskyn gehaal. As hy terugkom, sal hy honger wees ... Sy is nou verspot! Natuurlik sal hy terugkom!
Toe hulle eindelik aan tafel sit – die tafeldoek is omgekeer sodat die verkeerde kant bo lê – pyn haar hart toe sy sien hoe die tweeling wegval. Hoekom ...? Sy sluit haar gedagtes vinnig.
“Al weer jy!”
Haar kop ruk omhoog ... en sy kan net verslae sit en staar na die gesig in die deur. Hy lyk erger as wat sy hom die eerste dag gesien het!
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.