Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal. Rina Lamprecht
vet mense ter wêreld? (2)
2. Noem drie siektes wat onaktiewe kinders later as volwassenes kan ontwikkel. (3)
3. Watter afleidings kan ’n mens maak uit die feit dat Suid-Afrika die derde grootste persentasie oorgewig mense ter wêreld het? (1)
4. Prof. Monyeki maak ’n stelling: “Dit is noodsaaklik om kinders van jongs af fisiek aktief te kry.” Hoekom is dit nodig? Sê dit in jou eie woorde. (2)
5. Wat is die doel van hierdie navorsing? (2)
6. In watter jaar behoort hierdie navorsingsprojek voltooi te wees? (1)
7. Hoe dink jý kan ’n mens kinders inspireer om meer aktief te wees? (2)
8. Watter raad dink jy sal prof. Monyeki aan ’n 14-jarige gee? (1)
9. Stem jy saam met prof. Monyeki dat kinders aangemoedig moet word om meer aktief te wees? Hoekom?/Hoekom nie? (1)
Totaal: 15 punte
In hierdie aktiwiteit gaan jy
gedigte lees en vergelyk
Net soos ’n volksverhaal en ’n onderhoud, het gedigte bepaalde kenmerke. Daar is verskillende soorte gedigte – elk met sy unieke styl. Jy het ook al geleer van rym en ritme wat ’n digter gebruik om sy boodskap of gevoel oor te dra.
Lees In ’n neutedop en kyk wat ’n digter nog kan gebruik om sy woorde vir ons in te kleur en ’n boodskap oor te dra.
Kenmerke van poësie
Die titel is die “naam” van ’n gedig en is meestal die sleutel wat die inhoud van die gedig oopsluit. Die titel ondersteun dikwels die tema.
Die tema van die gedig is die kerngedagte wat die gedig wil oordra, en ontwikkel dwarsdeur die gedig. Dit is nie aan tyd of plek gebonde nie en kan op elke mens se lewe toegepas word. Die tema van ’n gedig bepaal stemming of atmosfeer.
Die stemming van ’n gedig is die gevoel wat ervaar word wanneer ’n gedig gelees word. Die volgende kan help om stemming te skep:
Bepaalde woorde word gebruik, byvoorbeeld: sag, bloue, rustig, ruie, klou, kap.
Klankgebruik soos lang of kort klanke, plofklanke, harde klanke of sagte klanke.
Gebruik van enjambement, dit wil sê waar een versreël sonder ’n leesteken oorgaan in die volgende reël. Byvoorbeeld: Die taai klou van die grond vermenigvuldig elke pond
Kontras of teenstelling kom voor wanneer twee sake direk teenoor mekaar gestel word, byvoorbeeld: Die lewe bestaan uit goed en kwaad.
Onthou: Wanneer jy ’n woord direk uit ’n gedig aanhaal, moet jy die woord tussen aanhalingstekens skryf om te wys dat dit die digter se woorde is en nie jou eie nie.
Dit is nie altyd maklik om te verstaan wat ’n digter met sy of haar gedig bedoel nie. Digters is woordkunstenaars . . . hulle hou daarvan om, soos Uilspieël, met woorde te speel.
Groepbespreking: Prelees gedigte.
Lees die titels van die twee gedigte op die volgende twee bladsye. Hoe verskil hulle?
Van watter van die twee onderwerpe weet jy die meeste? Hoekom?
Kyk na die illustrasies by die gedigte. Wat vertel elke illustrasie van die inhoud van die gedig?
Sou julle sê dat ’n gewigopteller net krag nodig het om ’n gewig van die grond te lig of is daar ander dinge soos tegniek wat ook ’n rol speel? Gesels daaroor.
Watter soort oefening moet ’n gewigopteller doen?
Hoe gaan ’n gewigopteller te werk wanneer hy ’n baie swaar gewig optel – buk hy net vooroor en tel dit op of is daar ’n spesifieke tegniek wat gevolg word? Bespreek dit.
Luister na en lees ’n gedig.
Lees die eerste gedig deur en kyk of jy dit verstaan. Daarna gaan jy vrae beantwoord wat jou stap-vir-stap leer om die gedig te ontleed en dus beter te verstaan.
Dit is noodsaaklik dat jy weer na die voorlesing van die gedig moet luister. Hierdie keer moet jy jou verbeel jy is ’n baie sterk atleet wat met krag die gewig bokant jou kop lig en so die swaartepunt “verstel”.
Julle het mos al in natuurwetenskap van die swaartekrag van die aarde geleer. Let op hoe die digter die uitwerking van swaartekrag in die gedig uitbeeld.
Die gewigopteller
Ernst van Heerden
Vir J.
Die taai klou van die grond
vermenigvuldig elke pond,
die ruie vlegsel van die spier
is – triomfantelik! – ’n dier
wat met één kap blitssnel
die swaartepunt verstel.
(Uit: Groot Verseboek. Tafelberg. 2000)
Woordverklarings
pond: Vandag praat ons nie meer van ponde as ons gewig of massa meet nie, maar wel van kilogram. Die gedig is egter in 1951 geskryf en toe is gewig in ponde en onse gemeet
ruie: baie ruig, dig, spier wat goed ontwikkel is
swaartepunt: As ’n mens ’n voorwerp neem, is sy swaartepunt ’n plek in die middel waar die gewig aan albei kante ewe swaar is.
triomfantelik: Wanneer jy dit regkry is dit ’n groot oorwinning, ’n groot triomf!
vermenigvuldig: vermeerder, om meer te maak, om die gewig swaarder te maak
verstel: om iets anders te maak, te verander
Postlees: Beantwoord die vrae.
1. Wie word in hierdie gedig beskryf?
2. Wat is hy besig om te doen?
3. Die woord “klou” in reël 1 kan twee betekenisse hê: die klou van ’n dier of wanneer gom taai is en vasklou aan ’n voorwerp. Die grond word hier vergelyk met iets wat taai is omdat dit vir die man moeilik is om die gewig van die grond af te lig. Wat dink jy wil die digter in versreël 2 sê?
4. Die eerste strofe beskryf die grond waarop die gewig lê. Wat doen die grond dus met die gewig?
5. Op die prentjie kan jy sien dat die atleet baie sterk is en dit uiteindelik regkry om die gewig op te tel.
a. Watter woord in strofe 2 sê dit vir ons?
b. Kyk watter woord rym met “spier”. Voltooi die volgende sin: Die spiere van die atleet word soos die spiere van ’n . . .?
6. Wat gebeur in strofe 3? Het jy al gesien as ’n gewigopteller ’n gewig bokant sy kop lig? Die laaste deel van die beweging is baie vinnig. Watter woorde uit die gedig beskryf hierdie beweging?
7. Dink jy ’n gewigopteller het afrigting nodig of hoef hy maar net sterk te wees?