Ena Murray Keur 3. Ena Murray
was dit met my,” hoor sy sy stem – sag en afgemete, maar die klank daarvan stuur ’n koue rilling deur haar liggaam. Teësinnig, maar asof haar oë deur ’n magneet aangetrek word, draai sy haar kop en kyk af in sy oë. “Ek is nie die soort man wat ooit die persoon sal vergeet of vergewe wat met my lewe gespeel het nie. Eendag, mam’selle, sal ons mekaar weer op gelyke voet ontmoet en dan sal daar ’n groot rekening wees wat tussen ons twee vereffen moet word. Al is dit die laaste ding op aarde wat ek doen, maar jy sal betaal vir elke vernedering, vir elke sekonde van hel wat myne was op hierdie skip. Wees verseker daarvan, mam’selle.”
Sy luister nie langer nie, maar ruk uit sy greep los en storm by die deur uit waar sy haar byna teen haar vader vasloop.
“Ek was op pad om jou af te los. Gaan slaap, ma chérie. Jy kan nie meer uithou nie. Hoe gaan dit met hom? Dieselfde?”
Sy probeer om haar vader niks van haar ontsteltenis te laat blyk nie.
“Ek was op pad om u te kom roep, mon père. Hy is by sy positiewe …”
“Sowaar? Maar dis wonderlik!” Kaptein Pierre klink opgewonde en skuur haastig by haar verby. Hy probeer nie sy blydskap vir die jong man wegsteek nie en Zonika sou verbaas gewees het om te sien hoe die ergste hardheid uit die donker oë van Hercule Cordier verdwyn toe kaptein Pierre se hand om syne sluit.
“Ek voel die skip beweeg. Na watter bestemming?” vra Hercule later.
“Na ’n eiland waar dit veilig genoeg is om jou agter te laat. Ek het die bemanning verdeel op die twee skepe. Hulle het begin rusteloos raak.”
“Ek neem aan die Hercule gaan as buit?”
“Nee. Ek laat jou, jou bemanning en jou skip agter.”
“Wanneer sal ons daar wees?”
“Oor twee dae – as alles goed gaan.” Kaptein Pierre kug en sê dan sag: “Ons paadjies sal dus binnekort skei. Miskien … miskien is dit beter so …”
Hercule kyk hom vierkant in die oë.
“Maar nie vir lank nie. Ons paaie sal weer kruis.”
3
Zonika het gesorg dat sy Hercule nie weer te siene kry voordat hy en sy oorblywende paar bemanningslede veilig op die eiland afgelaai is nie. Nie een van die twee mans het na haar verwys toe hulle mekaar die hand reik nie, hoewel albei intens bewus was van haar afwesigheid.
Hulle was skielik baie formeel.
“Tot siens, kaptein Cordier.”
“Tot siens, kaptein Pierre.”
Net ’n oomblik het die twee mans mekaar in die oë gekyk. Toe het die seerowerkaptein vinnig weggedraai en na die dek van sy skip teruggekeer. Hercule Cordier en sy bondeltjie bemanningslede het klein en verlore op die strand gelyk. Toe kom die massiewe romp van die Seekat in beweging, eers baie stadig, maar al vinniger toe die wit seile bokant hom ontplooi.
Op die strand het Hercule Cordier se oë skielik vernou toe daar nog ’n gestalte langs dié van kaptein Pierre by die reling verskyn. Hy kon haar gesig eintlik nie meer sien nie, maar hy het die waaiende swart hare geëien. Mam’selle Zonika het haar dus tog verwerdig om hom tot siens toe te wuif. Hy het haar groet beantwoord, maar sy oë was kil.
Vader en dogter het langs mekaar gestaan totdat die Hercule net ’n spikkeltjie op die horison was. Toe het hulle omgedraai en sonder ’n verdere woord teruggestap.
Dit is twee jaar later. Oënskynlik het daar nie veel op die Seekat verander nie. Die seerowerskip vaar nog steeds oor die seë, belewe bloedige gevegte en vergaar ryk buit in sy groot ruim. Zonika het tot dusver nog elke keer wanneer die Seekat seil daarin geslaag om hom te vergesel, ten spyte van kaptein Pierre en Madame se sterk teenkanting. Madame het moed opgegee om ooit van haar ’n dame te maak.
Ja, oënskynlik is alles nog presies dieselfde. En tog …
Tog het iets verander. Die ontmoeting met die Hercule en sy kaptein het ’n indruk op sowel vader as dogter gelaat … en nie een van die twee kon dit verklaar nie.
Kaptein Pierre het stiller geword en meer dikwels die horison dopgehou, asof hy verwag het dat die seile van die Hercule enige oomblik daar sou verskyn. En elke keer dat daar wel ’n vreemde seil oor die waterkim geskuif het, was hy merkbaar opgewonde en het sy oë geblink asof in blye afwagting.
Terwyl haar vader stiller geword het, het Zonika onverskilliger geword. Hy moes haar in die twee jaar wat verby is, dikwels streng aanspreek oor haar roekeloosheid. Dit was asof sy skielik nie meer ’n duiwel omgegee het nie. Sy het skouer aan skouer met haar ruwe bemanning geveg en soms so waaghalsig opgetree dat die bloed in kaptein Pierre se are eintlik koud geword het. Sy het boaan die mastoppe geswaai, resies gejaag na die kraaines met Haan, soms selfs die stuur by Haan oorgeneem en ná ’n oorwinning saam met die matrose om die vat rum feesgevier.
Haar vader het haar bekommerd dopgehou. Aan die begin het hy haar probeer keer – gedreig, mooigepraat, enigiets gedoen om haar tot haar sinne te bring. Maar later het hy, soos Madame, liewer geswyg, want hoe meer hy met haar gepraat het, hoe roekeloser het sy geword. Hy het skielik nie meer sy dogter verstaan nie. Dat hierdie verandering by haar ingetree het ná die ontmoeting met die Hercule, was duidelik, maar hoekom die voorval juis só ’n uitwerking op sy dogter moes hê, was vir kaptein Pierre ’n raaisel en ’n bron tot groot kommer.
Zonika kon die verandering in haarself sedert die afskeid van die Hercule net so min verklaar as kaptein Pierre. Dit was asof daar iets van haar besit geneem het, asof sy iets aan haarself wou bewys, maar nie geweet het wat dit was nie. Waar sy aan die begin Madame se voorstelle teengegaan het net omdat sy gemeen het daar was nog genoeg tyd oor om ’n dame te word, het sy nou ’n openlike weersin in dié gedagte ontwikkel. Niks op aarde kon haar dwing om ’n rok aan te trek nie. Alles wat vroulik en verfynd was, het sy verfoei en bespot. Dit was baie duidelik – Zonika wou beslis geen vrou en veral nie ’n dame wees nie. Daarby het sy blykbaar die grootste plesier daarin gevind om mense te skok. Sy het ’n paar seerowerwoorde aangeleer wat kaptein Pierre nie eens gebruik het nie. Ure lank het sy geoefen met die swaard, pistool en kapmes. Sy kon naderhand ’n sambok se punt laat krul en klief soos enige man. Sy was bemind maar gevrees onder haar makkers. Almal wis dat sy ’n vrou is, maar niemand sou dit waag om eens ’n opmerking daaroor te maak nie.
Maar Zonika het ook grootgeword in dié twee jaar. Die harde lewe wat sy gevoer het, het haar volwasse gemaak – ’n volwasse vrou. Dié feit kon sy nie verbloem nie, al het sy haar uiterste bes gedoen. Hoewel haar kleredrag veel te wense oorgelaat het, kon sy die kurwes van haar vroulike figuur nie wegsteek nie. Sy kon die fynbesnede, beeldskone gelaatstrekke nie agter ’n masker verberg nie. Nog minder kon sy die vroulike aantrekkingskrag smoor wat van êrens diep binne-in haar soos magnetiese strale na buite geskiet het. Ja, Zonika was ’n vrou – ’n pragtige, begeerlike vrou wat deur baie oë raakgesien is … maar wat niemand tot dusver nog gewaag het om aan te raak nie.
Hercule Cordier se naam is nooit tussen vader en dogter genoem nie. Dit was asof daar ’n stilswyende ooreenkoms tussen hulle tot stand gekom het dat hierdie onderwerp vermy sal word.
En só was dit op die dag toe daar weer ’n seil op die gesigseinder sigbaar raak. Soos altyd kondig Haan dit uit die kraaines aan.
“Hoo- … laaa!”
’n Gespanne stilte volg en dan kom die bekendmaking: “Dis die Hercule!”
Elke oog hou nou die naderende seile dop. Eers is net die hoofmas met sy wapperende vlag sigbaar. Dan verskyn ook die symaste, voormaste, fokmaste en dan die romp met die naam daarop. En weer, soos twee jaar gelede, verander die Hercule dadelik van koers en pyl direk op die Seekat af.
Zonika kyk vinnig na haar vader wat roerloos by die reling staan. Toe die stilte al langer rek, stap sy haastig na hom toe.
“Moet u nie die bevel gee dat die skip in gereedheid gebring word nie?” waag sy dit om te vra, maar eers lyk dit of kaptein Pierre haar nie gehoor het nie. Dan antwoord hy, sy oë nog steeds op die