Ena Murray Keur 3. Ena Murray
mon ami, wat wil jy daarmee maak? Jy het meer as genoeg van jou eie. Boonop, wat is die verband tussen jou en die D’Arcy-skat?”
“Dis wat ek wil vasstel,” was die somber antwoord.
Jac se kommer was opnuut aangeblaas.
“Hercule, vertel my wat aangaan, asseblief. Watter moontlike verband kan daar tussen jou en die D’Arcy-familie wees? Ons weet van hulle, maar ons ken hulle nie eens nie. Ek weet hier was jare gelede ’n gerug dat die D’Arcy-juwele spoorloos verdwyn het, maar dit het niks met jóú te doen nie.”
“Dit het blykbaar alles met my te doen.” Hy het die glasie hard neergesit en vinnig opgestaan. “Asseblief, mon ami, geen verdere vrae nie. Ek … kan nie daaroor praat nie. Ek kan nie verduidelik nie. Ek weet net één ding: ek moet die D’Arcy-skat vind!” Hy het moeg oor sy oë gevee. “En ek moet ’n sekere Emile Pierre opspoor – al neem dit my die res van my lewe. Ek het ’n skip gekoop en ’n bemanning gehuur. Ek vertrek oor ’n week.”
“Waarheen?”
“Ek weet nog self nie. Ek moet Emile Pierre opspoor.”
“Wat laat jou dink dat jy hom op see sal vind?”
“Hy is ’n seerower. Dis die enigste plek waar ek hom sal raakloop. Ek het dit uitgevis nadat ek nagte lank saam met matrose in die kroeë gesit en drink het.”
’n Week later het die Hercule uit die hawe van Marseille gevaar, die blou oneindigheid in, sonder ’n eindbestemming maar met ’n vaste doel voor oë, soos ’n bloedhond wat die spoor geruik het. Op die dek het die jong graaf Dumont langs sy vriend gestaan. Hy wou nie agterbly nie. Hercule het geprotesteer, maar uiteindelik het Jac gewen. Vir hom was die seereis ’n avontuur wat hy nog nie voorheen beleef het nie. Maar mettertyd het die avontuur afgewater geraak. Nie een keer het Jac egter laat blyk dat hy na Frankryk wou terugkeer nie. Hy kon Hercule nie alleen laat nie. Nie dat laasgenoemde ooit getoon het dat hy afhanklik is van Jac se teenwoordigheid nie. Maar diep in sy hart het Jac geweet dat sy vriend hom nodig het en hy sou hom nie in die steek laat nie.
Ook waar Hercule nou weer alleen by die reling staan, dwaal sy gedagtes terug na die verlede. Ook in sý hart is daar weemoed, ’n hartseer verlange na die sorglose jare van sy jeug. Maar toe het die ontnugtering gekom … die skok … die verbittering … die haat. As hy net geweet het wie om te haat. Op iemand moes hy sy haat uithaal en soos wat die jare verbygegaan het en Emile Pierre hom telkens ontwyk het, het hy begin om dit teen die onbekende seerower te rig. Toe het Zonika, sy mooi dogter, ook in die prentjie gekom … en hy kon sy haat verdeel. Al sy frustrasie, al sy bitterheid het hy in sy hart teen hulle opgekrop. En die vreemde, vir hom amper skokkende gevoel toe hy Emile Pierre uiteindelik opgespoor het: hy hou van die man! Nog meer, hy het respek vir hom. Maar sy persoonlike gevoelens is nie van belang nie. Hoofsaak is dat Emile Pierre hom die D’Arcy-skat moet gee, hom moet sê waar hy dit kan vind. Daar is net een probleem: Emile Pierre weier om te praat!
Elke vesel in die jong, sterk liggaam span styf in kille vasbeslotenheid. Kaptein Pierre sál praat, al moet hy, Hercule, tot watter uiterste gaan. Al moet daardie lieflike liggaam van sy dogter aan flarde gesny word!
’n Geweldige frons lê tussen sy saamgetrekte wenkbroue. Net ’n oomblik laat hy toe dat sy gedagtes teruggaan na verlede nag toe daardie pragtige, volmaak vroulike liggaam van Zonika Pierre polsend in sy arms gelê het en daardie tergende, sagte kurwes hom alles laat vergeet het, behalwe dat hy ’n man is. Maar net ’n oomblik … dan verstrak sy gesig weer en sterf die gloed van hartstog in sy oë. Daar is baie vroue op die aarde en daar ís dinge in die lewe wat belangriker is as die mooi, sagte liggaam van ’n vrou onder jou hande – dinge soos selfrespek, trots, jou naam …
In haar kajuit lê Zonika Pierre ook die eerste keer in haar jong lewe die nag se ure slapeloos en omtel. Gelukkig dat sy nie nou al kennis dra van die swaard wat oor haar kop hang nie. Nóg haar vader nóg enigiemand anders het haar al vertel dat daar ’n groot moontlikheid bestaan dat sy teen sonop gekielhaal sal word. Dit is ’n straf wat sy al menigmaal in die lang jare op ’n seerowerskip voltrek gesien het en wat een keer deur haar eie toedoen aan iemand uitgedeel is. Sy is salig onbewus daarvan dat die hel wat Hercule Cordier ’n paar jaar gelede deur haar toedoen moes deurgaan, dié keer ook op haar wag. Nee, wat Zonika hierdie nag laat wakker lê, is die gevoel van vernedering wat soos ’n lem in haar vrouwees insny elke keer dat sy aan die vorige nag dink – en die onbeskryflike ontnugtering wat sy die oggend moes ervaar toe sy in die koel, kil oë van haar minnaar van ’n paar uur gelede gekyk het. Dit is ’n gevoel wat sy nog nooit voorheen ervaar het nie.
Hy het haar verwerp nadat hy hom met haar vermaak het.
Dis die naakte, bitter besef waartoe sy moes kom. Hercule het van haar gemaak wat al die ander vroue is wat op die kaaie saamdrom wanneer die matrose die loopplank ná maande van afsondering afhardloop, daardie tipe vrou teenoor wie sy nog altyd met ’n stille trots meerderwaardig gevoel het, op wie sy nog altyd neergekyk het met bejammering en weersin. En nou … Nou is sy niks anders, niks beter as hulle nie. Sy is ook nou een van hulle – goedkoop, veragtelik. En dis Hercule Cordier wat dit gedoen het! Hierdie man wat sy die afgelope jare nie kon vergeet nie, met wie sy elke ander man vergelyk het. Hierdie een en enigste man wat sy in haar ruwe seerowerloopbaan gevrees het. O, watter gek was sy nie!
Nie ver van haar af nie sit Emile Pierre regop, sy kop nog tussen sy hande. Sy verstand is al suf gedink. Hy weet dat hy deur sy woorde aan Hercule so te sê erken het dat hy die D’Arcy-skat in sy besit het, wat ’n onwaarheid is. Hy was tot op daardie oomblik toe Hercule hom gevra het waar die skat is, nie eens bewus daarvan dat dit verdwyn het nie. Maar hy het gehoop om tyd te wen. Solank Hercule onder die indruk is dat hy die skat in sý besit het, is sy lewe veilig. Maar daardeur het hy onwetend sy dogter se lewe in die grootste gevaar gestel.
Hy hou van Hercule Cordier. Hoe vreemd dit ook al is, is daar iets in hierdie jong man wat hom geweldig aantrek. Diep in sy hart glo hy geen oomblik dat Hercule vir Zonika werklik sal laat kielhaal nie, en tog … Daar was iets desperaats in die oë wat na hom gestaar het toe hy sy dreigement geuiter het en Emile Pierre weet dat ’n desperate man ’n gevaarlike man is. ’n Desperate man sal iets doen wat hy normaalweg nooit sal droom om te doen nie.
Maar hoekom is hierdie jong man so erg desperaat om die D’Arcy-skat in die hande te kry? Dis al vir hom asof daar iets meer agter skuil as net die blote besit van geld en juwele. Emile Pierre besef ook dat dit hom nie meer sal baat om eerlik te bieg dat hy nie die vaagste benul het waar die skat is nie. Hercule sal hom nie glo nie. Voor sonop môreoggend moet hy aan ’n plan dink, anders …
Dis nog in die vroeë skemeroggend voordat die son se eerste strale oor die water skiet, maar al wat asemhaal, is byeen op die Hercule se dek. Toe Jac Dumont aan Zonika se deur klop, kyk sy op in ’n jong, diep bekommerde gesig wat duidelik die spore van ’n slapelose nag toon. Maar sy is self te suf om veel aandag daaraan te skenk. Ook vra sy nie na die rede vir sy versoek om hom te vergesel nie. Eers toe sy op die dek uitstap, besef sy hier is iets buitengewoons aan die gang. Eenkant, met strak gesigte, staan die bemanning. Teen die reling, ’n entjie van mekaar, staan haar vader en Hercule Cordier. Selfs in hierdie oomblik merk sy sy indrukwekkende gestalte op, die breë skouers wat duidelik afgeëts teen die skemer horison staan, die windjie wat liggies met sy hare speel … en haar naels vreet diep in haar handpalms. Haar blik gaan na haar vader en dit verstil binne-in haar. Hy lyk moeg en oud en baie bleek. Haar blik dwaal rusteloos heen en weer. Wat is die doel van hierdie vreemde, vroeë byeenkoms? En dan sien sy die tou … die tou oor die reling met die lus wat op die dekvloer hang …
Sy kyk vinnig op, meer uit verbystering as vrees. Sy merk die kil blik in die oë van die matroos by die tou … en dan tref die waarheid haar soos ’n donderslag: sý gaan gekielhaal word! Een eindelose oomblik laai paniek in haar op – maar dan trek die skraal skouertjies skielik agteroor en sonder Jac se hulp stap sy tot reg voor haar laksman. Die oë wat na hom opkyk, is koel, uitdagend, vreesloos; die wrangheid om die sagte mond duidelik merkbaar vir die man wat elke trekkie van haar gesig soos ’n arend dophou.
“Is dit wat jy met vroue doen nadat jy jou klaar met hulle vermaak het? Ek het nogal gewonder wat doen jy om van hulle ontslae