Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal. Rina Lamprecht

Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal - Rina Lamprecht


Скачать книгу
’n Mens se gesondheid het met jou hele menswees te doen. Dit help jou om goed te voel oor jouself, oor wie jy is en hoe jy voel.

      Een ding moet ’n mens besef: Dit verg inspanning om gesond te bly. Jy moet genoeg rus kry, maar ook genoeg oefening doen. Verder moet jy deeglik let op jou eetgewoontes: ’n Gebalanseerde dieet is noodsaaklik. Sorg dat jou liggaam van binne skoon bly. Dit kry ’n mens reg deur matig te drink, nie te rook nie en ongesonde kos te vermy.

      Nou vra jy seker: Hoe bly ’n mens fiks en waarom word daar soveel klem op oefening en fiksheid gelê? Kom ons kyk

      Jou uithouvermoë (stamina) word gebou. Oefening versterk ook jou spiere en maak dit beweegliker. Jou gewig word ook onder beheer gehou, omdat jy meer energie verbrand.

      Selfs jou hart en longe baat by oefening. Jou bloedsomloop verbeter en jou longe kan ook ’n groter volume suurstof inneem.

      Verdere voordele is ook dat jou soepelheid verbeter, omdat jou gewrigte rek.

      ’n Baie belangrike uitwerking wat gereelde oefening op ’n mens het, is die feit dat jy meer positief, aktief en goed voel. “Goed-voel”-endorfiene word vrygestel.

      Omdat dit bydra tot die vermindering van stres en depressie, kan niemand dit ontken nie: Oefening is ’n móét vir elkeen van ons.

      (Verwerk van: www.mieliestronk.com)

      Vluglees en soeklees wanneer jy die begripsvrae beantwoord:

      1. Lees die titel van hierdie teks. Wie sou jy sê sou in hierdie artikel belangstel?

      2. Watter woordpaar (twee woorde wat saam gebruik word) in paragraaf 1 sluit by die titel aan?

      3. Watter drie dinge moet ’n mens doen om te sorg dat jou liggaam van binne skoon bly? (par. 2)

      4. Hoe word die goed-voel-endorfiene in ’n mens se liggaam vrygestel?

      5. Hoekom is die goed-voel-endorfiene goed vir ’n mens?

      6. Wat is die funksie van die woord wat in die vierde paragraaf tussen hakies geplaas is?

      7. Waaruit lei jy af dat die skrywer positief oor gereelde oefening is?

      8. Haal vyf woorde of woordpare aan wat die positiewe gesindheid aantoon.

      9. Aan watter sportsoorte neem jy deel? Hoekom?/Hoekom neem jy nie aan sport deel nie?

      10. Wat doen jy alles om fiks te word of te bly?

      Beantwoord vrae oor die bou van die inligtingsteks.

      11. Lees weer die eerste paragraaf van hierdie teks. Hierdie paragraaf is die inleidings-paragraaf. Wat is die funksie van die inleidingsparagraaf?

      12. Skryf die hoofgedagte van die tweede paragraaf neer.

      13. Elke paragraaf bevat besonderhede wat die hoofgedagte ondersteun. Skryf drie ondersteunde gedagtes van die tweede paragraaf neer.

      14. Let op die slotsin van die teks. Hoe sluit hierdie sin die teks af?

      Lees In ’n neutedop deeglik deur voordat jy die taalvrae doen.

15519.png

      Die werkwoord

      Die werkwoord is die woordsoort in ’n sin wat aandui watter handeling of werk gedoen word. Die werkwoord is ook die woordsoort wat aandui in watter tyd die handeling voltooi word (teenwoordige, toekomende of verlede tyd).

      Werkwoorde word verdeel in hoof-/selfstandige werkwoorde, hulpwerkwoorde en koppelwerkwoorde.

      Die selfstandige/hoofwerkwoord

      Dit dra selfstandige betekenis. Byvoorbeeld: Gerda sing ’n lied. (oorganklik omdat ’n voorwerp direk ná die werkwoord volg)

      Karel speel buite. (onoorganklik omdat daar nie ’n voorwerp na die werkwoord volg nie)

      Skeibare werkwoord (deeltjiewerkwoord)

      Wanneer die hoofwerkwoord uit twee of meer dele bestaan wat geskei kan word, byvoorbeeld: dophou, hou dop en dopgehou; gelukwens, wens geluk, gelukgewens.

      Die koppelwerkwoord

      Hierdie werkwoord het nie selfstandige betekenis nie en het dus ’n ander sinsdeel nodig om dit te voltooi. Byvoorbeeld: Die seun lyk gesond. Dit koppel met . . .

       ’n selfstandige naamwoord: Die seun is ’n goeie rugbyspeler.

       ’n byvoeglike naamwoord: Die dogter lyk fiks.

       ’n sin/sinsnede: Dit lyk of ons planne nie gaan uitwerk nie.

      Leer die volgende koppelwerkwoorde: is, was, word, lyk, blyk, skyn, heet, raak, voel en klink.

      Binne sinsverband lyk hulle so: Die baba word groot./Die man klink moeg./Jy word nou lekker lank./Hy heet na sy pa./Ek is ’n dokter./Ek raak nou slim./Ek voel sleg./Dit blyk dat hy die waarheid gepraat het.

      Medewerkwoorde of hulpwerkwoorde

      Hierdie werkwoorde kan nie alleen staan nie en moet saam met ’n selfstandige werkwoord gebruik word om . . .

       die verlede tyd aan te toon, byvoorbeeld: Die meisie het mooi gelyk. (hulpwerkwoord van tyd)

       aan te dui of die handeling moontlik/waarskynlik/wenslik is, byvoorbeeld: Ek sal/sou; wil/wou; mag/mog; mag nie; moet/moes; kan/kon my huiswerk doen. (hulpwerkwoord van wyse)

       die lydende vorm aan te toon, byvoorbeeld: Die baba word gebad./Die baba is gebad. (hulpwerkwoord van vorm)

      Voegwoorde

      Voegwoorde is woorde wat woorde of sinne aan mekaar voeg. Hier moet ons aandag aan die volgende skenk:

       Die gebruik van leestekens (gewoonlik die komma) voor die voegwoord

       Die woordorde wanneer die voegwoord gebruik word.

      Voegwoorde word gebruik om sinne te verbind. Die woordorde van die sin ná die voegwoord is nie altyd dieselfde nie. Die woordorde kan op drie verskillende maniere geskryf word:

      Groep 1: Die woordorde bly dieselfde. Die voegwoord word in die middel van die sin geplaas (sowel . . . as; óf . . . óf; nóg . . . nóg; maar; of; want; en; dog).

      Byvoorbeeld:

       Die koek is lekker. Dit is gebrand.

       Die koek is lekker, maar dit is gebrand.

      Groep 2: Die eerste werkwoord uit sin 2 of hulpwerkwoord kom direk na die voegwoord (dus; daarom; derhalwe; anders; dan; daarna; intussen; nietemin; gevolglik; al; nogtans; tog).

      Byvoorbeeld:

       Hy eet te veel. Hy word vet.

       Hy eet te veel, daarom word hy vet.

      Groep 3: Die werkwoord(e) skuif na die einde van die sin wanneer dié voegwoorde gebruik word: waarom; hoekom; omdat; indien; terwyl; hoewel; alhoewel; asof; sodra; sedert; daar.

      Byvoorbeeld:

       Hy moet baie oefen. Hy moet gewigte optel.

       Hy moet baie oefen omdat hy gewigte moet optel.

      Deelwoorde

      Deelwoorde word afgelei van werkwoorde, maar kan as verskillende woordsoorte in sinne gebruik word. Byvoorbeeld:

       Die kraan drup aanhoudend. Die druppende kraan moet herstel word (b.nw.).


Скачать книгу