Ena Murray Keur 3. Ena Murray
wat die ongemaklike stilte verbreek.
“Dan het ons mekaar weer ontmoet. Jy het dit voorspel.” Sy oë is stip. “Jy het ook ander dinge voorspel.” Hy wag dat die ander daarop moet antwoord, maar toe dié hom net sit en aanstaar, vervolg hy kortaf, duidelik gespanne: “As jy net wil praat! As jy my net wil sê waarna jy soek. Miskien is alles net ’n misverstand …”
“Daar is geen misverstand nie. My feite is honderd persent korrek.”
“Wat is dit dan, mon ami? Praat! Waarna soek jy en waarom het jy gedreig om my dood te maak?”
Hercule sug en sit sy glasie neer.
“Dis ’n lang storie. Ons kan later praat. Laat ons nou eers daarvan vergeet en ons herontmoeting vier. Daar is baie vate wyn in die Hercule se ruim. Laat ons bemanning vanaand ontspan. My kok is besig om vir ons ’n feesmaal voor te berei. Ek nooi jou en mam’selle Zonika om vanaand by my te kom eet. Daar sal Franse sjampanje ook wees.”
Hy glimlag en na ’n oomblik ontspan die strak lyne van kaptein Pierre se gesig ook. Hy glimlag terug.
“Nou goed dan. Vanaand hou ons jolyt – en môre praat ons.”
Die bemanning van die Seekat is in die wolke toe hulle van Cordier se voorstel hoor. Gretig help hulle die deftig geklede matrose van die ander skip om die vate na die Seekat oor te rol. Hercule het voorgestel dat die bemanning liewer hul jolyt op die Seekat hou sodat hy en sy twee gaste ongesteurd hul ete op sy skip kan geniet. Ten spyte van die feit dat die twee skepe se bemanningslede so hemelsbreed van mekaar verskil, laat die smaak van die rum in hul monde hulle gou daarvan vergeet en dis nog sommer vroegaand dat die gebabbel en gelag van die Seekat af Hercule vertel dat hulle heeltemal goed met mekaar oor die weg kan kom. Hy glimlag waar hy op die dek van sy skip staan.
Dan draai hy na een van sy ondergeskiktes.
“Ek dink jy moet ook maar aan die vrolikheid gaan deelneem, Jac.” Daar is iets veelseggends in die opdrag wat die offisier blykbaar verstaan, want hy glimlag en gehoorsaam dadelik.
“Miskien sal dit die beste wees, mon capitaine. Hulle kan hulle miskien te buite gaan.”
Hy en kaptein Pierre steek mekaar verby op die loopplank wat tussen die twee skepe gelê is. Die seerowerkaptein glimlag geamuseerd toe hy Hercule by die reling bereik.
“Dit gaan uitbundig op die Seekat. Ek hoop daar bly iets oor van my skip!”
Hercule glimlag ook en knik.
“Ek het Jac nou juis oorgestuur om toesig te hou dat hulle dit nie dalk aan die brand steek nie. Laat hulle dit maar geniet. Soos hulle nou aangaan, sal hulle oor ’n paar uur in elk geval almal vas aan die slaap wees.” Hy kyk na die Seekat. “Waar is mam’selle Zonika?”
“Ek het aan haar kajuitdeur geklop, maar sy sê sy is nog nie gereed nie. Sy sal nou-nou kom.”
“Dan kan ons solank ’n drankie drink.”
Kaptein Pierre se blik dwaal met welgevalle om hom rond. Alles getuig van weelde en gemak. Hierdie jong man moet oor heelwat geld beskik om die eienaar van só ’n skip te wees. En weer kan hy die vraag wat by hom opkom nie keer nie: wie is hierdie Hercule Cordier?
Die twee mans het pas elkeen ’n glasie tussen die vingers toe die deur van die kapteinskajuit oopgaan. Hulle kyk op … en nie een van die twee is in staat om ’n woord te uiter onderwyl Zonika stadig die vertrek binnestap nie. Haar vader se verbasing is net so groot soos dié van Hercule, wat ’n oomblik sy goeie maniere vergeet en die visioen voor hom skaamteloos aanstaar.
Die eerste keer in sy lewe sien kaptein Pierre sy dogter soos ’n dame geklee. Die spierwit rok … deel van die een of ander buit … is asemrowend. Dit het ’n lae halslyn en klok wyd van haar skraal middeltjie af tot op haar voete. Die bolyfie is uitgeborduur met krale en die swart hare en sonbruin vel wek ’n indrukwekkende kontras. Ook haar hare lyk anders. Sy het dit saamgevat sodat dit in ’n groot lok oor die een skouer na vore hang en die eerste keer merk Hercule op dat die donker oë in werklikheid diep hemelsblou is. Sy probeer haar ongeërg voordoen, maar die duiweltjies in haar oë verraai hoe sy die situasie geniet.
Hercule Cordier se een donker wenkbrou lig vraend en dan moet hy teen wil en dank glimlag. Hy ruk hom reg en buig laag oor die handjie wat ongeërg na hom uitgehou word.
“Mam’selle, daar is geen blom aan die Franse hof wat met jou vergelyk kan word nie.”
“Flatteur! Vleier!”
Weer is die twee mans se verbasing byna tasbaar. Nie net het Zonika uiterlik ’n byna onherkenbare verandering ondergaan nie, maar blykbaar ook haar houding teenoor Hercule Cordier. Hulle kyk haar fronsend aan. Wat voer sy in die skild? In albei lê hierdie vraag.
Haar vader, wat haar van kleins af ken, vertrou geensins hierdie nuutgevonde oënskynlike welwillendheid nie. Hy glo geen oomblik dat Zonika sommer skielik besluit het om die strydbyl te begrawe nie. Sy is nie iemand wat maklik vergeet of vergewe nie. Daar het ook niks gebeur wat hierdie veranderde houding by haar kon teweeggebring het nie. Nee. Sy voer wel iets in die skild, daarvan is hy seker.
Die blik wat nou op Zonika rus, is fronsend, priemend. Dis of die donker oë van Hercule Cordier dwarsdeur haar wil kyk, maar hoewel ’n vreemde opgewondenheid van haar besit neem, slaag sy tog daarin om uiterlik kalm voor te kom. Hercule se skielike mak houding vertrou ook sy glad nie.
Hy lei haar na ’n stoel en die geselskap raak algemeen.
Zonika is besonder stil en telkens draai die twee mans se oë na haar, asof hulle hulle elke keer moet vergewis dat dit tog die rabbedoe Zonika is wat daar soos ’n beeldskone dame aan die Franse hof sit.
Die ete verloop vlot en sowel kaptein Pierre as sy dogter wens Hercule ná die ete geluk met sy Franse kok. In die agtergrond kan die rumoer van die Seekat af dofweg gehoor word en nie lank daarna nie maak kaptein Pierre verskoning dat hy na sy skip moet terugkeer. Hercule dring egter daarop aan dat hulle nog vir oulaas ’n glasie saam moet klink en hy stem geredelik toe. Zonika staar na die breë rug wat ’n oomblik na haar gekeer is terwyl hy die glasies vul.
Hoewel sy dit skaars aan haarself erken, weet sy dat Hercule die enigste man is wat nog ooit ’n indruk op haar gemaak het. Hoe sy ook al hierdie afgelope twee jaar probeer het, sy kon hom nie uit haar gedagtes weer nie.
Hoewel sy haar vanaand doelbewus mooigemaak het, is sy tog vroulik genoeg om die bewondering in sy oë te kon opmerk en gevlei te voel daaroor. Tog voel sy ook onseker. Eers nadat sy haar klaar aangetrek en in die spieël beskou het, het sy op haar plan gekom.
Sy het nie vergeet dat Hercule Cordier haar vader twee jaar gelede met die dood gedreig het nie. Ook het sy nie vergeet dat hy haar belowe het dat sy eendag ’n rekening by hom sal moet vereffen nie. Toe sy na haar spieëlbeeld gestaan en kyk het, het sy skielik besef dat sy werklik beeldskoon is. En Hercule Cordier is ’n man. As sy hom sover kan kry om op haar verlief te raak, sal hy tog seker nie meer aan die vereffening van rekenings dink nie. Nog minder sal hy daaraan dink om sy aanstaande skoonvader om die lewe te bring! En as hy eers verlief is, sal sy hom om haar pinkie kan draai. Sy sal uitkrap waaragter hy is, waarom hy hulle oor die seë agtervolg en dan … Sy glimlag. Dan sal sy die hef in die hand hê.
Want natuurlik haat sy hierdie man! Natuurlik! Sy het haar dit ten doel gestel om eendag vrees in daardie vreeslose oë te sien en om daardie selfversekerde glimlag van sy lippe af te vee. Dan sal Hercule Cordier eers besef dat Zonika Pierre nooit vergeet of vergewe wat aan haar gedoen of gesê is nie.
Hercule hou die geheimsinnige glimlaggie om haar lippe dop en die ekstra sintuig wat hom altyd teen gevaar waarsku, roer weer diep binne-in hom. Dan glimlag hy ook, net so geheimsinnig, en weer blink sy oë met ’n vreemde gloed.
Kaptein Pierre sit sy glasie neer en staan op.
“Dis tyd vir my om bed toe te gaan. Ek is ’n ou man.”
“Ek dink jy moet liewer op die Hercule oornag, kaptein. Jy sal met al daardie geraas maar min rus op die Seekat kry en die passasierskajuite hier is leeg.”