Ena Murray Keur 3. Ena Murray
swye luister. “Daar is niks op hierdie aarde meer werd as selfrespek, as trots op jou naam nie. Solank jy daardie twee dinge behou, is jy ’n mens wat enigiemand in die oë kan kyk. Maar as jy dit nie het nie, wat is jy dan?”
Toe daar geen antwoord op sy vraag kom nie, draai hy terug, sy oë so hard soos twee diamante, en tog het daar ’n smeking in die harde stem ingesluip wat albei mans dadelik opval.
“Help soek my na die D’Arcy-skat. Asseblief!”
Uit Emile Pierre se peinsende oë straal skielik ’n warmte wat Hercule nog nie voorheen daarin gesien het nie.
“Hercule, ’n mens kan nie daardie dinge met geld of juwele koop nie. Luister na my: jy is agter die D’Arcy-skat aan, menende dat as jy rykdom bekom het, jy daardie twee dinge wat jy so hoog ag, vanselfsprekend bykry. Maar jy is verkeerd. Daardie dinge is in jouself. Die vermoë om dit te besit, lê net in jouself – dis nie te koop nie.”
“Jy verstaan nie, mon père …” Hy noem Emile Pierre onbewus “my vader”, maar dis of nóg hy nóg die ander man dit agterkom. “Jy verstaan nie … dis al waarvoor ek lewe … die D’Arcy-skat …”
“Maar ek kan nie jou redenasie verstaan nie, mon ami!” roep Jac uit. “Jy praat asof jy geen naam het nie. Jy praat asof jy geen herkoms het nie. Jy praat asof jy ’n vondeling was! En dis tog nie so nie. Ek behoort tog te weet. Ons het soos twee broers saam grootgeword.” Jac lyk diep bekommerd. “Of is dit hebsug wat jou beetgepak het? Is die erfenis wat jou ouers jou nagelaat het, nie genoeg vir jou nie? Jy is agter meer aan as bloot die rykdom van die D’Arcy-familie. Dink jy dat jy ook die titel sal kry as jy die skat opspoor?”
Daar gaan ’n flikkering oor Hercule se gesig wat kaptein Pierre nie ontgaan nie. ’n Donker frons plooi tussen sy wenkbroue terwyl ’n onrus wat die afgelope maande in hom posgevat het, al sterker aangroei. Is Jac nie dalk op die regte spoor nie? Is dít nie wat Hercule werklik soek nie? Nie net die D’Arcy-skat nie, maar ook die graafskap?
Sonder om Jac op sy laaste vraag te antwoord, stap Hercule die kajuit uit en die twee wat agterbly, kyk mekaar ’n rukkie magteloos aan voordat kaptein Pierre reguit vra: “Wie is Hercule Cordier?”
“U vra dit asof daar ’n vreeslike geheim aan verbonde is. Het u hom nog nie self gevra nie?”
“Ja, talle kere al – en hy het my nog nie een keer daarop geantwoord nie. Ek wonder waarom …”
Jac spring op en begin rusteloos om die tafel stap. Hy sprei sy hande wanhopig oop.
“Ek verstaan niks nie – veral nie hierdie geheimsinnigheid waarmee Hercule alles omring nie. Tot sy afkoms nou al! Daar is geen geheim aan nie.”
“So?”
“Ja. Hy is die seun van ’n groot vriendin van my moeder uit haar kinderjare. Sy ouers was nou wel nie van die adel nie, maar tog vooraanstaande mense. Sy vader het hom nie ’n titel nagelaat nie, maar Hercule is vandag ryk genoeg om die res van sy lewe in weelde te lewe. Hy het ook heelwat van my vader geërf, want hy was soos ’n tweede seun vir my ouers.”
“Het jy sy ouers geken?”
“Nee. Sy vader is eerste oorlede en daarna, by sy geboorte, sy moeder. Toe het Moeder hom gaan haal en vier maande later is ek gebore. Ons het soos broers grootgeword, soos ek reeds gesê het.”
“Ek verstaan. Dan weet jy net wat jou ouers jou vertel het.”
“Ja, maar daar is geen rede om aan die verhaal te twyfel nie.”
“Waar is sy ander familie en hoekom het hulle nie die jong Hercule grootgemaak nie?”
“Daar is geen ander familie nie.” Jac frons. “Daar het deur die jare nooit familie van hom na vore gekom nie.”
“Dit klink ’n bietjie vreemd, nie waar nie?” laat kaptein Pierre peinsend hoor. “Geen familie sterf ooit só uit dat daar nie minstens een of twee lede oorbly nie.”
Jac kyk die ou man verward aan.
“Ja, noudat ek so daaraan dink … Dit klink vreemd. Kaptein Pierre, wat vermoed u? Ek kan sien …”
Emile Pierre sug hardop.
“Dit is alles baie verwarrend, maar ek sal alles wat ek besit daarop verwed dat Hercule Cordier nie Hercule Cordier is nie.”
“Wat bedoel u?”
“Net dat dit nie sy naam is nie, dat hy nie die seun van ’n groot vriendin van jou moeder is nie, en dat hy dus nie is wat hy, en jou ouers, voorgegee het hy is nie. Hercule Cordier, of wie hy ook al mag wees, dra ’n groot geheim in hom rond en daardie geheim staan in verband met die D’Arcy-familie. Hierdie man is op soek na iets meer, na iets veel groter as bloot net die verlore rykdom van die D’Arcy-graafskap.”
“Nou kan ek nog minder kop of stert van die ding uitmaak,” erken Jac rondborstig, maar met soveel openlike kommer dat die ou kaptein gerusstellend glimlag.
“Ek dink ons moet hom in sy soektog help, Jac.”
“Ek help hom al jare lank, hoewel ek nie die vaagste benul het wat agter hierdie soektog skuil nie. Jare lank het ons na ’n sekere Emile Pierre gesoek. Nou het ons hom gevind en … wat verder?”
“Waar het Hercule aan my naam gekom?”
Jac vertel hom kortliks watter verandering daar eensklaps by sy vriend ingetree het ná sy gesprek met die ou graaf, van sy skielike verdwyning en hoe hy ná ’n week weer op die Dumont-landgoed opgedaag het met die nuus dat hy ’n skip gekoop het met die doel om na ’n sekere Emile Pierre te gaan soek.
“Dis al wat ek weet. Ek weet niks verder nie,” sluit Jac af.
“Met ander woorde, jou vader moes hom daardie dag iets vertel het wat sy hele lewe omgekeer het, Dumont … dis reg. Jou vader en die ou graaf D’Arcy was groot vriende.”
“Dit kon wees. Toe ek en Hercule opgegroei het, was die ou graaf D’Arcy al oorlede en het ons geen kontak meer met dié mense gehad nie. Niemand kon Louis Corday, die man van Juliette D’Arcy, verdra nie en sover ek my kan herinner, het hulle nie juis vriende gehad nie. Hulle het hulle in elk geval aan die sosiale lewe onttrek. Eintlik weet ek niks van hulle af nie.”
“Toe julle ’n paar jaar gelede uit Frankryk weg is, wie van hulle het nog gelewe?”
“Laat ek sien … sover ek weet, is albei die D’Arcy-susters dood. In elk geval, ’n mens het nooit meer iets van hulle gesien of gehoor nie. Louis Corday het verongeluk en …”
“Maar aan wie behoort die eiendomme en kasteel dan nou?”
“Ek weet nie. Miskien is dit dié dat Hercule die afgelope tyd so roekeloos begin word het. Hy besef die tyd is min as hy sy oog op die D’Arcy-graafskap het. Indien daar ná ’n sekere tyd geen erfgenaam na vore kom nie, word daar op so ’n eiendom beslag gelê en word dit die besitting van die Kroon.”
Kaptein Pierre staan vinnig op.
“In daardie geval, my jong vriend, kan ons Frankryk nie gou genoeg na my sin bereik nie. So iets mag nie gebeur nie.”
Hy lyk skielik so opgewonde dat Jac hom verbaas aankyk.
“Wat bedoel u?”
“Ek bedoel maar net, dit sal ’n sonde wees om so ’n pragtige landgoed in vreemde hande te laat val, nie waar nie?”
Met hierdie woorde, wat die reeds so verwarde Jac geen tree nader aan duidelikheid bring nie, stap hy uit op die dek. Daar is ’n glimlag op kaptein Pierre se gesig onderwyl hy oor die donker, deinende see uitstaar. Goed, my vriend Hercule, ek sal jou na die D’Arcy-skat help soek. Jy het my ’n groot guns bewys toe jy my op die seë van die aardbol kom opspoor het, jy weet dit net nie. Dit was ’n guns vir my … maar veral ook vir iemand anders. Maar wie van ons twee die skat ook al vind, dit sal nooit aan jou behoort nie, want dit kom jou nie toe nie. Daar is iemand anders wat meer reg daarop het as jy. Jy sal onder die indruk wees dat ek