Ena Murray Keur 3. Ena Murray
oopgaan en Hercule sy verskyning maak.
“Goeiemôre, kaptein Pierre. Aangename nagrus gehad?” vra Hercule beleef, maar die veranderde stemtoon val die ouer man dadelik op.
“Ons seil.” Die ouer man beantwoord nie die vraag nie, maar stel bloot ’n feit.
“Ja. Van verlede nag eenuur af.”
Hy hoef nie verder te verduidelik nie. Kaptein Pierre begryp in ’n oogwenk die ware toedrag van sake en Hercule voel onwillekeurig bewondering in hom opstoot toe hy die ander man se selfbeheersing merk. Kaptein Pierre se gesigsuitdrukking verander glad nie. Daar het wel ’n verskerpte waaksaamheid in sy oë gekom, maar sy kalmte is onversteurd. “Dan is die bordjies verhang,” merk hy net op.
“Dit wil so voorkom,” beaam Hercule.
“Waar is my dogter?”
“Op dek. Daar sal geen kwaad aan haar gedoen word indien sy haar gedra en ons twee tot ’n ooreenkoms kan kom nie.”
“Ek verstaan. Ons sou mos vanoggend gesels het nadat ons eers ons herontmoeting gevier het.”
Die woorde is duidelik bedoel om te beledig, maar Hercule se oë wyk nie voor syne nie. Hy is self tergend kalm.
“So het ons afgespreek.”
Stilte.
“Wel?”
Hercule se blik boor nou soos dolke in die ander man in.
“Ek soek na die D’Arcy-skat.”
Daar gaan ’n merkbare rilling deur kaptein Pierre se lyf en net ’n oomblik lank kan Hercule die skrik in sy oë lees. Dan is die kalmte terug.
Op afgemete, dodelik vasbeslote toon gaan Hercule voort: “Jy het dit, kaptein Pierre. Ek wil dit hê.”
“Ek weet nie waarvan jy praat nie,” antwoord die seerowerkaptein kortaf. “Was dit buit wat ek miskien van die een of ander skip gevat het?”
Maar Hercule skud sy kop.
“Dit sal nie help om dit te ontken nie. Jy weet net so goed soos ek van watter skat ek praat. Of moet ek jou eie geskiedenis vir jou vertel? Die geskiedenis van jou en … Juliette D’Arcy?”
Kaptein Pierre word wasbleek en dis duidelik dat hy ’n mate van sy kalmte verloor het. Sy vuiste is gebal toe hy stadig opstaan en na die patryspoort stap. Dis duidelik dat sy oë niks raaksien terwyl hy oor die see uitstaar nie.
“Moet haar naam nie op jou lippe neem nie, jou … skurk!” Sy stem is grof van spanning.
“Jy het my gedwing om dit te doen, kaptein. Wel? Gaan jy my sê waar daardie skat is?”
Weer heers daar stilte. Dan draai die ouer man sy kop en sy oë is kliphard toe hy antwoord: “Ek sterf liewer.”
“Dapper woorde, kaptein Pierre, maar ongelukkig nog net woorde. Hulle kan natuurlik getoets word, maar dit sal onnodig wees. Op die ou einde gaan jy tog praat.”
“Geen foltering sal my lippe open nie, Cordier. Dit kan jy maar toets. Ek herhaal: ek sterf liewer voordat ek die D’Arcy-skat aan ’n skurk oorhandig.”
Hercule Cordier trek sy skouers op.
“Miskien. Miskien sal jy werklik liewer sterf as om te praat. Maar het jy vergeet dat jou dogter ook op my skip is?”
Die dreigement is duidelik genoeg, maar weer moet die jonger man kaptein Pierre bewonder oor die manier waarop hy hom net kalm aankyk.
“Ek het dit nie vergeet nie, Cordier, maar ek is nie bereid om my dogter se lewe die onderwerp te maak van ’n saketransaksie nie.”
“Weer dapper woorde, kaptein. Ons sal wel sien of dit lippetaal is. Dink solank oor alles. Ek kom oor ’n paar uur terug.”
Hercule Cordier kry geen antwoord nie en hy verlaat die kajuit, so diep in gedagte versonke dat hy nie eens die meisie by die skipreling opmerk of haar hatige blik aanvoel nie. Hy stap reguit na sy kajuit en toe die deur agter hom toeslaan, bal hy sy vuiste in frustrasie. Kaptein Pierre is blykbaar nie so ’n maklike kalant as wat hy gedink het nie. As hy die regte seerowertipe was, is hy seker dit sou hom nie lank geneem het om uit hom te kry wat hy wil hê nie. Maar van die eerste oomblik af het Hercule besef dat hierdie seerower ’n man van persoonlikheid en karakter is, ’n man met selfbeheersing en ’n wil van staal.
Kaptein Pierre sal egter móét ingee. Hercule frons diep. Hy kan sê wat hy wil, maar hy sal nie kan toesien dat sy dogter gemartel word nie. Die een of ander tyd en op die een of ander manier sal sy weerstand gebreek word. Hy is immers net ’n mens met menslike uithouvermoë. En tog weet Hercule Cordier instinktief dat daar ’n fel stryd voorlê en dat daar nog baie dinge sal gebeur voordat die seerowerkaptein hom sy sin sal gee.
Hercule stap doelloos op en neer in die kajuit. Daar is ’n rusteloosheid in hom, ’n gevoel van onsekerheid en ook van skaamte. Hoe hy ook al probeer om sy optrede teenoor veral Zonika te regverdig, kan hy diep in sy hart geen verskoning vir homself vind nie. Dit laat hom ergerlik voel. Wat sal hy omgee vir ’n seerowermeisie se gevoelens?
Maar daar is nog iets wat hom pla, iets wat hy teen wil en dank ook nie kan ontken nie. Hy het Zonika met voorbedagte rade begin liefkoos. Die bedoeling was om haar te verneder soos sy hom eens verneder het. Maar die oomblikke dat sy in sy arms was, wat sy sy liefkosing met oorgawe beantwoord het, het hy totaal vergeet wat die bedoeling agter alles eintlik was. Daar is ook in hom ’n vuur aangesteek wat alle nugter denke oorheers het.
O, hy het Zonika Pierre terugbetaal vir elke sekonde van die kielhaalfoltering twee jaar gelede. Daaraan twyfel hy nie. Maar dit gee hom geen bevrediging nie, en nog minder ’n gevoel van oorwinning. Inteendeel.
In sy kajuit staan kaptein Pierre nog steeds roerloos voor die patryspoort. Sy gedagtes dwaal terug deur die jare … vyf, tien, vyftien … twintig jaar gelede.
Frankryk … die Seine … vrugbare valleie met groen wingerde … bosryke klowe en hange … groen kweek op die grasperke tot teenaan die koperbeslaande dubbeldeur van die groot kasteel op die landgoed wat ver langs die vrugbare oewer van die Seine strek. Die landgoed van die D’Arcy-graafskap. Eenkant, beskeie weggesteek tussen die groot bome en uit sig van die kasteelvensters, was die nederige woning van die Pierre-egpaar, getroue diensknegte van die graaf Louis Armand Villefranche D’Arcy. Die graaf het twee beeldskone dogters gehad – Margot en Juliette – sy enigste kinders en erfgename van die D’Arcy-fortuin, wat ontelbare franke beloop het. Heimlik was hy egter teleurgesteld omdat daar geen manlike erfgenaam was nie. In die beskeie woning van die Pierre-gesinnetjie was daar een seun, Emile, ’n jong man so sterk soos ’n bees, gebore in knegskap, ’n slaaf van die aristokrate – maar ’n jong man met karakter en mooi van aansien.
Hy het stadigaan opgegroei tot volwassenheid. Ook die twee susters in die kasteel het grootgeword en die jong Emile het dit raakgesien. Veral die een, Juliette, het sy aandag getrek en op ’n goeie dag, toe hulle toevallig ’n paar woorde moes wissel, het hy besef dat hy verlief was op haar.
Maar Juliette het ook gehou van die jong man. Emile het aanvaar dat sy liefde tevergeefs was, maar die dogter uit die kasteel, wat haar hele lewe lank daaraan gewoond was om te kry wat sy wou hê, het tog ’n geleentheid gesoek om die aantreklike jong kneg van haar vader te sien … en weer … en weer …
Dit was die begin van die einde.
Hul jong liefde het aangegroei tot ’n storm binne-in hulle, miskien juis omdat dit verbode was. ’n Roekeloosheid het van hulle besit geneem en al die ongeskrewe reëls is verbreek totdat die werklikheid hulle ingehaal het …
Juliette het ’n baba verwag.
Kaptein Pierre se gesig is vertrek van pyn by die herinnering daaraan. Dat soveel smart en ellende gebore kon word uit die mooi en opregte liefde tussen hulle … Die groot man sidder nog steeds toe hy weer dink aan wat gebeur het nadat dit bekend geword het dat Juliette D’Arcy ’n kind gaan hê van Emile Pierre, ’n kneg in diens van die graaf. Dit was asof die hel en al sy trawante