Wag-'n-bietjiebos van die liefde. Ena Murray

Wag-'n-bietjiebos van die liefde - Ena Murray


Скачать книгу
verslag oor vandag se gebeure sal beïnvloed.

      By die huis gaan staan Lisbe voor haar boekrak. Êrens moet hier nog van die digbundels uit haar skooldae wees ... Ja, hier is een van Totius ...

      Sy sit lank en peins nadat sy die gedig met aandag gelees het. Natuurlik onthou sy dit nou. Vir ’n skoolkind is dit maar net nog ’n gedig – vandag het dit dieper betekenis, besondere betekenis ...

      Sy onthou hoe sy voor Elsie Sieberhagen gestaan het met baie waaroms en hoekoms; sy wou die vrou sommer aan die skouers gryp. Maar soos Totius, het sy net in dorings vasgegryp ...

      So baiekeer in haar lewe en in die beroep waarin sy staan, het sy gevra, soms in woede, soms uit frustrasie, soms met trane: Hoekom, Here? Hoekom moet ’n intelligente vrou soos Elsie in die mag van ’n man soos Jan Sieberhagen val om vir die res van haar lewe geslaan te word, om kwalik bo die broodlyn ’n bestaan te moet voer?

      Hoekom, Here, laat U toe dat daar kindertjies gebore word wat in hul weerloosheid met brandende sigaretstompies gemartel word? Hoekom is daar mense wat alles sal gee om ouerskap te smaak en dit waardig sal wees, en hulle bly kinderloos? Hoekom word ’n enigste kind van ’n ouerpaar gebreklik gebore en het Elsie Sieberhagen elke jaar ’n volmaak geskape mensie?

      En hoekom moes ’n jong ma sterf en twee seuntjies wees agtergelaat word? En hoekom is daar soveel bitter, harde lyne op meneer Van der Merwe se gesig? Hoekom word so baie gelukkige huwelike deur die dood opgebreek, terwyl daar soveel duisende ongelukkiges is wat voortgaan? En hoekom ... Hoekom? Hoekom!

      Sy staan op, stap rusteloos na die venster toe, kyk in Keerboomstraat se rigting. Daar is so baie Keerboomstrate ... en voor elke huis in elke Keerboomstraat behoort ’n wag-’n-bietjiebos te staan ... Miskien ... miskien moet sy vir haar ook een in ’n pot plant en hier op die balkon van haar woonstel neersit ... om elke aand ná die dagtaak daarna te kyk en opnuut te besef dat dit vir jou as mens, in jou beperkinge en sondigheid, nie betaam om God se besluite te bevraagteken nie. Wie is jy om aan Hom te vra hoekom?

      Sy sug saggies, draai terug en haar oë rus op die oop digbundel op die stoel. Nee, dis nie haar taak om vrae te vra nie; dis haar taak om te help ... ook vir die Van der Merwes in Keerboomstraat. Een ding is seker – sy gaan hulle nie afskryf of uit haar liasseerkabinet haal nie. Sy gaan hulle nie die rug toekeer en op hul eie laat aansnork nie ... nie voordat sy seker is dat daar niks meer is wat sy vir hulle kan doen nie; nie voordat die bitter uit hul pa se gestel is nie ... en nie voordat sy hom ’n paar wenke oor die grondbeginsels van kookkuns gegee het nie ...

      Meneer Van der Merwe kyk sy twee seuns streng aan toe hy hulle in die gang betrap.

      “Die tannie is nou vir mý kwaad omdat julle nie jul kos opgeëet het nie. Johannes! Daar is niks om oor te lag nie. Wat is so danig snaaks?”

      “Nee, Pa ... e ...”

      Dan, vir die tweede keer in ’n baie kort tyd, hoor hulle hul pa lag ... hard en lekker ... en sien hulle sy oë vonkel soos hulle glad nie kan onthou dat hulle dit al ooit sien vonkel het nie ... en hulle staan en verluister en verkyk hulle totdat hulle byna baldadig meedoen. Pa lag!

      Dan bedaar Pa, maar die glimlaggie bly om sy mond en sy oë bly vonkel. “Dit sal haar leer om haar neus in ons sake te steek! En pasop, julle twee! Julle beantwoord geen vrae nie, hoor?”

      Maar toe hy wegstap, verdiep die glimlag weer. Hy hoop sy het haar les goed en deeglik geleer! Deur die venster flits die voorhekkie en die bos ook skielik in sy gesigsveld. Die glimlag verdwyn stadigaan. Lank rus sy oë op die groen bos.

      Ja, juffrou Erwee, jy het nog baie te leer ... Bid maar net dat jou eie lewe nie op ’n dag in ’n wag-’n-bietjiebos vasgevang word nie. ’n Mens het altyd raad vir ander; weet altyd so presies wat om voor te skryf ... totdat jou eie lewe skielik in die dorings van hoekoms en waaroms verstrengel raak ... en dan het jy nie raad vir jouself nie. Eens het ek ook op lêers aangeteken hoe ander mense moet lewe, wat hulle moet doen ... hoe hulle behoort op te tree ... totdat ek op ’n dag vir myself ’n voorskrif moes uitskryf ... en die papier het kaal gebly. Daar was een ding wat ek vergeet het, die een ding wat jy nog moet leer: ons is en bly mens, onvolmaak, want as ons altyd so presies weet wat om te doen en dit doen, dan sal ons volmaak wees. En ons is nie, juffrou Erwee. Nee, ons is nie. Nie ek nie ... ook nie jy nie.

      Lisbe skryf dieselfde aand nog haar verslag.

      ... Ek het vandag vasgestel dat die ma oorlede is, waar-skynlik in ’n motorongeluk. Daar kan ’n verband wees tussen hierdie ongeluk en die feit dat die pa se bestuurslisensie ingetrek is oor dronkbestuur, soos hy self erken het. Die huis was netjies. Daar was gekookte kos, hoewel hulle, volgens die tweeling, meestal uit blikkies eet. Ek kon nie agterkom of hierdie geval finansieel behoewend is nie. Hulle het egter leiding en raad nodig ...

      Sy laat na om in haar verslag te noem dat meneer Van der Merwe beslis nie te vinde gaan wees vir hulp van watter aard ook al nie. Dis môre se probleme.

      “Môre” word egter ’n paar dae. Sy kry nie tyd om weer besoek by die huis met die wag-’n-bietjiebos af te lê nie. Sy troos haar aan die feit dat die huis goed skoongemaak was en dat die baas darem blikkies kan oopsny. Die kinders is dus op ’n manier versorg.

      Ná ’n paar dae wil dit vir die Van der Merwes voorkom asof die bemoeisieke dame van die welsyn finaal die aftog geblaas het en hulle nou in vrede sal laat. Dit gaan dus goed met die Van der Merwes van Keerboomstraat, want niemand doen meer moeite om die huis netjies te hou en elke dag die tafeldoek uit te was nie. Wat maak dit ook saak as daar ’n paar kolle op die tafeldoek is? Waarvoor moet hy al die moeite doen as niemand kom kyk hoe dit hier gaan nie? Die tweeling gee nie om vir ’n pa met baardstoppels nie. En dis baie lekkerder om vuil rond te kerjakker as om gedurig gemaan te word om klere skoon te hou.

      Aand vir aand sit hy alleen wanneer die tweeling met baie dreigemente eindelik bed toe gedwing is ... Deur die lang, maanlose swart nag lê hy op sy bed met oop oë ... staar na die dak totdat die slaap eindelik sy suwwe oë laat toeval ...

      Baiekeer staan hy maar op, probeer wegkom van dit wat hom agtervolg, en luister na Keerboomstraat se geluide ... na ’n vrou wat soebat tussen vuishoue deur, na kinders wat huil en ’n maer hond wat sy vullisblik kom omkeer vir die bietjie sopperigheid wat in vandag se blikkies oorgebly het ...

      En dan begin hy dink: Sy is nooit geslaan soos daardie vrou wat nou stil geraak het nie ... Die kinders het nooit van honger of koue gehuil nie. Sy het nie ’n huis in ’n Keerboomstraat gehad nie ... Daar was altyd genoeg geld ... Sy het alles gehad wat ’n vrou nodig het. Maar dit was nie genoeg nie, want sy is weg ... en die vrou hier langsaan sal môre voos geslaan wees, maar nog hier bly ... Hoekom? Hoekom het die een alles en dis nie genoeg nie? Hoekom het die ander niks, maar dis genoeg om haar jaarin en jaaruit te laat bly en te laat voortgaan?

      Die eerste dorings het vasgehaak. Hy voel dit hierbinne, voel hoe dit indring en skeur waar dit reeds stukkend is. Watter sin is daar in die lewe?

      Daar is nie net bitter lyne nie, maar ook pyngroewe op sy gesig toe hy die donker kamer uitstorm na die kas in die eetkamer.

      In hierdie kas is die antwoord: Dit is nie die moeite werd dat jy swoeg en sweet en jou pad reg loop nie, want op die ou end is jy en die ander Keerboomstraters gelyk.

      Hy tel die glas op, sluk die inhoud weg, gooi dit weer vol ... en weer ... en dit laat hom goed voel ... gee hom ’n illusie van alwetendheid, van jy-kan-my-niks-meer-kom-vertel-nie, juffrou Welsyn! Dís die lewe hierdie, juffrou Erwee. Nie jou prentjie van wonderwerke en maanskyn en rose en viooltjies in die voorhuis nie! ’n Ou meisietjie met ’n universiteitsgraadjie met seker sielkunde as hoofvak wil my kom vertel dis my gemors en dis hoe ek dit moet skoonmaak en regmaak. Wees ’n man! Snaaks sy het dit nie vir hom gesê nie. Dis wat hulle gewoonlik sê: Wees ’n man en kyk jou probleme vierkant in die oë en doen iets daaromtrent! Bekende woorde daardie.

      Maar weet jy wat, juffrou Welsyn? Laat ek jou vandag iets vertel: As ’n vrou nie tevrede is met ’n mán nie, sal sy ook fout vind met ’n superman. Al jou gesukkel help dus niks nie. Los my maar liewer uit. Los jy en daardie bos my uit!

      En hy lag, hy lag hulle uit,


Скачать книгу