Ena Murray Keur 3. Ena Murray

Ena Murray Keur 3 - Ena Murray


Скачать книгу
in die naaste stoel neer. Hy onthou die smart van sy ouers – dierbare mense wat, ten spyte van die feit dat hulle van afkoms uit die werkersklas was, tog aristokrate in karakter en lewenswandel was. Hulle moes van hul enigste kind afskeid neem en het hom nooit weer gesien nie.

      Toe kaptein Pierre tien jaar later dit eendag in die geheim gewaag het om na die D’Arcy-landgoed te gaan, was die Pierre-egpaar reeds dood. Deur ’n desperate verlange gedwing na sy jeugliefde, het hy dit tot binne die kasteelmure gewaag. Hy het ten volle besef dat sy lewe niks werd sou wees as hy betrap word nie, maar hy moes die vrou wat hy liefgehad het, net een keer weer sien. Dit was egter haar suster, Margot, wat op hom afgekom het waar hy in die gange rondgesluip het.

      Hy onthou nog alles so goed, asof dit net gister was …

      Dis twintig jaar gelede. Die fakkels en muurkandelare in die lang gange van die D’Arcy-kasteel is reeds gedoof. Die inwoners slaap reeds, want dis al meer as twee uur ná middernag. Soos ’n skaduwee beweeg hy versigtig vorentoe. Êrens in die vleuel sal hy haar kry … Juliette, die meisie wat hy nie kan vergeet nie, die vrou wat hy nog steeds bemin.

      Dan, skielik, om ’n draai in die lang gang, bots hy amper teen ’n vrouegestalte in ’n lang, wit naggewaad. Albei hyg na asem en deins verskrik terug. Hulle staar mekaar in stilte aan. Dan is dit Emile wat eerste tot verhaal kom.

      “Juliette?” fluister hy vraend.

      “Wie is jy? Wat … wat soek jy hier?”

      “Juliette, is dit jy?” vra hy weer dringend en beweeg nader. Maanlig streep deur die venster en val oor sy gesig en weer is daar ’n gesnak na asem van die kant van die vrou.

      “Emile! Is dit jy?” fluister sy skor, geskok.

      Dan herken hy haar stem.

      “Margot! Margot, waar is Juliette? Ek moet haar sien! Asseblief, ek móét!”

      Sy kyk onrustig oor haar skouer na agter en wink dan angs-tig met haar hand. Sy lei hom by ’n deur in wat sy geluidloos agter haar toedruk. Dan draai sy vinnig na hom en haar stem bly ’n lae fluistering.

      “Wat soek jy hier, Emile? Besef jy dan nie …?”

      “Ek weet. Ek weet, maar …”

      “Jy is van jou sinne beroof om dit te waag om hierheen te kom. Hy sal jou dadelik doodmaak. Jy weet nie …”

      “Ek moet vir Juliette sien, Margot!” herhaal die jong man op afgemete toon en baie beslis. “Is sy hier?”

      “Ja, maar …”

      “Neem my na haar toe.”

      “Jy is mal, Emile. Gaan weg! Ek smeek jou, gaan weg voordat nog meer tragedies hulle hier afspeel. Loop! Loop nóú, asseblief, ter wille van ons almal,” smeek die vrou rukkend onderwyl sy Emile beangs aan die bors beetkry.

      Maar hy bly vasbeslote.

      “Ek versit geen tree voordat ek vir Juliette gesien het nie, Margot. Van watter tragedies praat jy?”

      Hy beskou haar nou met aandag. Dis nie meer die Margot van tien jaar gelede nie, besef hy onderwyl hy na die tekens van spanning op die vermaerde gelaatstrekke staar. Hy gryp haar bewende hande vas in syne.

      “Wat het gebeur vandat ek hier weg is? Vertel my! Watter tragedies het plaasgevind?” vra hy dringend.

      Die vrou begin vertel, eers hortend, stadig asof sy bang is. Dan al vinniger soos ’n sluis wat oopgeruk word.

      “Nadat jy hier weg is, is ek en Juliette soos gevangenes ingekerker tot ná … nadat die baba gebore is …”

      Die man ruk asof daar ’n weerligstraal deur sy liggaam gaan. Hy gryp haar skouers pynlik vas en sy blik gloei op haar neer.

      “Wat het gebeur? Waar is … die kind?” vra hy skor en met pyn in sy stem.

      “Ek weet nie. Niemand weet nie. Nadat … alles verby was, is die baba weggeneem. Daar is vertel dat die kind dood is.”

      “Maar wat het van die baba geword?”

      “Dit weet niemand nie. Ou Maria – jy onthou haar seker, sy het ons opgepas toe ons klein was – het Juliette met die geboorte gehelp. Daar was niemand anders by nie. Ou Maria het vertel dat die baba ’n rukkie ná die geboorte gesterf het. Ek weet nie eens waar hy of sy begrawe is nie. Tot vandag toe het niemand ooit weer van die baba gepraat nie.”

      “Mon Dieu!” Die woorde skeur uit Emile se binneste en hy sluit sy oë ’n oomblik. “My arme klein Juliette! Waar is sy nou?”

      “Ons het almal gedink sy sou dit nie oorleef nie. Daardie eerste week ná die geboorte … haar onophoudelike geroep na jou en die kind … dit het ons tot raserny gedryf. Toe het sy stadigaan beter begin word, maar sy was soos ’n dooie mens, sonder belangstelling of lus vir die lewe. O, Emile, dit was ontsettend! Jy moes haar gesien het …”

      “Moenie, asseblief!” kreun die man. “Wat het toe gebeur?”

      Die jong vrou, wat reeds so vroeg in haar lewe verouder het, se stem verhard.

      “Vader het vir ons twee mans uitgesoek en ons gedwing om met hulle te trou.”

      “Nee!”

      “Tog. Sy keuse vir my was nie te sleg nie. Ons het mekaar nie liefgehad nie, maar ons het mekaar ten minste gerespekteer. Maar Juliette …” Sy sidder. “Juliette is getroud met ’n telg van Satan self. Hy is ’n wreedaard, ’n monster uit die hel, Emile!”

      “Wie is hy?”

      “Louis Corday. Hy is meer as twintig jaar ouer as Juliette. En dis of hy sataniese genot daaruit put om iemand te martel. Arme Juliette ervaar hel by hom,” sê sy onomwonde.

      Dis of elke woord soos ’n swaard deur Emile se hart gaan. Dis vir hom ondenkbaar dat die fyn, brose Juliette met só ’n man getroud kan wees.

      “Maar dis nog nie al nie,” gaan Margot fluisterend voort. “Pas ná ons troue, myne en Juliette s’n, het Vader en Moeder gesterf in ’n ongeluk met ’n koets. Ons het almal daardie tyd gedink dit was ’n ongeluk. Vandag weet ek van beter. Ek weet – ek is oortuig daarvan – dat hulle vermoor is.”

      Hy kyk haar geskok aan.

      “Maar wie sou so iets wou doen?”

      “Wie anders as Juliette se man? Hy was van die begin af agter die D’Arcy-fortuin, dit is nou vir my so duidelik soos daglig. Vader en Moeder moes eers uit die weg geruim word. Die volgende op sy lys was ek en my man en ons twee kinders. Weer was daar ’n eienaardige ongeluk. My man en my seuntjie is dood.” Sy kyk strak na hom en daar is naakte vrees in haar oë. “Hy sal nie rus voordat ek en my dogtertjie ook gesterf het nie. Dan sal daar nie ander erfgename meer oor wees nie. Net Juliette … maar dié is van minder belang. Sy is tog so te sê nie meer ’n mens nie. Ek en my kind lewe elke dag in die skaduwee van die dood. Elke oomblik van die dag en nag wonder ek wanneer hy op ons sal toeslaan …”

      “Maar is daar dan niemand wat teen hom kan optree nie?” roep Emile skor uit. Margot skud haar kop.

      “Wie? Ek of Juliette? Die res van die D’Arcy-mans is almal reeds dood. Hy is ook baie slim, Emile. Daar is geen bewyse nie. Sover dit die buitewêreld betref, is dit ’n reeks tragiese ongelukke wat die D’Arcy-gesin getref het. Maar ek wéét dit was nie ongelukke nie. Ek wéét hy gaan my en my kind ook nog vermoor en op die einde miskien ook vir Juliette …”

      “Nee! Dit sal nie gebeur nie, ek sê jou! Waar is sy? Ek sal julle hier wegneem …”

      “Hoe gaan jy dit regkry? Ons word soos gevangenes bewaak. Hy het ’n spul spioene wat ons gedurig dophou. Vir al wat ons weet, word ons selfs nou afgeluister.”

      Daar volg ’n emosiebelaaide stilte waarin albei onrustig om hulle rondkyk, maar alles is so stil soos die graf. Dan praat Emile weer. “Margot, dit maak nie saak wat gebeur nie, maar ek moet vir Juliette sien. Veral nou, ná alles wat jy my vertel het, kan ek nie sommer


Скачать книгу