Ena Murray Keur 3. Ena Murray

Ena Murray Keur 3 - Ena Murray


Скачать книгу
probeer keer, maar hy dwing haar weer teen die kussings terug, sy lippe soekend na hare. Sy ontwyk sy lippe, want sy weet sy is verlore as hulle eers oor hare gaan sluit. Sonder veel krag druk sy teen sy naakte bors.

      “Hercule, nee …”

      “Ma chérie, moenie bang wees nie,” fluister hy skor, sy asemhaling effens rukkerig onder haar vingerpunte. Dan kan sy sy lippe nie langer ontwyk nie en hy voel hoe die styfheid uit haar verdwyn, hoe sy meegee onder die drang van sy liefkosings. Hercule Cordier weet hy het gewen … hy weet daar is niemand wat hulle sal steur nie … en dat die nag lank is.

      ’n Paar uur later is daar ’n sagte kloppie aan die kajuitdeur. Daar word ’n paar woorde gefluister en dan begin Hercule hom geluidloos aantrek. Onderwyl hy sy baadjie vasknoop, staar hy uitdrukkingloos na die slapende meisie. ’n Spiertjie spring in sy wang waar die litteken van twee jaar gelede nog helder lê. Die volgende oomblik verlaat hy die kajuit op sy tone en trek die deur saggies agter hom toe. Dis seker nog goed drie tot vier uur voor dagbreek toe Hercule op dek verskyn. Vlugtig kyk hy op na die sterre wat nog nie begin verdof het nie en hy knik tevrede teenoor Jac toe dié hom by hom aansluit.

      Hy hou sy stem laag toe hy ’n paar bevele uitreik en enkele oomblikke later val die ingekorte seile van die Hercule los en begin hulle in die ligte windjie bol. Die stuurman se hande vou om die groot wiel terwyl die bemanning van die Hercule, verbasend nugter ná die vorige aand se jolyt, stil met die takelwerk na benede seil. Stadig, byna ongemerk, kom die groot romp in beweging …

      Hercule neem plaas op die kant van die reling en tuur na die liggies van die Seekat wat al dowwer en dowwer word. Oor ’n paar uur, wanneer die dag breek, sal die besope bemanning van die Seekat wakker word en vind dat hul skip sonder aanvoerder is, want op hierdie oomblik lê kaptein Pierre nog in die diepe slaap van die verdowingsmiddel wat in die laaste kelkie wyn was, veilig in een van die weelderige kajuite van die Hercule.

      “Jy kan aan die bemanning sê dat ek baie tevrede met hulle is,” merk Hercule op toe Jac, sy regterhand, langs hom by die reling kom staan.

      “Hulle het hulle goed van hul taak gekwyt. Ek was self verbaas dat hulle hulle so ingehou het terwyl die ander klomp van die Seekat in volle maat geskep het.” Jac glimlag trots.

      Jac stap aan en Hercule is weer alleen. Hy kyk op na die sterre. Hul glans begin verflou. Oor ’n uur of wat sal kaptein Pierre tot die ontnugtering kom dat hy ’n gevangene is … Ook op die meisie wat nog rustig in Hercule Cordier se kajuit lê en slaap, wag daar ’n wrede ontnugtering.

      Die oë wat na die dek staar, is uitdrukkingloos. Ja, wanneer die eerste strale van die dag die mastoppe van die groot seilskip rooi verf, sal Zonika Pierre weet dat sy liewer nooit vir Hercule Cordier die stryd moes aangesê het nie …

      4

      Die dag het intussen gebreek. Hercule kyk om hom rond, op na die bollende wit seile, na die kraaines, dan terug oor die dek. Sy liggaam verstyf skielik merkbaar. Hy trek sy asem stadig in onderwyl sy blik vasgenael bly op die vrou wat haar verskyning op die trap gemaak het. Met haar rok verkreukel, die swart hare deurmekaar oor die skouers, die oë nog verdwaas van slaap, skep Zonika Pierre nog steeds ’n asemrowende prentjie van vroulike begeerlikheid. Die man se oë verdonker en daar is ’n ligte bewing in sy vingerpunte onderwyl hy roerloos op die reling bly sit terwyl sy nader kom. Sy blik vang die ontstelde deining van haar bors toe sy reg voor hom tot stilstand kom.

      Hulle staar mekaar ’n oomblik stip aan en iets kouds slaan om Zonika se hart vas toe sy die strak gesig van die man voor haar merk. Kan dit wees dat sy ’n paar uur gelede nog in sy arms gelê en sy liefkosings beantwoord het met ’n vuur wat amper skaamteloos was? Maar onderwyl sy in sy oë opkyk, besef sy dat sover dit hóm aangaan, verlede nag verby is …

      “Wat … wat beteken dit?” vra sy kortaf, haar stem glad nie so seker nie.

      “Dit beteken dat jy my gevangene is … mam’selle. Die bordjies is verhang.” Sy stem is emosieloos en die antwoord baie reguit.

      “Waar is die Seekat? Jy het dit tog nie laat sink nie?”

      “Nee, natuurlik nie. Ons is egter al van lank voor dagbreek af aan’t seil. Die Seekat kan ons nie meer inhaal nie.”

      Haar oë blits.

      “As jy dink my vader sal toelaat dat jy my sommerso ontvoer, begaan jy ’n fout, mon capitaine. Hy sal nie rus voordat hy jou gevind het nie … en dan sal ek nie graag in jou skoene wil wees nie.”

      Hy buig, maar sy gesig bly uitdrukkingloos.

      “Jy vlei jouself, mam’selle. Ek is nie besig om jou te ontvoer nie. Jy was net per toeval op die Hercule toe ek jou vader ontvoer het.”

      “Vader! Maar … maar hy is vroegaand na ons skip …”

      “Korreksie. Hy het net tot by die reling gevorder. Toe het hy aan die slaap geraak … soos die res van sy bemanning.”

      Sy kyk hom met die grootste veragting aan.

      “Ek begryp. Daar was natuurlik ’n slaapmiddel in ons drank gegooi.”

      Die eerste keer is daar die flikkering van ’n glimlag op sy gesig.

      “Net nie in jou drankie nie, mam’selle. Dit was nie nodig nie. Ek het vermoed dit sou nie moeilik wees om jou … e … besig en uit die pad te hou nie.”

      “Jou …”

      Sy vingers gryp haar pols in ’n staalgreep vas, sy oë ysig. “Ek het maar net van jou eie taktiek gebruik gemaak, mam’selle. By ’n vorige geleentheid het jy my besig gehou sodat jou vader die oorwinning kon behaal. Hierdie keer het ek jou besig gehou sodat ék ’n slag kon wen. Jy moet dit darem erken, mam’selle – my manier was baie aangenamer!”

      “Jou … ek … ek sal jou vermoor, jou … traître … verraaier! Jy het jou voorgedoen as ’n vriend en …”

      “Jy en jou vader het albei geweet dat ek jul vyand is, mam’selle. Ek het van die begin af geen geheim daarvan gemaak nie.”

      Sy kyk hom verbaas aan. Natuurlik het hy gelyk. Hy het haar vader tog reguit daarvan verseker dat hy hom nog sal doodmaak en aan haar het hy belowe dat as hul paaie weer kruis … ’n Verslaentheid sak oor haar toe. Verlede nag … alles wat tussen hulle gebeur het … hy was maar net besig om haar haar rekening te laat vereffen soos hy beloof het. Sy het nogal gedink … Maar dit was alles net sy manier om haar terug te betaal.

      Zonika Pierre, die trotse, die vrou wat haar daarop beroem het dat geen man nog die voorreg gehad het om haar met ’n vinger aan te raak nie, beleef in hierdie oomblik die grootste vernedering van haar lewe.

      “Ek het nooit geweet dat ek in staat is om te haat soos wat ek jou op hierdie oomblik haat nie, Hercule Cordier. Jy sal betaal …” Haar stem is diep en skor toe sy eindelik praat.

      “Dan open ons maar weer ’n rekening, mam’selle. Baie onverstandig van jou, moet ek sê. Jy het dan blykbaar nog nie jou les geleer nie. Jy moet Hercule Cordier nooit die stryd aansê nie, mam’selle. Wees gewaarsku!”

      Zonika bly alleen agter onderwyl Hercule wegstap. Die geboë skouertjies is duidelik verslae en die oë wat nikssiende oor die see uitstaar, is leeg en … wanhopig. Hoe kón sy gisteraand so kop verloor het? Watter duiwelse spel het hierdie man met haar gespeel en hoe kon haar hart haar so verraai het?

      Maar sy moet erken dat sy magteloos was van daardie eerste oomblik af dat Hercule Cordier se lippe oor hare gesluit het. Sy moet erken dat hierdie man in staat is om die vrou in haar, wat sy nog altyd geminag en verloën het, uit die kerker diep binne-in haar te bevry – in so ’n mate dat dit selfs haar heldere denke oorheers.

      En tog haat sy hom. Maar sy weet ook, hoewel sy dit skaars sal erken, dat hy die enigste man is vir wie sy werklik vrees koester – nie omdat sy bang is vir sy swaard nie, maar vir die emosie wat hy in haar kan wakker skud.

      Op daardie oomblik kyk kaptein Pierre en Hercule mekaar stip aan. Hercule het ’n


Скачать книгу